‘n Kursus in Wonders

Deur Douwe van der Zee op 1 Julie 2012

.

Albert Einstein: "Reality is merely an illusion, albeit a very persistent one."

Op 'n lentedag in 1965, op pad na 'n weeklikse vergadering wat gewoonlik in 'n bakleiery ontaard het, bars William (Bill) Thetford skielik uit en sê vir Helen Schucman: "Daar móét 'n ander manier wees!"

Bill was die hoof van die sielkunde-departement by die mediese sentrum van Columbia Universiteit in New York en Helen 'n briljante navorser en dosent by dieselfde sentrum. Hoewel hulle op professionele vlak goed saamgewerk het, het hulle op 'n persoonlike vlak aanmekaar vasgesit. Hulle verhouding met ander mense in die sentrum was ook nie altyd wat wonders nie. Vandaar Bill se uitbarsting.

Direk na hierdie insident begin Helen 'n reeks psigiese ervarings kry wat haar diep ontstel het. Haar eerste gedagte as sielkundige was dat sy besig was om mal te word. Was dit nie vir Bill se bemoediging en ondersteuning nie, sou wat daarna gebeur het seker nooit gebeur het nie.

Na 'n paar maande van sulke ervarings en die duidelike gevoel dat 'iets' tot haar probeer deurdring, 'hoor' sy een aand die woorde: "This is a Course in Miracles. Please take notes." In paniek bel sy vir Bill. In pleks van om haar vermoede te bevestig dat sy nou beslis die kluts kwyt is, sê Bill vir haar: "Hoekom doen jy nie wat die stem sê nie?"

En so het A Course in Miracles (ACIM) ontstaan. Ten spyte van die veeleisende aard van hul werk het Helen vir sewe jaar notas geneem van die 'stem', dit dan aan Bill voorgelees, en hy het dit getik. Al daardie tyd het hulle in 'n soort dubbele werklikheid geleef. Helen het haarself baie verset teen die proses, want sy het nie net nie gehou van haar rol as die skrywer nie, maar die inhoud van die kursus het haar absoluut teen die bors gestuit. Tog was sy en Bill op een of ander vlak altwee oortuig dat die werk moes voortgaan. Hulle het egter seker gemaak niemand anders vind daarvan uit nie!

Daar was ook 'n baie praktiese rede. Elke keer dat Helen geweier het om aan die 'stem' gehoor te gee en te skryf, het sy geweldig omgekrap geraak. Sodra sy dan weer begin skryf, het sy bedaar.

Genoeg oor hulle. Daar is verskeie boeke geskryf oor al Helen en Bill se wedervaringe en wat daarop gevolg het, en ook op die Internet is daar heelwat inligting beskikbaar. Die uiteinde daarvan is dat daar nou al meer as twee miljoen kopieë van A Course in Miracles verkoop is, nieteenstaande die feit dat dit volgens die 'instruksies' nooit geadverteer mog word nie. Dis reeds in 17 tale vertaal, onder meer in Afrikaans deur Henri Theron ('n Kursus in Wonders). Henri was self 'n sielkundige wat in ACIM die antwoorde gevind het wat die sielkunde hom nooit kon gee nie. Talle mense se genesingsfilosofieë is daarop gebaseer. Die bekendste hiervan is seker Marianne Williamson, wie se boek Return to Love veral deur Oprah Winfrey bekendheid verwerf het. Eckhart Tolle verwys ook gereeld daarna.

Persoonlik verkies ek die oorspronklike Engelse uitgawe, want dit is in 'n ou spraakvorm, bekend as vyfvoetige jambe, geskryf wat meer ooreenkoms met die Engels van Shakespeare se tyd toon as met moderne Engels (insluitend die Engels wat in die tyd van Bill en Helen gehuldig is). Dis asof die taal op sigself dit 'n vreemde soort gesag gee. Maar dis maar net my voorkeur. Henri se vertaling maak die nou vir baie Afrikaners beskikbaar wat dit andersins nooit sou gelees het nie.

Hoewel Helen en Bill daarvan oortuig was dat die 'outeur' van ACIM Jesus self was, het die 'stem' dit duidelik gemaak dat dit allermins die historiese Jesus was, en dat 'geloof' in Jesus niks met die kern van die boodskap te doen het nie en dus onnodig is. Daar verskyn gereeld gedeeltes in ACIM, veral wanneer dit by die skepping, die kruisiging en die opstanding kom, waar die woorde van Jesus soos hulle in die Bybel verskyn gewysig word of anders geïnterpreteer word.

