.

Kontoere van ‘n eietydse geloofsontwerp

Deur Prof. Cornel du Toit op 1 Oktober 2014

.

Inleiding: Kerkloos, kerklos en parakerklik

Buitekerklike mense is gewoonlik nogal gelowig en dalk veral bygelowig – hulle is net nie kerklik aktief nie. In kerklike taal sou dit as kerklos tipeer word. Dit is anders as mense wat gesekulariseerd is en die is weer anders as menses wat buitekerklik maar gelowig is. Ter wille van duidelikheid sal ek die groep wat buitekerklik maar gelowig is die parakerklikes noem.

Wat ek met die tema 'n eietydse geloofsontwerp beoog is om uitdrukking te gee aan waar gelowiges met 'n kritiese, post-fundamentalistiese houding staan wat die tradisionele Gereformeerde geloofsinhoud aanbetref. Ek reken dat sommige van die idees nie vreemd sal wees vir meeste predikante asook baie lidmate uit die Gereformeerde tradisie nie. Die idees sou om bepaalde redes net-nie beklemtoon word nie, moontlik uit bloot pragmatiese oorwegings van gemeente-politiek. Van die idees mag ook ander beklemtoninge ontvang.

Dit sou onvanpas wees om te beweer dat mense wat in die kerk 'agterbly' onkrities of naïef is. Baie mense aanvaar dat wat die kerk leer nie meer letterlik opgeneem kan word nie. Hulle aanvaar egter dat nie alles letterlik opgeneem hoef te word om betekenisvol te wees nie. Hulle leef dus saam met eeu-oue dogmas, verstaan dit nie letterlik nie en sien dit dikwels op stereoskopiese wyse in tandem met eietydse oortuigings wat meer sin maak.

Buitekerklik maar gelowig verwys na mense wat steeds glo maar anders as wat die kerk bely en dit is vir hulle so gewigtig is dat dit vir hulle meer heilsaam is om naas die kerk 'n gemeenskap van andersdenkendes te vorm as om in die kerk aan te bly. Hulle nadenke is 'n vorm van sekulêre spiritualiteit.

Wat is die vernaamste sake wat die kerklike ruimte vir die mense te eng maak? Moontlik kan 'n woord soos fundamentalisme dit saamgevat. Ongelukkig het die woord verslyt en moet ons opnuut verduidelik wat in elke konteks daarmee bedoel word. 'Fundamentalisme' sluit 'n veelheid van oortuigings in en sal van persoon tot persoon kon verskil. Die vernaamste oortuigings sluit in 'n letterlike lees van die Bybel (byvoorbeeld die skeppingsverhale); die status van die Bybel as enigste, finale en gesaghebbende openbaringsbron; 'n geloof in wonderwerke; geloof in 'n lewe na die dood(of in die hemel of in die hel); die geloof in 'n ewige straf vir sommige mense; geloof in die eksklusiwiteit van die Christendom (lees ook uitverkiesing); geloof in die opstanding uit die dood (opstanding van Christus geld as besondere metafoor vir nuwe lewe); dan allerlei etiese kwessies wat wissel van gesofistikeerde vorme van rassisme tot by die onderdanige posisie van die vrou en die verdoeming van homoseksueles. Gewoonlik is onder fundamentaliste 'n antagonisme teen die bevindinge van die wetenskap teenwoordig wat kan wissel van verwerping van ewolusie (dit is net 'n teorie word beweer) tot verwerping van bevindinge van die nuwe kosmologie en nuwe fisika, nuwe biologie, kognitiewe wetenskappe ensovoorts.

Sonder om verder op voorbeelde van fundamentalisme in te gaan is die onmiddellike volgende vraag wat die alternatiewe gelowiges in die plek van verouderde sienings plaas wat hulle uitgegroei het.

Wat leer hulle byvoorbeeld oor God, verlossing en toekoms? Weereens sou dit moeilik wees om op die vraag te antwoord sonder om van buikspraak beskuldig te word. Daarom gee ek 'n paar persoonlike indrukke en elke persoon sou kon besluit in watter mate hulle hulle daarmee vereenselwig al dan nie.

