.

Die kerk in die een-en-twintigste eeu

Deur Prof. Hennie Swanepoel op 1 Desember 2014

.

Die kerk is in 'n moeilike situasie in ons dag en eeu. Die wêreldvisie het onteenseglik na die mens in armoede en siekte gedraai. Die toestand waarin veral Afrikane leef het 'n gewetensaak geword. Die bewustheid en belewenis van armoede verteenwoordig 'n baie belangrike paradigmaverskuiwing. Regerings en wêreldinstellings soos die Wêreldbank, en agentskappe van die Verenigde Nasies soos die Wêreld Gesondheidsorganisasie, skryf die uitreik na die armoediges veral van Afrika in hul beleidsdokumente voor en reël wêreldbyeenkomste waar protokolle opgestel word wat groot opofferings van nasies oor die wêreld vra. Behalwe hierdie meer formele strukture is daar ook liggame buite die regeringsopset. Dit is nie-regeringsorganisasies, sommige ryk en groot, ander klein en arm wat hulle met die armoede bemoei. Saam met hierdie organisasies het daar ook 'n empatie teenoor die armes gemanifesteer wat nog steeds gedy. Hierdie empatie lei daartoe dat die arme in die middel van die kommer wat daar aanwesig is, geplaas word. Dit lei verder daartoe dat daar 'n aandrang ontstaan en groei dat die armes deel van hul eie pogings tot 'n beter lewe moet wees en dan word vroue en kinders as die armste van die armes duidelik sentraal geplaas. Ontwikkeling word dus 'n beweging waaraan die armes moet meewerk, nie as gaste van die regering of een of ander nie-regeringsorganisasie, of kerk, of weldoener nie, maar as die besluitnemers oor hul eie lot wat fokus op die vernietiging van die deprivasienetwerk waarin hulle en hul voorgeslag vir eeue vasgevang is. Die aandag is egter nie slegs op die armes in Afrika gevestig nie. Daar bestaan 'n tydsgees wat uitreik na die minderhede soos mense wat aan ongeneeslike siektes ly of gestremd is. Hierdie uitreiking word sigbaar gemaak deur die gebruik van ikone soos internasionale sportspanne en ander bekendes soos skoonheidsprinsesse en uitvoerende kunstenaars.

'n Verdere gevolg van die paradigmaverskuiwing is dat aandag gevestig word op die volhoubaarheidsbeginsel wat vereis dat pogings tot ontwikkeling en die gevolg daarvan, nie natuurbewaring en die handhawing van wêreldse prosesse soos reënval en klimaat, mag skaad nie. Hierdie fokus is natuurlik nie slegs op die arm lande van Afrika nie, maar ook die ryk en ontwikkelde nasies word bedreig en het deel aan die vestiging van volhoubaarheid. Die gevolg van hierdie volhoubaarheidsgolf is dat die mens meer en meer van die belangrikheid van die aarde bewusraak. Oor die hele wêreld heen neem duisende mense aan optogte deel wat op baniere die waarde van die aarde beklemtoon en diegene wat nie passievol aan die bewaring van die aarde deel neem nie, kwaai veroordeel.

Daar is 'n duidelike verskuiwing van vertikaal na horisontaal in die denke en optrede van die bewoners van die sg. "global city." Eers het ek geleef sodat as ek eendag sterf ek na die hemel sal gaan. My einddoel was die hemel waar ek vir ewig sou vertoef. My taak was primêr om God te dien wat vir die aarde sal sorg en eendag my in die hemel sal ontvang. Wat van natuurlike bronne en die mense wat hulle gebruik gaan word, was nie my bekommernis nie, dit was God se saak. Ek was 'n tydelike tentbewoner wat volgens God se gebooie moes lewe. Hierdie situasie het egter begin verander. Hoofsaaklik as gevolg van die oormag van kommunikasie, het die mens nou van sy verantwoordelikheid bewus geraak, sy verantwoordelikheid nie slegs aan God nie, maar ook aan alle mense en lewensvorme waarmee ons in aanraking kom. Nou sien ons op baie maniere hoe die armoede voort woed onder mense, hoe kinders sterf as gevolg van hongersnood, hoe siektes soos malaria, tuberkulose en vigs miljoene afmaai. Ons is oorbewus van die aarde wat al hoe meer bedreig word. Ons het bekommerde wêreldburgers geword wat bewus raak van die chaos en die hartseer om ons. Ons het as gevolg hiervan begin horisontaal kyk. Nou wil ek op 'n aarde lewe wat vir my en my geliefdes 'n gelukkige lewe kan bied en nog eendag my nageslag sal onderhou en daarom moet ek saam werk aan die stryd teen armoede en siekte en het ek 'n groot taak ten opsigte van die instandhouding van alles. Hierdie sienswyse het die mens gesentraliseer en 'n humanistiese beginsel is ontwikkel en is nog aan die ontwikkel. God het al hoe verder weg van die strydpunt beweeg terwyl die mens met sy pligte en regte na die sentrum geskuif het. Hierdie nuwe bewuswording en die betrekking van miljoene om die aarde 'n beter blyplek te maak, word vandag gedra deur 'n humanistiese etiek of moraliteit.

