.

Konstantyn as draaipunt in die geskiedenis van
die Christendom

Deur Prof. Pieter J.J. Botha op 1 November 2012

Vooraf...

Vir die mense in en rondom Rome was die nag van die sewe-en-twintigste Oktober, 312 n.C. een van daardie lang, dreigende nagte. Die tyd rek uit wanneer die spanning soos 'n klip aan jou lyf hang en jou ingewande uitsuig. Baie was op die spel. Vir die troepe binne die stadsmure van Rome, soos vir die wat noord van die Tiberrivier gegroepeer was, hulle lewens. Vir die burgers van die stad, die vraag waar hulle lojaliteit sou lê oor 'n dag of wat, en wat die prys of wins van ou lojaliteite sou wees. Gevegte was al verskeie dae aan die gang, en die een kant is numeries sterker, maar die ander kant is takties slimmer, met gevaarliker vegters. Maksentius, bedreigde keiser in Rome, en Konstantyn, dreigende keiser buite Rome, het waarskynlik met dieselfde vrae gestoei: vrae oor strategie, oor voorbereiding ... en wat sê die gode?

Of enige god enigiets destyds te kenne gegee het is te betwyfel, maar soos altyd was daar aan beide kante oortuigings dat die een of ander wel geopenbaar is. Wat sommige mense daardie nag gedink het oor die Goddelike, so sou dit blyk, het die geskiedenis van die Christendom ingrypend beïnvloed.

Om te verstaan hoe dinge anders gestuur is, moet ons eers verder terug kyk, amper driehonderd jaar terug.

So êrens teen die einde van Pontius Pilatus se goewerneurskap van die Romeinse provinsie Judea, terwyl Herodes Antipas koning was van die buurstreek Galilea, het klein groepies Jode in Jerusalem en Galilea verbasende stories vertel van hulle Meester, Jesus van Nasaret. Onder andere dat hulle Meester die heerskappy van God aangekondig het en sigbaar gemaak het. Hy het geleer dat die heerskappy van God – die God van sosiale geregtigheid – verniet ontvang kan word, en daar waar geregtigheid, barmhartigheid en getrouheid beleef en geleef word, dáár heers die Koning. Soos hulle Meester verkondig en leer en leef hierdie dissipels van Jesus dieselfde; verniet het hulle dit ontvang en verniet gee hulle weg. Die middelpunt van hulle aktiwiteite is gesamentlike maaltye. Nie sommer net kos eet nie, maar 'n maaltyd waar daar nie gediskrimineer word nie. Selfs vroue en slawe neem deel. Almal bring wat hulle het na hierdie maaltye. Sulke etes is vir hulle simbolies van die heerskappy van God, en 'n gebaar van hulle verwagting van God. Die merkwaardigste is hulle oortuiging dat die Jesusgebeure nie met die kruis geëindig het nie. Die Meester lewe voort: Hy is "by hulle" daar waar hulle mense leer om te doen alles wat Jesus geleer het, daar waar hulle saam eet en kos uitdeel en lewens heelmaak.

Meer en meer huishoudings sou by die beweging aansluit. Oor baie dinge sou hulle nie met mekaar saamstem nie, maar oor die heerskappy van God wat sigbaar word was daar min verskil. Oor die omgekeerde – dat gelowiges baie skepties is oor die heersers wat met geweld, geld en gewin regeer – was daar minder eenstemmigheid, soos algaande duideliker sou word.

Die élite van die Romeine en die Grieke (en van Noord-Afrika en Klein-Asië) het die Christene se toewyding aan die armes en ongeletterdes vreemd gevind. Wanneer daar na die Christene geluister is, was die oordeel dat dit 'n goeie filosofie is, net jammer van die slawe en die mense sonder status. "Los tog die bedelaars en hopeloses uit, en bly weg van die straathoeke!" Vir buitestaanders was die afskaffing of minstens vermyding van sosiale onderskeidinge die uitstaande kenmerk van Christen-groepe se byeenkomste en aktiwiteite. Vir Christene én nie-Christene was dit duidelik dat hulle 'n "ander" leefwyse nastrewe; dat hulle 'n ander "kultuur" bou, by wyse van spreke. Baie sigbaar in die opsig was die Christene se weiering om na die skouspele te gaan kyk. Aan die einde van die tweede eeu en in die derde eeu word Christene beskrywe as vrygewig – oordadig vrygewig – en selfopofferend (en liggelowig), wat sonder tempels, altare of beelde in mense se huise bymekaar kom (kyk, bv, Minukius Feliks se Oktawius).

Met die verloop van tyd ontwikkel die Christene meer komplekse strukture en oorlegpleging oor probleme en verskille tussen die groepe vind al meer plaas. In die derde eeu sou dinge donker raak vir almal in die Romeinse ryk. Van tyd tot tyd is die Christene verkwalik as die oorsaak van die probleme. Die dreigende ineenstorting van die Ryk het egter saamgehang met baie faktore. Vir die soldatekeisers wat die Romeinse wêreld weer bymekaar sou bring, was daar nie die geringste twyfel dát die Ryk gered moes word nie. Hierin het hulle geslaag – met die beste bedoelings – deur van die enigste metodes wat hulle geken het gebruik te maak: geweld, en ... geweld. Nie vir 'n oomblik het hulle daaraan getwyfel of die Ryk die moeite werd is en dat gevangenskap vir miljoene mense 'n billike prys is nie.

Die Gode kies kant...

Aan die einde van die eerste dekade van die vierde eeu heers Maksentius oor Italië – of so het hy graag gedink. Die bedreiging van die veertig jaar oue Konstantyn wat heers oor die westelike provinsies van die Ryk word in die loop van die jaar 312 dringend. Nie dat Maksentius nie bydra tot die spanning nie: Konstantyn se beelde in Rome word omgegooi. Tog voel hy veilig binnekant die reuse mure rondom die stad, al is Konstantyn op pad. 'n Ou profesie word in sy teenwoordigheid uitgelê as "op die 28ste Oktober sal 'n vyand van die Romeine val". Maksentius besluit om Konstantyn se leërs buite die stad aan te durf. Hy het immers baie meer troepe as Konstantyn. Langs die Milviaanse brug bou sy soldate tydelike oorgange met bote, om die oorkant van die Tiber te bereik sodat hulle nie op een smal brug vasgevang word nie. Maar Konstantyn se leër oorweldig hulle in elk geval; die dodetal is verbysterend, duisende verdrink in die rivier, insluitende Maksentius. Die profesie was toe reg, as mens aanvaar dat Konstantyn die "Romeine" verteenwoordig. Ook die "ou" gode het gekies.

Op sommige van Konstantyn se soldate se skilde is 'n nuwe kenteken, blinknuut opgeverf. Waar kom die teken vandaan en wat het dit beteken?

Laktantius1 vertel dat Konstantyn in 'n droom die vorige nag beveel is om die "hemelse teken van God" op die skilde van sy vegters te plaas. Laktantius is nie juis duidelik as hy die teken beskryf nie, maar sê dat dit lyk soos 'n plus-teken met 'n sirkel bo-aan. Baie mense hou van die idee dat dit die Chi-Rho was, die eerste twee letters van "Christus" in Grieks, C en R bo-op mekaar, maar Laktantius beskryf dit nie so nie. Volgens Laktantius gehoorsaam Konstantyn die droom, en die oorwinning word behaal.

