.

Die Koninkryk is ‘n staat van bewussyn

Deur Dr. Piet Odendaal op 1 Mei 2015

.

As kinders was ons waarskynlik almal op 'n stadium – hetsy by Sondagskool, kerk of ouerhuis – gekondisioneer om die koninkryk van God voor te stel as 'n stad met pragtige koepels en torings, en waarskynlik ook met goue strate waar engele rondloop en harp speel. Dit is modelle wat ons as kinders kon assosieer met elemente wat aan ons bekend was uit die materiële wêreld om ons. Soos ons ouer geword het, het die volgende uitspraak deur Jesus egter onder ons aandag gekom: "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie." (Joh. 18:36.)

Omdat die planetêre stelsel in Jesus se tyd nog nie bekend was nie, moet ons verstaan dat hy nie verwys het na die wêreld as planeet nie, maar na die materiële omgewing waarmee sy toehoorders deur hul sintuie bekend was: soos ons vandag nog steeds in die omgang, uitdrukkings gebruik soos, "Die wêreld is maar deurmekaar" of, "Waar was jy? Ek het die wêreld vol na jou gesoek!"

As Jesus dus sê, "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," verwys hy derhalwe na 'n dimensie – of dimensies – wat buite bereik van ons sintuie val. Dit kan ook na verwys word as die geestelike dimensie. Waar daar byvoorbeeld in die Bybel soms gepraat word van die Heilige Gees wat oor iemand gekom het, word bedoel dat die person se bewussyn op daardie tydstip die geestelike dimensie binnegedring het. In hierdie verband is dit interessant en insiggewend om daarop te let dat Plato – wat sowat 400 jaar voor Christus geleef het – in Phaedrus reeds verwys het na 'n koninkryk van liefde wat nie van hierdie wêreld is nie, maar goddelik en ewig. So 'n 'goddelike dimensie' is beslis nie vir ons vyf sintuie toeganklik nie – maar slegs deur intuïsie.

JESUS BESKRYF NOOIT DIE KONINKRYK as 'n plek nie, maar sê dat dit binne ons is; en dis nogal moeilik om jou kop om hierdie konsep te kry. Daar is tans sowat 7 biljoen mense op aarde en daar kan tog nie 7 biljoen koninkryke wees nie!

In die Evangelie van Thomas beskryf Jesus dit só: "As hulle wat julle voorgaan vir julle vertel die koninkryk is in die hemel, dan sal die voëls van die hemel voor julle daar wees. As hulle sê: 'Dit is onder die aarde,' dan sal die visse van die see voor julle daar wees." En hy sê: "Die Koninkryk is in julle en rondom julle." Paulus sê op sy beurt dat God nie ver van elkeen van ons is nie; want "in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons." (Handelinge 17:27-28.) Paulus gaan ook verder deur aan te dui dat hierdie begrip van "die eenheid van alles," reeds lank voorheen deur digters besef en verwoord is.

Ons word derhalwe gekonfronteer met 'n oënskynlike teenstrydigheid, naamlik dat die koninkryk binne ons is, maar dat dit ook universeel is. As mens egter die saak mooi bedink, maak dit tóg wel deeglik sin: want wat universeel is moet noodwendig ook binne alles wees. Dis soos 'n spons in die see: Seewater strek oor baie oseane heen en deurdring alle sponse. So – 'n mens kan tereg sê, 'die see is binne elke spons.'

Sou mens die konsep verder voer, is die koninkryk ook in elke dier, plant en klip. Hier is die kardinale feit egter dat hierdie vorme van bestaan ver agter die mens op die evolusieleer is – miljoene, tot biljoene jare. Hulle bewussyn is dienooreenkomstig nog sluimerend. Nietemin, hulle vorm deel van die universele plan – en hul dag sal nog kom.

Wat Krishnamurti se Meester gesê het is hier toepaslik: "Die heelal het 'n plan – en daardie plan is die evolusie van bewussyn." En dit beteken evolusie van bewussyn in alles wat is.

ALHOEWEL JESUS BEKLEMTOON dat die Koninkryk van God binne ons is, sê hy nooit wat die koninkryk is nie. Hy beskryf nie 'n plek nie, maar meermale 'n groeiproses. Byvoorbeeld, Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man neem en in sy land saai, wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en 'n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke. (Mat. 13:31-32.) Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg, wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. (Mat. 13:33.)

