.

Die kánon of die kanón van die Bybel? (Deel 2)

Deur Dr. Piet Muller op 1 November 2013

.

Die Deense godsdiensfilosoof, Søren Kierkegaard, het eenmaal gesê dat dit 'n groot onreg teenoor Columbus was dat Amerika nie na hom vernoem is nie. Maar dat dit 'n groter onreg teenoor Christus Jesus is is dat die Christendom na hom vernoem is.

Die tradisie om die Bybel letterlik uit te lê het uiteindelik gelei tot 'n vorm van Christendom wat ver verwyder is van die liefde en geweldloosheid wat Jesus geleef en verkondig het. 'n Soort Christendom wat in die intensiteit van sy haat en gewelddadige metodes kwalik van Jihadistiese Islam onderskei kan word.

'n Geloof wat geen ruimte gun aan ander gelowiges wat nie die Bybel letterlik uitlê nie en wat openlik geweld predik teenoor andersdenkendes. 'n Geloof in 'n god wat so 'n wrewel het in sy skepsels se sondigheid het dat hy sy eie seun aan die ergste vorm van marteling uitgelewer het as boetedoening vir daardie sondigheid; 'n god wat almal wat nie in sy seun glo nie vir alle ewigheid in 'n helse vuur sal martel ... maar hy is nogtans baie lief vir jou!

'n God wat 'n skrikbewind voer teen almal wat nie sy gebooie onderhou nie en daarom 'n allerverskriklike tsoenami gestuur het weens die sondes van Moslems en Hindoes. 'n God wat 'n stad soos New Orleans deur 'n reuse orkaan kan platvee omdat daar so baie gays en lesbiërs in was (volgens die bekende prediker Billy Graham se seun); 'n god wat dit kan goedkeur dat 'n predikant in die openbaar suggereer dat iemand vir pres. Obama moet "aborteer"; of wat dit behaaglik vind dat sy "getroues" moord pleeg op mense wat by 'n aborsiekliniek betrokke is – en dit alles in die naam van "reg op lewe".

Of wat bid dat sekere regters moet doodgaan, omdat hulle uitsprake gegee het wat strydig is met god se wil.

Ook in Suid-Afrika hoor 'n mens hierdie geluide, soos 'n bekende kerkleier wat waarsku dat die konstitusionele hof uitsprake gee wat nie deur die kerk ondersteun kan word nie; of kerkgroepe wat wil hof toe vir die reg om lyfstraf op hul kinders (en vroue?) toe te pas.

Geen wonder dat die bekende sielkundige Carl Gustav Jung eenmaal geskryf het (Letters, 11): "In my praktyk moes ek al meermale op 'n elementêre skoolvlak lesse in die geskiedenis van religie gee, in 'n poging om die weersin en walging in religieuse sake uit te wis van mense wat hulle lewe lank net met belydenissmouse en predikers te doen gehad het."

Dit is natuurlik ook Jung wat gereeld volgehou het dat hy nog nooit 'n psigiese probleem teëgekom het wat nie ten diepste ook 'n spirituele probleem was nie. Dat daar heling en genesing is as mense weer in kontak gebring kan word met die bron van spiritualiteit binne-in hulleself.

Jung het hierin sterk steun ontvang van sy beroemde teologiese tydgenoot, Paul Tillich. Albei van hulle het Freud se ontdekking van die onbewuste ernstig opgeneem, maar anders as Freud, bevind dat die onbewuste 'n bron is vanwaar enigiemand se spiritualiteit gevoed kan word. Omdat God nie in die wêreld van tyd en ruimte te vind is nie, omdat die goddelike alle kategorieë van tyd, ruime en rede oorskry, maak God hom slegs ervaarbaar aan die mens deur middel van simbole, metafore en mites.

Sedert die Verligting beskou die meeste mense waarskynlik mites as onwaarhede, primitiewe en voor-wetenskaplike verklarings vir natuurverskynsels. Sedert Freud en Jung weet ons egter dat mites 'n ander vorm van weet is. 'n Soort weet wat dinge uitdruk wat nie in woorde en logika uitgedruk kan word nie.

Mites kan nie doelbewus geskep word nie, maar ontstaan spontaan in 'n mens se psige, net soos drome. Spirituele ervarings ontstaan nie as gevolg van prikkels van buite nie, maar wel van binne af op. Dit is pre-verbaal en kan nie in woorde uitgedruk word nie en tog het dit 'n behoefte om te kommunikeer. 'n Mite is dus die tussenstadium tussen die ervaring en die uiteindelike vertolking in woorde.

In die geskiedenis van religie word dit gevolg deur handelinge en rites, wat deelnemers die geleentheid gee om iets te beleef van die oorspronklike ervaring. Die probleem ontstaan egter wanneer 'n ervaring in woorde, bv. in die vorm van 'n belydenisskrif, "vertaal" moet word. Wanneer woorde gebruik word gaan die huiwering, (Engels: awe) van die ervaring verlore en word die woord die aspek van wat tot die dood toe (liefs die dood van jou teenstanders) verdedig moet word.

Ons moenie die Bybel ontmitologiseer, soos die teoloog Rudolf Bultmann voorgestel het nie, ons moet dit juis hermitologiseer. (Lees gerus die uitstekende boek van die Nederlandse predikant, Harm Knoop, Leef je eigen mite, (Valkhofpers, 2012).

Wanneer 'n mens, soos Origenes al in die derde eeu voorgestel het, die Bybel mities en metafories lees, ontsluit dit weer die bron van die ervaring. Dan hoef 'n mens nie historiese verklarings te gaan soek vir waarom sowel Jesus as Boeddha op water geloop het nie. Water is immers die metafoor vir denke en die onbewuste. As jou gemoed onrustig is, is die "see" van jou denke ook stormagtig, maar as jy waarlik innerlike vrede en gemoedsrus ervaar, kan jy met gemak oor jou gedagtes heen beweeg sonder om soos Petrus te vrees dat jy sal verdrink.

So is die verhaal van Adam en Eva 'n mitiese manier om oor een van die heel grootste wonders van die evolusieproses te praat: Hoedat wesens wat duisende jare lank soos diere in onbewustheid geleef het, volkome een met die natuur, soos 'n trop rooibokke in die Wildtuin, op 'n tydstip selfbewustheid ontvang het. Juis dit wat die mens van die dier onderskei.

Maar hierdie geskenk was nie 'n onvermengde seën nie, want dit het meegebring dat die mens in teenstellings begin dink het: subjek en objek, jy en ek, ons en hulle, lewe en dood, goed en kwaad.

Dit alleen was genoeg om hulle uit die paradyslike bestaan te verdryf, want hulle het skielik net nie meer tussen al die onwetende diere ingepas nie. 'n Engel met 'n vurige swaard by die hek van die paradys was gans onnodig, want hierna sou hulle soos mense van alle geslagte worstel met goed en kwaad, reg en onreg, liefde en haat. Voortaan sou hul lewens meesal verdeel wees in verlede en toekoms en sal hulle selde "hier" wees.

Miskien is dit juis die doel van alle spiritualiteit – om in die nou te leer lewe.

Sien ook Deel 1.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.