.

Kan die Christendom ‘n nuwe groeifase skep?

Deur Dr. Piet Muller op 1 September 2020

.

Daar bestaan 'n redelik algemene opvatting dat 'n mens 'n organisasie of instelling se toekoms kan voorspel deur na sy verlede te kyk. Dit is lankal nie meer die geval nie. Nuwe ontwikkelinge vind so vinnig plaas dat 'n organisasie nie meer deur die verlede "gestoot" word nie, maar deur die toekoms "getrek" word. Dit geld selfs vir 'n geloof.

Dikwels is dit ontwikkeling op 'n heel onverwante gebied wat 'n instelling se toekoms kan bepaal. Kodak, die wêreld se grootste vervaardiger van fotografiese film, het nie ondergegaan omdat iemand 'n beter of goedkoper film vervaardig het nie, maar omdat digitale kameras geen film meer nodig gehad het nie.

Net so het die ontwikkeling van die geboortebeperkingspil nie net vroue in staat gestel om hul eie vrugbaarheid te beheer nie, maar daarmee ook die kerk se morele beheer van menslike seksualiteit beëindig en 'n einde gemaak aan die patriargaat. Die #MeToo beweging wat hieruit ontwikkel het is tans besig om eeue-oue norme en opvattings om te dolwe, en die samelewing op 'n pad te neem waarvan ons nog nie die einde kan sien nie. Skaars 'n dekade na die ontwikkeling van Die Pil het feministiese teologie reeds in blom gestaan en meer en meer vroue het aangemeld vir opleiding as predikante en priesters; en is hulle besig om die aard en wese van die bediening te omvorm.

Land en Jarman het aangetoon dat die ontwikkeling van 'n organisasie, instelling, beroep of selfs 'n individuele lewe, nooit voorgestel kan word as 'n reguit lyn nie, maar as 'n reeks S-kurwes wat met mekaar skakel.

Die volgende illustrasie toon aan hoedat die S-kurwe die verskillende fases van 'n instelling se ontwikkeling en groei verteenwoordig. Fase 1 is die stigtingsfase, wat uit 'n wye verskeidenheid van moontlikhede bestaan. Enige instelling het op hierdie tydstip verskillende rigtings waarin dit kan ontwikkel, maar om fase 2 te bereik moet 'n keuse gemaak word tussen hierdie moontlikhede, en al die beskikbare energie op een punt saamgetrek word. Dit word dikwels bepaal deur praktiese faktore wat niks te doen het met die kernwaardes van 'n instelling nie. Van die moontlikhede wat op hierdie tydstip verwerp word, mag dus later 'n ideale oplossing vir nuwe omstandighede bied.

Die S-kurwe maak twee dinge duidelik: Om te oorleef moet 'n nuwe idee sterk wees en in 'n bepaalde behoefte voorsien, anders kom dit nie om die S-kurwe se eerste draai nie. Tweedens draai die kurwe noodwendig weer afwaarts, tensy betyds met 'n nuwe groeifase begin kan word. Menige suksesvolle instellings het juis ondergegaan omdat hulle te lank aan 'n "suksesresep" vasgehou en nie betyds begin vernuwe het nie. Hoe later 'n mens op die kurwe met vernuwing begin, hoe meer energie is nodig om 'n suksesvolle nuwe groeikurwe te laat slaag.

Sedert die ontdekking in 1945 van die sogenaamde Nag Hammadi-biblioteek, weet ons dat die jong Christendom na Jesus se dood uit 'n groot verskeidenheid groepe bestaan het, wat dikwels groot onderlinge verskille gehad het, maar binne die Christendom as 'n ortopraksie mekaar as geloofsgenote beskou het.

Dit het dramaties verander toe keiser Konstantyn op die toneel verskyn het. Hy wou sy ryk, verskeur deur geslagte se burgeroorloë, weer saambind en 'n eenheidskarakter gee, op die patroon van één God, één, keiser, één volk.

Daarvoor het hy 'n godsdiens nodig gehad wat nie net aansien onder gewone mense geniet nie, maar waarbinne die twee belangrikste gelowe van sy soldate (die Mithraïsme en die Sonkultus) "gekoöpteer" kon word.

