.

Kan mens nog die waarheid glo?

Deur Coenie Nolte op 1 Augustus 2012

.

Hierdie bydrae het oorspronklik in die elektroniese nuusbrief Markplein verskyn.

Galileo Galilei: "All truths are easy to understand once they are discovered; the point is to discover them."

James Rebhor: "There's what people want to hear, then there's what people want to believe, there's everything else, then there's truth."

In 'n artikel in Volksblad (van 15 Mei 2012) skryf Johan Janse van Rensburg 'n artikel oor die waarheid. Volgens hom hou die bewering dat die waarheid relatief is en dat daar nie iets soos absolute onveranderlike waarhede is nie, nie water nie. Die Franse filosoof Jacques Derrida sit dus die pot mis as hy sê waarheid is altyd op die horison en dat dit nie net van persoon tot persoon verskil nie, maar ook van oomblik tot oomblik by elke persoon en daarom relatief is.

Volgens Janse van Rensburg is daar 'n weergawe van die waarheid wat die toets van die tyd deurstaan het en dit is die Christelike geloof wat op die beginsels van die Skrif gebaseer is. Soos God onveranderlik is, is sy Woord ook ewig. Christus is die weg en die waarheid. Hierdie waarheid word in die Skrif en die leerstellings van die kerk saamgevat en het die toets van 2000 jaar deurstaan.

Maar, sê Peter Vardy in sy boek The Puzzle of God, gelowiges van alle godsdienste is dikwels absoluut oortuig dat hulle die regte en enigste waarheid beet het. Of dit nou militante Hindoes in Indië, fundamentalistiese Moslems in Iran, ortodokse Jode in Israel, Protestante in Noord-Ierland, Baptiste in die suide van Amerika, die Opus Dei of Katolieke Magisterium in Rome is, almal is daarvan oortuig dat hulle en hulle alleen reg is, dat hulle waarheid die enigste regte waarheid is en dat al die ander verkeerd is of ten beste net halwe waarhede beet het.

Oor die eeue is daar al talle boeke oor die begrip "waarheid" geskryf. So skryf Felipe Fernández-Armesto in sy Truth – A History and a Guide for the Perplexed dat die maniere waarop mense oor die eeue die begrip "waarheid" probeer verstaan het, onder vier rigtings, tydperke of fases ingedeel kan word nl. die waarheid deur aanvoeling ("the truth you feel"), die waarheid soos aan jou vertel ("the truth you are told"), die waarheid volgens die rede ("the truth of reason") en die waarheid soos waargeneem deur jou sintuie ("the truth you perceive through your senses").

In 'n hoofstuk onder die opskrif "The God in the saddle" wat handel oor die waarheid wat jou vertel word, sê hy dat daar oor die eeue boeke was wat as vensters gedien het om mense na die waarheid te lei. Hy sê die gesag wat hierdie boeke as vensters na die waarheid verkry het is aan hulle verleen deur die instemming van die mense wat gekies het om in hierdie boeke te glo. Hierdie boeke word soms voorgehou as sou dit deur engele geskryf gewees het soos bv. die Boek van die Mormone of dat dit direk gedikteer is deur 'n goddelikheid soos bv. die Koran of dat dit deur die Heilige Gees geïnspireer is soos daardie dele van die Bybel wat nie deur God self op kliptafels geskryf is nie.

Dit bevat altyd vir diegene wat kies om die boeke te glo, "waarheid soos aan jou vertel" ("truth you are told") saamgestel, aangepas en beheer deur die formuleerders van dogma.

Fernández-Armesto sê in die geval van die Christendom is daar 'n geneigdheid om die verstaan of interpretasie van die Bybel oor te dra aan geakkrediteerde interpreteerders. Dit beteken dat "die Woord van God" slegs aan ons bekend is in die vorm waarin die vroeë Christelike Kerk dit vir ons gegiet en "verfyn" het. Hy sê die stelling is al gemaak dat as dit nie vir die Kerk was nie, die Bybel niks meer gesag as die fabels van Aesop sou gehad het nie. Dit sou beteken dat die waarhede van die Bybel ook net as waar aanvaar word deur diegene wat kies om dit as sulks te sien.

Wat geloofswaarhede betref is Derrida dan dalk reg en is dit 'n keuse wat elke persoon op 'n gegewe oomblik en onder bepaalde omstandighede kies om te glo. Kan mens dus nog die waarheid glo? Wie se waarheid? Watter waarheid?

Die antwoord hierop, lyk dit vir my, berus maar op 'n persoonlike keuse.

Coenie Nolte

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.