'n Benadering van 'onder' af

Die benadering wat gevolg word is van 'onder af'. Dit dui 'n vertrekpunt aan waar argumente gegrond word op die fisies-empiriese werklikheid waar logiese rasionaliteit geld. Dit maak nie aanspraak op bonatuurlike agentskap of openbaring vir uitsprake nie. 'n Benadering van onder af sou as 'aanpasbaar' of 'compatabalist' by die aardse werklikheid soos ons dit vandag verstaan tipeer kon word. Uitsprake word wel oor die transendente werklikheid gemaak maar dit is nie irrasioneel of bonatuurlik as dit beoordeel word in die lig van ons huidige tegnowetenskaplike wêreldbeeld nie. Dit beteken egter nie dat wetenskap aan godsdiens voorskryf wat mag en wat nie mag nie. Dit gaan daarom dat die plek van transendensie in ons lewens geloofwaardig moet wees en sin moet maak. Dit is myns insiens moontlik alleen in aansluiting by ons huidige verstaan van ons biologiese begronding en antropologiese insigte wat ons verwerf het.

Een van die fassinerende eienskappe van die mens is om paradokse te versoen en met onversoenbares saam te leef. Vir baie is daar nie versoening moontlik tussen geloof en wetenskap, tussen die natuurlike en bonatuurlike, tussen immanensie en transendensie nie. Daarom verkies baie mense om in 2 skynbaar onversoenbare wêrelde tegelyk te leef. Maar daar is ook baie mense wat vrede maak met die radikaal biologiese aard van hulle bestaan en hulle eindigheid met biologiese onverbiddelikheid aanvaar.

Ander aanvaar hulle biologiese gegewenheid maar vind nog steeds sin in godsdiens en maak ruimte vir God.

Biologies verankerde rede en geloof

'n Benadering van onder beweeg wel na bo en praat oor die transendente werklikheid maar dit word ook veranker in ons biologies-rasionele bestaan en in ons antropologies bepaalde werklikheid. Godsdiens sluit dus aan by en kan nie verstaan word sonder ons sterflike beliggaamde bestaan nie. Die uniekheid van die mens as spesie met bewussyn en taal word beklemtoon.

Die aard van menslike bewussyn, die werking van die brein en die struktuur van taal dra elk op sy eie by om godsdiens te verklaar as logiese en sinvolle deel van menswees. Die gods-idee, die moontlikheid om te transendeer die mens se metaforiese vermoëns is gegewe met die struktuur van taal, die aard van bewussyn en die werking van die brein. Dit sluit nie ander vermoëns van die mens uit nie maar in. Sonder emosie en die kwesbaarheid deur menslike affek is geen godsdiens moontlik nie; so is hoop, liefde, dapperheid geloof, deernis, ensovoorts alles gebonde aan die menslike persoon wat biologies veranker is. Godsdiens het aan die vermoëns 'n besondere kleur gegee. Jy hoef egter nie godsdienstig te wees om die geloof, hoop en liefde te beleef nie.

Die eenheid van die skepping
Ons is een met die skepping. Sonder die gebeure van 13.7 biljoen ligjare gelede, sonder die vorming van supernovas, sonder ons sonnestelsel en die unieke plasing en aard van ons planeet en nog 'n duisternis ander faktore sou ons nie hier gewees het nie. Ons is een met alle vorme van lewe. Ons deel dieselfde energiesiklusse (Krebs siklus) met plante, en deel baie van ons gene met alle ander organismes.

Onafhanklikheid en selfwerksaamheid van die skepping

Die godsleer het veral onder spervuur van die kant van die wetenskappe gekom omdat die skepping sonder die ingrype van 'n bonatuurlike hand verklaar word. Die nuwe fisika het met die nuutste ontdekkings by Cern in 2012 die standaardmodel van Bohr bevestig en uitgebrei. Skepping kan inderdaad uit niks verklaar word maar dit hoef nie in werking gestel te word deur die wonder van die skeppingswoord van God nie.