Hiervoor was die verhelleniseerde Christendom van die Grieks- en Latynsprekende Christene van die Romeinse Ryk ideaal. Hulle het reeds heelwat elemente van die Mithraïsme oorgeneem, soos die maagdelike geboorte en die "afwas" van sondes deur die bloed van die offerdier, wat op sy beurt weer goed ingepas het by die Joodse agtergrond van die Christendom.

Konstantyn het ook suksesvol daarin geslaag om die Sonkultus met die Christendom te laat saamsmelt. Hierin het die visioen wat hy, glo gehad het, klaarblyklik 'n groot rol gespeel. Volgens sy toespraak aan sy soldate, voor die beslissende slag van die Milviese brug, het hy die vorige nag in 'n droom 'n teken gesien en 'n stem gehoor wat vir hom sê: "In hierdie teken sal jy oorwin."

Hy het sy soldate kruise (die Sonkultus se embleem) met hul spiese laat maak. Dit was uitstekende sielkunde wat sy uitgeputte maar besielde soldate 'n klinkklare oorwinning laat behaal het oor hul uitgerusde vyande, wat ook 'n meer strategiese posisie beklee het.

Hierdie stigtingsmite van die Roomse Christendom bevat klaarblyklik meer as net 'n greintjie van waarheid, aangesien die Christendom daarna sy bekende vis-teken verruil het vir die kruis van die Sonkultus (wat gevorm word deur 'n aanbidder se skaduwee, wanneer sy gesig met uitgestrekte arms na die son gekeer is). Waar die Romeinse martelkruis soos 'n hoofletter T lyk, het die sonkruis 'n gedeelte wat bo die dwarsbalk uitstaan en dit het die vir Christene aanvaarbaar gemaak. Boonop het Jesus die songod se titel, Sol Invictus (Son Onoorwinlik) ontvang.

Die voorwaarde vir hierdie wending, wat van die Christendom uiteindelik die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk gemaak het, was dat alle ander vorme van die jong geloof verwerp moes word. In die praktyk het dit beteken dat die opvattings van die oorspronklike Judese Christene verwerp is en dat nie een van hulle evangelies in die kanon opgeneem is nie, omdat die Christendom besluit het dat hy 'n Grieks-Romeinse godsdiens is en nie 'n Joodse geloof nie.

Die Joodse Christene is tussen twee klippe gemaal: aan die een kant die Jodehaat, wat in die Romeinse Ryk geheers het na die hardnekkige tweejarige beleg van Jerusalem, wat geëindig het in die vernietiging van die tempel en die verdrywing van die Jode uit die stad; én die nuwe opkomende rabbynse Judaïsme, wat godsdiens gebruik het as 'n manier om as 'n volk in die verstrooiing te oorleef. So het die Arameessprekende Christendom uit die hart en gedagte van hul Grieks-Romeinse geloofsgenote verdwyn. Daar is eers weer in die tweede helfte van die twintigste eeu ernstig kennis begin neem van die Joodse Christendom, wat Jesus as 'n profeet en wysheidsleraar beskou het.

Hierdie ingrypende hervormingsproses van die vyfde eeu was bepalend vir die volgende vyf eeue, hoewel die talle sinodes wat gehou is om brandende kwessies te bespreek, getuig van die voortdurende verstellings wat gemaak moes word om die kerk op koers te hou. Vyfhonderd jaar later was daar egter 'n "groot breekpunt", toe die Griekssprekende kerk en die Latynsprekende kerk se paaie geskei het. Die redes was sowel politiek van aard as teologies – wie was die belangrikste kultuursentrum, Rome of Konstantinopel? Dit was weer bepalend vir wie se leier die hoof van die kerk moet wees – Rome se pous of Konstantinopel se patriarg?

Die teologiese verskille kan 'n mens kortweg opsom as 'n verskil tussen 'n rasionele teologie en 'n teologie van mistiek. Dit het tot uiting gekom in twee sieninge oor wie Jesus was. Rome het geglo dat Jesus wat op Golgota 'n soendood vir ons sondes gesterf het, die middelpunt van die teologie moet wees.

Die Ortodokse kerk weer het die essensiële Jesus in die Jesus van die Berg van Verheerliking gevind, waar Jesus – ons oudste broer in die geloof – getoon het watter moontlikhede tot vergoddeliking daar in die mens opgesluit lê wat bereid is om sy lering en voorbeeld te volg.

