.

Kultusse, wetenskap en die einde van die wêreld

Deur Prof. George Claassen op 2 Desember 2012

.

Desember 2012 is hier – nou kan die gewag op die eindtyd en al die voorspellings van profete en kwaksalwers wat verkondig ons planeet gaan in hierdie maand vergaan omdat 'n antieke Suid-Amerikaanse beskawing se kalender dit kwansuis sou voorspel, finaal verkeerd bewys word.

Maar as ons op die oggend van 1 Januarie 2013 wakker word en sien die son skyn nog en die aarde beweeg steeds in 'n wentelbaan om ons moederster, sal dit die einde wees van kultusgiere en doemvoorspellings deur irrasionele mense wat enigiets aangryp om misteries te verklaar?

Beslis nie – die geskiedenis van die mens is 'n verhaal deurspek met bygeloof en môre sal daar 'n nuwe kultusleier opstaan om genoeg volgelinge sonder onsinverklikkers aan hul neuse te laat lei.

Verlede jaar het die vooraanstaande Brits-Ierse astrofisikus Jocelyn Bell die Maja-kalenderonsin in 'n reeks lesings, ook in Suid-Afrika, deeglik en punt vir punt wetenskaplik weerlê. Bell, die ontdekker van pulsars, het elkeen van die voorspellings wat die einde van die wêreld in Oktober 2012 aangekondig het en wat op foutiewe kwasi-wetenskaplike aannames die internet laat gons, volgens bewese natuurwette ontleed en beoordeel en as tipiese kultusvoorspellings geïdentifiseer. Haar lesing hieroor by die Britse Royal Society in Februarie 2011 is hier beskikbaar en is die moeite werd, omdat dit wys hoe maklik dwaal- en drogstories as die waarheid verkondig kan word en waarom dit belangrik is dat wetenskaplikes soos Bell nie hieroor moet stilbly nie.

"Dit is die doel van wetenskap: om die heelal minder vreemd te maak, maar net in die sin dat dit meer voorspelbaar word. En in daardie sin is die heelal nie naastenby so vreemd as wat dit voorheen was nie. Die boodskap wat die publiek huis toe moet neem, is dat dit nie die sieners en fortuinvertellers is wat die toekoms kan sien nie, maar die wetenskaplikes," skryf die Amerikaanse fisikus Robert Park in sy boek Voodoo science – the road from foolishness to fraud (Oxford University Press). Sy woorde is deeglik van toepassing op die falanks van onwetenskaplike denke wat oor die sogenaamde Oktober 2012-eindtyd deur profete en kultusleiers op die internet versprei word.

In 2009 het die nuusredakteur van Kerkbode, Jean Oosthuizen, in 'n artikel in Rapport geskryf dat indien daar enige twyfel was of Angus Buchan en die Mighty Men-verskynsel 'n kultus was, dit uit die weg geruim is toe Buchan Lasarus-agtig uit die dood opgestaan het ná sy beswyming op die verhoog. Op Stellenbosch is daar ook die kultusagtige Shofar-beweging van Fred May, 'n geheimsinnige leier wat heelwat van die kenmerke van 'n kultusleier vertoon.

In 1996 het prof Margaret Singer in haar boek Cults in our midst: The hidden menace in our everyday lives (Jossey-Bass-uitgewers) geskryf twee-derdes van kultuslede kom uit normaal funksionerende families en toon geen abnormale gedrag voordat hulle by die kultus aansluit nie.

Kyk maar net na die onlangse geskiedenis van kultusse: Marshall Applewhite en sy Heaven's Gate-kultus, wat selfmoord gepleeg het om 'n gewaande ruimteskip in die stert van die komeet Hale-Bopp te gaan ontmoet; Jim Jones, wat honderde laat sterf het in die woude van Guyana; David Koresh van die Branch-Dividiaanse religieuse sekte, wat saam met sy verslaafde volgelinge buite Waco in Texas in 'n vlammehel omgekom het; en Shoko Asahara van die Aum-Shinrikyo-kultus, wat sy volgelinge sarin-gas in die moltreine van Tokio laat gooi het.