A Course in Miracles is uiters radikaal, en seker omtrent almal wat die Kursus doen ervaar tye van uiterste onsekerheid, woede en ander emosies. Maar dan; Jesus was radikaal. Dis presies hoekom hy gekruisig is! Wat is meer radikaal as om die aflegging van oordeel te verkondig in 'n samelewing wat op die fondament van oordeel gebou is? En om die waarheid binne jouself te soek in pleks van daarbuite? Wat die kerk van Jesus gemaak het is op die ou end glad nie wat hy self gesê het nie. Selfs nie as 'n mens alles wat oor hom in die Bybel staan as waar aanvaar nie. In sy boek The Biology of Transcendence skryf Joseph Chilton Pearce: "We invariably build religions around our spiritual giants or use them to support a religion in order to avoid the radical shift of mind and disruption of culture these rare people bring about. This we interpret, ironically, as threats to our survival and thus instinctively reject."

Hoekom sou dit wees?

ACIM het 'n direkte antwoord hierop: Dis nie ons wat bedreig voel nie, maar ons ego – die 'eie ek'.

In Genesis lees ons die simboliese verhaal van die geheimsinnige skeiding van God en mens wat ons die 'sondeval' noem. Dis maar een van talle sulke mites regoor die wêreld. Daar was (en is) inderdaad so 'n skeiding, sê ACIM. Of in elk geval, op 'n diep vlak glo ons dat daar so 'n skeiding plaasgevind het. In werklikheid is God Een, en is dit onmoontlik dat 'n deel van God van God geskei kan wees. Alles wat as gevolg van die skeiding ontstaan het, en dit sluit die wêreld soos ons dit ken in, is gevolglik 'n illusie. Dít wat ons onsself as van God vervreem laat ervaar is die ego.

Hoewel hierdie idee vir seker meeste mense absolute malligheid is, is dit tog interessant dat Einstein self ons wêreld as 'n 'delusion of consciousness' beskryf het. Dit het hy gedoen op grond van die implikasies van die kwantumfisika en sy relatiwiteitsteorie wat in werklikheid ons hele wêreldsiening omvergegooi het. Om die waarheid te sê dink ek die kwantumfisici het aan die begin van die twintigste eeu, 'n tydstip waarop baie fisici geglo het hulle verstaan nou presies hoe die wêreld werk, 'n soortgelyke probleem as Jesus en ACIM gehad! Ek sou waarskynlik nooit met A Course in Miracles begin het as dit nie was dat ek my net daarvoor in die kwantumfisika verdiep het nie.

Klassieke outeurs soos Tolstoy en DH Lawrence, en selfs Shakespeare, speel ook met die idee dat die lewe soos ons dit ken self net 'n droom is. Daarbenewens is die idee dat die wêreld 'n illusie (maya) is natuurlik die fondament van die Boeddhisme. So dis beslis nie 'n nuwe idee nie. Dis net nie so maklik om intellektueel te verstaan nie. Ook dít erken ACIM: "The body is merely part of your experience in the physical world. Its abilities can be and frequently are overevaluated. However, it is almost impossible to deny its existence in the world. Those who do so are engaging in a particularly unworthy form of denial. The term 'unworthy' here implies only that it is not necessary to protect the mind by denying the unmindful. If one denies this unfortunate aspect of the mind's power, one is also denying the power itself."

Volgens 'n Kursus in Wonders (die Afrikaanse vertaling van A Course in Miracles) lei die mensdom as geheel aan 'n geweldige diep skuldgevoel wat sy oorsprong in die ervaring van vervreemding van God het. Skuld verwag straf, en die natuurlike gevolg van skuld is dus vrees. 'n Mens hoef nie vreeslik diep te delf om te besef dat die wêreld soos ons dit ken basies op vrees gebaseer is nie. Vrees vir doodgaan, vrees vir onvolledig wees, vrees vir verkeerd wees, vrees vir honger lei, vrees vir my werk verloor, vrees vir verwerping en so meer.

Dis interessant dat die dieptesielkundige Erich Fromm reeds lank voor die bestaan van ACIM dieselfde insig gehad het. In The Art of Loving skryf hy destyds: "The experience of separation arouses anxiety; it is, indeed, the source of all anxiety," en later "The awareness of human separation, without reunion by love – is the source of shame. It is at the same time the source of guilt and anxiety."

