.

Die kerk, gays en die hof

Deur Bettina Wyngaard op 1 September 2018

.

(Soos gepubliseer op Litnet.)

The Church must be reminded that it's not the master or the servant of the state, but rather the conscience of the state. It must be the guide and the critic of the state and never its tool. If the church does not recapture its prophetic zeal, it will become an irrelevant social club without moral or spiritual authority.
– Martin Luther King, jr.

Op 21 Augustus hoor die Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof argumente aan in saak 40819/2017, Gaum en 3 ander vs Janse van Rensburg NO en 6 ander. Twee partye het toegetree as amicus curiae: die Kommissie vir Geslagsgelykheid (hierna genoem CGE) en Alliance for the Defence of the Autonomy of Churches in South Africa (ADACSA). Die agtergrond vir die gedingvoering is kortliks as volg: Tydens die NG Kerk se sinodale sitting in 2015 was daar besin oor wat sekerlik in kerkkringe bekend staan as "Die gay-vraagstuk". Die sinode is die hoogste gesaghebbende besluitnemingstruktuur in die kerk, en word saamgestel uit beide lekeverteenwoordigers en predikante van regoor die geografiese spektrum.

By die 2015-sinode is daar deur 'n verrassende meerderheid besluit om meer verwelkomend te wees teenoor gay lidmate en gay predikante, met die verstandhouding dat individuele gemeentes self besluit wat op grondvlak by hulle sou gebeur. Verwelkomend hoe? Predikante is nou toegelaat om huwelike van gay gemeentelede te bevestig. Gay predikante sou nou gelegitimeer word en toegelaat word om gemeentes te lei. In kort, gay en straight mense sou gelyk behandel word in die kerk.

Vir drie minute was die NG Kerk die mees progressiewe hoofstroomkerk in Suid-Afrika.

Dit sou nie lank duur nie. Die NG Kerk was nog nooit regtig bekend vir sy waagmoed nie, en het toegegee aan die druk van wat skynbaar 'n betreklik klein groepie was. Teen 2016 word 'n buitengewone sinode beroep om te besin oor al die appèlle en gravamina wat ingedien was. Die enigste probleem hiermee was dat die appèlle buite tyd was en eintlik uitgegooi moes gewees het. Dis die reëls van die Kerkorde. Nie dat dit die kerk gekeer het nie. Hulle het hul eie reëls oortree om die groep konserwatiewes tevrede te stel. In rekordtyd is die onreëlmatige appèlle aangehoor en gehandhaaf. Dis nie seker wie hulle van regsadvies hierin voorsien het nie, maar my advies aan die kerk sou wees om hulle deposito terug te vra.

Wat die buitengewone sinode selfs meer buitengewoon gemaak het, is dat die appèlle, die rede vir die sinode, nooit bespreek is nie. Die voorsitter het trouens beslis dat die appèlle nie bespreek mag word nie. Toe is daar van vooraf besluit oor die gay-vraagstuk, asof die 2015-sinode nie gebeur het nie. Seker nie verbasend nie is dat al die positiewe stappe van die 2015-sinode herroep is.

Die redes hieragter, en die invloede hieragter, is nie duidelik nie. My spekulasie is dat die kerkvaders konserwatiewe koppe begin tel het, en gevrees het hulle gaan lidmate verloor.

Wat hulle nie besef het nie, is dat hul optrede verseker het dat hulle wel lidmate verloor het. Wannie Carstens, vooraanstaande akademikus en taalstryder, was heel eerste in die ry. Sy bedanking uit die kerk is wyd in al die Afrikaanse koerante berig. Die 2016-besluit, en die manier waarop daarby uitgekom was, is die rede vir sy bedanking. Heelparty ander het gevolg.

Intussen het Laurie Gaum en ander, na deeglike besinning, besluit dat hul remedies binne die kerk uitgeput is en het hulle na die howe gewend. Saak 40819/2017 is die gevolg.

Tradisioneel is die howe maar traag om oor kerksake en geloofsbeginsels uitspraak te lewer. Wat hierdie saak anders maak, is dat geloofsbeginsels en die Bybel glad nie ter sprake is nie. Die Kerkorde, met ander woorde die kerk se grondwet, en prosedurele aangeleenthede is sentraal. En hieroor het die hof nie net bevoegdheid nie; hulle beskou dit as hul plig om seker te maak organisasies oortree nie hulle eie reëls nie.

Die kerk en hul regspan het lui geword. Hulle betoogshoofde bestaan wesenlik uit 'n beroep op godsdiensvryheid, met hier en daar 'n paar (irrelevante) vals spoortjies. Waarskynlik het hulle gedink aan al die ander hofgedinge en besluit dat hulle nie 'n wenresep gaan verander nie. Behalwe dat hulle hulle nie op die Bybel beroep nie, en die hof dus nie gebonde hoef te voel om geloofsvryheid te eerbiedig nie. Boonop het die kerk hulself in die voet geskiet wat prosedure betref, iets wat ek verwag die hof nie sonder meer sou duld nie.

Daar is egter ook 'n ander gesprek wat hier gevoer word. Al meer word daar 'n beroep op die howe gedoen om groot organisasies, kerke, die staat, korporasies te dwing om hul eie reëls te eerbiedig. Die ou geykte wysheid was dat kerk en staat, en ook die howe, uit mekaar se besigheid moet bly. Maar hoe gemaak as die morele leier, die kerk, hul morele kompas verloor het? Hoe gemaak as 'n kerk weier om met deernis teenoor sy eie lede op te tree? Hoe gemaak as hulle nie die waagmoed het om hul eie reëls te eerbiedig wanneer die gevolge 'n groep ongelukkig maak nie? Hoe gemaak wanneer die kerk institusionele diskriminasie aanmoedig en in stand hou?

Die NG Kerk het dit gedoen met diskriminasie op grond van kleur. Nou doen hulle dit op grond van seksuele oriëntasie. En met elke diskriminerende besluit word hulle meer en meer irrelevant.

Hoe dan gemaak? Die CGE se voorstel is dat die kerk dan sy lisensie om enige huwelike te voltrek, moet verloor. Ek twyfel of die hof binne die konteks van hierdie saak enige verklarende bevele hieroor sal gee. Maar die idee is nou in die openbare domein. Miskien het dit tyd geword dat dit ernstig in oënskou geneem word.

Wat die hof wel kan doen, en behoort te doen, is om die NG Kerk oor die vingers te raps omdat hulle hul eie reëls oortree het. Wat dit in effek beteken, is dat die 2016-besluit ongeldig verklaar behoort te word. Met koste.

As die kerk dan nie met deernis teenoor sy lede kan optree nie, laat ons hoop dat op die skale van geregtigheid deernis swaarder weeg as vooroordeel.

Laat die hof die kerk dan wys hoe reg, geregtigheid en genade werk.

Bettina Wyngaard is 'n Overbergse skrywer, dromer en aktivis. Haar debuutroman, Troos vir die gebrokenes, word in 2010 met die Jan Rabie Rapport-prys bekroon. Haar tweede boek, Vuilspel, is nou beskikbaar.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.