Vyf-en-twintig jaar ná die gebeure, en ná Konstantyn se dood, vertel Eusebius van Sesarea dit heel anders.2 Eusebius sê dat Konstantyn self hom hierdie weergawe vertel het, onder eed, in die dae toe Eusebius "vereer was met sy [Konstantyn] se vriendskap en ondersteuning". Konstantyn het aanvanklik die bevryding van die hoofstad [Rome] aan ander oorgelaat, maar hulle het gefaal. Mettertyd, in die lig van die geweldige verdrukking van die mense van die hoofstad, het hy gesweer om die tiran omver te werp. Hy het egter besef dat 'n magtiger bondgenoot as blote troepe nodig is, weens die "bose towerkragte" wat Maksentius inspan. In alle erns begin Konstantyn die verskillende gode teen mekaar opweeg, en hy besef, skielik, dat al sy voorgangers tot nou toe mislei moes gewees het, dat slegs die "een allerhoogste God" kan help. Konstantyn bid heel ernstig tot hierdie God, en strek sy regterhand uit om hulp te vra. Terwyl hy bid, sien hy helder oordag 'n kruis van lig en die woorde hoc signo victor eris (Latyn) of toutoo nika (Grieks): "met hierdie teken sal jy oorwin" (dis onseker watter taal die hemele daardie dag gepraat het). Nie net hyself nie, maar sy "volle leërmag" wat saam met hom op die spesifieke verkenningstog was, het die wonderwerk aanskou. Die "volgende" nag verskyn "die Christus van God" self aan Konstantyn en beveel hom om die teken op die baniere van die leër te plaas, en dit as afweermiddel te gebruik.3

Wat het gebeur? Niemand kan vandag meer sê nie, en elkeen moet vir sigself hieroor besluit. Net vir geval iemand dalk die Christelike propaganda wil mislees herinner ek ook aan die lofrede van die priesters van Apollo wat in Trier, in die jaar 310, nadat Konstantyn vir Maksimianus, sy skoonpa, doodgemaak het, aan Konstantyn opgedra het. Maksimianus was toevallig ook 'n bedreiging vir Konstantyn se heerskappy. Die priesters sing hoedat Konstantyn se beskermer, Apollo, hom gelei het na dié tempel en dat lourierkrone (met "XXX" daarop) wat elk simbolies is van dertig jaar koningskap, hom aangebied is. In die tempel het Konstantyn self gesien hoe duidelik hy op die songod se voorkoms trek, en daarom word al die ou voorspellings waar met Konstantyn, wat "so jonk en kragdadig en gesond en aantreklik is".4

Daar is heelwat aanduidings dat die chi-rho-teken eers lank na 312 gebruik is. Die eerste christelike simbole verskyn op Konstantyn se muntstukke eers in 315, en die laaste huldiging van die songod word nog uitgebeeld op muntstukke van 323.

Terwyl die swaarde geflits het en die bloed geroggel het kon enige teken in die hemele verskyn het. Wat ons onteenseglik weet is dat veldslae gewen word deur strategie, dissipline en effektiewe en dodelike uitwissing. Slaankrag, voorbereiding en motivering. Ou generaals ken die formule goed. Jong offisiere wat dit nie gou aanleer en nog gouer toepas nie, word nie ou generaals nie. Wie weet, dalk het Konstantyn bloot 'n nuwe teken ingestel om sy soldate te laat fokus en om as inspirasie te dien. Miskien het hy, toe hy staan en kyk hoe hulle Maksentius se lyk uit die rivier hark, gedink dat onnosele besluite 'n oorsaak moet hê.

Maksentius se kop is afgesny, op 'n spies gemonteer en rondgestuur om seker te maak daar is geen twyfel oor wie is die keiser nie.

Van hierdie tyd af begin Konstantyn om die godsdiens van die Christene konstruktief en energiek te bevorder. Na hierdie gebeure kyk hy terug en maak daarop aanspraak dat die oorwinning die steun van die God van die Christene gehad het. Konstantyn was al simpatiek teenoor die Christene voor 312, maar vir die res van sy lewe het hy met groeiende oortuiging verduidelik dat hy 'n Christen is. Vooraanstaande Christenleiers het Konstantyn ook baie deeglik gehelp met hierdie interpretasie. Invloedrykes soos Ossius5, Laktantius, Eusebius en Silwester (biskop van Rome).

Dit is onbillik om te stry met Konstantyn as hy terugkyk en sê dat hy op daardie dag homself aan die God van die Christene toegewy het. Ander Christene sou na hom nog veel erger dinge aanvang, en die laaste geweld in die naam van Christus moet nog gepleeg word. Wie het destyds gestry toe Konstantyn Maksentius se dwaasheid aan God toe geskryf het? Sou ons gestry het?

Maak mens naar, die idee dat God kant kies wanneer dood gemaak word. Die vreesaanjaende is egter juis die selfregverdiging nadat mense dood gemaak is: dat dit god is wat goedkeur as mense doodmaak. Dat god kant kies vir sy gunstelinge sodat hulle kan oorlog maak. Dat daar 'n god van oorloë is.

In hoc signo klink mooi, en lyk so mooi in silwer gemonteer. Dit sê so lekker. Dit preek so lekker. Onthou net om knypertjies vir jou neus byderhand te hou, vir wanneer die lyke begin opswel en oopbars, na so 'n dag of wat.

Natuurlik, as God eenmaal jou kant gekies het sal hy dit sekerlik weer doen. En weer. Hoe het Tasitus nou weer gesê? "Die beste dag na die val van 'n tiran is die eerste."

Ons – ons wat die afloop van daardie gebeure kan sien, ons wat graag die geskiedenis so lees dat óns storie mooi wit daarin uitstaan – moet fyn oplet. Waartussen was die keuse? Maksentius het die Christene in Rome uitgelos. Nie net uitgelos nie want die jaar van tevore het hy beveel dat die eiendom wat van Christene gekonfiskeer is gedurende die vervolging onder Galerius, aan al die Christene in Italië en in Noord-Afrika – die provinsies onder sy beheer – teruggegee moes word. Die aanval deur Konstantyn was 'n burgeroorlog, en die dryfkrag was gewoon die strewe na alleenheerskappy.

Maksentius is wel as 'n tiran deur Konstantynse propaganda uitgemaak. Op die triomfboog, wat op 25 Julie 315 aan Konstantyn opgedra is (en vandag nog langs die Kolosseum in Rome besigtig kan word) staan dat hy die "tiran en sy hele groep ondersteuners (de tyranno quam de omin eius factione)" in 'n "geregverdige oorlog (iustis armis)" namens die Staat gewreek het. In vergulde letters (oorspronklik). Binnekant, in die hoof deurgang van die monument, word Konstantyn ook die "bevryder van die stad (liberator urbis)" en "vredemaker (fundator quietis)" genoem.

Maksentius se tirannie was niks meer en niks minder as diegene voor hom of die ná hom nie ... As god hier gekies het, sê dit iets van daardie god.

Om te spekuleer of en hoe dinge anders kon gewees het, is futiel. Die onderliggende vrae kan egter nie so maklik afgemaak word nie. Nog steeds sit die kerk – ons wat wil ernstig wees oor geloof – met die erfenis van die siening dat God direk in die geskiedenis werk. Nog steeds worstel ons met die nalatenskap van die waardes van sogenaamde heilsgeskiedenis. Die geskiedenis self leer ons dat enige "heilsgeskiedenis" ook 'n onheilsgeskiedenis bevat. Is dit hoe God werk?

Steeds sukkel ons om weg te kom van die idee dat God se kant die wenkant is. Of nog erger, dat die wenkant God se kant is. Gewoonlik is dit maklik om te sê, want die ander kant kan nie terugpraat nie.

Die in hoc signo is nou nie juis onbekend in ons onlangse verlede nie. Die vraag is of die mentaliteit darem al weggebêre en afgesweer is.

Die keiserlike gees...

Die impak van Konstantyn is wyer as net sy oorwinning, bekering en bevordering van die Christendom. Gemeentes en Christene is in 'n hele gees ingetrek (of miskien het hulle hartlik meegewerk aan die skep van 'n nuwe gees). Om te begryp moet ons weer eens bietjie wyer kyk.

Die alledaagse lewe vir Romeine wat die derde eeu beleef het, was negatief en neerdrukkend. 'n Bestel was op die rand van die afgrond. Of raker beskryf: het met sy vingerpunte aan die rantjie van die afgrond geklou. Daar is goeie redes waarom historici beklemtoon dat die gebeure in die Romeinse ryk gedurende die eerste twee dekades van die vierde eeu nie juis as die gewone verloop van sake beskryf kan word nie. Hierdie was buitengewone tye, die naloop van die versplintering en agteruitgang van die derde eeu. Krisistye verg buitengewone mense om uitsonderlike dinge te doen. Konstantyn self sê oor hierdie dae dat die aarde wou huil, dat algehele duisternis gedreig het, dat berge wou omval, riviere op die punt was om op te droog; dat die tyd daar was vir die trompet om te skalm en dat die verlosser moet verskyn. Gebeure het mense oortuig dat 'n gewone man nie mans genoeg kan wees nie. Net 'n reus, iemand wat soos 'n Herkules uitstaan, sou goed genoeg wees. 'n Leier wat menige godsdienstradisie laat dink het só moet die Godheid self uitgebeeld word.

