.

Die Kerk en die gay kwessie

Deur Bertus van Niekerk op 1 November 2015

.

Die Kerk blý sukkel om gesonder waardes by die samelewing aan te leer.

Koerante en sosiale media gons oor die NGKerk se besluit oor gays tydens hulle pas-afgelope Algemene Sinode (Oktober 2015). Dit volg byna 'n dekade nadat gays in ons land wettig met mekaar mag trou. Maar hoewel die kerk inderdaad verras het met 'n dapper skuif in die regte rigting, is dit lank nie die einde van die gesprek oor die plek van gemarginaliseerdes in geloofsgemeenskappe nie. Die Kerk het in wese besluit dat elke gemeente sélf kan besin oor hoe om te maak met mense wat in verhoudings met persone van dieselfde geslag leef. En daar ís gemeentes wat dit baie duidelik maak dat hulle geensins bereid is om méér akkommoderend te wees teenoor diesulkes as wat die geval was in die afgelope dekades – of eeue – nie. En dis nie die enigste kinkel in die kabel nie.

Die Kerk het vorige besluite herbevestig dat sy "slegs die verbintenis van een man en een vrou as 'n huwelik beskou." Die Sinode het besluit om naas hiérdie kategorie verhouding "erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou." Maar dis nog nie 'n huwelik nie, want die Kerk reserveer dié term vir verbintenisse tussen mense met teenoorgestelde geslag. So byna asof wat sy nog altyd as uitsluitlike norm gehandhaaf het steeds voorkeur kry. Boonop is die bevestiging van verbintenisse tussen persone met dieselfde geslag opsioneel in elke gemeente, anders as die geval met paartjies van teenoorgestelde geslag. Ek onthou meer as een restauranteienaar wat teen die kwyn van diskriminasie 'n kwarteeu gelede (rassistiese) klante probeer paai het dat hulle so lank as moontlik slegs blankes sou bedien op grond van die "Reg van toegang voorbehou"-bordjie by die voordeur.

Die doring waarin die Kerk met hulle besluit (hoewel dapper en 'n tree in die regte rigting) trap, is dat die HAT wat pas verskyn het en beskou word as riglyn vir die verstaan van alledaagse Afrikaans, die volgende definisie vir die konsep "huwelik" gee:

  1. Wettige verbintenis tussen mense van dieselfde geslag om lewenslank as man en vrou saam te leef.
  2. Wettige verbintenis tussen mense van dieselfde geslag om lewenslank saam te leef.

Die Kerk handhaaf dus 'n ander, diskriminerende definisie vir die woord "huwelik" as wat taalkundiges en leksikograwe in die breëre gemeenskap opgestel het. Dié aanmatigende gedrag herinner my aan toe ek byna twee dekades gelede in 'n Algemene Kerkvergadering (die Hervormde Kerk se sinode) as afgevaardigde gesit en luister het na 'n debat oor hoe om steeds te verhoed dat nie-blankes die opsie gegun word om aan te sluit by die Kerk. Die dilemma destyds was dat die land post-Mandela besluit het om 'n nie-rassige samelewing te word. As die Kerk slegs blank wou bly, sou sy in hiérdie geval 'n eie rasse-klassifikasiesisteem moes opstel en handhaaf náás die een wat deur Binnelandse Sake erken word.

Ek is nie trots daarop nie, maar toe ek grootgeword het, was dit gebruik in baie huishoudings om blikborde en -bekers vir werkers apart van gesinne se eetservies aan te hou, dikwels onder die wasbak waar die staalwol, kerse, politoer en opwasmiddels gebêre is. So asof daarmee 'n boodskap gekommunikeer word: die beter keramiek en nuwer messegoed gaan ons nie met jóú deel nie. Om nou te juig oor die Kerk se voorneme om selektief minder homofobies te wees sou byna vergelyk kon word met 'n situasie waar ná die val van Apartheid slegs sommige restaurante na willekeur nie-blankes sou verwelkom, maar hulle dan uit mindere eetservies bedien en boonop bestaande klante aan te moedig om te volhard daarin om hulle teenwoordigheid hoegenaamd in die vertrek te bespreek. En om dan van dié wat pas voorwaardelik toegelaat word in die geselskap te verwag om "dankbaar te wees" vir die gedeeltelike vermindering van vooroordeel.

In 'n onderhoud met Suzaan Steyn wat op Netwerk24 se Youtube-kanaal gesien kan word, dink Dr. Nelis van Rensburg, die pas-verkose moderator van die NGKerk, dat die Kerk 'n roeping het om aan elke vierkante sentimeter op die planeet die evangelie te bring. "Die Kerk", sê hy, "is die bloedhond wat moet uitruik waar onreg gepleeg word." Volgens hom moet die Kerk die wêreld vol "getuig van die nuwe moontlikhede wat Jesus Christus ontsluit het." Die omgekeerde lyk waar: dit lyk asof die Kerk sukkel om "basiese fundamentele waardes" by die samelewing aan te leer, soos om verdagmaking en uitsluiting van mense op grond van hulle velkleur of seksuele gedrag (wat eintlik as uiters privaat aangeleentheid gerespekteer behoort te word?) te staak. Terwyl die Kerk dan nou so graag mense klassifiseer, vergun my die volgende stelling: die tyd het lánkal aangebreek vir die Kerk om minder "getuigende gemeenskap" te speel en beter op te let na samelewingswaardes wat individue en minderheidsgroepe, vroue, kinders, gays, gelowiges én ongelowiges onder meer met 'n handves vir menseregte beskerm teen norme uit die ystertydperk.

Lees hier meer oor Bertus van Niekerk.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.