Die idee van God as skeppergod is so sterk gevestig, so deel van alle godsdienste dat enige idee wat skepping onafhanklik van God stel kontra-intuïtief voorkom. Dit het te doen met menslike rede wat intuïtief alles terugvoer na 'n begin, oorsprong en skepper. All kulture het mites wat vertel hoe die aarde en alle lewe daarop ontstaan het. Dit beteken nie dat die mite wat oorsprong verhaal tot godsdiens word nie. In die Abrahamitiese, monoteïstiese boekgodsdienste was dit wel die geval.

Omdat dooie objekte animisties personifieer is met een of ander gees of lewensbeginsel sou sit beteken dat as enigiets naas of buiten die een god bestaan dat daar twee gode is en dit bring onmiddellik die vraag na wie die ware, enigste god is na vore. Enkele godsdienste soos die Zoroastrisme of Parsisme het twee gelyke gode gehandhaaf. Maar vir sommiges moet 'n God 'n konkurrent he en die Satan het die rol in die Christendom vervul.

Maar 'n god wat bloot die oortreffende trap is van positiewe eienskappe wat ons kan bedink is eintlik 'n vreemde god. Wie kan weet wat almag, alomteenwoordigheid, alwetendheid eintlik beteken. Wat se ons eintlik as ons panenteïsties beweer dat alles in God bestaan? Panenteïsme is ook maar 'n magsformulering omdat geen enkele atoom buite god (as konkurrent?) kan bestaan nie. Dit lei tot 'n apofatiese of onkenbare god.

Hierteenoor het Moltmann die idee van God as die lydende Vader (Patripassionisme) wat ly aan sy seun se dood as alternatief ontwikkel. Abelardus het alreeds in die Middeleeue die Passiegeskiedenis gesien as 'n verhaal wat ons wil ontroer en so tot verandering bring. Maar ons is vandag bedag op enigiemand wat ons met sentiment of emosie probeer manipuleer.

Maar hoe kan die gods-idee vandag sinmaak? Is God 'n persoon, 'n mag, 'n skeppingsproses?
Is hy kreatiwiteit, ontmoetingsgebeure, dit wat as allesoortreffende beginsel ons tot algehele afhanklikheid dwing? Vir Elia kom God nie in die aardbewing of orkaanwinde nie maar in die sagte aandwindjie. God is ontmoetingsgebeure en dit is vir die mens 'n openbaringsoomblik wat die mens tot selfverstaan en selfinsig bring.

Selfverklarende univers
Die idee dat die skepping moontlik selfverklarend is het lank voor die ontdekking van die Higgs in 2012 al na vore getree. Carl Anderson het in 1933 al ontdek dat 'n positron (antipartikel vir die elektron) bestaan. Daarna is antipartikels vir alle partikels ontdek wat in alle opsigte soos die partikel is maar met 'n teenoorgestelde lading het. Energie en stof (matter) is uitruilbaar en met die hitte tydens die eerste breukdeel van 'n sekonde na die Oerknal kon fotonpartikels bots om materie en antimaterie partikels uit bestaande energie te skep. Meeste het mekaar uitkanselleer maar daar het meer partikels (as antipartikels) oorgebly wat die stof in ons univers verklaar. Toe die univers begin afkoel het die materie/antimaterie partikels gebots en weer fotone geproduseer wat vandag as die agtergrondstraling (universal background radiation) waargeneem word (Worthing 1996:95-96). "It is precisely the creation of matter (and antimatter) out of pure energy (photon particles are not considered matter) that some have seen a creation out of nothing" (Worthing 1996:96 Sien ook Kane 2013:40).

Waarom God aan skepping verbind is
Ons oudste voorsate was van die natuuromgewing afhanklik vir oorlewing. Die natuuromgewing is genadeloos veral as tegnologie om dit te beheer ontbreek. Van alle spesies is dit net die mens wat ontwikkel het om sy omgewing te verander om by hom aan te pas. Dit is nie alleen met tegnologie gedoen nie maar ook met idees. Die mens het sy afhanklikheid van die skepping goed besef en het natuurmagte personifieer. Jy kan nie met dooie natuur onderhandel nie maar wel met gepersonifieerde natuur. As natuur verpersoonlik is of beheer word deur 'n persoonlike god dan kan jy met die god onderhandel om die natuur te beheer soos dit jou pas.

