Kreatiwiteit as spirituele dissipline – my soeke na ‘n eietydse spiritualiteit

Deur Magdaleen du Toit op 1 Junie 2010

It is the creative potential itself in human beings that is the image of God. Why indeed must "God" be a noun? Why not a verb ... the most active and dynamic of all? – Mary Daly

Toe ek al lank met kerk en godsdiens ontnugter was, het ek nog steeds die behoefte aan een of ander vorm van geestelike gemeenskap gehad. Só beland ek by die retreat-sentrum van die Oostenrykse Rooms-Katolieke priester (nou reeds oorlede) wat benewens 'n uitgebreide agtergrond in die Christelike teologie ook oor 'n diep kennis van Oosterse dissiplines beskik het.

Dit was vir my 'n tuiskoms en 'n bevryding om dienste in die klein bergkapel bokant die Hartbeespoortdam by te woon waar daar voorgelees is uit 'n verskeidenheid heilige geskrifte: die Bybel, die Oepanisjads, die Bhagavad-Gita, die Vedas, tekste van Sint Jan van die Kruis...

Intussen was ek met my eie geestelike prosesse besig – ek het nooit afstand gedoen van my geestelike bewussyn nie, maar ek het dinge intens bevraagteken; ek het gekyk en geluister na wat om my aangaan en ek het begin dink 'n mens het in ons wêrelddorpie dalk 'n soort sekulêre spiritualiteit nodig wat nie onder die dissipline van georganiseerde godsdiens staan nie; 'n geestelike bewustheid wat uit die daaglikse lewe self voortkom, uit 'n kapasiteit om te kan verstaan en omgee, en uit 'n behoefte om verbondenheid te skep.

Ek het baie paradokse beleef: hoewel ek 'n diep begrip gehad het vir mense se behoefte aan godsdienstige taal en betekenis, het ek 'n aversie gehad aan godsdienstige fundamentalisme en onverdraagsaamheid; en terwyl ek geweet het watter skade godsdienstige dogmatisme aan gevoelige mense doen, het ek net so 'n aversie gehad aan mense wat – om watter rede ook al – sonder aanvoeling op ander mense se godsdienstige sentimente trap.

Op 'n tyd was ek weke lank besig met 'n groot lading oortydwerk sodat ek nie by die kapel teen die berg uitgekom het nie. Toe word ek een Sondagoggend wakker – al klaar te laat om daarheen te ry, maar ek het skielik 'n sterk behoefte om die oggendmis te beleef en weer die bekendes te sien. Ek spring in my motor, oortree elke spoedgrens en kom aan toe almal reeds in die kapel sit. Gewoonlik het ek voor die diens my handsak in die eetsaal-kombuis gaan neersit, maar dié keer besluit ek dit gaan nog meer tyd in beslag neem; ek gaan direk na die kapel en sit die sak by die hoofingang agter die deur neer. Ek draf in die geboë gang af wat rondom die sentrale vertrek loop, draai regs in by die ingang van dié vertrek en sak tussen die teenwoordiges op die vloer neer terwyl die priester reeds met die liturgie begin het. Kerse brand en wierook vul die koel ruimte. Rus en kalmte oorvloei my en ek gee my oor aan die ervaring.

Totdat my selfoon in my handsak agter die deur begin lui. Ek versteen van skok. Bewus daarvan dat ek alreeds die rustigheid versteur het deur laat in te storm, en wetende dat my foon presies vier keer lui voordat die 'voicemail'-funksie inskop, bly ek sit – die gelui sal buitendien oor wees teen die tyd dat ek die foon bereik. Sonder om 'n oog te knip gaan die priester voort met die diens. Maar in my binneste het die rus gewyk. My hart begin klop, dit suis in my ore, my wange gloei van ontsteltenis. Die selfverwyt neem oor: Hoekom kon ek nie vroeër opgestaan het nie? Hoe kon ek so onbedagsaam wees om nie my sak te gaan bêre of minstens my foon af te skakel nie? Hoe kon ek hierdie heilige ruimte met moderne tegnologie kom ontheilig? Hoekom is ek altyd so vervaard /ongeorganiseerd /onverantwoordelik? Die liturgie en die voorganger se woorde gaan by my verby terwyl ek in pynlike skuldbesef verval: mea culpa, mea maxima culpa!

Toe neem iets anders oor: ek haal diep asem, blaas stadig uit ... en luister. En ek hoor dat die wêreld rondom die klein kapel teen die hang bo die Hartbeespoortdam op 'n Sondagoggend allesbehalwe stil is. Buite tussen die wildeseringe roep 'n piet-my-vrou harder, dringender en aanhoudender as enige selfoon. 'n Mikroligte vliegtuig skeur die stilte bo die dam. 'n Sonbesie skree sy onophoudelike somerse skree. Sonder respek raas die skepping terwyl die kerk aan die gang is. En ek? Ek kasty myself oor vier luie en 'n 'voicemail'-piep uit 'n selfoon.