Die Amerikaanse skrywer en wetenskapskommunikeerder Michael Shermer sit in sy boek Why people believe weird things – pseudoscience, superstition, and other confusions of our time (Henry Holt & Co) die kenmerke van 'n kultus uiteen. Dit behels die volgende:

Margaret Singer verwys in Cults in our midst na kultusse en kultiese groepe as "any one of a large number of groups that have sprung up in our society and that are similar in the way that they originate, their power structure, and their governance. Cults range from the relatively benign to those that exercise extraordinary control over members' lives and use thought-reform processes to influence and control members. While the conduct of certain cults causes nonmembers to criticize them, the term 'cult' is not in itself pejorative but simply descriptive. It denotes a group that forms around a person who claims to have a special mission or knowledge, which they will share with those who turn over most of their decision making to that self-appointed leader."

Hoewel die eindtydvoorspellings gebaseer op die Maja-kalender nie identifiseerbare leiers het nie en nie aan die meeste van Shermer en Singer se vereistes voldoen om as kultusse beskryf te word nie, is die geskiedenis deurspek van kultusfigure wat juis die vrees vir die einde van die aardse bestaan aangewend het om mag oor ander mense te verkry. En dit gebeur soveel makliker wanneer mense moeilike tye beleef en 'n beter wêreld beloof word.

Wetenskaplikes se rol om onsin te bestry, is nie 'n keuse nie, maar 'n verpligting. Jocelyn Bell se reeks lesings om die Maja-voorspellings te weerlê, het daardie verpligting weer onderstreep. Dit sluit aan by Bertrand Russell, die Britse wiskundige en Nobelpryswenner in letterkunde in 1950, se wyse raad oor wie se plig dit nou eintlik is om onsin te bestry.

Russell skryf: "Baie ortodokse mense praat asof dit die besigheid van skeptici is om dogmas verkeerd te bewys in plaas van dogmatiste se verantwoordelikheid om dit as waar te bewys. Dit is natuurlik 'n fout. As ek sou beweer dat daar tussen die aarde en Mars 'n Chinese teepot in 'n elliptiese baan om die son beweeg, sal niemand in staat wees om my aanspraak verkeerd te bewys nie solank ek versigtig genoeg is om by te voeg dat die teepot te klein is om selfs deur ons sterkste teleskope waargeneem te kan word. Maar as ek sou voortgaan om te sê dat omdat my aanspraak nie verkeerd bewys kan word nie, dit 'n ondraaglike veronderstelling aan die kant van die menslike rede is om dit in twyfel te trek, sal mense tereg dink ek praat twak. As die bestaan van so 'n teepot daarenteen bevestig word in antieke boeke, elke Sondag as die heilige waarheid verkondig word, en ingedril word in die verstand van kinders op skool, sal traagheid om in die bestaan daarvan te glo 'n teken van eksentrisiteit wees.

Pox populi ignoramus en ons beste manier van weet

'n Malariahorlosie wat, as jy dit dra, jou dadelik kan vertel of jy malaria het. 'n Armband wat jou energie balanseer en feitlik elke kwaal in die mediese handboek van jou weghou. 'n Voetbad wat al die gifstowwe uit jou liggaam verwyder. 'n Brousel tee wat jou liggaam van onsuiwerhede suiwer.

Net vier voorbeelde van hoe slim en slinkse en dikwels oneerlike bemarkers gewone mense, soms desperaat weens een of ander onverklaarbare siekte, om die bos lei.

Hoe moet Jan en Sannie Alleman en -vrou wéét wanneer die grens van geloofwaardigheid op die foutlyn tussen bewese kennis en onbewese onsin oorgesteek word? Wat is die beste manier om vas te stel of die aansprake van totale gesondheid en skielike geluk waarmee jy in die media deur adverteerders en smouse van pseudowetenskap gebombardeer word, waar is en die aantreklike sak nie 'n kat bevat nie?

Toe Anastassios Pouris van die Universiteit van Pretoria twintig jaar gelede Suid-Afrikaners se kennis oor astrologie, in die volksmond ook bekend as sterrewiggelary, getoets het, het een uit elke drie van die ondervraagdes geantwoord hulle dink astrologie staan baie sterk op 'n wetenskaplik basis. 'n Verdere een uit drie het beweer astrologie het wetenskaplike gronde. Dat twee uit drie Suid-Afrikaners se vermoë om bewese wetenskap van pseudowetenskap te onderskei so gebrekkig is, kan 'n mens net toeskryf aan die siekte pox populi ignoramus – die pes van die onkundige bevolking, soos die Pulitzerpryswenner Natalie Angier dit beskryf.