Godsdiens was dus indirekte natuurbeheer in die afwesigheid van tegnologie! Daar was 'n god vir vrugbaarheid, vir reën vir voorspoed. God bepaal of dit reën en of daar droogte is. Hy bepaal vrugbaarheid en oorvloed of onvrugbaarheid en hongersnood. Vrees vir die natuur is dus besweer deur die God wat die natuur beheer aan jou kant te kry. God is instrumenteel om skepping te "beheer" omdat die regte godsverhouding die goeie seëninge van die skepping waarborg (sien Lev 26, Deut 28 oor die seëninge en vervloekinge). God is egter nooit in die Ou Testament as natuur gesien nie. Hy skep natuur maar staan vry daarteenoor. Die natuur gehoorsaam God se wil.

Dit het eers met die Verligting begin verander. Dink maar aan die 1755 aardbewing in Lissabon en hoe dit die Europese denkklimaat geskok het omdat God steeds as verantwoordelik beskou is. Voltaire sou een van die voorlopers wees om die gedagte die nek in te slaan dat God vir alles verantwoordelik is en dat alles wat is (die skepping) goed is (sien die bespreking van sy Candide, in Du Toit 2007:251-274).

Die afhanklikheidsverhouding (vrees vir die natuur) het natuurlik begin verander namate die mens tegnologie ontwikkel het om die natuur te beheer. Dit was egter 'n langsame proses en dit sou eers met die wetenskapsrewolusie in die sestiende eeu momentum begin verkry.

Saam met die verlies van die afhanklikheidsverhouding tot die natuur het die mens se verhouding tot God, trouens sy hele godsbeeld ongemerk verander. Ervaringe van verbystering voor 'n natuur waaraan die mens uitgelewer is het minder geword en eventueel verval (ontgogeling van ons wêreld). Weerpatrone, siekte en gesondheid, vrugbaarheid en voorspoed is deur wetenskap van hulle bonatuurlike dimensies bevry. Die 'verontgoddeliking' van die natuur het hand aan hand met die wetenskapsrewolusie, industrialisasie en die ontwikkeling van die markekonomie gegaan. Vandag word die beperktheid van bronne besef en kom bewaring van die skepping sterk na vore en dit roep weereens 'n veranderde verhouding met die natuur op wat weer die godsbeeld mag beïnvloed.

Daar hoef dus geen verband tussen gode en skepping te wees nie. Die Grieke verdien die lof daarvoor dat hulle skepping van die gode bevry het en dit gewoon as fisiese entiteit begin bedink het. Vir die oorsprong van die syn (lees skepping) is daar na natuurlike verskynsels gekyk.

Skepping moes verklaar word en die maklikste manier was om dit aan God/gode toe te dig. Die Christelike godsbegrip hou verband met die idee van die Onbewoë Beweger. Dit veronderstel egter 'n verkeerde verstaan van oorsaaklikheid. Ons weet vandag dat oorsaaklikheid nie op 'n simplisties liniêre wyse werk waar alles net na een oorsprong toe teruggevoer kan word nie en dit hoer vlakke van ontwikkeling nie noodwendig na laer vlakke toe teruggevoer kan word nie.

God van verhoudinge in plaas van 'n God van mag
As God as persoon gesien word dan beteken dit verhouding. Persoonwees kan nie van persoonlike verhoudinge geskei word nie. Persoonwees beteken dat jy kies wie jy is deur jou verhoudinge met ander (Clayton 1997:37-38). Die verhouding raak egter ook die skepping aan. God staan in 'n verhouding tot die skepping. In enige verhouding moet die vryheid van die ander respekteer word. So ook met die natuur. Die mens tree in verhouding met die natuur volgens die moontlikhede wat natuur toelaat. Dit beteken dat God in verhouding tot die natuur staan in ooreenstemming met die natuurwette (wat Hyself daargestel het).

Verwondering in die plek van wonderwerke

Wonderwerke hoef nie beperk te wees tot die oorskryding van natuurwette soos algemeen aanvaar word nie. Die hele skepping is een groot wonderwerk. Ons moet net reg daarna kyk. Die wonder daarvan is juis vir ons deur die wetenskap uitgespel.

