.

Kragtige verhale verryk lewens

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Julie 2017

.

Woorde, verhale, opmerkings en sinsnedes vind betekenis binne die sosiale sisteem en die kulturele konteks waarin tekste in taal ontstaan. "Voorheen benadeeldes" en "agtergeblewenes", "ontworteldes", "opheffingswerk" en "bemagtiging", het 'n baie pertinente betekenis wanneer jy dit in 'n Suid-Afrikaanse sosiale sisteem gebruik. Binne 'n ander sosiale en kulturele konteks gaan dit 'n totaal ander betekenis hê. Oor 100 of 'n 500 jaar van nou af, gaan hierdie woorde selfs in 'n Suid-Afrikaanse konteks 'n totaal ander betekenis hê. Dan gaan 'n ander groep mense tien teen een die agtergeblewendes en benadeeldes wees.

Ons moet hierdie beginsel onthou, naamlik dat woorde se betekenis deur die konteks bepaal word, ook wanneer ons antieke tekste, soos bv die Bybel lees. Ons kan nie 'n teks anakronisties interpreteer en maak asof ons en die teks in dieselfde wêreld leef nie. Ons deel nie dieselfde semantiese velde wanneer ons woorde gebruik nie want ons leef nie in mekaar se wêrelde nie!

Neem bv. iets soos Jesus se wondergenesings en veral die duiweluitdrywings wat hy gedoen het. Mens kan nie eers begin om daardie tekste te lees as jy nie die sosiologie van die eerste eeuse Mediterreense wêreld verstaan nie. Behalwe as jy 'n entrepreneur-pastoor is en jy is besig om 'n tent of 'n gebou af te betaal en jy moet 'n klompie lojale kliënte op jou ondersteunerslys kry.

Nie een van Jesus se sogenaamde wonderwerke of wondergenesings was 'n bonatuurlike ingrype van God in die fisiese wêreld nie. 'n Wonderwerk is nie God se periodieke ingrype of inmenging in ons geslote natuurlike orde waarin dinge volgens wetenskaplik-verklaarbare wetmatigheid gebeur nie. Ons glo nie vandag in daardie tipe wonderwerke en ingrype nie. Sulke wonderwerke het ook nie in Jesus se tyd plaasgevind nie. Ons maak die fout om 'n teks te lees en om dan betekenis per woord aan die sin te gee, of om betekenis van woorde uit 'n modernistiese konteks terug te kaats na 'n eerste eeuse verhaal toe, en dan die teks vanuit ons verwysingsraamwerk te lees sonder om die 2000 jaar tussenin in berekening te bring. En dan kom ons tot 'n gevolgtrekking oor wat die verhaal beteken. Maar ons doen dit vanuit ons semantiese verwysingsraamwerk van woorde se betekenis. Ons doen dit nie vanuit 'n eerste eeuse perspektief nie.

As ons die genesings van Jesus in 'n moderne konteks en hedendaagse taal sou oorsit, sou dit dalk eerder iets soos "propaganda" of "hoop" beteken en sou daar geen bonatuurlikheid daarin te bespeur wees nie. Daar sou ook geen mediese wonder daarin gesien kon word nie. Niemand sou 'n genesingsbediening begin het en mense na pastore oor die wêreld heen aangevlieg het nie. Mense sou maar in spreekkamers vir dokters gesit en wag het en medisyne volgens voorskrif gebruik het. Ons moet onthou dat die teks afspeel teen die dekor van 'n mitologiese wêreldbeeld. In 'n mitologiese wêreld, deel mense hulle omgewing met gode, godinne, magte en kragte, duiwels en engele.

En mense het hulle wêreld en die dinge wat met hulle gebeur het, binne daardie konteks geïnterpreteer. Selfs die spanning wat mense beleef het, was toe te skryf aan magte buite hulle beheer naamlik God en Satan. Volgens die mitologiese paradigma het beide God en Satan hulle agente gehad wat namens hulle opgetree het. Dis hoe die paradigma gewerk het. In die Grieks-Romeinse wêreld was die agente van die gode vir genesing: Hercules, Asclepius en Priapus. In die Joodse wêreld was dit die konings, priesters en profete. Die Satan se agente was die gevalle engele, die bose geeste en die demone. God se agente was Jesus, die dissipels en apostels. Almal het dit geweet en almal het dit so aanvaar.

