.

Kinders, liefde en vrees

Deur Douwe van der Zee op 1 November 2012

.

"Aan hulle behoort die koninkryk van die hemel," het Jesus oor kinders gesê. Volgens my bevraagteken hierdie enkele versie die hele fondament van sowel ons godsdiens as ons samelewing.

Jesus se stelling laat my met twee fundamentele vrae:
1. Waarom spesifiek kinders?
2. Wat is die 'koninkryk van die hemel'?

Terselfdertyd maan Jesus ons om na die 'koninkryk' te soek.

As die 'koninkryk van die hemel' 'n plek is waar ons net kom as ons dood is en ook net as ons mooi soet en gelowig was, maak hierdie versie absoluut geen sin nie, want kinders word groot. Teen die tyd dat meeste mense doodgaan is hulle nie meer kinders nie. En wat baat dit ons om die 'koninkryk' te soek as ons dit nie kan kry voordat ons doodgaan nie?

Logieserwys moet dit dus beteken dat die 'koninkryk van die hemel' iets moet wees wat reeds hier en nou teenwoordig is. Kinders het dit reeds en as volwassenes moet ons daarna soek. Wat is dit wat kinders reeds het en waarna ons weer van vooraf moet soek? Wat het ons verloor?

Ons doop ons kinders voordat hulle nog kan dink of praat, sodat hulle tog net nie hel toe moet gaan as daar iets met hulle gebeur nie. Maar het Jesus dan nie gesê hulle is klaar in die hemel nie?

Die antwoord is vir my eenvoudig, hoewel nie noodwendig maklik om te verstaan nie: die 'koninkryk van die hemel' is 'n toestand van eenheid met God. Wanneer kinders die wêreld inkom, is hulle in 'n toestand van eenheid met God – en dus met Liefde.

Dit beteken ook dat hulle die krag van God tot hul beskikking het. Geen wetenskaplike kon nog ooit verklaar hoe kinders so geweldig baie inligting kan absorbeer en verskeie tale terselfdertyd kan aanleer voordat hul logies-rasionele denke ontwikkel nie. Dit kán ook nie wetenskaplik verklaar word nie: "The Mind is your being, and you can study it not, no more than you can ever see the entirety of your body unaided, or remove your own brain to view it beneath a microscope" (A Course of Love).

Ons glo dat ons intelligensie en volwassenheid van ons bewustelike rasionele denke afhang. Volgens my interpretasie van Jesus se woorde het hy juis gesê dat dit nié die geval is nie: ons moet juis leer om ons logies-rasionele denke – en die oordeel wat 'n integrale deel daarvan uitmaak – te laat vaar. Slegs deur dít te doen kan ons weer iets van die toestand van eenheid van ons kindertyd beleef.

Ons 'adulterate' ons kinders. Ons probeer hulle so gou as moontlik groot en soos ons kry. Ons vervang liefde met vrees. Ons interpreteer Jesus se woorde oor kinders maar as "Jesus is lief vir julle" en vertel dan onmiddellik vir hulle dat hulle moet 'glo', anders gaan hulle hel toe. Dis kinders wat veronderstel is om nie logies te kan dink nie!

'n Vriend se klein kinders en hul vriende hardloop gereeld om 'n leë swembad as hulle speel. Daar's 'n trampolien in die swembad, en die kinders is mal daaroor om van die swembadmuur op die trampolien te spring. 'n Ruk gelede het een van die kinders sy arm gebreek toe hy van die trampolien afgeval het.

Daar is nou allerhande reëls ingestel wat die kinders se bewegings beperk en die vriend gaan 'n heining om die swembad sit. "Ek weet jy voel nie so nie," sê hy vir my, "maar ek hou nie daarvan dat die kinders om die swembad hardloop nie en netnou kry iemand weer seer."

"Heeltemal te verstane," sal meeste van ons seker sê.