Die bestaan van en ervaring van transendensie. 'n dinamiese openbaringsleer

Die grense van transendensie het verskuif. Die transendente is nie 'n bo- of buitewêreldse werklikheid nie meer is deel van die menslike bestel – dit is aardse of immanente transendensie. Die transendente word verteenwoordig deur die toekoms, die onbekende wat nog op my wag maar ook deur die moontlikhede wat die lewe self inhou. Niks is onmoontlik as ek dit werklik najaag en begeer nie. Die verwerkliking daarvan is die realisering van my transendente potensiaal.

Maar ook in die besondere lewenservaringe waar ek 'n hoer hand in gebeure sien en die verloop van gebeure aan god toedig is 'n vorm van immanente transendensie. God het my ontmoet maar dit was deur aardse gebeure. Dit bring my tot nuwe insig. Spreke oor God is dus niks anders as spreke oor onsself, lig op ons wêreld nie. Maar in dieselfde sonlig word in elke tyd 'n ander landskap gesien, ons selfsiening is voortdurend aan die verander. Openbaring is nie ontsluiering (apokalipsis) van God nie maar ontmaskering van die mens self. Self-ontmaskering is niks ander as selfinsig nie. Selfinsig as selfverstaan is 'n voortgaande proses omdat die menslike self net soos God nooit (finaal) geken kan word nie. Op die vlak word die godsdienstige ervaring aan die aard en werking van menslike biologie, psige en kultuur toegedig en hoef dit nie in kontradiksie met wetenskap gesien te word nie.

Sekularisering van die dood en beklemtoning van die lewe

Op die keper beskou draai die hele motief vir godsdiens om die vrees vir die dood (en by implikasie die negatiewe gevolg van die dood wat 'n ewige bestaan in die hel is). Paulus verbind in sy teologie dood direk aan sonde. Dood is nie 'n normaal biologiese gebeure nie maar die gevolg van sonde. "Die loon van die sonde is die dood." Word jy van sonde bevry (deur die kruisdood van Christus vir jou) dan lewe jy vir ewig met Christus en is die dood net 'n deurgang na 'n ander lewe: "Dood waar is jou angel, doderyk jou verskrikking?" Trouens die hele lewe kan net as 'n toetslopie, 'n deurgang tot die eintlike lewe hierna gesien word soos beskryf in Bunyan se Pilgrim's Progress.

Maar die dood is helaas gesekulariseer en baie mense sien dit as 'n natuurlik biologiese proses. Ons kan nie vir ewig lewe nie al sou genetiese navorsing ons in die toekoms baie langer laat leef en baie siektes uitskakel aanvaar ons dat ons een of ander tyd moet doodgaan. Ons biologie maak ons gereed vir die dood. Aan die einde word ons oorweldig deur déjà-vu en begeer om te rus.

As dood dus nie meer 'n rol in verlossing speel nie dan verander die fokus na die lewe self en word ons verlos tot 'n vervulde, sinryke en mooi lewe. Dit is helaas aspekte wat nie genoeg aandag in die godsdiens ontvang het nie en waaraan parakerklikes aandag skenk. 'n Nuwe waardering vir die oomblik, vir gesondheid, 'n lang lewe, geheueryke ervaringe, is waarom dit gaan. Sluit hierby in 'n tweede natiwiteit, 'n nuwe verwondering oor skepping en ons plek daarin, nuwe tegnieke om intermenslike verhoudinge op te skerp goeie vriendskappe en gesonde gesinne.

Dood word altyd verbind met 'n morele of emosionele entiteit soos dood en vrees; dood en oordeel; dood en straf; dood en sonde; dood en skuld; dood en beloning. Dit terwyl geen verbinding met die dood gemaak kan word in 'n naturalistiese beskouing nie, behalwe dat dood die einde van lewe is. Juis die saak waarmee dood verbind word bied 'n hefboom aan magsinstansies om dood te gebruik om mense te manipuleer: hulle geloof, hulle gedrag, hulle diens, gehoorsaamheid, en onderdanigheid. In die geskiedenis was dit veral die kerk en die staat wat hiervan gebruik gemaak het.