Hoewel 'n diep skuldgevoel en vrees dus ons hele lewenservaring onderlê, beteken dit nie noodwendig dat ons dit so ervaar nie. Inteendeel. Omdat die ego uiteindelik 'n illusie is en slegs as 'n illusie kan bestaan, is dit van uiterste belang vir die ego dat ons nie besef dat dit 'n illusie is nie. Dit is dus vir die ego van kritieke belang dat ons nie van die ware aard van die illusie bewus is nie. Vandaar die 'onbewuste'.

Hiervoor het die ego twee strategieë wat sy hele 'bestaan' onderlê: ontkenning en projeksie. Weereens is, danksy Freud en sy opvolgers, hierdie nie 'n nuwe idee nie.

As ons ons diep skuldgevoel en vrees werklik in die oë sou staar sou ons gou besef dat die oplossing sou wees om dit eenvoudig te laat vaar en daardeur hereniging met God te beleef! Dis presies wat die ego wil vermy, en daarom 'oortuig' dit ons om nie te diep na onsself te kyk en werklik die skuld en vrees te ervaar nie, en maar liewer die 'waarheid' buite ons te soek. "As jy werklik met jou skuld en vrees in aanraking gaan kom," sê die ego, "gaan jy sterf!" Dis nie God wat vir Adam en Eva gesê het hulle gaan sterf as hulle die vrugte van die "boom van alle kennis" eet nie; dis die ego!

Sodoende ontken ons wat ons werklik dink en voel. Omdat ons nog steeds deel van God is, vind hierdie ontkenning effektief met die krag van God plaas. Daarom dat ons letterlik onbewus is van baie van ons onderliggende gevoelens en motiewe. Hoe kan ons daarna kyk as ons as gevolg van die ontkenning met reg absoluut oortuig is dat dit glad nie bestaan nie? Daar is egter een duidelike aanduiding dat dit wél daar is: projeksie. Wanneer ons vir ander kwaad word is dit die projeksie van ons eie onderliggende skuldgevoel.

Die ego sorg dat ons lewens net op 'n 'gemaklike ongemaksvlak' bly. Daardeur bly ons altyd op soek na iets anders wat ons dink ons gelukkig sal maak, maar vermy ons 'n dieper soeke na die aard van die ego in onsself.

Soos reeds genoem, projekteer ons ons ontkende skuldgevoel en vrees op ander. Ons sien ander as onvolmaak, onvermoënd, sleg, moorddadig en so meer, of ons plaas hulle op troontjies en doen dan alles in ons vermoë om hulle weer af te skiet! Daardeur vermy ons dat ons met presies daardie gevoelens oor onsself in aanraking kom. Ook al is ek dalk deur tien verskillende verhoudings is dit altyd die ander man of die ander vrou se skuld dat dit nie uitgewerk het nie. Ook al val ons hoeveel ander lande binne is dit altyd die ander lande se skuld en doen ons dit net uit 'selfverdediging'. 'n 'slagoffer'-mentaliteit is een van die ego se gunstelinge. Dis altyd iemand anders wat my bedonner. Dis nooit ek nie.

Net so projekteer ons op God. Dis nie God wat ons uit die paradys verjaag en vervloek het nie; dis ons ego! Die gevolg van skeiding is pyn en lyding. Dis nie God wat pyn en lyding veroorsaak nie; dis ons eie geloof in die skeiding.

Woede is direk verwant aan skuld. Dis die manier waarop ons ons skuldgevoel met geweld op iemand anders forseer (projekteer). Die doel daarvan is duidelik: om die ander een skuldig te laat voel. Sodoende verplaas ons ons eie skuldgevoel na die ander persoon. Daardeur glo ons (op 'n diep onbewuste vlak) dat ons van ons eie skuldgevoel ontslae raak, maar in werklikheid het ons dit slegs versterk. In 'n Praatjie oor 'n Kursus in Wonders skryf Kenneth Wapnick, die persoon wat A Course in Miracles saam met Helen Schucman geredigeer het:

Die ego het 'n baie slim manier om 'n bose kringloop van skuld en aanval aan die gang te hou: Hoe skuldiger ons voel, hoe meer ontken ons dit in onsself en val ons ander daarvoor aan. Hoe meer ons ander aanval, hoe skuldiger voel ons egter oor wat ons doen, want op een of ander vlak weet ons dat ons aanval nie geregverdig is nie. Dit versterk weereens ons skuldgevoel en daardeur ook weer die kringloop. Dit is hierdie kringloop van skuld en aanval wat die wêreld aan die gang hou: nie liefde nie.