In haar boek The Continuum Concept skryf Jean Liedloff in 1975 al hoe die kinders van die Yequana-stam in die Amasone-woud op die rand van 'n groot kleigroef speel. In die groef is water, klippe en takke. In 'n onderhoud later vertel sy hoe sy 'n eenjarige kind dopgehou het terwyl hy leer loop – op die rand van die gat. Elke keer as hy val, val hy weg van die gat af. Die ouers steur hulle nie aan hom nie.

Die volgende is 'n uittreksel uit 'n onderhoud met Michael Mendizza van Touch the Future:

"Puppy dogs and kittens don't appear to be falling somewhere on purpose, but they don't fall into the fire do they? They don't fall into the pool do they? We trust puppies and kittens not to burn themselves up in fires but we don't trust our own children.

We pride ourselves on being so intelligent and yet we feel that we are the only species whose children are so stupid that they're going to throw themselves into fire, out of windows and into swimming pools...

The point is trust. We are paying a terrible price when we do not trust our human nature, which works beautifully when we do. When we don't trust it, our expectations are inappropriate for ourselves and our children.

First we tell them how bad they are and then tell them to be good. What we're really saying is that they should pretend to be good. If you thought someone was good you wouldn't need to tell them would you? The neighbours are coming to tea or we're going to kindergarten and you say to the child, now be good.

It means pretend to be good because we know what you really are – bad. The message goes straight to the heart of the child, to his feeling, where his self-confidence is being formed. What is formed is a feeling that I've got to learn to hide what I am. I'm bad. I'm antisocial, but I'd better try to look good to get by. This is an uncomfortable and very inefficient way to behave."

Wat Liedloff basies probeer sê is dat kinders presies optree soos ons – grotendeels onbewustelik – verwag hulle gaan optree. As ons hulle vertrou, tree hulle daarvolgens op. As ons bang is (en dus verwag) hulle gaan seerkry – of sleg wees, of nutteloos wees, tree hulle daarvolgens op.

"Maar jy't dan self gesê die een kind het sy arm gebreek!" hoor ek iemand sê.

Ja, dis 'n interessante geval. Ek tel gereeld die vriend se dogtertjie op 'n watertenk, en dan spring sy af in my arms. Sy geniet dit baie. Toe wil die ander seuntjie dit natuurlik ook doen. Ek sê nee, dis reg, en hy spring – gans en al te ver. As ek nie baie vinnig agtertoe beweeg het nie (waartydens ek amper my balans verloor het), sou hy bo-oor my gespring het en baie, baie hard geval het.

Ek vermoed dis die tipe ding wat op die trampolien gebeur het. Die kind probeer verby homself leef. Ek vermoed ook waar dit sy oorsprong het: aanhoudende prys en blaam.

"The familiar expedients of praise and blame wreak havoc upon the motives of children, especially the smallest ones," skryf Liedloff. In sy boek Parenting for a Peaceful World wy Robin Grille in diepte uit oor die skadelike effekte van prys en blaam.

"Maar hoe dan so?! Dis tog goed vir kinders se selfbeeld om hulle te prys?" hoor ek weer iemand sê.

Hier is ons weer by die kern van kinderbewussyn waarvan ons tog so min verstaan. Kinders leer van nature, en hulle leer aanmekaar. Hulle leer deur alles en almal dop te hou en te eksperimenteer. Hulle weet van nature hoe ver hulle kan gaan sonder om ernstig seer te kry. Maria Montessori het hierdie beginsel verstaan.

Die leerproses self verskaf aan kinders intrinsieke bevrediging. Hulle doen wat hulle doen omdat hul hele wese hul 'dwing' om dit te doen. Sodra ons as ouers nou kom en sê: "Oe, maar jy het mooi geteken," of wat ook al, kan dit presies die teenoorgestelde effek hê as wat ons bedoel het. Die kind voel onmiddellik 'n verwagting aan en voel nou hy of sy moet daaraan voldoen om sy of haar ouers tevrede te stel.

