.

Konstrukte en prentjies van God

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Maart 2014

.

Die afgelope week het ek opgetree as spreker by 'n teologiese konferensie. En die tema van die konferensie was: Interfaith Dialogue: a new vision for world peace.

My aanbieding het gefokus op die konstrukte en prentjies wat verskillende godsdienste van God het. En dat juis hierdie verskillende prentjies van God is, wat die grootste struikelblokke in die vordering vir dialoog tussen verskillende godsdienste is.

Ek het in my aanbieding probeer verduidelik dat alle konstrukte en prentjies van God, essensieel kultuur- en tydgebonde is. Dat die uitbeelding en prentjies van God 'n projeksie is van mense. Dit impliseer natuurlik, dat as mense eeue terug God kon bedink en bepraat vanuit hulle wêreldbeeld en omstandighede, ons ook vandag vanuit ons nuwe omstandighede en wêreldbeeld God kan bedink en bepraat.

Tydens die besprekingsgeleentheid, net na my aanbieding, het ek o.a. die volgende stelling-vraag gekry: "Ek stem saam dat ons gedurig moet nuwe vrae vra oor die lewe en ons plek daarbinne. Maar as jy sê ons moet nuut dink oor selfs God, dan verloor jy my. Want God is tog ewig en onveranderd. God is God. God verander nie, mense verander, maar nie God nie! Hoe kan jy dit enigsins voorstel?!"

Hier volg my antwoord.

Wanneer ons oor God of die goddelike dink en praat, doen ons dit altyd vanuit 'n spesifieke menslike metafoor. Niemand kan tog ooit sê dit is presies wie God is nie, die meeste wat enigiemand kan sê, is God is soos... en dit wat volg op die "soos" beskrywe dan ook maar net die persoon se eie denke, idees, ervarings, blootstellings en prentjies.

God is immers 'n woord wat gelaai is met ons menslike vooropgestelde idees. Daarom is daar soveel uiteenlopende prentjies van God – waarvan al die verskillende godsdienste se Godsbeelde tog 'n duidelike voorbeeld is.

Kyk maar net hoe die mens van die vroegste tye af met kreatiewe metafore oor die goddelike gewonder het. En hiermee saam ook hoe hierdie metafore saam met die mens se ontwikkeling en groei verander en uitgebrei het.

Natuurlik is baie van hierdie ou metafore wonderlike leesstof. En ja sekere metafore is inperkend en selfs uitsluitend van aard. Maar daar is gelukkig ook wonderlike metafore wat ons verstaan van die misterie van die lewe kan uitbrei. Ter illustrasie drie voorbeelde, een vanuit die Boeddhisme en twee vanuit die Christendom.

In die Avatamsaka Sutra (Heilige Boeddhistiese geskrif) word daar in 'n gelykenis vertel van Indra:

Indra het 'n net gespan, so word vertel, wat oor die hele kosmos gestrek het. Hierdie net het oneindiglik in alle rigtings gereik. Hiermee saam het Indra ook 'n oneindige hoeveelheid spieëltjies by elke knooppunt in die net gehang. En elkeen van hierdie spieëltjies, as dit van naby bekyk sou word, het die ander spieëltjies weerkaats. Nie net dit nie, elkeen van die spieëltjies se weerkaatsing was 'n oneindige weerkaatsing van al die ander spieëltjies.

Hier word dus 'n metafoor gegee van hoe in die Mahayana Boeddhisme oor die goddelike gedink en gepraat word. Die gelykenis van Indra se Net is 'n metafoor vir die allesomvattende struktuur van die werklikheid (interconnectedness), van die lewe, van die goddelike self. En elkeen van ons, volgens die metafoor, is deel van mekaar en die goddelike se weerkaatsing. Ons is almal een, ons weerspieël mekaar.

Dit is tog duidelik dat die goddelike nie letterlik as 'n net met spieëltjies verstaan moet word nie. Hierdie metafoor help ons egter om te verstaan dat die goddelike meer is as een enkele verstaan.

Vanuit die Gnostiese Christendom word daar aangesluit by bg. metafoor. In die Evangelie van Thomas word die goddelike as alomteenwoordig uitgebeeld: "Die koninkryk lê uitgesprei oor die aarde, maar julle sien dit nie..."

Om dit verder te verduidelik lees ons in bekende derde vers van die Thomas Evangelie: 'As die wat julle voorgaan sê, "Kyk, die koninkryk is in die hemel", dan sal die voëls van die hemel voor julle daar wees. As hulle sê "dit is in die see", sal die visse voor julle daar wees. Maar die koninkryk is in julle en rondom julle. As julle julself ken sal julle geken word. En julle sal weet dat julle die kinders van die Lewende Vader is. As julle julself nie ken nie sal julle in armoede lewe en julle self sal die armoede wees.' (Dr. Piet Muller se vertaling.)

