.

Die kánon of die kanón van die Bybel?

Deur Dr. Piet Muller op 1 Oktober 2013

.

Op ons dorp was daar in my kinderdae 'n waardige ouderling wat gereeld deurmekaar geraak het met die woorde kánon en kanón. Daarom het hy ook dikwels verwys na die "kanón van die Bybel."

Miskien het hy onbewus tog 'n goeie punt beetgehad, want hoe meer briewe oor godsdiens ek in koerante lees hoe meer kom ek tot die gevolgtrekking dat die Bybel vir baie mense nie 'n versameling tekste is wat 'n mens ter wille van oordenking en stigting lees nie, maar 'n arsenaal met "wapens van massa-vernietiging" wat 'n mens op jou teenstanders kan loslaat. Die kánon het inderdaad die kanón geword!

So 'n letterlike verstaan en gebruik van die Bybel sou totaal vreemd gewees het vir die Christene van die eerste drie eeue. Hulle was deeglik bewus dat 'n mens die skrifte op twee maniere kon lees: letterlik of metafories, maar het die letterlike verstaan van die skrifte beskou as iets wat pas by eenvoudiges van gees en ongeleerdes.

Gelowiges wat enigsins dieper dink, het wat hulle gelees het as gelykenisse of metafore gelees – in vandag se sielkundige taal sou 'n mens ook kon sê mitologies.

Origenes van Alexandrië, die grootste teoloog van die derde eeu, was byvoorbeeld opreg begaan dat 'n letterlike lees van die skrifte vir die kerk groot probleme kon besorg. Want as intelligente mense die Bybel letterlik begin lees kan hulle nie anders as om getref te word deur die talle weersprekings nie, en dit kon lei tot onnodige vrae oor God se almagtigheid en eerlikheid.

In sy boek oor Die Eerste Beginsels wys hy op talle sulke weersprekings, beginnende by Genesis en van daar tot by die evangelies. Presies dieselfde dinge wat vandag nog 'n struikelblok is vir mense wat krities maar letterlik lees:

"Wie kan so onkundig wees om te dink dat God, soos 'n boer, letterlik bome in 'n paradys sal plant, in Eden in die ooste, en 'n boom van die lewe – 'n letterlike en tasbare boom – sodat almal wat met hulle tande daarvan eet die lewe sal vind; en 'n ander boom, wat as hulle daarvan eet, hulle kennis van goed en kwaad sal gee? Niemand, reken ek, kan enige twyfel hê dat die stelling dat God in die namiddag in die paradys gaan wandel het en dat Adam onder 'n boom weggekruip het figuurlike woorde is waarvan 'n mens die mistieke betekenis moet vind." (Die Eerste Beginsels, aangehaal deur Diana Butler Bass in A Peoples' History of Christianity, Harper).

Origenes was 'n geleerde man wat allegoria (lees vir die letterkundige betekenis) van Griekse geleerdes gekry en midrash (die Joodse tradisie van skrifuitleg) van Rabbyne in Palestina. Hy was ook 'n uiters noukeurige navorser wat die Hebreeuse teks van die Ou-Testament vergelyk het met vyf verskillende Griekse vertalings, in 'n poging om die beste teks te vind. Maar telkens is hy getref deur aspekte wat letterlik gelees kwalik sin maak. Wat moet ons byvoorbeeld leer uit die twyfelagtige besluit van Abraham om sy vrou aan Farao te verkoop? En is alle Christene verplig om Jesus se opdrag aan sy twaalf dissipels te volg, dat hulle kaalvoet moet loop?

Origenes het ook nie geglo dat die maagdelike geboorte letterlik verstaan moet word nie, maar dat dit 'n gelykenis is van die geboorte van die goddelike wysheid in die siel. Net so het hy geglo dat die idee dat Jesus 'n god was 'n goeie plek is om by te begin, maar soos wat 'n mens se geloof verdiep en jy nader en nader aan God beweeg, sal ook hierdie insig onnodig raak.

Dalk het Origenes se eie ondervinding as 'n jong man met 'n letterlike interpretasie van die skrifte hom ook gehelp om by die allegoriese leesmetode uit te kom. Toe hy nog skaars in sy tienerjare was, het sy pa 'n martelaarsdood gesterf. Origenes wou opsluit saam met sy pa gaan sterf, maar sy ma het sy klere weggesteek.

Later het hy onder die indruk gekom van Mattheus 19:12: "Want daar is mense wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is; en daar is mense wat deur ander tot eunugs gemaak is, en mense wat van hulself eunugs gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat" (vry vertaal).

Origenes het hierdie teks letterlik opgeneem en homself gekastreer.