My bure se kinders kom speel gereeld by my. Eendag sit die vyfjarige dogtertjie by my en klavier speel. Waar sy vroeër rond en bont note geslaan het, het sy eendag skielik sensitief 'gespeel' – soos sy my gesien speel het. Dit het werklik soos mooi musiek geklink. Ek was verstom en het net by haar gesit terwyl sy speel. Ek kon haar absolute teenwoordigheid in die oomblik aanvoel.

Op daardie oomblik kom haar ma daar aan en tel die einste sensitiwiteit en pragtige aanslag op wat ek opgetel het. "Oe Annelie (Nie haar regte naam nie), jy speel so mooi!! Jy doen nie net mooi ballet nie; jy speel ook mooi klavier!!"

Met dié dat ek langs haar gesit het kon ek direk voel hoe haar hele liggaampie inmekaarsak – van moedeloosheid.

Dit het te doen met verwagtings. Wat het haar ma werklik vir die kind gesê? Met ander woorde wat was haar meta- of onderliggende boodskap?

Sy het 'n oordeel oor haar kind uitgespreek. Wat die kind in werklikheid opgetel het was tien teen een iets in die lyn van "Ek het nie gedink jy is in staat om so goed te kan speel nie!" 'n Gebrek aan vertroue dus, en daarmee 'n verwagting.

Wat vir die kind in daardie oomblik die vreugdevolle uitdrukking van haar hele wese was het in 'n oomblik verander na die druk om te presteer en die onderliggende gevoel dat sy nie kan nie. Juis omdat sy die boodskap (verwagting) van haar ma opgetel het, "Ek het nie gedink jy is daartoe in staat nie," voel sy nou dat sy nie aan die verwagting kan voldoen om te kan speel soos haar ma van haar verwag om te kan speel nie. Presies die teenoorgestelde effek wat haar ma in gedagte gehad het. Dis baie subtiel, maar nie daarom minder kragtig nie.

Kinders wat voortdurend geprys word leer om só op te tree dat hulle voortdurend geprys word. In die proses verloor hulle hulself. Wie van ons het nie iets van hierdie proses ondergaan nie? In die seuntjie se geval is hy al só op prys ingestel dat hy uit voeling met homself en sy eie vermoëns is en voortdurend meer probeer wees as wat hy is. Die gevolg is pyn.

Deur kinders heeltyd te prys manipuleer ons hulle basies om hulle te maak soos wat óns hulle wil hê. Per definisie spreek dit van 'n gebrek aan vertroue in wie hulle werklik is.

Laat ek dit duidelik stel dat ek geensins die ma hier probeer afkraak nie. Sy het dit met die beste bedoelings gedoen – soos ons dit almal met die beste bedoelings doen. Helaas is daar ongemaklik baie waarheid in Oscar Wilde se woorde: "It is always with the best intentions that the worst work is done."

Ek ken ouers wat glo aan wat soms as 'liberale' opvoeding bekendstaan. Hulle slaan nie hul kinders nie en glo daaraan om alles met hulle uit te redeneer.

'Klink goed!' sê ek of jy dalk. Ja, miskien as die kind 12 of 18 jaar oud is. Die probleem is dat die prefrontale korteks van die brein – die deel waarin ons analitiese vermoëns grotendeels gesetel is – eers op die ouderdom van so ses jaar ontwikkel. Voor daardie tyd kan kinders nie rasioneel-analities dink of redeneer nie.

"My kind kan!" sê jy dalk, soos baie ander ouers. Nee, hulle kan nie. Wat hulle wél kan doen, en uitstekend kan doen, is na-aap. Soos alles om hulle in die eerste paar lewensjare tel kinders ook denkpatrone op. Sonder dat hulle daaroor wil of kan nadink, kom hulle met presies dieselfde denkpatrone voor die dag. Hulle tel ook baie goed op dat hulle ouers baie klem lê op die vermoë om rasioneel-analities te dink. Dit motiveer hulle soveel te meer om dieselfde tipe denke te probeer naboots.

Iewers weet hulle egter dat hulle nog nie daartoe in staat is nie. Die gevolg: 'n diep gevoel van "ek is nie goed genoeg nie". Deur rasioneel-analitiese denke van 'n klein kind te verwag kan ons nie anders as om in hulle 'n diep gevoel van minderwaardigheid te versterk nie.