Ek begin met myself gesels: Baie geluk, sê ek, dat jy terwyl jy so gedaan gewerk is, uit die bed gevlieg en al die pad hierheen gery het. Ek weet hoeveel dit van jou geverg het. Dit maak nie saak dat jy 'n bietjie laat was nie. Die selfoon maak ook nie saak nie; wat saak maak is dat jy nou hier sit. En daar is geen verskil tussen natuur- en tegnologiegeluide nie; 'n selfoon is nie onheiliger as 'n piet-my-vrou nie en 'n sonbesie is nie heiliger as 'n microlight nie. En almal van hulle is net so heilig soos die liturgie wat jy versteur het.

Ek word bewus van parallelle waarhede wat tegelyk manifesteer: die waarheid van die gestruktureerde ervaring: liturgie, kerslig, woord en ritueel; en dan die verrassende waarheid van die onvoorsiene ervaring wat skielik opduik; die ervaring wat die potensiaal inhou om die struktuur te ontwrig, maar wat ook 'n verhelderende insig, 'n epifanie, kan meebring. Ek besef dat albei hierdie waarhede ewe geldig is: die bevestiging sowel as die ontwrigting van die struktuur.

The discipline of creation is a mixture of surrender and initiative. – Shaun McNiff

Teen die tyd dat ek, handsak oor die skouer, uit die koel skemerte in die helder sonlig uitstap, voel ek lig en ontspanne. "Iets" het met my gepraat, nuwe energie in my lyf en lewe geblaas.

Is dit moontlik, het ek daardie dag gewonder, om 'n spirituele raamwerk, 'n "skelet", te skep waarin ons alle menslike ervarings, en alle waarhede wat op grond van hierdie ervarings geskep word – selfoon en piet-my-vrou, godsdiens en ikonoklasme, fundamentalisme en skeptisisme – gelyktydig kan akkommodeer? 'n Skelet waaraan elke individu self vleis kan sit volgens eie behoefte en insig?

Só is die idee vir 'n kreatiewe retreat, wat ek binnekort vir die eerste keer gaan aanbied, gebore. Ek werk met die idee dat die hele wêreld en elke ervaring 'n teks, 'n heilige geskrif is wat betekenis dra. Ek maak gebruik van 'n storie-skelet wat 'n mens in staat stel om ervarings skeppend te interpreteer en te herinterpreteer – voortgaande interpretasies wat nooit tot dogma hoef te stol nie.

Sonder om dogmaties van taal gebruik te maak, kan 'n mens in 'n kreatiewe konteks die intra-psigiese gesin uitbrei sodat die drie volwasse manlike godhede 'n bietjie uitgebalanseer word: jy kan prosesse aan die gang sit waar die vroulike/moederlike elemente geaktiveer word (koesterend, ondersteunend, leweskeppend, entoesiasties), of die spelende kind (waar die Weeskind-argetipe uiteindelik die Speelmaat van God word). Op dieselfde wyse kan 'n mens van kreatiewe materiaal gebruik maak om die polarisasies van lig/donker, hemel/hel, god/satan, chaos/orde op te hef en te versoen – ons moet uiteindelik elkeen ons eie donker kant integreer en ons spoke en monsters in die gesig kyk.

My uitgangspunt is om 'n middelgrond te skep waar mense met sowel 'n teïstiese as 'n nonteïstiese godsbeskouing mekaar kan ontmoet in 'n ervaring wat spirituele moontlikhede inhou – sonder woordeskat wat polarisasie veroorsaak. Ek reken dat kreatiwiteit in die wydste sin die taal daarvoor verskaf.

Wie se stem is dit wat met 'n mens praat? Is dit God s'n? Is dit jou eie diepste self? Is dit jou omgewing? Is dit jou ervaring? Dit maak nie regtig saak nie. Wat saak maak is dat 'n mens in kreatiewe gesprek tree met daardie stem. Wat ook saak maak, is dat jy deurentyd jou antwoorde toets: met wie se stem antwoord ek? Met die stem van onondersoekte, geykte persepsies? Of met die stem van my eie eerlikste, diepste waarheid? Die idee van die retreat is om hierdie bewustheid op te skerp. Spiritualiteit manifesteer sigself in die eerste plek in die gewone alledaagse ervarings, en ons is nie altyd toegerus om die taal daarvan te lees en daarop te antwoord nie.

Hoe sou dit wees as 'n mens kon besluit dis nie nodig om tussen parallelle waarhede te kies nie, as jy vry kon voel om te speel en te eksperimenteer, om na jou sintuie en intuïsie te luister en jou hart te vertrou om betekenis te gee? Om te skep soos kinders – sonder om oor die eindproduk besorg te wees? Hoe sou dit wees as ons saam kon begin gesels oor wat ons as skeppende mense kan bydra om 'n nuwe realiteit te skep? Kom ons kyk!

Art seems to me a state of the soul more than anything else. – Marc Chagall

If you can listen, you find answers to questions you did not know. – Nick Penna

Why should we all use our creative power? Because there is nothing that makes people so generous, joyful, lively, bold and compassionate, so indifferent to fighting and the accumulation of objects and money. – Brenda Üland

Magdaleen du Toit is 'n akademiese vertaler by UNISA. Sy het 'n groot voorliefde vir mistieke spiritualiteit. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za