As die koninkryk binne ons is, bedoel Jesus sekerlik nie dat daar êrens 'n fisiese koninkryk is wat binne ons aan die groei is nie. Daarom kan Jesus se uitspraak net logies sin maak as ons verstaan dat die koninkryk inderwaarheid 'n staat van bewussyn is. Dan maak die simboliek van 'n groeiproses wel deeglik sin.

Jesus se stelling dat die koninkryk binne ons is, maak ook nonsens van die ortodoks-Christelike geloof in die opstanding van fisiese liggame op 'n bepaalde oordeelsdag, waar die skape van die bokke geskei word: die skape gaan dan hemel toe en die bokke hel toe. Volgens alle esoteriese leringe leef die mens se bewussyn (d.w.s. die siel) na sterwe voort en evoleer verder deur 'n proses van reïnkarnasie.

Die fisiese liggaam wat agtergelaat word, vergaan en word waarskynlik met die tyd broksgewys in ander lewensvorme opgeneem. As ons wel sou glo dat mense in fisiese liggame gaan opstaan, voorsien ek 'n hengse bakleiery tussen individue oor wie die eienaar van bepaalde stukkies liggaam was – want almal gaan tog nie gelyk dood nie!

Meeste mense wat vir hulself begin dink en nie meer ortodokse dogmas en leerstellings blindelings aanvaar nie, het seker al die konsep van reïnkarnasie deurdink. Navorsing in verskeie velde het reeds die geldigheid van die konsep dermate bevestig dat die bewyslas nou op diegene rus wat die realiteit daarvan ontken. Ek gaan dit nie verder hier fyntrap nie. Reïnkarnasie is die meganisme waardeur die bewussyn evoleer totdat die einddoel van Christus-bewussyn bereik word.

'n Mens se bewussyn verbreed stelselmatig van kindsbeen af – vir sommiges vinniger as vir ander. Die mate waartoe dit groei of uiteindelik verstar, hang van elke individu self af. Op hierdie reis is daar nie kortpaadjies nie – dit verg toegewyde volharding, en die doelwit kan nie in een leeftyd bereik word nie. Dink byvoorbeeld ook aan kinders wat vroeg sterf of diegene wat verstandelik gestremd is.

Ek het geïmpliseer dat Christus-bewussyn die einddoel is. Eintlik is dit net korrek vanuit die mensdom se onmiddelike oogpunt. Onthou dat Jesus self – op 'n stadium toe hy reeds Christus-bewussyn bereik het – aan sy dissipels gesê het: "Ek gaan na my Vader. Omdat my Vader groter is as ek." (Joh. 14:28.)

Die strekking van Jesus se woorde is verreikend. Dit impliseer dat die ortodokse konsep van direkte oorgang na hemel of hel na die dood, eintlik die 'melkkos' is waarvan Paulus praat. Die vaste kos is allegories vervat in Jakob se droom van die leer wat tot in die hemel strek. Daar is mense op elke sport van die leer. Jakob sien dan hoe daar sommiges is wat ook ondertoe klim. Hulle is diegene wat bewustelik reeds die goddelike geraak het en dan afklim om sukkelaars te help.

Die simboliek van die leer word mooi vasgevat in Robert Browning se bekende woorde, "Ah, but a man's reach should exceed his grasp – or what's a heaven for?" Browning bedoel dat by watter sport op die leer ons ook al mag wees, daar verdere sporte is waarlangs ons hoër kan klim. Dink net hoe eindeloos vervelig dit sou wees as ons bewussyn 'n plato sou bereik, waar daar geen ruimte is vir verdere verbreding of ontwikkeling nie! Let egter op dat waar Browning sê: "A man's reach should exceed his grasp," hou die woord 'should' implisiet die waarskuwing in dat vordering op die leer net moontlik is vir dié wat met intensie boontoe bly reik. As mens nie volhard in jou aspirasie na 'n hoër bewussyn nie, gaan jy stil staan, en bly terugkom om die leerplan te voltooi.