Vandaar Jesus se bekende woorde: "Moenie oordeel nie ..." In die klassieke interpretasie van die godsdiens waar God 'n bedonnerde ou man is wat self aanmekaar oordeel maak hierdie woorde glad nie sin nie. Dan is dit soortgelyk aan die situasie wat baie van ons met ons kinders beleef: "Doen wat ek sê en nie wat ek doen nie"! Volgens ACIM se interpretasie maak dit egter baie sin: om oordeel te laat vaar is om ons eie 'negatiewe' gevoelens te eien. Slegs deur hulle te eien kan ons hulle uiteindelik laat vaar.

Sigmund Freud, Carl Jung en ander psigo-analiste het baie te sê gehad oor die terugtrekking van projeksie. Dis presies dieselfde beginsel, en dis nie altyd lekker nie. Want daardeur kom ons met ons eie skuldgevoel en vrees in aanraking. Soveel makliker om ander te beskuldig!

Die rede hoekom ons nie met ons skuldgevoel en vrees in aanraking wil kom nie, is omdat ons dan onssélf dan as 'sleg' ervaar! Dis waar die idee vandaan kom dat ons "in sonde ontvang en gebore is". Ons hele westerse onderwysstelsel is nog steeds basies gebaseer op die idee dat kinders inherent 'sleg' is en 'goed' gemaak moet word. En wat sê die aartsantagonis van godsdiens, Richard Dawkins? "Be warned that if you wish, as I do, to build a society in which individuals cooperate generously and unselfishly towards a common good, you can expect little help from biological nature. Let us try to teach generosity and altruism, because we are born selfish (my kursief).

Dis hier waar die radikaliteit van 'n Kursus in Wonders (KiW), en daarmee die ware boodskap van hoop tot uiting kom. Dis die ego, sê 'n KiW, wat jou jouself as sleg laat ervaar. Dis absoluut onmoontlik dat jy as volmaakte skepping van God ooit nie volmaak kan wees nie. Al wat hoef te verander is die persepsie wat ons van onsself het.

Dit bring ons by die konsep 'verlossing'. Die ego glo dat ons van ons 'sonde' verlos moet word. ACIM maak dit duidelik dat ons slegs van ons skuldgevoel verlos hoef te word. Die hele idee van 'sonde' het sy oorsprong in skuldgevoel. Ons voel skuldig, en gevolglik lei ons (onbewustelik) af dat ons iets verkeerd moes gedoen het. Dit noem ons 'sonde'. Ons het oorsaak en gevolg omgeruil.

Groot dele van die Bybel is niks anders as projeksie nie. Die God van die Bybel wat nodig het om te straf en te vergeld en te vermoor en weerlose maagde aan Moses se manskappe te 'gee' bestaan nie; dis die projeksie van ons eie skuldgevoel. Die obsessie met reinheid en onreinheid in Levitikus kom op die aanname neer dat wanneer ons alles uit ons lewens verwyder wat 'onrein' is, ons self 'rein' sal word. Weereens projeksie. Die arme vrouens met hul menstruasie ontgeld dit alweer. In godsdienste waar mans nog altyd dominant was is dit seker maar te verstane dat alles van die 'sondeval' en 'onreinheid' tot egbreuk altyd die vrou se skuld is. Vrouens word baie gou as 'slette' uitgeskel, waarvoor daar 'n hele aantal ekwivalente woorde bestaan, maar daar is nie eers één soortgelyke term vir mans nie!

Aan die ander kant word dinge soos pedofilie, verkragting, seksuele molestering en so meer oor die algemeen aan mans toegedig, so dis nou nie asof die vrouens nie ook maar hulle deel doen nie. Hierdie soort dinge gaan gewoonlik met geweldige skuldgevoel aan die kant van die slagoffers gepaard, en alle skuldgevoel word op een of ander manier geprojekteer!