'n Honderd-en-sestig jaar vroeër kon keiser Markus Aurelius nog strewe om homself in "eenvoud en beskeidenheid" te klee. Wat nou nodig was, was 'n man wat tien of vyftien meter hoog staan.6 En, soos dit op die triomfboog staan, die "stukrag van die Goddelike" (instinctu divinitatis) het hierdie man aangewys: Victor Constantinus Maximus Augustus.

Die besoek van 'n keiser aan 'n stad is 'n adventus genoem – 'n "aankoms", of 'n "wederkoms". In Konstantyn se tyd was dit ontwikkel tot 'n besondere gebeurtenis.

Die keiserlike prosessie wag eers op 'n noukeurig uitgesoekte plek buite die stad. Tydsberekening is belangrik, en spanning moet eers gebou word. Teen elfuur of tweeuur weerkaats die son die beste vanaf blink metaal.

Wanneer Konstantyn en sy gevolg nader beweeg, kom die senatore en stadsleiers uit om hulle te ontmoet. Die vooraanstaandes word omring deur priesters en magistrate, en agter hulle loop verteenwoordigers van die werkersgildes, stadskonstabels, en blaasorkeste. Honderde ander mense dring saam om die afgebakende pad.

Konstantyn self word op 'n drastoel gedra, of ry in 'n oop triomfwa. Wagte met goud en silwer pantserklere omring hom. Die edelmetaalplate is vir dae aaneen gepoleer. Van die wagte dra baniere van sy wat in lang buise aanmekaar gewerk is, sodat hulle kan lug skep en opblaas en soos speelse drake in die wind wapper. Die soldate se skilde is vars geverf. So ook die triomfwa, wat oordadig met juwele versier is. Die keiser self is in pers geklee. Tot sy skoene is pers. Juwele glinster orals aan hom: om sy nek, aan sy vingers, op sy gordel, aan sy bokleed. Hyself knip nie 'n oog nie. Roerloos, groots en magtig – dis hoe hy homself voorhou. Kenners probeer ooreenkomste tussen die lewendige man en sy marmberbeelde te sien. Die meeste mense sien hoe baie hy na die gode wat hulle elke dag in die tempels sien, trek.

As hy in daglig aankom word blomme in sy pad gestrooi. In die nag word duisende fakkels aangesteek. Mense stroom solank vooruit na die Kapitolium (die tempel van Jupiter), of na Konstantyn se paleis. Daar is ritmiese handeklap, en dreunsang die hele tyd. "Dankie here! Help ons here! Ons loof u here."

Wierook hang dik oor die strate. Wierook in die strate, fakkels vir die nag en vier perde wat sy wa trek mag net die keiser hê.

Die hele gebeurtenis word vir weke aangekondig, selfs maande voor die tyd. Munte word geslaan met die slagspreuk ADVENTUS AUGUSTI en uitbeeldinge van hierdie gebeure daarop. Die omvang, die kostes, die beplanning, die detail van die keiser se intog wys ons hoe belangrik daardie mense dit geag het. In hulle opgewondenheid en erns wys hulle: dit is wie ons is. Hulle sê: ons is Romeine. Só is ons een.

In die stede wat hy besoek word 'n spesiale huis vir Konstantyn voorberei – as daar nie alreeds 'n paleis is nie. En paleise verrys in hierdie dae soos paddastoele: in Milaan, Aquilea, Nikomedia, Antiogië, en nog ander. Vir Konstantyn is dit paleise.

'n Heerser wat sy kop moet laat sak om by stadspoorte in te kom – al is dit net figuurlik gesproke – vereis tog immers omvangryke binnehowe, hoë gewelfde gange, reuse sale om in te lewe. Magtige deure vir 'n magtige man. Bokant die deure is 'n gewel, die aanduiding dat 'n god hier bly. 'n Dawerende stilte weerklink, want gewone mense het hier niks te sê nie.

In die reusagtige kamers en sale en gange, met hulle gedrapeerde mure en versierde pilare kan mens maklik die gewapende wagte miskyk. Maar hulle kyk jou nie mis nie: uitdrukkingloos met oë wat al alles gesien het. 'n Klein skild, 'n middel-lengte spies, 'n swaard, twee of drie vlymskerp dolke en leerbande om die kneukels gebind. In die leersakkie, aan die dik, breë gordel se agterkant, 'n doek om 'n lem af te vee, om bloed en ander spatsels te klad...

In die belangrikste vertrekke het die vloere 'n sirkel van porfiersteen. Niemand trap daarop nie. Die slawe wat poleer werk vanaf 'n waentjie of mandjie wat dit moontlik maak om van die kant af die middel by te kom. Net die keiser, met sy pers skoene, of pers pantoffels, loop hieroor. Dit is waar hy mag staan. Voor die troon is daar ook so 'n insetsel van porfiersteen. Hierdie een het net nog versierings van goud. Daar is natuurlik ook 'n glinsterende baldakyn.

In sy paleis sien min mense vir Konstantyn, want min word toegelaat in sy teenwoordigheid. Sou jy 'n onderhoud toegestaan word, word jy drie of vier keer vir wapens deurgesoek. Jy word deur verskeie sale begelei, en wag in stilte in 'n spesifieke vertrek. Dan word mens in 'n spesiale portaal ingelei: twintig, of veertig, of in party paleise selfs sewentig meter lank. Aan die verste kant is 'n halfronde, oorwelfde nisvertrek, met 'n gordyn voor. Dit is baie stil, hier.

Mens word tot by die gordyn gebring, praat aan hierdie kant, wag, ontvang 'n antwoord en word terug gelei. Soms, 'n spesiale voorreg: die gordyn word weg gelig, en mens mag die troon benader. Eers word daar gekniel, en dan, steeds gebukkend, toegelaat om 'n geskrewe petisie te oorhandig. Die geskrif self mag mens nie aanraak nie. Dit word vas gehou met 'n spesiale lap, of toegevou in jou jas. Iemand met 'n hoë rang of wat 'n baie belangrike pos beklee mag Konstantyn se kleed soen, met toestemming. Eenkeer toegestaan bly dit 'n voorreg wat herhaal mag word wanneer die keiser weer besoek word.

Sulke versoekgeleenthede word uitgebeeld op muntstukke. Silwer en ivoor voorwerpe wat as geskenke aan belangrike mense uitgedeel word, beeld sulke tonele uit. Fresko's en mosaïeke wat tempels, kerke, suilgange en vooraanstaandes se huise versier, vertoon ook sulke keiserlike handelinge uit. Immers, die keiser is die "genadige", die redder van sy mense, die een wat hulle hoor en help en verlos... Mens moet tog herinner word daaraan, siende dat so min die kans kry om voor hom te verskyn.

Almal praat oor sulke onderhoude. Oor hoe die paleis lyk. Oor die een wat verkeerd gekniel het. Oor die genadige heer en meester wat verby menslike foute kyk en goeie bevele uitreik. Terwyl hulle praat en stry en beter weet as 'n ander maak hulle maar of hulle onbewus is daarvan dat in die skadukolle van die paleis se sale, in die hoeke van die vertrekke, skuins agter die beelde en kaste, 'n soldaat of twee staan.

Mens sou maklik kon dink dat die keiser nooit 'n gewone gesprek gehad het nie. Dis natuurlik waarvoor die stelsel uitgedink is: om jou presies dit te laat dink. Wat hy wil afkondig word bekend gemaak in pers ink, op spierwit geskuurde perkament of superglad afgewerkte papirus. Die keiserlike sekretarisse se handskrif is fleurig, met oordrewe lettertipes wat selfs ervare skrifgeleerdes wat dit moet oorskrywe vir die stad se boodskappers, oorbluf en soms radeloos laat. Die styl is hoogdrawend, met allerlei kunstige sinsnedes. Daar is 'n voorliefde vir herhalings en vermoeiende omskrywings. Die mees vanselfsprekende waarhede word met eindelose oordrywings geformuleer. Die woordeskat is argaïes en intimiderend.

Op sy beurt weer word Konstantyn ook met hoogdrawendheid aangespreek. Noukeurig uitgewerkte toesprake, in 'n gewigtige styl en uitgerekte woordeskat wat met die grootste omhaal van woorde rondom 'n tema beduie, wat implisiet en met sinspeling 'n saak stel, is wat hy hoor. Enige ander manier is summier hoogverraad. "Niemand bied iets vir die ore van so 'n groot godheid aan [en hierdie godheid is nou Konstantyn] wat nie al voorheen geskryf is nie. Want om uit die mou te praat met die keiser van die Romeinse volk is om geen gevoel vir die grootsheid van die Ryk te hê nie", is die voorskrif aan iemand wat vir die keiser 'n brief wil skrywe.