Dikwels is ons 'rasionele denke' glad nie so rasioneel as wat ons dink nie. Ons het 'n fenomenale vermoë om dít wat ons voel of glo te rasionaliseer. Dis presies wat ons kinders aanleer. Helaas het kinders, benewens 'n uitstekende vermoë om dit na te boots, die vermoë om ons rasionalisasie-vermoë ten volle tot uiting te laat kom. As ons werklik eerlik met onsself is, hoeveel van die argumente wat ons met ons kinders gebruik hou werklik stand?

Een van die ergste dinge wat ons ons kinders kan aandoen, glo ek, is moralisering, en dit hou baie verband met rasionalisering. Baie van ons glo dis ons plig om ons kinders 'morele waardes' te leer. Maar wat doen ons in werklikheid?

"Jannie, dis regtig nie mooi dat jy vir Sannie so vuilsmeer nie. Nou moet Sannie so met 'n vuil rok deur die dorp loop! En wat gaan Sannie se ma sê? Dink jy sy gaan dit ooit weer skoonkry?!"

Benewens die verwagting dat Jannie dinge logies moet uitredeneer terwyl hy nog net 3 jaar oud is en dit dus nie kan doen nie, kry hy 'n baie duidelik boodskap: "Jy het iets aangevang wat onherstelbare skade aan iemand aangerig het!" en dus "Jy het gesondig: jy is sleg!"

Jannie wou net speel.

Ek wou nou die dag skree van frustrasie toe 'n ma aanhoudend so met haar kind 'redeneer'. Die kind is toevallig (?) baie 'stout' en aggressief. Ek sou ook gewees het as ek heeldag op 'n 'liefdevolle' manier moes hoor hoe sleg ek is! Met haar moralisering is die ma effektief heeldag besig om met die kind te baklei! Dis skadelik genoeg vir 'n klein kind om elke 10 minute te moet hoor "moenie!" (dis wat een wetenskaplike studie bevind het). As hy dan nog met elke "moenie!" ook 'liefderyk' op 'n subtiele manier moet hoor hoe sleg hy is – is dit dan 'n wonder dat hy gereeld aggressief is?

In The Continuum Concept skryf Jean Liedloff: "A child may very well understand the reasoning of the caretaker and even reason similarly, while being motivated to behave contrarily. In other words, he is more likely to do what he senses is expected of him than what he is asked to do."

Weereens het ek dit nie teen die ma nie. Ek is die laaste een om te kritiseer. Ek wens ek het geweet wat ek nou weet toe my eie kinders klein was. Ek sou dit BAIE anders hanteer het! Soos alle ouers doen hierdie ma bloot wat sy glo is die regte ding om te doen.

En sy doen wat haar eie ma met haar gedoen het. Omdat ons as klein kinders ALLES om ons absorbeer, word die grondslag vir hoe ons later ons eie kinders gaan hanteer reeds in ons kindertyd vasgelê.

Die gevolg van hierdie tipe dinge is dat seker elke kind 'n soort beskermende laag ontwikkel waaruit alle toekomstige gedrag voortspruit. 'n Mens sou dit die ego kon noem. Dit sluit in dinge soos die neiging om altyd almal te wil behaag, ontkenning, manipulasie, self-sabotasie en so meer.

Ek is al hoe meer daarvan oortuig dat dit is waar meeste 'sielkundige' probleme vandaan kom. Vir eeue al probeer ons ons denke en gedrag aan die hand van die brein verklaar. Ons sê sommige 'geestesiektes' is geneties oordraagbaar. En tog is daar geen enkele bewys dat 'geestesiektes' deur chemiese wanbalanse of enige ander breindisfunksies veroorsaak word nie. Daar is ook geen bewyse dat sulke ongesteldhede geneties oordraagbaar is nie. Dit nou buiten die feit dat die hele konsep van genetiese determinasie vandag al hoe meer bevraagteken word. Dis alles mites wat waarskynlik meer te doen het met die finansiële welvaart van farmaseutiese maatskappye en die behoefte om 'n vreesgebaseerde onderwyssisteem in stand te hou.