Die doodsiening is gebind aan die sondesiening. Dit was eers kollektief beskou in die Middeleeue en is toe verindiwidualiseer na my sonde, my oordeel en my dood toe. Bewussyn in die vorm van selfbewussyn en bewussyn van my unieke indiwidualiteit is 'n laatkommer. So onlangs nog soos die Middeleeue het indiwidualiteit en die gepaardgaande selfbewussyn nie bestaan nie of ten minste nie bestaan soos vandag nie. Selfbewussyn was onlosmaaklik verbonde aan groepsbewussyn. Persoonlike etos was groeps-etos en geloof groepsgeloof. Met die ontstaan van indiwidualisme soos ons dit vandag ken het selfbewussyn ook verander. Nie dat groep en drukgroep nie meer belangrik is nie, maar ons denkoutonomiteit en 'n ontwikkeling van 'n kritiese ingesteldheid relativeer die invloed daarvan – iets wat die Middeleeuse enkeling nie geken het nie. Die hedendaagse houding teenoor die dood moet in die lig gesien word.

Ons sien die dood vandag gans anders as die geslagte voor ons. Die dood is 'n natuurlike deel van die lewe. Sonder dood en die opvolging van geslagte is daar geen ewolusie nie en geen beter aanpassing by veranderende natuur en kultuuromgewing nie. Natuurlike rampe is nie die gevolg van goddelike magte nie, maar natuurlike deel van die aarde se ontwikkelingsgang.

Biologies gesproke is liggaam en denke een. Die idee van 'n onliggaamlike siel wat los van sy liggaam ewig bestaan is ondenkbaar binne die raamwerk. Menslike denke is 'n epifenomeen van breinfunksies wat fisikalisties verklaar kan word. Bewussyn en denke is die produk van my biologie (elektro-chemiese prosesse). Die kleinste versteuring in ons bloedchemie beïnvloed ons emosies. Alhoewel ons denkwêreld direk afhanklik is van die werking van die brein en die menslike gees van fisiese liggaamlikheid voel ons dat denke en gees 'meer' is as blote fisikaliteit en is daar teenkanting teen wetenskaplike reduksionisme. Die impak van my persoonwees kan bly voortbestaan in my nageslag (wat ook fisies 'n seleksie van gene voortdra), in kulturele artefakte wat ek agterlaat, in die wêreld van herinnering. Maar sover ons weet is daar geen ander manier waarop die mens na sy dood bly voortbestaan nie.

Pous Benedict XVI het in sy tweede ensiklieke brief gevra "Do we really want this – to live eternally?" en vervolg dan met die volgende stelling: "Perhaps many people reject faith today simply because they do not find the prospect of eternal life attractive. What they desire is not eternal life at all, but this present life, for which faith in eternal life seems something of an impediment. To continue living forever – endlessly – appears more like a curse than a gift. Death, admittedly, one would wish to postpone for as long as possible. But to live always, without end – this, all things considered, can only be monotonous and ultimately unbearable" (sien Park 2008:102-103).

Miskien moet die strydgesprekke rondom die historisiteit van die opstanding van Jesus in dié lig gesien word. Dit is net nie meer so belangrik dat Hy fisies moes opstaan nie, omdat die dood nie meer in die metafisiese lig van 'n transendent-ontologiese bose mag gesien word nie. Jesus is vir baie nog net so waardevol sonder om aan te dring op 'n historiese opstanding. As die beklemtoning van 'n sekulêre kultuur verskuif van dood na lewe kan verwag word dat die teologies bepaalde sentrum van die Nuwe Testament ook mag verskuif.

Het die idee van ons dood nie 'n randverskynsel geword as gevolg van die verindiwidualisering wat in ons tyd op die spits gedryf is nie. Stadsmense is eensaam en het dikwels min gemeenskapsbande wat hulle bind. Die swaar van dood is geleë in die wederkerige afskeid van geliefde(s). As die band van geliefdes wat ons bind gerelativeer is word dood gerelativeer. Lewe is sinvolle verhoudinge en die dood die afwesigheid of verbreking daarvan.