Seremonies bepaal wie mag wanneer naby Konstantyn kom. Wie mag aan sy klere raak en wie mag die some van sy jas soen. Nie net sý jas nie maar ook die van amptenare wat die naaste aan hom is. In elke vertrek, in elke fase van sy dagprogram is daar duidelike voorskrifte hoe teenoor die keiser opgetree word; selfs in die tuin en wanneer hy gaan bad. Vir geen oomblik moet ons die donker, swaar, presiese en uiters onnatuurlike gees wat om die keiser en die lewe rondom hom gehang het, vergeet nie.

Van tyd tot tyd moet die keiser ook die leërs motiveer, die allocutio. Konstantyn, geklee in militêre regalia, praat met hulle van 'n platform af. Die troepe roep ritmies: "Augustus Konstantyn! Die gode bewaar jou vir ons! Jou verlossing is ons verlossing! In waarheid roep ons, met 'n eed praat ons!" Sy verstommende militêre suksesse verleen hom gesag, en skep ook die aanvaarding van gesag.

Die meeste van die soldate kan nie lees of skryf nie, maar Konstantyn se kommunikasie met hulle is beter as wat geskrewe tekste ooit kan wees. Sy taal is hulle taal. Soos hulle is hy 'n soldaat wat 'n slagveld goed ken: die skop van 'n swaard in jou hand as dit 'n lyf tref; die oopgesperde oë van vreesbevange sterwendes; hoe om die monsters van die nag stil te maak.

Die soldate weet dat hulle die bevoorregtes van hulle samelewing is. Hulle lojaliteit máák die keiser. Van sy kant sorg die keiser dat sy lojaliteit teenoor hulle bo verdenking staan. Met muntstukke waarop die keiser wat met sy troepe praat uitgebeeld word, herinner hy ook sommer baie ander daaraan hoe dinge bymekaar gehou word. Allocutiones eindig met die uitdeel van geskenke. Goue munte met die soldate-keiser en sy lojale troepe daarop.

In marmerbeelde, in portrette, mosaïeke en tekeninge sien ons die keiser, gewapend, met sy lojale onderdane. En troepe in die agtergrond.

Die plekke wat die keiser besoek verander summier van naam: die munt word die Heilige Munt, die huis van 'n vooraanstaande word die Heilige Huis van so-en-so. Die Hemelse Dit en die Goddelike Dat. Hoe anders dan as deur aanbidding optree teenoor só 'n iemand?

Dit is hierdie sfeer van belewenis waardeur die Christendom bykans onherkenbaar beïnvloed is. Of dit nou die keiserlike gees was wat die gelowiges oorweldig het, en of die kerklikes met oorgawe die gees uitgebou het – waarskynlik albei – maak geen verskil aan die dat dit gebeur het nie.

Kort na sy oorwinning oor Maksentius het Konstantyn sy tweede vrou (Fausta) se paleis (die Lateraanse paleis) aan biskop Melgiades geskenk. Meteens het die biskop in 'n lewenstyl soos wat bitter min Christene nog ooit gesmaak het, ingeskuif. Meteens was daar ook 'n groot kloof tussen hom en sy gemeente...

Na sy bekering begin Konstantyn om kerke te bou, om die Kerk sigbaar te maak in argitektuur, in dooie klippe. Die barakke van Maksentius se keiserlike wag, waarvan almal dood is, word afgebreek en 'n katedraal gebou (langs die Lateraanse paleis). Nie vêr hiervan nie word die Sessoriaanse paleis omgebou in 'n basiliek vir die Christene. Konstantyn bou baie christelike basilieke. Hoe lyk hierdie christelike geboue? 'n Lang saal met pilare en 'n apside aan die ent. Net soos Konstantyn se troonsale. In basilieke vóór hierdie dae het magistrate vergaderings toegespreek. Nou, in 'n soortgelyke maar meer indrukwekkende ruimtes spreek priesters en biskoppe.

Biskoppe ontvang nou staatsondersteuning.

Viktor Konstantyn, Grootste, Augustus, aan Eusebius.
Omdat die onheilige geweld en tirannie tot met die hede die diensknegte van die redder God vervolg het, het ek tot die oortuiging geraak, mees geliefde broers, dat die bouwerke van al die kerke weens òf nalatigheid geruïneer is òf as gevolg van vrees vir die onreg wat afgedwing was hulle waarde verloor het. Maar nou, sedert vryheid terug gebring is en daardie draak verjaag is van die administrasie van openbare sake deur die voorsienigheid van die hoogste God en deur ons bydrae, glo ek dat die goddelike krag sigbaar gemaak is aan almal en dat diegene wat weens vrees of ongeloof in dwaling verval het, sal inkom na die ware en regte lewe wanneer hulle die eintlike waarheid leer ken het. Daarom, wat betref gemeentes waaroor jy self toesig hou of waaroor ander biskoppe en priesters of diakens wat jy van weet toesig hou in die onderskeie plekke, kan jy aanbeveel dat hulle betrokke raak by die bouwerke van kerke: deur hulle te herstel of die wat reeds gebou is te vergroot, of, na gelang van behoefte, ook nuwes te bou. Jy self en die res van julle kan al die nodige dinge van beide die provinsiale goewerneurs en die toesighoudende amptenare aanvra. Hulle is reeds beveel om julle by te staan met die hoogste ywer om jou heiligheid se woorde uit te voer.
God bewaar jou, geliefde broer. (Brief van Konstantyn aan Eusebius;Vita Constantini 2.46).

Konstantyn plaas die mag waaroor hy beskik tot die beskikking van die kerk, en het hulle nie vrylik en met trots daarvan gebruik gemaak nie. In die 300 jaar van die kerk se bestaan tot hier toe is die gemeentes van tyd tot tyd gespot, geminag, selfs vervolg. Maar hulle was onafhanklik. Die keiser se bereidwilligheid om die kerk te steun – wat baie goed bedoel was – het nuwe moontlikhede meegebring en die manier hoe die kerk saam gewerk het, het daardie onafhanklikheid laat verlore gaan.

Die vyand wat 'n vriend geword het, se vriendskap het 'n deur oopgemaak vir meesterskap. Die kerk het haar standpunte oor koningskap, oor militêre diens en oor gewelddadige ingrype verander. Rykdom en mag het nou instrumente vir en van die kerk geword: nie meer booshede of verleidinge wat teengestaan word nie.

Verrassend vir baie, destyds; ontstellend vir ons, vandag, daardie veranderinge.

Wanneer 'n mens oor God praat gebruik ons noodwendig metafore. Sulke metafore hang gewoonlik saam, vul mekaar aan, dui op hoe God se "essensie" en God se "handelinge" verstaan word en wat van en oor God se karakter gedink word. Sulke diskoerse het dus 'n sentrale waarde, 'n middelpuntvlietende krag by wyse van spreke. Met ander woorde, daar is 'n soort "teoretiese" kernwaarde onderliggend aan die diskoers en rituele wat mens voor God beoefen.

In bevrydingsteologie, byvoorbeeld, is die kernwaarde dat die ekonomiese uitbuiting van diegene sonder kapitaal sonde is. In feministiese teologie, om nog 'n vereenvoudigde voorbeeld te gebruik, is dit die opvatting dat ons almal as persone voor God lewe en dat geslagtelikheid 'n kulturele skepping is wat onder geen omstandighede uitdrukkings mag wees van onderdanigheid of minagting of verdrukking nie.

So was dit nog altyd met godsdienstige taal. Daar was nog nooit ongemerkte teologie nie. Dit help ook nie om te sê mens strewe bloot na 'n bybelse teologie nie, want die verskillende Bybelboeke het self 'n diversiteit van teologieë. Die belydenisse en tradisies waarmee ons die Jesusverhale en bybelse tradisies 'n raamwerk gee en relevant maak is almal gemerk, gelade by wyse van spreke, met uiteenlopende kernwaardes. (Dit, terloops, is een van die redes waarom ons die beste moontlike historiese navorsing waartoe ons in staat is moet beoefen: om so deeglik moontlik te kan verstaan waaroor ons praat en waaroor húlle – ons voorgangers – gepraat het).