Vir die ego kan verlossing slegs bereik word as iets of iemand anders doodgemaak word. Die Jode het lammers of duiwe geslag. Die bloed was die simbool dat ons self van ons sondes verlos is. Dis soos 'n mishandelde kind wat diere opsetlik seermaak om van sy eie pyn ontslae te raak. Natuurlik werk dit nie regtig nie, en hou ons aan om goeters te slag of diere seer te maak. Paulus kon net nie die versoeking weerstaan om, ten spyte van sy dieper insig in wat Jesus gesê het, die ou Joodse geloof in slagoffers weer in te sleep nie. Nou was dit nie meer lammers of duiwe nie; nou was dit Jesus sélf! Die man wat kom verkondig het dat God geen slagoffers nodig het nie, het nou self die slagoffer geword!

"Vir die ego beteken sonde dood, en dus word versoening deur moord bereik. Verlossing word dan beskou as 'n manier waarop die Seun van God doodgemaak is in jou plek. Maar sou ek jou my liggaam bied, vir jou wat ek liefhet, terwyl ek die onbeduidendheid en kleinheid daarvan ken? Of sou ek onderrig dat liggame ons nie apart kan hou nie?" ('n KiW.)

Solank ons sonde as iets buite onsself sien, sal ons altyd een of ander vorm van slagoffer nodig hê. In Lloyd deMause se boek The History of Childhood beskryf hy hoe dit deur die eeue nog ons kinders was. Die kinders word ons, en so word die siklus geslag na geslag herhaal.

ACIM ('n KiW) se oplossing is vergifnis. Waarom sou ons ander moet vergewe as God dit self nie doen nie? Maar as vergifnis basies die besef beteken, soos ACIM verduidelik, dat sonde in werklikheid nie bestaan nie, omdat die skeiding nooit werklik plaasgevind het nie, en dat ons almal eintlik nog een met God – en dus volmaak – is, is dit iets heel anders.

Op die ou end is vergifnis nie iets wat ons self doen nie. Soos Einstein uitgewys het, kan geen denksisteem vanuit homself verander word nie. Vergifnis kan uiteindelik slegs deur wat ACIM die 'Heilige Gees' noem bewerkstellig word. Al wat nodig is, is dat ons gewillig is om die Heilige Gees deur ons te laat werk. Interessant; slegs een keer in die hele boek word die naam 'Universal Inspiration' as alternatief vir 'Holy Spirit' gebruik. Ek verkies nogal die alternatief. Dit help om weg te kom van tradisionele konsepte wat ons aan die verlede vasgeketting hou!

Daar's 'n snag. Die Universele Inspirasie kan ons slegs help om dít te vergewe wat ons in onsself raaksien en erken. Ons kan slegs bewus word deur ons projeksies terug te trek en ons ontkenning te laat vaar. Die twee gaan saam. Dis wat vergifnis is. Soos die twee millennia na Jesus duidelik uitgewys het, is dit nie 'n maklike taak nie. Want wanneer ons ophou om almal om ons en Jesus en God en die Duiwel vir alles te blameer, kom ons outomaties met ons eie diep skuldgevoel en vrees in aanraking. Dis'ie lekker'ie. Dis kak. Dis wat Johannes van die Kruis die 'donker nag van die siel' genoem het.

Dit voel dan dikwels asof alles verkeerd loop, maar eintlik loop dit júís reg: "Onder die ego se donker fondament lê die herinnering aan God, en dit is juis hiervoor waarvoor jy werklik bang is," sê die Kursus in Wonders. "Hoe dieper jy die swartheid van die ego se fondament binnegaan, hoe nader kom jy aan die Liefde wat daar versteek is. En dít is wat jou bang maak."

"God kan jou daar bring [by die vrede van God wat ons vrees onderlê] as jy gewillig is om die Heilige Gees deur skynbare verskrikking te volg, in die vertroue dat Hy jou nie sal verlaat of jou daar sal agterlaat nie. Want dit is nie Sy bedoeling om jou bang te maak nie, maar slegs joune. Jy word ernstig in die versoeking gebring om Hom by die buitenste kring van die vrees in die steek te laat, maar Hy wil jou veilig daardeur en ver daarby verby lei."

'Geloof' in hierdie konteks is iets totaal anders as wat ons in die kerk geleer het. Om te 'glo' dat Jesus vir ons sondes gesterf het is om die ervaring van vervreemding van God, en dus die gepaardgaande skuldgevoel en vrees, aanhoudend te versterk. Dis soos die mishandelde kind wat aanhoudend diere seermaak in die onbewuste hoop dat dit hom of haar beter sal laat voel. Dis die ego wat sulke 'geloof' vereis; nie God nie.