Dit is ook belangrik dat waar ons ook al op die leer staan, ons voortdurend moet waak teen 'n gevoel van self-tevredenheid – want dit is gif vir verdere ontwikkeling. Daar is 'n boek getiteld The Initiate, met die outeur slegs aangedui as 'His Pupil.' Daarin verskyn die volgende gevleuelde woorde: "For learn, that until the End is attained there should always exist in the heart of man a Divine Discontent, ever murmuring, 'even this is not enough."

DIE EVOLUSIE VAN BEWUSSYN moet onafhanklik deur elke individu nagestreef word. Niemand kan die pad namens 'n ander loop nie. Soos Heraclitus dit stel: "If men care for gold, they must dig for it. Otherwise they must be content with straw."

Ek noem nog drie aanhalings: Paul Brunton ('n bekende esoterikus wat hoofsaaklik in die periode 1930-50 geskryf het) sê met verwysing na elke pelgrim: "He is the traveller and he must do the moving." Kahlil Gibran: "For the vision of one man lends not its wings to another man." Paulus: "Want elkeen moet sy eie las dra." (Gal. 6:5.)

Ongelukkig is dit so dat daar baie soekers op die pad is wat glo dat hulle met die hulp en leiding van 'n leermeester of ghoeroe, sommer maklik gaan regkom boontoe.

Gautama Buddha sê egter: "The Truth is open for all who can understand. You must be lamps unto yourselves. You must depend upon no external refuge, depend on no leader, depend on no teacher. Look within." Met ander woorde: ons is op onsself aangewese. Andere kan vir ons die pad aanwys – maar ons moet dit self stap. Vir inspirasie en leiding moet ons na binne soek – nie daar buite êrens nie.

Terloops, ek wil hier net daarop wys dat die woord 'buddha' 'n generiese term in die Buddhisme is, wat verwys na enigiemand wat 'n staat van geestelike verligting bereik het. Ons moet dus verstaan dat daar benewens Gautama Buddha – wat aan ons almal bekend is as die Buddha – ook ander buddhas bestaan het en ook weer sal kom. Ek noem dit hier om die volgende waarskuwing deur 'n sekere Zen-meester duidelik te kan verstaan: "If you meet the Buddha on the road, kill him!"

Die punt hier is dat geen betekenis wat ons buite onsself self sien, vir ons enige waarde kan hê nie. Elkeen van ons het 'n innerlike leermeester, naamlik die geestelike siel of Hoër Self, wat soms ook na verwys word as ons Beskerm-engel. Meermale word ook daarna verwys as die Self – met hoofletter 'S'. Dit is die bron waar ons leiding en inspirasie moet soek ten einde ons bewussyn te kan verhoog.

Ons geestelike doelwit is dus om tot volle bewussyn van daardie Self – die Christus in ons – te kom. Dit verklaar die inskripsie by die ingang van die tempel by Delphi, in Griekeland: "Man Know Thyself." Die 'self' wat hier bedoel word is die Hoër Self. Die inskripsie is gemaak as aanmoediging vir mense om bewussyn van hul ware Self te soek. Dit demonstreer ook dat geestelike leermeesters in antieke Griekeland deeglik bewus was van die mens se geestelike en materiële dimensies. Tewens, aspirasie na bewussyn van die Self, het sentraal gestaan tot die Misterie-skole van Egipte en Griekeland en tot die leringe van die groot geestelike leermeesters van die verlede.

Jesus maak die volgende treffende stelling: "Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld." (Mat. 11:12.) Dit beteken dat daar sedert Johannes die Doper diegene is wat met volgehoue doelgerigtheid die koninkryk onverpoosd najaag.

Hoekom juis sedert Johannes die Doper? Die Bybel gee nie 'n antwoord nie. Ek meen 'n oplossing lê daarin dat die mensdom as geheel op daardie stadium – evolusionêr gesien – 'n vlak van bewussyn bereik het waar daar genoeg individue was wat ontvanklik sou wees vir die leringe van Johannes die Doper, Jesus en die Apostels. Met rukke en stote is dié leringe toe deur verligte mense voortgedra, ten spyte van veskriklikhede wat onder andere deur die Inkwisisie en hekse-jagtery op die pad geplaas is. Vandag is die ysterhand van vervolging grootliks nie meer daar nie, en is elkeen vry om eie insigte te ontwikkel en te volg. Wat ek pas gesê het, het natuurlik net betrekking op geestelike ontwikkeling in die Westerse wêreld. In sekere Midde-Oosterse lande en in Afrika is godsdienstige verdraagsaamheid egter nog baie broos: dink bv. aan verskynsels soos ISIS en Boko Haram.