Die uiteindelike gevolgtrekking waartoe Origenes gekom het is dat al die teenstrydighede en weersprekings deur God in die skrifte geplant is om ons te leer om die dieper betekenis daaragter te vind. Vir hom was skrifuitleg harde werk wat saam met gebed onderneem moet word. Maar as 'n mens volhard mag jy onverwags agterkom dat jy deur die gees (pneuma) aangeraak word.

Vir Origenes was skrifuitleg 'n musterion, 'n inisiasieproses, wat 'n mens uiteindelik by die goddelike teenwoordigheid sal uitbring. Hierdie manier van skrifuitleg het die standaard vir die ganse Westerse kerk geword (sien Karen Armstrong, The Case for God, Vintage Books). Die gunsteling evangelie vir hierdie manier van lees was waarskynlik die evangelie volgens Johannes. Van hierdie evangelie, wat in soveel opsigte verskil van die drie voorafgaande gekanoniseerde evangelies, het Origenes gesê dat Johannes wel nie die waarheid letterlik vertel het nie, maar dit tog allegories waar vertel het!

Vir die vroeë Christene was hul geloof in ieder geval nie 'n saak van wat jy glo nie, maar van hoe jy Jesus se leer en lewenswyse in jou eie alledaagse lewe tot uitdrukking bring. In 'n vyandige en materialistiese wêreld het hulle probeer om uitdrukking te gee aan Jesus se Koninkryk, waar almal vir almal omgee. Hulle het armes versorg, aan vreemdelinge gasvryheid bewys, gevangenes besoek, sterwendes vertroos en dooies begrawe.

Tydens die groot pes van 160, wat as Galen se Pes bekend staan, het hulle in die stede agtergebly, die siekes versorg en dooies begrawe, terwyl die meeste ander mense hul eie familie agtergelaat en platteland toe gevlug het om aan die dood te ontkom.

Die era van onverhandelbare dinge waarin 'n mens moes glo sou eers later aanbreek. Dit is ook opvallend dat nie een van hierdie "onverhandelbares", soos die maagdelike geboorte, Jesus se goddelikheid, die opstanding en die hemelvaart, of die drie-eenheid, ooit eenparig en sonder stryd aanvaar is nie. Al waaroor Christene ooit eenparig saamgestem het is dat hulle van Jesus 'n lewenswyse ontvang het wat revolusionêr anders was as die van die res van die samelewing.

Eers tydens die Hervorming sou Christene weer begin om die Bybel letterlik te lees. Dit kon ook kwalik anders want die Roomse kerk en die Pous het hulle die hoogste gesag in die uitleg van geestelike sake toegeëien en kon dus alleen deur nog 'n hoër gesag bestry word. Hierdie gesag het die Hervormers gevind in die Bybel as Woord van God.

Die verering van die letterlike woord het reeds in 1543 begin toe die Moslems uiteindelik Konstantinopel, die hoofstad van die Oos-Romeinse Ryk, verower het. Talle geleerdes het uit die stad gevlug Weste toe en met hulle soveel boeke saamgeneem as wat hulle kon dra. Dit het die Weste weer toegang gegee tot die ryk skat aan kennis en kultuur van Oud-Griekeland en die Romeinse Ryk.

Hierdie kennis het grootliks in die Weste verlore gegaan omdat Christene, nadat hul godsdiens staatsgodsdiens geword het, sistematies alle biblioteke afgebrand en filosofiese akademies gesluit het. Net die "ketters" het met wat hulle kon saamneem, Ooste toe gevlug en later 'n bestaan gemaak deur Griekse tekste in Arabies te vertaal. Dit was verantwoordelik vir die vinnige opbloei van die Arabiese beskawing en die verval van Christelike Europa. Die beskikbaarheid van soveel Griekse werke na die val van Konstantinopel het 'n beroering in Europa veroorsaak en was een van die groot aanleidings tot die ontstaan van die Renaissance, oftewel herlewing van geleerdheid.

Universiteite het kursusse begin aanbied in die humaniora – menslike geskrifte, in teenstelling met geskrifte oor die teologie. Hieruit is 'n literêr-kritiese metode gebore.

Om hiérdie boeke te kon lees moes Europese geleerdes natuurlik eers Grieks leer, 'n taal wat in Europa uitgesterf het omdat die Roomse kerk Latyn gebruik het en die Vulgaat, die Bybelvertaling van Hiëronimus, as amptelike versameling geskrifte gelees het. Een van die geleerdes wat Grieks en Hebreeus aangeleer het was Desiderius Erasmus van Rotterdam (1466-1536). Na vyftien jaar van Griekse studie het hy 'n Griekse Nuwe Testament gepubliseer met verklarende notas en 'n lys van vertaalfoute wat Hiëronimus in 384 tydens die vertaalproses gemaak het.