As ons verder ondersoek instel, blyk dit dat alle 'geestesiektes' eintlik maar vorms van vrees is. As ek in simboletaal moet sê hoe ek werklik voel ('skisofrenie'), is dit nie maar uit vrees vir wat sal gebeur as ek reguit moet sê hoe ek voel nie? En hou dit nie direk verband met hoe ek my kindertyd ervaar het nie? En dan die berugte ADHD en verwante 'disfunksies', waarvan die 'simptome' direk ooreenkom met wat onderwysers nie in die klas wil hê nie. Ritalin werk, ja, maar wie baat regtig daarby?

Kom depressie nie uiteindelik maar neer op die onderdrukking of ontkenning van ons hele wese nie – uit vrees vir die moontlike gevolge daarvan as ons wel openlik en eerlik aan ons gevoelens en denke – en ons lewenslus – uiting sou gee?

Ons kom die wêreld binne met fenomenale potensiaal. Die meeste van daardie potensiaal word ontken, doodgedruk of omvorm in talle vorms van 'geestesiektes', woede, haat en so meer – alles vorms van vrees. Ons noem dit kultuur. Ons hele samelewing is op vrees gebaseer.

"Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie" staan daar geskryf in 1 Johannes 4:18.

God is Liefde: Liefde is God.

Toe Jesus van 'geloof' gepraat het, het hy van 'n vaste vertroue op 'n onsienlike werklikheid gepraat. Met sy gereelde woorde "Jou geloof het jou gered" het hy basies gesê: "Omdat jy vertrou het jy gaan gesond word, het jy gesond geword."

Dit verbaas my nog hoe ons keer op keer dieselfde logiese fout maak. Omdat die 'meesterverhaal' die kerk se skepping is en die Bybel nie werklik die 'woord van God' is nie, dink ons, is Jesus self 'n denkbeeldige figuur.

Miskien is dit waar. Miskien het Jesus glad nie bestaan nie. Feit is, íémand het die woorde wat aan Jesus toegeskryf word, ge-uiter. Ek het geen rede om te glo dat dit nie Jesus was nie.

Deur die woorde van Jesus saam met die 'meesterverhaal' af te skryf doen ons presies wat die kerk gedoen het: ons rasionaliseer die geweldige diepte en krag van Jesus se woorde weg, sodat ons nie die uiterste radikaliteit daarvan in die oë hoef te kyk nie.

Wat met ons as kinders gebeur het en met ons eie kinders gebeur is volgens my 'n soort weerspieëling van wat met die mensdom as geheel gebeur het: Ons het die Liefde wat ons is, deur vrees vervang.

Gelukkig is God ons een voor: Liefde – God – kan nie ongedaan gemaak word nie. Daarom moet ons vrees bloot 'n illusie wees.

Wêreldwyd word kinders al hoe meer in vrees grootgemaak, omdat ons oortuig is ons is reg en ons kinders soos óns probeer maak. En tog kla ons elke dag oor die resultate daarvan.

Jesus het 'n alternatiewe antwoord gehad: leer van die kinders. Vertrou hulle, want hulle is baie nader aan God as wat ons is.

Douwe van der Zee

As voormalige biologiese wetenskaplike wat besef het dat nóg die wetenskap nóg die godsdiens ons menslike probleme gaan oplos, het Douwe hom al hoe meer op die menslike psige en spiritualiteit toegespits. Deur jare lank outentiek met kinders te speel, het spesifiek die geweldige krag en vatbaarheid van die bewussyn van klein kinders – en die kragtige effek daarvan op ons lewens – sy belangstelling geprikkel. Hy skryf, gee praatjies en werkswinkels oor outentieke speel, doen wildernis staptoere in wildtuine en is 'n student en onderwyser van A Course In Miracles.
Meer inligting is op sy webwerf douwevanderzee.co.za beskikbaar.
Hy is bereikbaar op

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.