.

Kognitiewe dissonansie en idees wat logies konsekwent is met mekaar

Deur Jaco Steyn op 1 Mei 2014

.

Mense verskil heelwat van mekaar wat betref hul idees oor die aard van 'n moontlike Goddelike Werklikheid. Daar is verskeie godsbeskouinge wat wissel vanaf die idee omtrent 'n Persoonlike God waarmee mense verhoudinge kan hê, tot by die idee dat die Goddelike meer nie-persoonlik of onpersoonlik van aard is. Dan is daar natuurlik ook diegene wat die werklikheid van enige God of Goddelike ontken. Heelwat lewensfilosofieë, ideologieë en gepaardgaande morele norme en waardes, is gebaseer op die een of ander godsbegrip.

Baie mense wat glo in die werklikheid van 'n Persoonlike God, glo dat sekere optredes en denkwyses meer aanvaarbaar is as andere – indien dit in ooreenstemming is met die beweerde Wil van sodanige God. God vergoed dan na bewering sodanige optredes en denkwyses, terwyl Hy diegene bestraf wat volhard met hul onaanvaarbare denke en dade. Baie hedendaagse Christene en Moslems glo byvoorbeeld dat sommige mense vergoed sal word met 'n ewige lewe in die hiernamaals indien hulle 'n sekere geloof en/of lewenswyse ywerig sou navolg. Die Israeliete van die Ou Testamentiese tye, het egter nié tot so 'n mate gefokus op 'n hiernamaals nie. Vir hulle was dit belangriker dat hulle as volk beloon word indien hulle in gehoorsaamheid die opdragte van hul stamgod Jahwe, sou uitvoer. Baie "tradisionele" Christene glo in die werklikheid van 'n hemelse ewige lewe vir gelowiges en 'n ewigdurende helse straf vir halsstarrige ongelowiges.

Heelwat mense wat die werklikheid van 'n Goddelike ontken, of vir wie bespiegelinge daaroor nié van belang is nie, ontken dan ook die moontlike werklikheid van bewuste voortbestaan na die afsterwe van die fisiese liggaam. Hulle baseer hul norme en waardes op 'n ánder basis as die van die riglyne van die Persoonlike God van godsdienstige mense. Sover my kennis strek is daar niemand wat nié in 'n Persoonlike God glo, maar wat wel glo in 'n ewige helse of hemelse bestemming vir diegene wat sekere dinge glo en/of doen. Sommige Boeddhiste glo in die bestaan van 'n hel, maar hulle ontken dat "sondige" lewende wesens vir ewig daar sal vertoef. Heelwat hedendaagse ateïste, agnostici en ander vrydenkers, ontken die werklikheid van 'n hiernamaals.

Godsdienstige mense beweer dikwels dat God omgee en lief is vir al Sy skepsels. Hierdie aanname is egter nié logies konsekwent met die bewering dat hierdie God sommige van Sy skepsels vir ewig verdoem indien hulle sekere dinge nié doen of glo nie. Sommige gewese gelowige Christene het alreeds erken dat hierdie logiese inkonsekwentheid een van die oorsake was van hul ontnugtering met tradisionele Christelike geloofsoortuigings. Christene wat in 'n "Liefdevolle" God glo, beweer soms dat God se verhewe verstaan van die woord Liefde, heelwat verskil van mense se beperkte verstaan daarvan. Ander Christene beweer egter dat hul God doelbewus sommige van sy skepsels haat. Dit herinner nogal aan die berugte webblad van die Westboro Baptist Church!

Filosofiese materialiste beklemtoon dikwels die belangrikheid van empiriese wetenskaplike getuienis en verwerp vervolgens die moontlike werklikheid van die Goddelike/God en die hiernamaals weens die gebrek aan voldoende "wetenskaplik-aanvaarbare" getuienis. In hul persoonlike lewens glo hulle gewoonlik in die geldigheid van ander dinge soos o.a. liefde en lewensideale, wat óók geensins meetbaar is m.b.v. wetenskaplike tegnieke en metodes nie. Wat is die chemiese samestelling van byvoorbeeld die liefde of van die menslike bewussyn – bestaan dit 80% uit goud-atome en 20% uit waterstof-atome en het dit 'n lengte van 2 nanometer??

Kognitiewe dissonansie beteken dat iemand spanning ondervind indien hy/sy twee dinge terselfdertyd glo wat geensins versoenbaar is met mekaar nie. Sodoende kan iemand aan die een kant aanvaar dat Natuurwette geld vir die verklaring van alle verskynsels, terwyl hy/sy aan die ander kant glo dat God wonderwerke kan verrig wat buite die Natuurwette funksioneer. Baie mense hanteer kognitiewe dissonansie beter as andere, terwyl dit by ander individue tot onhoudbare spanning kan lei. Hierdie spanning kan egter aanleiding gee tot beter insigte wanneer besef word dat 'n keuse tussen twee onversoenbare idees; of 'n keuse vir 'n idee of gedrag wat teenstrydig is met 'n ander idee of geloof, uiteindelik onafwendbaar is vir gemoedsrus. 'n Persoon wat sy geloof ernstig opneem sal byvoorbeeld besef dat 'n vroom lewe op Sondae en doelbewuste "sondige" lewe die res van die week, onversoenbaar is met mekaar. Hy sal vervolgens poog om die res van die week óók sover moontlik "vry van sondige gedagtes" te lewe. 'n Ander persoon wat nié ernstig is oor sy geloofslewe nie, sal egter nie 'n probleem daarmee hê om Sondae in die kerk op skynheilige wyse voor te gee om vroom te wees, terwyl hy die res van die week "onchristelik" lewe, nie.