Kennis van onsself is dus 'n noodsaaklikheid vir enige sogenaamde kennis van God. Want ons kan God nooit ken voordat ons ons self nie leer ken het nie. En slegs dan kan jy die goddelike se teenwoordigheid in alle dinge raaksien.

Presies waarna Indra se net ook verwys; ons is maar net die weerspieëling van die goddelike. Dit waarna in Thomas gewys word met: "Kap hout, ek is daar. Tel 'n klip op en jy sal my vind."

'n Derde voorbeeld, hierdie keer vanuit die Ortodokse Christendom. Dink maar aan die Ou Testament in die Bybel met 'n klomp metafore wat verduidelik hoe mense in daardie tyd gedink en geglo het God is.

Dink maar aan beelde wat sê God is soos 'n rots en 'n skuilplek. Of Paulus in die Nuwe Testament se metafoor van God as 'n tuiste wat beskerming bied en sy woorde: "In hom leef ons, beweeg ons en is ons."

Vir elke mens en vir elke tyd en omstandigheid is daar 'n metafoor wat jou diepste behoeftes kan aanspreek. Maar enige metafoor bly en is net 'n metafoor. Dit is nie feitlike vertellings nie en dit is verseker nie ewig geldende waarheid nie.

Metafore het 'n rakleeftyd, soos enige ander menslike idees en opinies. En om 'n metafoor vir God te gebruik sê op die ou einde veel meer van jou en jou verstaan van die werklikheid, as wat dit enigsins iets van die goddelike self sê.

'n Metafoor probeer iets verwoord, verbeeld van dit wat binne mense se harte en verbeelding leef. En met dit in gedagte, het dit ongelooflike waarde vir die mens se ontwikkeling en groei. Solank daar net onthou word dat geen metafoor verhef kan word tot 'n goddelike openbaring en waarheid nie.

Daarom dink ek nie dit is sinvol om om iets te sê soos "...God is ewig en onveranderd ... God verander nie, mense verander, maar nie God nie..." dit mag dalk waar wees van God, maar verseker nie van mense se prentjie oor wie God is nie.

En op die ou einde is dit al wat ons van God het; menslike idees, vertelling, prentjies en konstrukte. En per definisie verander dit soos daar meer ontdek, gevind en bevind word.

Daarom my pleidooi dat daar net werklike vordering in die intergeloof dialoog sal wees as mense aanvaar dat hulle mag eietyds dink oor God en die goddelike. En hierby moet daar verseker ingereken word al die ontwikkeling en groei vanuit die wetenskap en die sielkunde.

Wetenskap en godsdiens hoef tog nie teenoor mekaar te staan nie. Net so hoef een godsdiens se metafore nie teenoor 'n ander godsdiens se metafore te staan nie. Dit kan veel eerder as verrykend vir mekaar gesien word.

Afsonderlik is elke godsdiens en wysheidstradisie slegs 'n klein stukkie van die legkaart. Saam kan die groter prentjie gesien word. Ek meen die Islam se toegewydheid, die Christendom se barmhartigheid en die Boeddhisme se deernis kan mekaar en die wêreld soveel meer verryk as verarm.

En dan praat ons nog nie eens van al die kleiner godsdienste soos: Bahá'í, Confucianisme, Chinese volksgodsdienste, Hindoeïsme, Djainisme, Judaïsme, Sikhisme, Taoïsme, Zoroastrisme, Tenrikyo, Neopaganisme, Wicca, Asatru, Neo-Druidism, Unitariese, Rastafari ens ens...

As ons net kan leer dat ons eie verstaan, ons eie metafoor nie die finale, ewige waarheid is nie. Nee, dit is maar een van vele vele ander.

Want slegs as ons leer om na mekaar te luister is daar enigsins kans op iets soos wêreldvrede. Anders sal ons voortgaan om mekaar dood te maak oor idees en prentjies in ons koppe.

Maar ek besef dat die skuif om oop en eerlik na ander mense se idees oor God te luister is dalk 'n te groot sprong vir meeste. Miskien is 'n kleiner sprong dalk meer aanvaarbaar. Begin maar net om krities oor jou eie prentjie van God na te dink. Sien raak hoe jou metafore vol tekortkominge en teenstrydighede is.

Dit wat die Duitse filosoof Hegel (1770-1831) probeer sê het met: "To be aware of limitations is already to be beyond them." Dalk dan kan jy na ander mense se metafore luister, en self verryk en verlig word daardeur.

Hazrat Inayat Khan: "I have known good and evil, sin and virtue, right and wrong; I have judged and been judged; I have passed through birth and death, joy and sorrow, heaven and hell; and in the end I realized that I am in everything and everything is in me."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.