Dorothy Sölle het oor godsdiens gesê: "Religion's role is to remind people of limits, to give them practice with limits, to arouse consciousness of the limits of natural existence, not to deny these limits. Godsdiens se 'victor mentality' wis die dood uit. "It denies finitude and transitoriness instead of accepting death 'as reality in myself, as a spiritual space" (Sölle 2007:84). 'n Verhoudinglose lewe op aarde is dood. Dood is metafoor van volledig lewe hier en nou; beswaar teen enige vorm van illegitieme lewe, teen konsumerisme en tegnokrasie; metafoor vir lewe in wederkerigheid; gerigtheid op die ander; metafoor vir lewe in verhouding; metafoor vir radikale immanentisme wat oop is na vore.

Sonde, verlossing en dankbaarheid in die modus van begeerte, beslissende ervaringsgebeure, sinryke bestaan

Ek is kerklik grootgemaak met die a-b-c van sonde, verlossing en dankbaarheid. Jy moet weet dat jy verlore is en hoe diep jy verlore is, hoe jy uit die situasie kan uitkom en dan hoe jy lewenslank daarvoor dankbaarheid kan bewys. Die intuïtiewe antwoord op die vraag waarvan jy nou eintlik verlos word was van die duiwel en die ewige hel. Die grootste sonde was om nie te glo nie of verkeerd te glo. As jy reg glo was genade genoeg en jy moes dit net aanvaar.

Begeerte-gebeure-vervulling
Die Gereformeerde driedeling van sonde-verlossing-dankbaarheid kan herformuleer word as begeerte-gebeure-vervulling. Die skema van begeerte-gebeure-vervulling val terug op die mens se universele bepaaldheid deur begeerte; die openheid na die toekoms (transendensie) en die gebeure van lewe; die belofte van vervulling (om 'n vervulde lewe te lei) wat dit inhou.

Die skema vervang sonde met begeerte waar begeerte die mens se ervaring is van die oneindige beweging na die moontlikhede wat lewe inhou; gebeure in plaas van verlossing beklemtoon die moontlikheid van ontmoeting met betekenisgewende transendensie deur watter medium (kruis ingesluit) dit ook-al kom; die beklemtoning van vervulling sluit tussen-menslike verhoudinge in waarin ek gedy omdat die betekenisvolle ander ook gedy. Dit sluit die dankbaarheidsdimensie in maar nie as 'n las nie!

Sonde is gerig op die verlede. Dit stol eksistensie tot afgehandelde dade. Dit fikseer menslike identiteit as negatief. Dit verobjektiveer die mens tot enkele dade wat teenoor die openheid van die toekoms staan. Hierteenoor is begeerte gerig op die toekoms. Begeerte is metafoor vir lewe self. Dit is oneindig, onbepaalbaar, die dryfkrag van lewe en die uitnodigende toekoms. Begeerte is kenmerkend van die mens se bewussynstruktuur en hou verband met die mens wat eksisteer in vryheid. Menslike begeerte is 'n beweging wat nie tot stilstand gedwing word met die vervulling van bepaalde behoeftes nie. Begeerte is gerig op die toekoms (transendent gestruktureer)en nie per definisie negatief soos met sonde nie. Dit kan ook positief wees. Dit is soos vryheid. Vryheid beteken keuses en keuses hou verkeerde keuses in en die moontlikheid van mislukking.

Verlossing is altyd gebeure. Dit is nie 'n metafisies transaksie los van die mens tussen God en duiwel of God en kruisgebeure nie, maar konkreet, aards. Dit is die betekenisvolle ervaring waaraan ek 'n persoonlike dimensie koppel. Dit kan Christelik-simbolies verbind word aan die paasgebeure maar nie daartoe beperk word nie.

Vervulling, in plek van dankbaarheid gaan om menslike geluk. Dit word verteenwoordig deur die emosie van geluk. Ek is gelukkig wanneer daar liggaamlike en emosionele balans is en ek voel dat ek floreer. Geluk is egter geen toestand nie maar 'n proses en dit duur gewoonlik, soos meeste emosies, nie baie lank nie. Dit word gekomplimenteer deur die oneindigheid van begeerte wat die self altyd weer voortdryf om opnuut geluk te vind.