Gelowiges beweer dikwels dat hul veronderstelde "Almagtige" God die verloop van gebeure haarfyn beplan, terwyl hulle terselfdertyd aan die ander kant beweer dat alle booshede in die wêreld deur sondige mense veroorsaak word. Isak Burger het byvoorbeeld onlangs Christene aangemoedig om teen die ANC te stem in die komende 2014 algemene verkiesing, want "Ons kan dit tog sekerlik nie oorlaat aan diegene wat nie in God glo en Hom nie erken nie en agterna kla oor die regering wat uiteindelik aan die bewind kom?" In dieselfde artikel beweer hy egter "...dat die Here op Sy troon is en steeds in beheer is. Dít moet ons nie vergeet nie!" Sal dit ten minste gedeeltelik God se skuld wees indien die ANC na verwagting wéér die verkiesing wen en sal Isak Burger dan bereid wees om te berus by die uitslag daarvan en ophou kla oor toenemende wantoestande? Besef hy ooit die logiese inkonsekwentheid van sy idees?

Kan God sommige van Sy skepsels van Homself verwyder deur hulle vir ewig te verdoem, indien Hy na bewering beide onvoorwaardelik lief is vir al Sy skepsels én Almagtig is? Indien die antwoord 'n besliste "Nee" is op hierdie vraag, behoort gelowiges wat in 'n Persoonlike Skeppergod glo, te erken dat hul God wel sommige van Sy miserabele skepsels haat en dat Hy daarom nié 'n God van "Onvoorwaardelike Liefde" kan wees nie. Hierdie gelowiges probeer dikwels om ongelowiges sover moontlik te oortuig of selfs te dwing om hul geloof te aanvaar, ten einde te verhoed dat hulle (vir ewig) gestraf word deur 'n "nie-so-liefdevolle", wraakgierige God. Sommige van hulle poog selfs om op die politieke terrein die landswette sover moontlik te laat ooreenstem met "Goddelike riglyne". In plaas daarvan om gedurig te spekuleer oor die aard van 'n Persoonlike God wat doelbewus 'n aarde vol onnodige ongeregtighede en lyding geskep het, verwerp sommige denkers die werklikheid van sodanige God en oorweeg hulle die moontlikheid van 'n onpersoonlike Goddelike Werklikheid wat betrokke was by die ontstaan van die Heelal en alle lewensvorme.

Tradisionele dogmas aangaande 'n ewige lewe in die Hemel vir sommiges en 'n ewige straf vir andere, is vir party mense so ontstellend dat hulle as't ware die "baba saam met die badwater uitgooi" deur die moontlikheid van beide 'n Goddelike en die hiernamaals geheel en al te verwerp. Soms vergeet hulle dat daar wel ánder, meer aanvaarbare idees is oor die moontlike voortsetting van bewuste bestaan ná die dood. Hindoes en Boeddhiste het byvoorbeeld vir baie jare in reïnkarnasie of die verhuising van siele geglo – duisende jare vóór die "Hemel en Hel" dogma Westerse mense se lewensbeskouings gedomineer het. Hiervolgens het elke lewende wese die potensiaal om, veral deur hul eie denke en dade te verbeter en te "suiwer", uiteindelik Nirvana of eenwording met die Goddelike, te verwesenlik. Die afhanklikheid van die besluite van 'n streng en jaloerse God wat elke mens se eindbestemming bepaal, is afwesig by laasgenoemde lewensfilosofieë.

Selfs ateïste en skeptici het alreeds erken dat godsdienstige en spirituele idees wel voordelig kan wees in dié opsig dat dit mense aanmoedig om hulself te "gedra" deur andere se welsyn in ag te neem. Die vrees vir 'n Ewige Vuur of die moontlikheid van 'n geboorte in aaklige lewensomstandighede in 'n volgende lewe op aarde, het heelwat mense al gemotiveer om sekere voordelige norme en waardes te aanvaar. Dit is logies inkonsekwent om aan die een kant die geloof in 'n hiernamaals te verwerp en nog boonop te glo dat dit dwaas is om om te gee vir biljoene ander "vreemde" mense, terwyl jy aan die ander kant persoonlike opofferings maak en ongerief verduur ten einde die wêreld 'n beter plek vir almal te maak. 'n Tradisionele Christen het ook logies inkonsekwente idees indien sy aan die een kant haarself beywer vir 'n beter wêreld, terwyl sy aan die ander kant glo dat die aarde in elk geval binnekort deur God vernietig en daarna herskep sal word – sonder die toedoen van die "sondige mensdom". Daarenteen sal iemand wat glo dat daar 'n kans is dat 'n kleinlik-selfsugtige en hedonistiese lewenswyse nadelige gevolge kan hê vir sy eie siel en/of bewussyn in 'n volgende lewe, logies konsekwent wees indien hy sou poog om voortaan te lewe volgens sekere spirituele riglyne. Indien hy vervolgens daarna sou streef om die wêreld 'n beter plek vir homself en andere te maak, behoort sy gevolglike voordelige woorde en dade die moeite werd te wees indien hy en andere vir wie hy omgee, as gevolg daarvan oor tweehonderd jaar van nou af gebore word binne 'n wêreld met beter lewensomstandighede.

Hierdie artikel en die kommentare daarop, kan gelees word by my blog.

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 0833841115. E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.