Soos ons almal weet, was daar in die Ooste – spesifiek Indië en Sjina – deur die eeue heen verskeie groot geestelike leermeesters wat die kultuur en filosofieë aldaar beïnvloed het. Daardeur het hulle ook die evolusie van bewussyn bevorder. Die bekendste naam uit Indië is sekerlik Gautama Buddha, wat na skatting tussen die sesde en vierde eeu VC geleef het. In Sjina was daar Confucius (floreer 5e eeu VC) en Lao-Tzu (so in die 6e eeu VC).

Dit is opmerklik dat daar in dieselfde relatief nou tydgleuf – d.i. 5e en 6e eeu VC – ook in die Weste twee groot filosofies-geestelike leermeesters was – naamlik Pythagoras en Plato. Sommiges sou ook die naam van Aristoteles wou byvoeg. Feit is egter dat hy nie tot die mistieke hoogtes van Socrates en Plato kon uitstyg nie, en sy genialiteit was hoofsaaklik tot die materiële beperk.

Mens kan nie help om te wonder oor die amper gelyktydige verskyning van groot leermeesters in beide Ooste en Weste nie. Dit lyk inderdaad of dit in lyn val met die stelling van Krishnamurti se leermeester, soos reeds genoem: "Die heelal het 'n plan, en daardie plan is die evolusie van bewussyn." Dit kon dan deel van daardie die plan gewees het dat die mensdom as geheel op daardie stadium 'n verheffende impuls moes kry op sy gang van geestelike ontwikkeling – ten minste in wêrelddele waar daar toe die potensiaal daarvoor bestaan het.

Noudat ek dit alles gesê het:

HOE WERK MENS AAN DIE UITBREIDING VAN BEWUSSYN?

Jesus het die meesterplan hiervoor kernagtig saamgevat toe hy gesê het: "'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." (Joh. 13:34.) Die liefde het baie dimensies wat pragtig deur Paulus uitgespel word in die bekende 1 Korintiërs 13, wat ek nie nou hier gaan herhaal nie. Paulus gee ook leiding oor die aard van die denke – d.w.s. die bewussyn – wat ons moet nastreef in die uitlewing van liefde:

"Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit." Let daar op dat, by ontleding, al Jesus se gelykenisse simbolies verwys na die uitbreiding of suiwering van die bewussyn. So het ek byvoorbeeld reeds die gelykenisse van die mosterdsaad en suurdeeg genoem. Albei gelykenisse, allegories verstaan, dui op die groei van bewussyn.

Daar is ook gelykenisse wat 'n suiwer bewussyn as voorvereiste vir toegang tot die koninkryk aandui. So is daar die gelykenis van die sewe wyse en sewe dwase meisies. Die wyse meisies is tot die bruilofsaal (die koninkryk) toegelaat, maar die dwases is uitgesluit. Die 'wyse meisies' simboliseer elemente van 'n geestelike suiwer bewussyn, en die 'dwase meisies' – op hul beurt – elemente wat die bewussyn verdonker en besoedel.

Basies dieselfde simboliek is vervat in die gelykenis van die man wat by die bruilofsaal weggewys is omdat hy nie 'n bruilofskleed aangehad het nie. Ons kan die bruilofskleed wat vereis was, vertolk as 'n suiwer aura. Die aard van 'n mens se aura reflekteer die stand van jou bewussyn, en dié man se aura was klaarblyklik 'nie baie lekker' nie.

Jesus leer ook dat ons nie net daaraan moet werk om die bewussyn te suiwer nie, maar ook om dit suiwer te hou. Hy illustreer dit onder andere as hy sê dat die koninkryk soos 'n net is wat in die see gegooi word en hoe die goeie visse bymekaar gemaak word, maar die slegtes dan weggegooi word. Om die 'slegte visse' in mens se bewussyn te herken en weg te gooi, verg dat ons voortdurend bewus moet wees van wat in ons koppe aangaan – en dit vereis volgehoue waaksaamheid. Jesus stel dit as 'n dringende noodsaaklikheid: "En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!" (Markus 13:37.)