Vyfhonderd jaar later sou die Derde Hervorming begin toe Luther sy vyf-en-negentig stellinge teen 'n kerkdeur opplak. Hierdie hervorming het hoofsaaklik oor twee sake gehandel: Die oppergesag van die Bybel teenoor die gesag van die kerk en die pous om leerstellings te bepaal; en natuurlik oor politiek. Die drukpers van Gutenberg het 'n burgery help skep wat kon lees en skryf.

Renaissance-mense wat in staat was om self die Bybel te lees en hul eie mening te vorm, en wat gebrand het om onder die juk van priesters, konings en adellikes uit te kom. En 'n groep van die adel wat weer onder die politieke gesag van die pous wou uitkom, wat die kerk deur eeue se slim diplomasie bekom het.

Die vertaling van die Bybel in verskillende volkstale het die vorming van nasiestate moontlik gemaak en 'n verskeidenheid van Protestantse kerke tot stand laat kom, wat die leiers van die Hervorming sekerlik nie voorsien het nie. Maar oor die algemeen is die teologie van Rome heelhuids aanvaar. So ook die bloedteologie van Anselmus van Kantelberg (gebore 1034), wat die feodale idee van restitusie op die teologie van toepassing gemaak het – hoe belangriker die persoon teen wie oortree is, hoe groter moet die vergoeding wees. Die mens het in so 'n mate teen God oortree, dat menslike vergoeding nooit goed genoeg kan wees nie, daarom moes God se eie seun sterf om die mensheid van die wraak van God te bewaar.

Die logiese gevolg van Anselmus se teologie sien 'n mens vandag in die teologie van sekere Protestantse kerke: Dat slegs die drie uur wat Jesus aan die kruis gehang het van enige betekenis was. Wat Jesus tot dan toe gedoen en onderrig het is eintlik van min belang.

Binne die Rooms Katolieke kerk was daar, volgens Richard Rohr, nog altyd ook 'n ortodokse minderheidsstandpunt,waarvan die Hervorming nie kennis geneem het nie. Dit is bevorder deur die Franciskaanse orde en deur die filosoof Duns Scotus Eriugena (9de eeu) verwoord: Dat God se skepping wesenlik goed was. Jesus se vleeswording en dood het die mens dus nie vrygekoop nie, omdat dit nie nodig was nie. Inteendeel het Jesus deur sy lewe die liefde en goedheid van God kom illustreer.

Nog vyfhonderd jare later gaan vandag se Nuwe Hervorming weer oor die vraag wie was Jesus en wat was sy verhouding tot God? Waarvan moet ons verlos word en hoe werk hierdie verlossing? Hoe het die Bybel ontstaan en waarom is sekere geskrifte opgeneem en ander nie? Die nuwe loot wat uiteindelik hieruit te voorskyn kom sal bepaal of die Christendom as geloof sal oorleef en wat sy toonaard sal wees.

Die Christendom beleef 'n volskaalse bestaanskrisis. Sy simboliek en mitologie – die maagdelike geboorte, die letterlike opstanding en hemelvaart, die afwassing van sondes deur die bloed van die Lam – juis dit wat die jong geloof in staat gestel het om staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk te word – het hul gesag en numineusiteit verloor en spreek nie meer die moderne mens aan nie. Waar die Hervorming van die sestiende eeu die gesag van die Bybel sentraal gestel het, word die Bybel toenemend gelees as "antieke dokument" en word indringende vrae gestel oor hoekom seker geskrifte in die Bybel opgeneem is en ander nie.

Dit alles op 'n tydstip waarin die sekularisering van die naoorlogse jare besig is om plek te maak vir 'n haas ongekende geestelike honger, terwyl globalisering meebring dat die Christendom op gelyke voet moet meeding met Islam, Boeddhisme en Hindoeïsme. Demografiese faktore veroorsaak boonop dat die Christendom teen 2040 nie langer die wêreldse grootste en dominantste godsdiens sal wees nie. Die Christendom bevind hom voor 'n onafwendbare keuse: Hervorm opnuut of sterf.