Die krag, diepte en geestelike kwaliteit van 'n teologie is verwant aan sy kernwaardes. Daarom is dit so belangrik dat ons bewus moet raak van sulke kernwaardes, want juis wanneer hulle problematies is – eties onverantwoordelik en geestelik verarmend – word daar gepoog om die onderliggende "ideologie" van 'n teologie te versteek. Of onuitgesproke en onbesproke te laat. Soos die gekraak van leerbande in die skadu's, die sagte gerinkel van malieë en die skielike flits van 'n lem wat 'n ligstraal vang.

Oor God se "essensie" en God se voorkeur handelinge het die biskoppe rondom Konstantyn hulle monde vol gehad en liters ink verspil. Oor God se karakter (dink aan Psalm 82), oor sosiale geregtigheid, is daar maar min gesê.

Ons lewe nie in daardie wêreld nie. Hulle keuses – goed of sleg – kan nie sommer net so ons s'n word nie. Ander keuses deur hulle sou dalk beter gewees het, meer eties, meer getrou. Sou die kerk regtig verdwyn het, as hulle meer weerstand gebied het? Dalk sou die vervolgings van Christene elk geval tot 'n end gekom het (dit hét, vir die grootste deel van die Ryk, voor die slag by die Milviaanse brug).

Hoe ook al, ons wéét hoe dinge uitgewerk het. Nuwe gesigte het weliswaar onder die uitverkorenes van mag en rykdom verskyn, maar die sosiale instellings het net dieselfde gebly. Net ander is na Konstantyn se tyd vervolg. Ironies en tragies dat hierdie "ander" ook mense met christelike oortuigings ingesluit het.

Baie biskoppe van die vierde eeu, heterodoks en ortodoks, se teologiese "teorieë" was uitdrukkings van hiërargiese patriargie en 'n augustaanse ideologie (mag maak reg). Jesus het die diskoers van die etiese profete aangegryp. Van sy vroeë volgelinge ook. Van sy latere volgelinge ook. Watter ideologie en watter teoretiese punt maak ons teologie? Myne? Joune?

Blaam

Ons moet hier rem aandraai. Dit is alte maklik om Konstantyn die swart skaap in die verhaal te maak. Daar is in die konvensionele sieninge van die Konstantynse geskiedenis twee belangrike mistastinge. Die eerste is die onderskatting van Konstantyn se staatsmanskap, sy strewe na en verbasende sukses om 'n stabiele konsensus van Christene en heidene ten gunste van religieus neutrale publieke ruimtes te bewerkstellig. Die tweede is godsdienshistories: die wese van die godsdienstige konflikte van die eerste helfte van die vierde eeu het nie soseer gegaan oor "heiden" teen "gelowige" nie, maar oor wie die mag binne die christelike beweging sou hê – wie van die Christene mag aanspraak maak op die dwingende mag van die staat om hulle te ondersteun.7

Ongetwyfeld was Konstantyn ambisieus en koelbloedig. Dit is so dat hy homself as God se instrument gesien het en sonder om te blik of te bloos aan ander voorgeskryf presies wat God van hulle verwag. Tydens sy kategese was daar seker nie tyd vir lesse oor nederigheid nie.

Al wat Konstantyn wou doen, was om op die troon te sit, leërs te lei en die soom van sy jas aan te bied om vereer te word. Wat hy wou wees, was om baie goed te wees met dit wat hy wou doen: vrede maak (wel, forseer), voorspoed bewerkstellig, goeie regering bevorder. En hy was goed met dit wat hy wou doen; baie, baie suksesvol. Praat van 'n loopbaan aanvaar waarin mens 'n reuse sukses maak omdat dit by jou vermoëns en persoonlikheid pas en ons praat van Konstantyn. Sý werk was nie vir hom 'n las nie. Hy wou 'n kolossus wees en hy was een.

Konstantyn was ook baie ernstig oor sy godsdiens. Hy noem homself die "apostel van diegene buite die kerk", die "gewone apostel". Soos laas met Paulus word daar moeite gedoen om almal in die kerk te kry. In sy eie woorde:

Deur die goddelike geloof te bewaar neem ek deel aan die lig van waarheid; gelei deur die lig van waarheid erken ek die goddelike geloof ... Met die mag van hierdie God as my bondgenoot, het ek begin vanaf die verste kant van die Oseaan om die hele bewoonde wêreld, stuk vir stuk, op te hef na die hoop op ongetwyfelde verlossing ... Hom roep ek op my knieë aan, gekant teen alle verwerplike bloedoffers en haatlike reuke, en met die rug gekeer na elke aardgebonde [tower-]vlam, wat gelei het na vuil, bose en vreeslike dwaling waardeur baie mense en volke verwoes is. (Konstantyn se brief aan Sapor, koning van Persië; Vita Constantini 4.9–10).

Die selfbenoeming "apostel vir diegene buite die kerk" is 'n aanduiding van Konstantyn se oortuiging van uitgesoek te wees. Konstantyn het die Christendom se groei bevorder vêr buite die grense van die Ryk, maar veral binne die grense van die Ryk. Hy het sy bes probeer om aanhangers van alternatiewe sieninge en skeurmakers terug te wen. Sy dryfkrag was nie soseer om siele te red nie, want ander se sieleheil het hom duidelik nie geïnteresseer nie. Mens kan amper praat van om liggame terug te wen. Hy het gestrewe na voorspoed tydens sy heerskappy om sodoende te verseker dat God aanvaarbaar en behoorlik aanbid word. Voorspoed vir Konstantyn was materiële welsyn: einde aan burgeroorlog, beveiligde grense, oeste in oorvloed vir 'n talryke bevolking. Vrede en die voordele wat vrede meebring. Hoe Konstantyn oor God se gawes gedink het, kan ons sien in die booshede wat hy aan die duiwel toedig: onluste, gevegte in die strate, bittere twisgesprekke, swak oeste, huigelaars, alles wat met toordery te doen het en, natuurlik, troonpretendente.

Min van die wesenlike fasette van christelike oortuigings het Konstantyn geïnteresseer. Oor God se genade of mense se boosheid het hy nie gewonder nie. Aan wat verlossing sou wees of wat liefde behels het hy hom nie aan gesteur nie. Ook nie aan nederigheid nie. Ywerig in sy oortuigings maar heeltemal onbewus van die morele implikasies van sy oortuigings. Dalk is dit die voorwaarde om aanspraak te maak op Maximus, die Grootste.

Tog bly die vraag: Hoe is dit dat 'n man wat so ernstig toegewyd is nie weet van die morele implikasies van sy geloof nie? Dit is hier waar mens begin wonder oor die ander gelowiges rondom Konstantyn.

Wat van al daardie biskoppe waarmee die keiser te doen gehad het? Sinodes het lank voor Konstantyn se tyd al plaas gevind. Om saam met die keiser te vergader was dalk net té aanloklik. Te "goed" om waar te wees. Laat niemand julle "leiers" noem nie (Mt 23.10), net amices carissimi (geliefde broers) deur 'n keiser. Deur Konstantyn. En wanneer julle die stad se prokonsul versoek om geld uit te haal, noem net jou goeie vriend en broer in Christus, Victor Konstantinus Maximus Augustus...

Sou dit dwaasheid gewees het om Konstantyn teen te gaan? Dalk. Waarskynlik. Tog bly die vrae. Waaroor gaan geloof en godsdiens dan?

Eenheid, verskeidenheid ... en Judaïsme

Konstantyn ag eensgesindheid as sy lewenstaak. En Konstantyn bedoel werklike, sigbare eenheid. Die verdeeldheid onder Christene was vir hom 'n verleentheid. Weereens val sekere vrae mens op: Was daar nie strewe na eenheid voor sy tyd nie? Waarin het eenheid toe gelê? Immers, aanbid die Christene dan nie die Een Here nie? Waarin kan dit lê? En vir ons? Hoe behoort eenheid vandag daar uit te sien? Of, om die vraag wat hierdie bespreking dra weereens op te roep: wat is christelike identiteit?

In 'n sin, natuurlik, was daar van die begin af uiteenlopendheid in die Jesus beweging. Van die begin af was daar die gemeentes van Akwila en Priska, van Petrus, van Jakobus, van Paulus en van Klemens. Met verskillende aksente en perspektiewe en voorkeure het mense vergader in die naam van Jesus onder die uiteenlopende leiding van Hermas hier, Justinus daar en Kallistus langsaan.