So die leier in die gemeenskap wat gesag en beheer oor die agente kon uitoefen, is gesien as 'n leier van aansien wie se optrede en woorde gesaghebbend is. Zuma, die Guptas, gekaapte ministers en staatsinstellings. Die ou met mag, wat die agente kan beheer, hou die gesag. Met ander woorde, om vertellings, gerugte en verslae oor jou leier se vermoë die rondte te laat doen, soos dat hy bv. duiwels kan uitdryf en genesingwonders kan doen, was propaganda om jou leier gevestig te kry as 'n gesaghebbende figuur in die gemeenskap. Dit was dus onder andere ook 'n politieke speletjie. Hou vas die gedagte vir 'n oomblik.

Keiser Tiberius het keiser Augustus opgevolg in die jaar 14. Hy het regeer tot die jaar 37. So Jesus se openbare optrede en sy kruisiging het plaasgevind in die regeertyd van Tiberius. Die Romeinse historikus wat verslag gedoen het oor daardie tydperk, was die geskiedskrywer Tacitus. Hy skryf in sy annale, "Sub Tiberius quies" (In die tyd van Tiberius het daar eintlik niks gebeur nie).

Wanneer hy oor sake in die provinsie Judea skryf, sê hy: Die leier van 'n sekte, 'n ene Christus, is ter dood veroordeel deur die procurator Pontius Pilatus. Dit was 'n duiwelse beweging wat in Judea begin het, met 'n krimineel as leier. Die beweging het later ook na Rome uitgebrei (15:44). Met ander woorde, die volgelinge van Jesus is geëtiketteer as duiwelbesetenes deur die Romeine. Dit was 'n sosiale etiket wat aan hulle gekoppel is. Onthou, Palestina is onteien, gekoloniseer, en die grond is beskou as Romeinse besit. "Ager publicus populi Romani." Al die grond is Rome s'n. Klink amper na Malema se nuutste uitsprake. M.a.w. die Judeërs is van hulle grond vervreem, hulle sosiale strukture is vernietig en hulle was weerloos teen Rome. Koloniale dominansie en onderdrukking was aan die orde van die dag.

Die volgelinge van Jesus wil hom graag as 'n mag en 'n teenvoeter propageer wat weerstand teen Rome kan bied en wat nie bang is vir die keiser nie. Hulle het behoefte aan 'n leiersfiguur. En volgens Jesus se volgelinge behoort hy nie aan die koninkryk van Rome nie, maar aan die koninkryk van God. Nou gebruik Markus hierdie sosiale agtergrond en die genesigswonder van duiweluitdrywing as metafoor om sy punt mee te maak. Hy vertel in Markus 5:1-20 die verhaal van die besetene van Gerasa. Hy sê:

Daar het 'n man tussen die grafte gebly wat beset was deur 'n onrein gees. Hy was dag en nag daar tussen die grafte en hy het aanhoudend geskreeu. Hy het Jesus van ver af sien aankom en hy het nader gehardloop en geroep: Jesus, seun van die almagtige God, wat het u met my te doen? Ek smeek u, in Godsnaam, moet my tog nie pynig nie.
Jesus sê toe: Onrein gees, gaan uit die man uit! Wat is jou naam?
Hy antwoord: My naam is Legio, want ons is baie.
Die geeste het hom gesmeek en gevra: Stuur ons na die varke toe sodat ons in hulle kan invaar.
Hy het hulle toegelaat en hulle het in die trop van 2000 varke ingevaar en hulle het op loop gesit, in die see in, en hulle het versuip.
Die wagters het dit gesien en dit vir almal gaan vertel.

Wat gebeur hier? Tiberius, die hele Rome, Herodes en Pilatus het gereken die lede van die sekte wat gelei word deur Jesus, wat ook as die Christus bekend gestaan het, is deel van die antagonis in die plot. Rome en hulle god is goed. Jesus en sy God is boos. Jesus en sy volgelinge dink weer hulle is goed, en hulle God is goed, en Rome en die god van Rome is boos. Dis die twee teenwigte in die groter verhaal en breër konteks.