Ek dink Paulus was 'n bietjie nader aan die kol toe hy gesê het "geloof is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop," hoewel ek eerder sou sê dis 'n vaste vertroue op die dinge wat ons wéét. Want diep binne-in ons weet ons dat ons in werklikheid die volmaakte kinders van die Liefde is. Dis waarskynlik hoekom geskrifte soos ACIM, Conversations with God en Letters from Christ so 'n universele aantrekking het. Ons gaan dit egter nie volkome besef voordat ons nie van aangesig tot aangesig met ons ego kennis gemaak het nie...

Vandaar die universele gesegde, "Mens, ken jouself."

Ek wil net nog een belangrike vraag beantwoord: Is ACIM nou my nuwe godsdiens?

Die antwoord, goddank, is nee. ACIM maak dit baie duidelik dat Jesus in die eerste plek nooit 'n godsdiens kom verkondig het nie, maar kom leer het hoe ons van pyn en lyding ontslae kan raak. Hy het geen waarheid verkondig (ook nie deur ACIM nie) wat nie reeds in onsself teenwoordig is nie. Inderwaarheid is ACIM 'n soort 'sielkundige' handleiding. Dis meer 'sielkundig' as wat die 'sielkunde' self is, want dit gaan oor die siel as primêre werklikheid. Hoewel al hoe meer 'sielkundiges' meer in 'n 'geestelike' rigting beweeg vanweë die beperkings van die tradisionele sielkunde, aan die ander kant, is die 'sielkunde' tradisioneel op die aanname gebaseer dat ons geestesdenke (Henri Theron se woord vir 'mind') bloot 'n produk van die brein is.

Ons ego wou dit nie verstaan nie en het ons 'n godsdiens laat skep. Ons móés die waarheid búíte onsself sien! Die doel van ACIM is basies om hierdie fout reg te stel.

In teenstelling met soveel godsdienste wat daarop aanspraak maak dat hulle die enigste ware godsdiens is, staan daar in die Handleiding vir Onderwysers van 'n Kursus in Wonders: "Dit is 'n handleiding vir 'n spesiale leerplan, bedoel vir onderwysers wat 'n spesiale vorm van die universele kursus onderrig. Daar is baie duisende ander vorms, almal met dieselfde uitkoms."

Dis maar een manier. In pleks daarvan om skuld te verkondig, spreek dit ons vry van skuld. En omdat sonde in werklikheid nie bestaan nie, is daar ook geen hel nie (benewens dié wat ons voortdurend vir onsself skep). Of ons aan ACIM of aan Jesus 'glo' of nie, maak dus absoluut nie saak nie. Daar kom egter vir baie van ons 'n tyd in ons lewens waar ons sê: "Daar moet 'n ander manier wees".

Hierdie is 'n ander manier. As 'n lewenslange soeker na waarheid en vrede is dit vir my persoonlik die antwoord. Dis absoluut logies konsekwent (in teenstelling met die Bybel) en verklaar vir my wat geen godsdiens of wetenskap kan verklaar nie. Boonop het, deur die beginsels daarvan 'n deel van my lewe te maak, die "vrede van God wat alle verstand te bowe gaan" 'n werklikheid in my lewe begin word. 'n Vriendin skryf vir my: "Ek is vrek bang vir enige pseudo-plaasvervanger van godsdiens, maar tog lyk die ACIM aantreklik, bloot omdat ek die vrugte daarvan in ander se lewe waarneem."

"Aan hul vrugte sal julle hulle ken ..."

'n Kursus in Wonders, die Afrikaanse vertaling van A Course in Miracles, is slegs op CD beskikbaar. Dit van óf van Henri Theron self af (centreformiracles.com) óf deur my webwerf bestel word.

Douwe van der Zee

As voormalige biologiese wetenskaplike wat besef het dat nóg die wetenskap nóg die godsdiens ons menslike probleme gaan oplos, het Douwe hom al hoe meer op die menslike psige en spiritualiteit toegespits. Deur jare lank outentiek met kinders te speel, het spesifiek die geweldige krag en vatbaarheid van die bewussyn van klein kinders – en die kragtige effek daarvan op ons lewens – sy belangstelling geprikkel. Hy skryf, gee praatjies en werkswinkels oor outentieke speel, doen wildernis staptoere in wildtuine en is 'n student en onderwyser van A Course In Miracles.
Meer inligting is op sy webwerf douwevanderzee.co.za beskikbaar.
Hy is bereikbaar op

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za