Teen die middel van die derde eeu was daar talle Christengroepe regoor die Ryk in bykans al die stede, 'n mosaïek van gemeentes. In baie neem 'n verkose biskop die leiding, of een wat, mettertyd soos dinge ontwikkel het, in oorleg met ander biskoppe aangewys is. Die meeste gemeenteleiers het ander werk: hulle is regsgeleerdes, onderwysers, skrifgeleerdes, handelaars, 'n vrygemaakte of twee wat grond besit. Die ander "ampte" van die gemeente is deel van huishoudings, wat hulle "christelike" funksies (soos grafte grawe, deurwagters, kleremakers en dies meer) borg.

Wat doen jy in so 'n ryke verskeidenheid van praktyke en oortuigings as daar oor die interpretasie en toepassing van die tradisies verskille bestaan? Jy kan net jou bes doen om te oorreed, met helder woorde, goeie argumente en met die uitleef van jou eie oortuigings. Augustinus het dit nogal mooi verwoord, myns insiens:

Ek is nie 'n voorstaander daarvan dat mense gedwing word om met enige party saam te werk nie, maar ek begeer dat die waarheid bekend gemaak word aan persone wat na waarheid soek sonder voorwaardes wat vrees inboesem. Van ons kant af sal daar geen verwysing wees na die dreigement van staatsmag nie. Maar dan moet daar ook nie van julle kant af intimidasie deur mafiabendes wees nie. Laat ons ons toespits op die werklike saak deur debat, en laat ons argumente bou met redelikheid en met die gesagdraende onderrig van die goddelike geskrifte, rustig en kalm, so veel as wat ons in staat is. Laat ons vra, soek en klop, sodat ons kan ontvang en vind, en dat die deur vir ons oopgemaak kan word. (Augustinus Epistulae 23.7)

So skryf Augustinus in die jaar 392, maar dit is 'n goeie aanduiding van hoe die situasie noodwendig moes gewees het voor Konstantyn. Getuig, oorreed met redelike argumente, lewe volgens jou oortuigings in nederigheid, vrede en liefde. Onherkenbaar sou die situasie verander. Ons het almal die suspisie dat oorreding en helder denke en opregtheid nie genoeg is nie. Eintlik is dit meer as genoeg, maar wie wil nou redelik wees as jy moet erken jy is verkeerd? Daar is ook altyd die versoeking: moet ek nie net 'n klip gaan gooi nie? Kan ek hom nie maar 'n klap gee nie? Sestien jaar na bogenoemde brief skryf Augustinus self dat "goeie dwang" nodig raak waar mense volhard om die valsheid aan te hang. En nog nege jaar later:

Daar is 'n onregverdige verdrukking, dit wat die ongelowiges op die kerk van Christus lê, maar daar is ook 'n regverdige verdrukking, wat die kerk van Christus die ongelowiges toedien ... Daarom, gegewe die mag wat die kerk ontvang het weens God se beslissing op die regte tyd as gevolg van die godsdienstige karakter en geloof van konings, om die instrument te wees waarmee diegene op die paaie en die lanings [die afwykendes] gedwing kan word om in te kom, kan hulle hoegenaamd nie kla as hulle sodanig gedwing word nie... (Augustinus Epistulae 185.11.24).

Augustinus haal die Bybel hier aan, Lukas 14.23. Die Latynse sinsnede compelle intrare: "dwing hulle om in te kom" sou nog 'n verbysterende rol speel in die kerkgeskiedenis.8

Ons wil nie graag daaraan herinner word dat "ortodoksie" nie van die begin af bestaan het nie. Feit is, daar was nie eintlik 'n "oorheersende" sentrale beskikker oor die Christendom in die eerste, tweede of selfs derde eeue nie. Die vroeë Christendom was 'n verskeidenheid groepe wat verskil het oor geloofsbelydenisse en praktyke. Verskillende gemeentes het mekaar uitgekryt as dwalers, afwykendes en misleides. Die verskille het voortgespruit uit kulturele diversiteit, tale, agtergronde, klem op verskillende tradisies, verskillende waardes. Eventueel sou enkeles van hierdie tradisies die "oorwinning" behaal. Dit is daardie "oorwinning" wat ons kritiese moet bedink.

Dit wil nie sê daar was geen samehorigheid nie. Daar is in die vroeë Christendom óók duidelike en ondubbelsinnige strewes na wedersydse erkenning en sentrale waardes te bespeur. Wat mens nogal opval is die klem wat op lewenstyl geplaas is. Met die gegewens wat ons het kan ons nie anders as om uiteenlopende tradisies raak te sien nie, elk met 'n eie logika en interne samehang, wat naas mekaar bestaan het. Daar was nie 'n sentrum nie, maar wel 'n soort identiteit wat vorm aangeneem het. Hierdie soortgelykheid, erkenning van 'n kenmerkende identiteit het nie in leerstellings gelê nie – alhoewel dit daar was en 'n rol gespeel het – en ook nie in liturgie nie – alhoewel dit ook 'n rol gespeel het, en ooreenkomste bevorder het. Die identiteit het juis nie net berus op godsdienstige idees nie, maar het uiting gevind in 'n lewenswyse. Die ervaring van "ons is anders", van sodoende hoort ons bymekaar, van só is ons een, was iets wat bowe al in gemeenskaplike betrokkenheid beleef is.

Ons moet nie die vroeë Christene idealiseer nie. As hulle maar net kon sou baie van die vromes sekerlik ook sonder om te blik of te bloos dieselfde gedoen het as wat hulle nakomelinge vanaf die vierde eeu gedoen het. Maar: daar is 'n groot verskil tussen jou sondige humeur te bely met drome van ander reg te ruk en om God te dank dat ons die ander kon uitwis.

Waarmee het die vroeë Christendom geworstel? Êrens tussen 177 en 180 spot Kelsos nog met die Christene se beheptheid met kinders, vroue, slawe en die armes, 'n godsdiens vir wolkammers, klipkappers en klerewassers. En na Konstantyn? Wie word pous. Wie word die keiser se raadgewers. Watter gebou sal ons vir God oprig, en hoeveel marmer en goud is daarvoor nodig.

In die oorgang wat Konstantyn aan die gang gesit het, het iets van Christen-menswees ondergegaan en iets anders uitgekom. Dis presies daaroor wat óns moet dink en besluit. Vredemaak as 'n risiko (Mt 5.3) en vrede deur superieure slaankrag is nie dieselfde nie.

Een ander ontwikkeling wat deur die Konstantynse era meegebring is, moet kortliks aandag kry. In die middel van die tweede eeu skryf Justinus die Martelaar as 'n antwoord op die vraag of Joodse-Christene gered kan word, dat "ons behoort by hulle aan te sluit en saam met hulle te werk in alle dinge as familie en broers – hulle moet net nie van ons verwag om die Wet te onderhou nie" (Dialogus cum Tryphone 47). Tweehonderd jaar later is die prentjie aansienlik anders. Van die talle Joods-Christelike groepe en bewegings wat in die eerste en tweede eeue met ontstellende vitaliteit (vir heiden-Christene) gebloei het, is net enkele klein groepies oor. Hierdie verdwyning hang saam met die groeiende konflik tussen Christendom en Judaïsme.

Van Konstantyn se eie wetgewing ten opsigte van Jode en Judaïsme het net vier behoue gebly.9 Die eerste twee handel oor openbare verpligtinge (belastings) van Joodse mense wat ampte beklee. Die derde bepaal dat Jode wat Joodse bekeerlinge (tot die Christendom) en nie-Jode wat hulle tot die Judaïsme bekeer, verbrand moet word. Die vierde herhaal die vorige een, maar dreig net met vergelding sonder om die straf te omskrywe; dit belowe ook vryheid aan (nie-Joodse) slawe wat deur hulle eienaars besny is.

Ons moet egter verby die wetgewing self kyk, na hoe gemeenskappe verander het. Konstantyn self het nie van Jode gehou nie (hulle het immers, so is hy geleer, sy geliefde Christene destyds in Judea vervolg). Vir die eerste keer maak 'n keiser verkleinerende uitsprake oor Jode en Judaïsme. Hy noem hulle 'n "dooie (feralis) sekte", en 'n afskuwelike groep mense. Maar aktiewe en doelbewuste verdrukking kan nie aan hom toegedig word nie. Konstantyn was baie dinge, maar nie onnosel nie. Ten spyte van sy eie voorkeure en afkeure was samewerking, verdraagsaamheid en ontwikkeling van genoeg staatsbelang vir hom om nie so onverantwoordelik te raak nie. Konstantyn het nie blindelingse regstellende aksie toegepas nie.