Dit beteken dat mens jou gedagtes deurlopend moet moniteer en nie die kwade toelaat nie. Dit is egter nie maklik nie. Dink aan Paulus se woorde: "Ek vind hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig." (Rom 7:21.) ... "Ek ellendige mens! Wie sal my verlos van hierdie dood?" (Rom. 7:21-24.)

En dan gee hy self die antwoord: "Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!" (Rom. 7:25.)

Hiermee gee Paulus vir ons die bloudruk oor hoe om weg te doen met die kwade in ons bewussyn. As jy bewus word van negatiwiteite in jou bewussyn, reik op na jou Hoër Self, wat die Christus in ons is. Elke keer as ons dit doen, skuif ons so effe nader aan bewussyn van die koninkryk.

Die Italiaanse sielkundige/filosoof, Roberto Assagioli, sê dat mens immer 'n tweevoudige bewussyn moet probeer handhaaf. Mens gebruik 'n bepaalde bewussyn in jou normale doen en late, maar dan moet ons tegelykertyd probeer om 'n toesighoudende bewussyn te ontwikkel wat waak en moniteer.

TER AFSLUITING – iets oor verantwoordelikheid. Ek het reeds verwys na die universele plan, naamlik die evolusie van bewussyn. Hiermee saam moet ons Paulus se woorde in gedagte hou: "Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons." (Handelinge 17:28.) Hierdie woorde dui op 'n onderliggende eenheid tussen alles wat is, en dat niks werklik geïsoleerd is nie. Daarom moet ons besef dat wat ons ook al dink of doen, noodwendig impak op die geheel gaan hê – hoe gering dit ook al mag wees. Onthou dat dit die laaste sneeuvlokkie is wat die sneeustorting veroorsaak.

Om hierdie rede is dit so belangrik om gedagtes, woorde en dade konstant te moniteer en probeer verfyn. So kan ons verhoed dat ons nie dalk daardie laaste sneeuvlokkie word nie. Dit is 'n verantwoordelikheid wat ons moet aanvaar en in ons bewussyn inbou. Dit is vanuit 'n negatiewe oogpunt gesien. Daar is egter ook 'n positiewe sin van verantwoordelikheid, naamlik om ons vermoëns en talente te gebruik om dit wat goed is te bevorder. Inderdaad, vir die veredeling van ons bewussyn is dit noodsaaklik om sodanige sin van verantwoordelikheid te kweek en te vertroetel.

In die konteks van verantwoordelikheid, is daar aan elkeen 'n bepaalde plekkie toegeken in die universele legkaart, en daarmee saam 'n bepaalde rol om te vervul – hoe gering dit ook al mag wees. En daardie rol is nie bedoel vir bevordering van eie belang nie, maar om tot voordeel van die geheel te werk.

Die omvang van verantwoordelikheid groei proporsioneel tot ons kennis: "Want dit sou beter vir hulle wees as hulle die weg van geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die Heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is." (2 Petrus 2:21.) "Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde." (Jakobus 4:17.)

Nou ja, niemand van ons is perfek nie, anders sou ons nie nou hier gewees het nie. Die redes hoekom ons nie perfek is nie lê in ons verlede – hetsy gister of in vorige lewens. Nietemin meen ek dis onwys om daardie redes te gaan soek en daaroor te tob, want dit fokus ons aandag – d.w.s. ons bewussyn – waar dit nie hoort nie. Onthou – Lot se vrou het omgekyk en in 'n soutpilaar verander. Allegories verstaan, het haar denke in die verlede verstar.

Ons moet kennis neem van Paulus se magiese woorde en daarvolgens probeer leef: "Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom." (Filippense 3:13-14.) AS Paulus hier sê dat hy hom inspan, bedoel hy dat hy werk aan die verhoging van sy bewussyn. Die wenstreep is Christus-bewussyn – wat die koninkryk van God is.

Dink maar aan iemand wat aan 'n 100m wedloop sou deelneem en bly omkyk. Hy gaan laaste eindig!

Dr. Piet Odendaal kan gekontak word by

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.