En nou kan die kerk nie anders as om ook horisontaal te kyk nie. As kerk mag hy egter nie slegs dit doen nie. Sy blik moet nog steeds op God wees waaraan hy natuurlik gewoond is. Die kerk het vir meer as twintig eeue met die oog op God geleef. Die kerklike struktuur was daarvoor gerat. Die mis is bygewoon sodat die lidmate met Jesus verenig kon word deur sy vlees en bloed te eet en te drink. Die erediens is gehou sodat God met die mense kon praat en die gemeente in volle oorgawe hulle aan God kon toewy. Die priester was die tussenganger aan wie ons ons sondes bely en wat namens God ons daarvoor vergewe het. In die protestantse kerk was die dominee nie werklik die tussenganger nie, maar eerder die bringer van die woord van God, nie slegs in die erediens nie maar ook by spesiale geleenthede soos trou en begrafnis. Oor die eeue heen is massiewe, pragtige katedrale met onnoembare kunsskatte gebou en aan God en die heiliges toegewy. En al leer ons in die Bybel dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself en dat hierdie gebod gelykstaan met die eerste groot gebod dat ons God bo alles met alles wat ons het moet liefhê, bly die eerste gebod meer gelyk as die tweede. Die tweede gebod is in elk geval op die mede Israeliet of latere Jood, gemik, nie die armes en ellendiges van die wêreld nie.

Die sendingbeweging van die 19de eeu het uitgereik na die nie-europeaan en byna elke sendingstasie het met 'n kerk, 'n hospitaal en 'n skool gespog, maar tog was die missionêre rol primêr en is kerstening bo geleerdheid en gesondheid gestel. Ek het meer as een keer na sendelinge se debat geluister of dit nou eers gesondheid dan geloof moet wees of anders om. Ons kan die kerk gelyk gee dat wat in sendingstasies gebeur het baie mense se lewes verryk en sinvol gemaak het, ja baie se lewes gered het in hul stryd teen siektes soos malaria en tuberkulose. Dit was egter net so opvallend hoe die sendingkerk siele probeer wen het, eerstens nie vir burgerskap in die hemel nie, maar as lidmate van daardie besondere kerk. Die meeste sendingstasies het in hul handelinge akkulturasie probeer bewerkstellig omdat hulle geglo het dat "heidense" gebruike goddeloos was. Die wedywering vir siele tussen sendingkerke is welbekend en tot vandag toe kan jy, veral in die landelike gebiede sien watter kerk eerste daar was en die beste verkoopstegniek aangewend het.

Uiteindelik is die kerk ware kerk omdat hy 'n sekere dogma aanvaar en uit die beginsels van daardie lering leef en laat leef. Daardie dogma is ten volle op God gerig, hoe om hom lief te hê, hoe om hom te dien, hoe om die kerk, wat sy liggaam is, te koester en te versterk. Hoe God ons seën, hoe Hy alles ten goede laat meewerk. Hierdie dogma kom uit die Bybel, sê die kerk en aanvaar die Bybel as die gesaghebbende woord van God. Dit is veral waar van die protestantse kerk met sy spreuk van "Slegs die Bybel." Die Bybel handel oor godsdiens en godsdiens behandel die vraag "Hoe moet ek God dien?" Die moenies en die moets is oor baie eeue gestruktureer in 'n sekere lewenswyse vir die kerklidmaat. Hierdie lewenswyse word vroomheid genoem. Vroomheid is om God op 'n sekere kerkvoorgeskrewe wyse te dien. Omdat die kerk en meeste van sy lidmate hierdie vroomheid as primêre beginsel aanvaar, bly die kerk, kerk en is die praatjies oor sekularisasie slegs dit, praatjies. Maar sekularisasie is nie die enigste probleem van die kerk nie. In die uitleef van sy vroomheidsbeginsel kom hy in ernstige botsing met die humanistiese moraliteitsbeginsel wat met gemak die mens se siening van homself konkretiseer.

Ek neem nie die kerk kwalik as hy by sy dogma wil hou nie want as hy dié versaak het, het hy 'n godsdienstige nie-regeringsorganisasie geword en is hy nie meer kerk nie. Die kerk se twee belangrikste bakens van sukses is sy handhawing van sy dogma en getalle. Hoe meer lidmate en veral hoe meer nuwe lidmate, hoe suksesvoller is die kerk. En wat nou van as hy getalle drasties verloor en die meeste van sy lidmate nie 'n idee het oor wat die kerk se dogma is nie? Moet hy dan sy dogma verander? Maar 'n kerk doen dit nie sommer goedsmoeds nie. Verskil oor dogma word nie maklik bygelê nie. Gewoonlik lei dit tot skeuring.

Hoe nou gemaak? Ek weet nie. Dit is maklik om te diagnoseer. Dit is veel moeiliker om te behandel op so 'n wyse dat diagnose en prognose uiteindelik geïntegreer word tot genesing. Dalk moet die kerk 'n godsdienstige nie-regeringsorganisasie word. Die humanistiese moraliteit het tog alreeds die kerk se godsdienstige vroomheid vervang en die tipiese lidmaat het geen idee wat staan in die kerk se leerstukke van geloof nie. Dalk is die kerk reeds in die vroeë een en twintigste eeu oorbodig.

Gebruik gemaak van
De Beer, F & Swanepoel, H (Eds), 2010, Introduction to development studies.
Ehrman, BD, 2009, God's problem.

Prof. Hennie Swanepoel, e-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.