Natuurlik het hy sy grense gehad. Arme Sopater, byvoorbeeld. Hierdie heidense neoplatonis is deur Konstantyn aangestel en bevorder en het vir jare 'n belangrike rol tussen die keiser se raadgewers gespeel. Toe Sopater verdink word dat hy die winde (wat die graanskepe aandryf) geketting het (deur towerkragte) is hy onmiddelik geketting (met ysterkettings). Permanent. Geregtigheid en verdraagsaamheid kan nooit, volgens Konstantyn, die beoefening van towerkragte tot andere se nadeel insluit nie.

Die groeiende spanning tussen Christen en Jood kan nie net op Konstantyn se rekening geplaas word nie. Die toegang tot en aanvaarding van staatserkenning het 'n proses in die Christendom versnel wat reeds besig was om te voltrek. Ons hoef net te let op hoe die Christene 'n spesiale styl van interpretasie uitwerk om te kan bewys dat die Ou Testament aan ons behoort (al is dit dan in 'n Griekse of Latynse vertaling). Eusebius maak 'n onderskeid tussen die "Hebreërs", die Christene se voorvaders, en die "Jode", die moordenaars van die Verlosser. Hebreërs is natuurlik nie Jode nie, maar proto-christene en mede-vyande van Judaïsme. Die profete van die Skrif word nie meer gelees as etiese prediking nie, maar as toekomsvoorspellings. In die gebeure van die vierde eeu word hierdie toekomsvoorspellings dan vervul (met heelwat menslike hulp weliswaar), en die goddelike waarheid van Christene se interpretasies en handelinge word so bevestig.

Aan die begin van die vierde eeu was Rome heidens; teen die einde van die eeu christelik. Aan die begin van daardie eeu het Jode in die land Israel hulle eie sake bestuur. Aan die einde van die daardie eeu het hulle instellings alle erkenning verloor. In die jaar 300 het Judaïsme 'n wettige status gehad en die beskerming van die staat geniet. Teen die jaar 400 was Judaïsme se regte omvattend ingeperk, en het die Jode meeste van hulle burgerregte verloor. Met die aanvang van daardie eeu het Jode in groot getalle in die Land Israel gewoon, maar teen die einde het hulle in Palestina gewoon, as 'n minderheid. Konstantyn en sy ma, Helena, het oor die hele Ryk kerke en bedevaartplekke opgerig; veral in Jerusalem. Die Land Israel het weereens 'n nuwe naam gekry: die "Heilige Land". En vir die volgende agtien eeue is die Joods-Christene tot nietige groepies afgetakel.

Jesus se menswees word in hierdie dae 'n vermomming. Dit moes, want 'n volbloed Jood kon Hy tog nie gewees het nie. Selfs die mees ortodokse belydenis verraai hierdie tendens alte duidelik. 'n Mens is 'n wese wat in 'n spesifieke taal en kultuur leef en beleef, wat in 'n konkrete, historiese konteks gepraat, gelag en gehuil het. Christus – so word al meer en meer geredeneer – was wel mens, maar 'n "algemene" mens en nie 'n historiese mens nie. Jesus van Nasaret had nie meer sy eie taal, sy ma en pa en sy mense se kultuur, sy volk se geskiedenis, sy vadere se godsdiens of sy eie geloof nie. Soos die keiser word Hy nou uitgebeeld met 'n stralekrans. Hy word nou beskou as die Een wat afkyk en neerkyk.

Sinagoges begin brand. Jode word uit openbare ampte gedwing. Van waar hierdie onverdraagsaamheid? Voor Konstantyn se tyd was dit dan juis die Christene wat vir godsdiensvryheid gepleit het.10 Wat het verander? Konstantyn is nie die een wat godsdienste vervolg het nie. Die beste verklaring lê waarskynlik opgesluit in die opmerking van Lord Acton oor wat mag doen.

Keiser en banket

Die banket ná die konsilie van Nisea teken myns insiens die vraagstukke in skerp reliëf.

Eers die een en ander oor die konteks. Likinius is keiser van die oostelike deel van die Romeinse ryk (308–324). Sy beleid is verdraagsaamheid, maar mettertyd verloor hy geduld met die Christene. Dat hulle Konstantyn as vriend beskou het, het sekerlik ook 'n rol gespeel. Teen 321 gryp hy in by die stryd tussen Arius en die biskop van Aleksandrië. Albei leiers geniet aansienlike steun, en albei organiseer ywerig om die meerderheid gemeentes agter hulle te kry. Wat Likinius ook al beplan het kom tot 'n einde toe Konstantyn met sy kenmerkende Blitzkrieg die Ryk verenig (324).

Kerkeenheid blyk egter 'n veel groter uitdaging te wees. Sinodes word links en regs gehou, elkeen noukeurig georkestreer om 'n spesifieke meerderheid by voorbaat te hê, en mense word oor en weer verban en herstel en weer verban. Aanvanklik probeer Konstantyn deur onderhandeling 'n middeweg tussen die strydende partye te bewerkstellig.

Konstantyn het gedink godsdiens is om God te aanbid en te verheerlik met glorie en ordelike harmonie. Vanuit hierdie perspektief beywer hy hom vir eensgesindheid en goeie verstandhoudings in sy Ryk, veral onder die Christene. Konstantyn was 'n praktiese man, met 'n sterk weersin aan verdeeldheid. In 'n brief vermeld hy sy verstomming dat "juis diegene wat eensgesind en met broederliefde behoort te lewe teen mekaar is op 'n skandelike, nee, verwerplike manier, en aan mense wat onvertroud is met hierdie mees heilige godsdiens redes gee om dit te bespot" (Januarie 314, aan Chrestus, biskop van Sirakuse; cf. Eusebius Historia ecclesiastica 10.5.21–22).

Konstantyn raak selfs betrokke by teologiese debatte. Net jammer teologie is soos 'n ui: laag op laag en op die einde het jy net 'n paar trane. Nogtans, met sy kenmerkende energie en dryfkrag doen Konstantyn sy bes om die "katolieke" kerk, die ware, algemene kerk te bevorder. Die biskoppe aarsel ook nie 'n oomblik om hulle op hom te beroep nie. Eenkeer stuur hy selfs troepe om die Donatiste se eiendom te konfiskeer, maar herstel gou die situasie. Gegewe die hardnekkigheid wat hy onder Christene raakloop moes hy sekerlik gewonder het of 'n kop of twee nie dalk die probleem sou oplos nie...

'n Beslissende vergadering te Ankira word beplan, en hier gryp Konstantyn in. Hy verskuif die sinode na Nisea toe. Konstantyn beklemtoon drie redes vir die verandering. Nisea het 'n matige klimaat. Dit is nader aan diegene wat vanaf die Weste kom – en sekerlik wil almal tog hê dat hulle ook teenwoordig moet wees? Die vergadering kan in Likinius se paleis gehou word. Hy had dit nie meer nodig nie, en dan hoef daar nie verder na 'n gepaste vergaderplek gesoek word nie. En, so terloops, Nisea is net verder as 'n klipgooi (twee dagreise) van Nikomedia af. Waar Konstantyn hom bevind. Hy kan dus sommer ook toesig hou. Konstantyn stel die keiserlike posdiens beskikbaar om briewe te laat uitstuur en om biskoppe te vervoer.

Die vergadering se eerste bymekaarkoms vind plaas op 20 Mei 325. Die belangrikste werk was afgehandel teen 19 Junie. Op 25 Julie het die keiser sy twintigste jaar as regeerder saam met die biskoppe gevier en op 30 Julie was hy terug in Nikomedia. Om en by 275 biskoppe het die vergadering bygewoon. Konstantyn was voorsitter.

Die eerste punt op die agenda was beskuldigings (van afvalligheid en valse lojaliteite) sodat "ongewensdes" terug gestuur kon word. Konstantyn maak nie die geskrewe aanklagte oop nie maar verbrand dit voor almal sonder om dit te lees. Sodoende lei hy die vergadering na die saak toe sonder om mense of hulle gevoelens te verbrand. Na lang besprekings en Konstantyn se aandrang dat aangedui word dat die Seun "van dieselfde essensie" as God is, word 'n verklaring opgestel, 'n belydenis onderteken, anatemas uitgespreek, sekere biskoppe verban (waaronder Arius), die datum vir Paasfees gefinaliseer, en reëls vir dissipline opgetrek.