Erasmus se Griekse teks het 'n opskudding veroorsaak. So roep Johannes die Doper in Mattheus 3:2 uit metanoeite!, wat vertaal kan word as bekeer julle! Hiëronimus se Latynse teks ondersteun egter hier die Roomse praktyk van boetedoening en bieg waarmee hierdie instelling deur die eeue 'n groot invloed oor die bevolking verkry het.

Net hierdie een fout alleen het die morele gesag van Rome 'n ernstige knou toegedien en die Hervormers laat besef dat die Bybel in Grieks, maar veral in die verskillende volkstale, 'n belangrike wapen teen Rome kon wees. Erasmus se Griekse textus receptus (oorgelewerde teks) het die grondslag geword van verskillende vertalings, soos die Nederlandse Statevertaling en die Engelse King James vertaling. Elkeen van hierdie vertalings, soos ook Luther se magistrale Duitse vertaling, het 'n algemene beskaafde omgangstaal geskep uit die verskillende dialekte wat deur gelowiges gepraat is.

Martin Luther sou waarskynlik nooit so 'n belangrike hervormer geword het as dit ook nie was vir Erasmus se Griekse vertaling nie. Jare van kloosterlewe, vas en boetedoening het nie daarin geslaag om Luther se geloof te verdiep nie. Hy het altyd die gevoel gehad dat hy iewers tekort skiet, maak nie saak wat hy doen of hoe hard hy probeer nie. Het Hiëronimus se vertaling van Romeine 1:17 dit dan nie duidelik gemaak dat die regverdige deur God se genade ook geloof sal hê nie? En dat om nie geloof te hê nie, prakties die ewige verdoemenis beteken?

Luther se geloofs-angs het juis daarin gelê dat hy geweet het hy is nie 'n regverdige nie – daarom dat hy ook nie geloof as 'n genadegawe sal ontvang nie. Toe Martin Luther as 'n jong priester die eerste keer die mis moes bedien, het hy van vrees byna flou geval toe hy die brood en die wyn omhoog moes hou.

Weer het Erasmus se Griekse teks tot iemand se redding gekom. Toe Luther die teks lees het hy gans ander woorde ontdek as waaraan hy gewoond was: "Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe."

Hoe meer Luther hierdie woorde oorpeins het, hoe meer het hy besef dat dit eintlik beteken dat goeie werke nie tot geloof lei nie maar dat geloof 'n genadegawe is wat God vryelik uitdeel sodat almal wat glo gered kan word. God is dus nie die verskriklike regter nie maar 'n liefdevolle onderhouer.

"Net so intens as wat ek die uitdrukking 'die geregtigheid van God' gehaat het, net so prys ek dit nou in liefde en dankbaarheid. Hierdie woorde van Paulus het vir my die deure van die paradys oopgesluit."

Die hervormers sou groot klem lê op die lees van die Bybel en hulle bes doen om soveel mense as moontlik te leer lees en skryf. Voortaan hoef niemand meer priester of pous te glo nie, maar kan elke gelowige self gaan lees wat die waarheid is.

Van Origenes se allegoriese manier van Bybellees het niks in hierdie klimaat oorgebly nie. Die kerke het sitplekke begin kry, sodat mense lank kon sit en luister na hoe 'n prediker "die Woord" verkondig; die altaar is uitgedra en die preekstoel in sy plek geplaas en elke gelowige was voortaan veronderstel om van sy of haar ore af boontoe gelowig te wees.

Die resultaat was eerstens enorme ekonomiese vooruitgang vir Protestantse lande met hul hoë geletterdheids-koers – en tweedens 'n versplintering van die protestantisme in honderde kerke en denominasies, omdat elke ketter nou letterlik sy of haar eie letter kon hê.

Net soos in die tyd van Origenes is die Evangelie van Johannes vandag ook die gunsteling evangelie; of dan minstens die evangelie waaruit meer aangehaal word in advertensies en plakkaat-borde langs die pad as uit al drie die ander evangelies saam. Maar anders as in Origenes se tyd word hierdie evangelie nie allegories gelees nie maar deur die meeste Christene as letterlike geskiedenis beskou.

Vir die res van die Christendom plaas dit egter voor 'n yslike dilemma: mag 'n mens jouself nog 'n Christen noem as jy nie letterlik glo aan Jesus se goddelikheid, sy maagdelike geboorte, opstanding en hemelvaart nie?

Boonop lyk die tydvak waarin ons lewe meer en meer soos die eerste drie eeue van die Christendom. Dis wêreldwyd 'n tydperk van onsekerheid waarin die "ou orde" homself net met geweld kan handhaaf; waarin die magsbalans besig is om vanuit die Weste na die Ooste te verskuif; waarin verskillende wêreldgodsdienste vryelik op straat meng en mense smag na morele leierskap.

En net soos tydens die eerste drie eeue is dit 'n tydperk waarin die mistieke belewenis besig is om weer op te bloei.

Sien ook Deel 2.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.