Suid-Afrikaanse kinders vaar jaar ná jaar ellendig in internasionale toetse oor hul wetenskaplike en wiskundige kennis en kan geensins met die meeste ander lande meeding nie, selfs nie met lande met 'n veel kleiner onderwysbegroting nie. G'n wonder nie, as die vyandigheid teenoor geldige wetenskap by 'n bekende skool in die Kaapse noordelike voorstede as voorbeeld van pox populi ignoramus moet dien. Hier het 'n wetenskaponderwyser wat, streng volgens die sillabus, natuurlike seleksie as die meganisme waardeur evolusie plaasvind, behandel het, bedank nadat sy trompop geloop is deur medeonderwysers, die skoolhoof en ouers omdat sy die "onsin van evolusie" verkondig.

Dit is algemene praktyk in heelwat skole dat biologie-onderwysers weier om evolusie in klasse te bespreek, ondanks die feit dat dit in 1998 die eerste keer as deel van skoolleerplanne ingesluit is ná jare se apartheidskoling wat dit as "onskriftuurlik" beskryf het. Hierdie onderwysers ignoreer die ouderdom van die Aarde en weier om bewese wetenskaplike feite soos plaattektonika en radiodatering van rotse en fossiele hul regmatige plek in die wetenskapsillabus te laat inneem – ten koste van kinders se kennis in 'n wetenskapsgedrewe eeu.

Saul Bellow, 'n wenner van die Nobelprys vir letterkunde, het hierdie soort moedswillige onkunde by pligversakende onderwysers raak beskryf. "'n Groot deel van intelligensie kan gewy word aan onkunde wanneer die behoefte aan illusie diep is."

Wetenskaplike ongeletterdheid is nie 'n uniek Suid-Afrikaanse sindroom nie; dit kom wyd voor in alle lande, ook in die VSA, die leidende wetenskapland met sy ellelange lys van wetenskaplike prestasies en ontdekkings.

Kan ons dan verwag dat almal wetenskaplik geletterd móét wees?

Nee, maar ouers en onderwysers versaak hul plig as hulle onkunde verkies bo kennis en leerders sodoende in die steek laat omdat hulle in 'n mededingende wêreld verkies om wetenskaplike bewyse as onsin af te maak as dit nie in hul beperkte denkwêreld inpas nie.

Die Amerikaanse fisikus Robert Park beklemtoon dat dit nie eintlik kennis van die wetenskap is wat die publiek nodig het nie, maar 'n wetenskaplik ingestelde wêreldvisie – 'n begrip dat ons in 'n geordende heelal woon wat deur fisiese wette beheer word wat nie omseil kan word nie.

Dat wetenskap en wetenskaplikes beleër word, is duidelik uit 'n falanks van wetenskapontkenners wat die mens se rol in klimaatsverandering as bog afmaak, uit die doelgerigte pesbeheer wat onderwysers en ouers toepas op 'n bewese wetenskaplike teorie soos evolusie, uit anti-inentingsveldtogte deur onkundiges wat hul eie kinders en dié van ander se lewens in gevaar stel. En uit vele ander misleidende aanhangsels van pseudowetenskaplike denke.

Wetenskapontkenning het ongelukkig mode geword, maar veel erger, die media wat beter behoort te weet, neem lustig aan hierdie ontkenning deel. Radiostasies soos Cape Talk en Talk Radio 702 nooi astroloë uit om hul onsinnige raad aan liggelowige luisteraars te verkondig. Min koerante bevat nié daagliks 'n astrologierubriek nie, en aan die begin van die jaar het Suid-Afrika se grootste gesinstydskrif openlik op sy omslag 'n volledige sterrevoorspellingsgids aangekondig.

Die wetenskap het ver van al die antwoorde op die groot lewens- en ontstaansvrae, maar ons "moet die intellektuele moed aan die dag lê om met die onbeantwoorde vrae te lewe, eerder as om antwoorde uit te dink wat geen basis het behalwe in mistieke ervaring nie," skryf die Suid-Afrikaans-gebore ontwikkelingsbioloog Lewis Wolpert van University College in Londen. "Wetenskap verskaf by verre die mees betroubare metode om te bepaal of ons geloof geldig is."

Dit het tyd geword om bewese en beproefde wetenskaplike kennis weer sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse samelewing te gee. Verhoed nie die kinders om aan die voet van die Berg Wetenskap te sit en oor die vallei van onkunde te kyk nie.

George Claassen is die skrywer van Geloof, Bygeloof en Ander Wensdenkery: Pespektiewe op Ontdekkings en Irrasionaliteite (Protea Boekhuis).

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.