Op 25 Julie is hulle werk klaar, en nooi die keiser die kerklike verteenwoordigers na 'n banket. 'n Paar dae later spreek hy hulle vir ou laas toe en beklemtoon die belang van harmonie tussen gemeentes en tussen kerk en staat. Hy deel ook geskenke uit en reël dat streeksgoewerneurs jaarliks vir die kerkamptenare, die weduwees en die "maagde" met toelaes uit staatsgeld ondersteun. Rang is bepalend en die grootte van die toelaag het nie met behoefte te doen nie. Aan die einde van die jaar stuur Konstantyn briewe uit om die besluite van Nisea aan te beveel by gemeentes en die gesag daarvan te onderskraag.

Ten spyte van Konstantyn gaan die sinodes voort: die een wat hier verban word, word daar weer bevestig. Daar verdoem hulle weer ons. Binne maande verbrokkel die eenheid van Nisea. Soos in skaak, so ook in die werklikheid: biskoppe beweeg skuins. Eusebius van Nikomedia (nie die historikus nie) was eers 'n ondersteuner van Likinius. Toe is hy deur Konstantyn verban. Weer bevestig as biskop word hy selfs die onderwyser van die toekomstige keiser Julianus. Op sy sterfbed versoek Konstantyn dat hy gedoop word, en dit is Eusebius van Nikomedia wat die sakrament bedien.

Twee dekades later is keiser en kerk se strewes ook nie meer dieselfde nie. Eenheid, samewerking en "goeie" verstandhoudings sou nog baie bloed laat vloei. Net vir geval mens nog nie wantrouig genoeg is oor wat alles wat by die konsilie van Nisea uitgedink is nie, let op hoe Eusebius (van Sesarea) die begin van die banket beskrywe:

Afdelings van die keiser se beskermingseenheid en ander troepe het die ingang van die paleis met getrokke swaarde omring, en tussen hulle deur het die manne van God sonder vrees gestap tot in die binnekamers van die keiserlike vleuel. Daar het sommige saam met die keiser aan tafel gesit terwyl andere op die banke wat rondom die tafel gerangskik was, hulle neergevlei het. Mens sou maklik kon dink dat Christus se koninkryk hier weerspieël word – 'n droom eerder as werklikheid. (Vita Constantini 3.15)

Dit was juis nie 'n droom nie. 'n Leier van Jesus se dissipels (Eusebius) skryf nou 'n biografie van Konstantyn en nie die verhaal van Jesus nie. Brood en wyn en heerskappy – banket en koninkryk – word nog steeds bymekaar gebring, maar nou is dit net mans. Hulle lê aan saam met die keiser, en word deur ander bedien. Was dit maar 'n droom...

Wat Nisea ons leer – die eintlike uitkoms daarvan – is nie die waarheid oor God of die finale uiteensetting van die wese van Christus nie. Die verhaal van Nisea is soos enige ander kerkgeskiedenis: Die verhaal van mense (mans!) wat probeer om finale oplossings te bereik en 'n totale oorwinning oor hulle opponente te behaal – net om dan toe te kyk hoe dinge uit mekaar val. Miskien is die eintlike les van Nisea die waarskuwing om minder absolute doelwitte met meer beskeie metodes te bereik.

Dit is beter om ons toe te spits op dinge wat ons kan doen en wat binne ons vermoëns is, want dit wat ons oortuig te midde van gloeiende toesprake trek ons aandag weg van die waarheid van die werklikheid, soos met talle filosowe al gebeur het wat probeer het om met hulle vernuf en logika die wese [essensie] van dinge te beskrywe. En wanneer die omvang van die vraag hulle ondersoek oorweldig word die waarheid in metodologiese verskille begrawe. Hulle eindig deur weersprekende dinge te leer en val mekaar aan, selfs manne wat aanspraak maak op wysheid.

Besondere ironie kleef aan hierdie woorde, want dis Konstantyn wat biskoppe toespreek (Eusebius Ad coetum sanctorum 9).

Is diversiteit nie deel van Christelike identiteit nie? En juis daarom nie ook verdraagsaamheid nie? Kan die sentrale waardes, die kernpunte van daardie identiteit ooit in die afdwing van leerstellings oor God lê? Oor God?

Samevattende opmerkings

Eindnotas

  1. In 317 n.C., De mortibus persecutorum 44.1-11. Laktantius (±240-320) het die Christelike geloof verdedig en deelgeneem aan geskiedskrywing. In hierdie boek betoog hy dat keisers wat Christene vervolg swaarkry en dat deugdelike keisers vooruitgang belewe. Laktantius is deur keiser Diokletianus in Nikomedia as professor in redeneerkuns aangestel, maar het bedank toe die Christene in 303 vervolg is. In sy Divinarum Institutionem redeneer hy dat die etiese veranderinge wat Jesus se leerstellings teweeg bring, die waarheid van God se openbaring bevestig. Laktantius is deur Konstantyn aangestel as onderwyser vir Konstantyn se seun Krispus.
  2. In Historia Ecclesiastica 9.9.2vv – terwyl Konstantyn nog lewe – verwys Eusebius baie kortliks na hierdie gebeure, sonder om die droom of die Sibillynse orakel (aan Maksentius) te meld. Na Konstantyn se dood, in sy lofrede, vertel Eusebius bogenoemde weergawe: Vita Constantini 1.26-29.
  3. Hierdie teken is 'n steragtige kruis in 'n sirkel, die sogenaamde labarum wat die chi-rho-kenteken geword het.
  4. Die Panegyrici Latini 6[7].21.3-6. Die teks is nie so maklik om in die hande te kry nie, maar 'n kort uittreksel is in J. Stevenson, ed, A New Eusebius: Documents Illustrating the History of the Church to AD 337 (2nd ed; revised by W. H. C. Frend; London: SPCK, 1987) 282.
  5. Ossius (±256-357) was biskop van Córdoba, Spanje, waar hy onder die leiers was wat vervolging beleef het. Hoe hy tussen Konstantyn se gevolg beland het weet ons nie, maar hy was die keiser se raadgewer oor die christelike godsdiens. Ossius het ook 'n prominente rol in die Nisea-vergadering gespeel. Na Nisea het hy terug gekeer na Spanje. Onder Konstantius sou hy weer betrokke raak by konsilies.
  6. In die binnehof van een van die museums op die Kapitolynse heuwel, die Palazzo dei Conservatori, is die oorblyfsels van 'n massiewe beeld van Konstantyn te sien: kop, regterhand (met uitgestrekte wysvinger) en regterbo-arm. Dit was 'n reusagtige beeld; die kop alleen (uit wit marmer gebeitel) weeg ±8 500 kg. Die oorspronklike beeld was 15 meter hoog, en in die linkerhand was 'n spies (!) waaraan 'n vlag met die Christus kenteken daarop, vas was.
  7. Beide aspekte word onderskat weens die miskenning van sosio-politiese aspekte van Konstantyn se regeertyd en 'n oordrewe teologiese lees van die bronne. Kerkhistorici en teoloë neig nogal om kulturele en sosio-ekonomiese kontekste te onderskat, en die ou bronne se propaganda vir soetkoek op te eet. Ons is ook nogal gekondisioneer om orals 'n "goeie" ons teenoor 'n "bose" hulle raak te sien. Uiteraard is hierdie bespreking bedoel as 'n bydrae tot nadenke oor christelike identiteit en die nodigheid van hervorming, en nie om 'n volledige analise van die Konstantynse geskiedenis te wees nie.
  8. Wat die saak natuurlik bemoeilik het is die feit dat die Donatiste, teen wie Augustinus dit hier het, self van geweld gebruik gemaak het. Die circumcelliones, hierbo met "mafia-bendes" vertaal, was groepe kleinboere wat hulleself in paramilitêre styl georganiseer het, en rooftogte en ander aksies namens die Donatistiese beweging uitgevoer het. Die konflik met die Donatiste was verweefd met kulturele en sosio-politiese konflikte (o.a., Romeinse kolonialisme en Noord-Afrikaanse selfstandigheid). Lank na Konstantyn se tyd wou Konstantius II die stryd oplos met geld. Donatus se (bittere en ironiese) antwoord: "Wat het die kerk met die keiser uit te waai?" (quid est imperatori cum ecclesia? Optatus 3.3)
  9. Codex theodosianus 16.8.1-5, 16.9.1.
  10. Kyk die insiggewende studie van P. Garnsey, "Religious Toleration in Classical Antiquity," Persecution and Toleration (ed. W. J. Sheils; London: Blackwell, 1984) 1-27.

Prof. Pieter J.J. Botha, Nuwe Testament en Vroeg-Christelike Studies, UNISA.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.