Toekoms in die lig van hoop, verrassing en verantwoordelikheid

Dat die wetenskap hier is om te bly staan vas. Dat dit sal bydra tot die huidige tegno-wetenskaplike wêreldbeeld wat nie veel ruimte laat vir bonatuurlike verklaringe nie is ook seker. Dit beteken nie die einde van godsdienste of hulle skeppingsleer nie. Ons het reeds gesien hoedat baie mense aan beide geloof en 'n wetenskaplike wêreldbeeld vashou. Die begrip wat bestaan vir die mitiese wêreldbeeld van die antieke lei daartoe dat die verhale steeds 'n betekenis in mense se lewens uitoefen.

Die teologiese waarde van die skeppingsleer le op ander vlak as fisiese prosesse. Die gemene deler naas ratio wat begrip tussen mense moontlik maak is affek. Affek soos hier gebruik sluit emosie in maar is meer as emosie in die sin dat dit die aspekte in my lewe insluit wat my diep raak en waarvoor ek groot offers sal bring. Die ruimte wat ons moet laat vir die rol wat affek speel moet ook respek bring vir waardes, oortuigings en geloof anders as on eie. Die affektiewe ondersteuning wat godsdiens aan baie bied kan nie gemaklik met rasionele insigte vervang of 'n goedkoop moraliteit vervang word nie. Dit beteken nie die afwesigheid van kritiese interaksie nie. Die skeppingsleer bied op emosionele en affektiewe vlak vir die mens 'n gevoel van verbondenheid en behorenheid. Dit gaan om die geloof en gevoel dat daar iemand is wat sorg. Die skeppingsverhale vervul op die vlak steeds 'n sterk simboliese funksie en sal waarskynlik behoue bly ten spyte van die invloed van partikelwetenskap.

Affek is ook van die bepalende belang onderliggend aan enige metafisika asook die wetenskap al is die invloed verwaarloos. Die belang en najaag van waarheid, verbondenheid, geregtigheid, respek, transendensie ensovoorts, kan nie sonder die affektiewe sy daarvan verstaan word nie. Affek begelei ons denke en gee dit kleur, rigting en inhoud.

Die wetenskap werk met boublokke van die fisiese werklikheid wat deur toetsing, meting en eksakte formulerings moontlik gemaak word. Die soort meting is nie (tans) so maklik op die komplekse vlak van menslike bewussyn, waardesisteme en geloof nie. Die pogings tot verstaan en die interpretasie van die menslike denke bewussyn kom in verskillende modi na vore: filosofies, godsdienstig, esteties, eties, polities ensovoorts. Geen enkele modus kan allesbepalende wees nie en moet in tandem met ander modi verstaan word.

Dit is die mens se kulturele ewolusie self wat sal bepaal wanneer godsdienste aangepas, vervang of geheel uitgeskakel sal word. Ons kan hoogstens die ontwikkeling van die proses met verantwoordelikheid probeer beïnvloed.

Soos al ons voorsate leef ons in 'n konstruksie van die werklikheid wat vir ons sin maak. Die fassinerende is dat die konstrukte hoe krom en skeef dit mag wees op 'n manier werk en ons dra deur die uitdagings wat ons gebied word. Die beslissende is dus die menslike gees met sy wil om te verstaan, die gees as skeppende krag wat altyd 'n uitweg vind en die gees wat spontaan buig voor die wonder van (G)grootsheid wanneer dit oor ons pad kom.

Verwysings

Clayton, Philip 1997. God and contemporary science. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Du Toit, CW 2007. Viewed from the shoulders of God. Pretoria: RITR.
Kane, Gordon 2013. Supersymmetry and beyond. From the Higgs Boson to the new physics. NY: Basic Books.
Park, Robert L 2008. Superstition. Belief in the age of science. Princeton and Oxford: Princeton University Press.
Sölle, Dorothy 2007. The mystery of death. Minneapolis: Fortress.
Worthing, Mark, W 1996. God, creation and contemporary physics. Minneapolis: Fortress.

Prof. Cornel du Toit is hoof van die Navorsingsinstituut vir Teologie en Religie by UNISA.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.