Die naam van die bose gees is ook nie verniet Legio nie. Dit is 'n metafoor en sinspeel op die Romeinse kolonialisme. Legio is die Romeinse legioene wat Judea en al die familie- en sosiale strukture vernietig het toe hulle die mense se grond van hulle afgeneem het.

So, deur die bose gees uit die Judeër tussen die grafte te dryf, dit in die varke te laat vaar, en die varke in die see te laat versuip, is in die vertelling 'n geweldige stuk sosiale bemagtiging van mense. Markus illustreer met die vertelling dat Jesus mag het oor Romeinse kolonialisme. Romeinse imperialisme beteken op 'n sosiale vlak dat die Judeërs in die mag van die koloniseerders is, met ander woorde, metafories gesproke, dat hulle deur demone beset word, want hulle is die swakker, die antitetiese party.

Deur die duiwels uit te dryf, word die mense dus bevry van onderdrukking. Gedekoloniseer. Elke Judese vryheidsvegter het gedroom van die dag waarop die Italianers teruggedryf word Middellandse See toe, sodat hulle op hulle bote kan terugseil na Rome, waar hulle vandaan kom.

So, die duiwelbesetenheid van die man tussen die grafte, is dus die resultaat van Romeinse besetting van 'n grondgebied. Dis iets sosiaals en polities. Die man is 'n prototipe van wat met derduisende Joodse gesinne in die eerste eeu gebeur het.

As gevolg van hierdie kolonialistiese sosiale struktuur, kon die man nie meer saam met sy familie op hulle plaas bly nie, want hulle is deur Rome onteien. Hy moes dus, los van sy familiestruktuur tussen die grafte bly. Dis wat Rome aan die mense gedoen het. Dis wat trekarbeid, industrialisasie en afsonderlike ontwikkeling in Suid-Afrika aan gesinne gedoen het.

Deur hierdie verhaal te vertel, help Markus om hoop te gee en om die volgelinge van Jesus te bemagtig. Dis propaganda vir Jesus, want die varkwagters het weggehardloop en dit vir almal gaan vertel. Dit was nie 'n wonderwerk en wondergenesing in die bonatuurlike sin van die woord nie. Dit was nie naastenby iets soos wat ons dit vandag lees en interpreteer nie. Die ouens wat op grond van hierdie teks demone uit ander dryf, propageer hulle eie onnoselheid en teologiese ongeskooldheid. Dit was 'n genesing op 'n sosiale vlak deur mense te bemagtig met hoop en met die geloof dat God by hulle is. God is ook die God van die "outcasts", onteiendes, en die "nobodies"! Die sonder land en grond en mag!

Onthou ook net wanneer skryf Markus die verhaal. Nie in 30, 31 of 32 toe Jesus rabbi in Galilea was nie, maar na 70 toe Jerusalem reeds deur Rome platgevee, en die tempel vernietig is. Iemand moes die skuld kry vir die omstandighede, en iemand moes probeer om weer die stukke op te tel en hoop te gee en mense te bemagtig. Wie anders as die opkomende nuwe godheid op die horison, Jesus van Nasaret. Dis hoe propaganda werk!

As ek die teks dus binne sy sosiale konteks en wêreldbeeld lees, kan ek met my hele hart bely dat Jesus duiwels kon uitdryf en dat ek en jy dit tot vandag toe steeds kan doen. Want dit was nie 'n bonatuurlike ingrype deur 'n goddelike wese in 'n geslote natuurlike sisteem nie.

Dis 'n metafoor met sosiale implikasies. Dis politieke propaganda om mense te mobiliseer en om vir hulle hoop te gee.

Elkeen van ons kan ook hoop gee en iemand anders in sy of haar moeilike sosiale omstandighede bemagtig en bystaan. Ons doen dit ook dikwels deur stories en verhale met mekaar te deel. Ons kan mense dus ook, nes Jesus van hulle demone bevry en die stresvolle duiwels uit hulle dryf. Ons kan motiveer en inspireer, bemagtig en bemoedig, met verhale, soos wat Markus gedoen het! Dis wat die metafoor beteken!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.