Die groot vraag is nou of die Christendom nie te lank aan sy eie suksesresep vasgehou het en die einde van die S-kurwe bereik het, en of dit nog oor genoeg energie beskik om 'n nuwe groeifase te begin? Die vraag is ook oor waar inspirasie vir 'n nuwe groeifase vandaan moet kom? Eintlik kan dit net van een plek af kom: Van daardie elemente van die jong geloof wat oor die hoof gesien is toe die "Roomse hervorming" plaasgevind het: Van die Judese Christendom vir wie die navolging van Jesus nie 'n ortodoksie was nie maar 'n ortopraksie; wat nog geweet het dat 'n mens se lewe nie omvorm word deur wat jy glo nie maar deur wat jy gereeld doen.

Ongelukkig het die gesamentlike druk deur die Romeinse staat en die Roomse kerk die spore van die oorspronklike Christene feitlik volledig uitgewis. Van die evangelies van die Hebreërs, Nasareners en die Ebioniete het daar net brokstukke oorgebly. Gelukkig is 'n koptiese vertaling van die evangelie van Thomas in 1945 by Nag Hammadi, in Egipte, herontdek. Ondanks die groot publisiteit wat die Dooie See-rolle geniet, wat in 1948 ontdek is, is die Nag Hammadi-ontdekking waarskynlik die heel belangrikste Bybelse argeologiese ontdekking van die twintigste eeu, en is dit steeds besig om ons begrip van die vroeë Christendom te verander.

Die evangelie van Thomas, wat waarskynlik teen 140 in die stad Edessa voltooi is, bevat drie, dikwels maklik onderskeibare, lae: 'n Judese laag wat waarskynlik reeds teen die jaar 40 in Jerusalem in omloop was en dus as die oudste geskrif van die Christendom beskou moet word. Dan 'n laag wat in Edessa ontstaan het en waarin Jesus se woorde vanuit die Judese platteland omgesit word in die stadskultuur van Edessa; en derdens 'n laag wat sy ontstaan in Alexandrië het en sterk asketiese kenmerke vertoon.

Volgens Quispel kom sowat 30% van die spreuke uit Thomas ook in die Logienquelle (Q) voor, hoewel in 'n meer "semitiese" vorm. Dit wil dus voorkom of die skrywer(s) van Q die "Jerusalemse spreuke", wat ook in Thomas se oudste laag voorkom, as 'n bron gebruik het.

Getrou aan Jesus die wysheidsleraar sit Thomas in sy eerste 22 verse 'n volledige "leerplan" vir geestelike groei uiteen en ontvang elke dissipel sy of haar lewenshuiswerk – om hom of haar self te leer ken – want wie alles ken maar nie homself nie weet niks. In vers 3 sê Jesus: "As julle predikante vir julle vertel die koninkryk is in die hemel, moet julle oppas dat die voëls van die hemel nie voor julle daar is nie. As hulle sê: 'Dit is onder die aarde', pasop dat die visse van die see nie voor julle daar is nie. En hy sê: 'Die koninkryk is in julle en rondom julle. As julle julself ken sal julle geken word en julle sal besef dat julle die kinders van die Lewende Vader is. Maar as julle julself nie ken nie leef julle in (geestelike) armoede en julle self is die armoede."

Hier het ons 'n spreuk uit die Judees-christelike tradisie wat hom duidelik uitspreek teen die materialistiese siening van hemel en hel. Die hemel is nie 'n plek waar 'n mens harp speel of in kore sing nie. Die hemel is in die manier waarop ons na die lewe en ons medemens kyk; dit is iets wat die geestelike reis in 'n mens se siel self uitgrif. Want sonder selfkennis kan 'n mens nie die innerlike koninkryk bereik nie.

Die 'koninkryk" was 'n welbekende tema in die Joodse denke. Volgens die profete het dit verwys na 'n tyd, iewers in die toekoms, wanneer almal in vrede en geregtigheid sal saamlewe. Vir baie van Jesus se tydgenote het die koninkryk beteken 'n staatkundige periode wat sal aanbreek as die onderdrukkende Romeine net uit Palestina verdryf kan word.

Jesus kom egter met die verrassende stelling dat die koninkryk "binne in julle" is. 'n Mens kan in 'n oogwink in die 'koninkryk' – of in die hel – wees. As 'n mens met liefde en deernis met iemand omgaan is jy klaar in die koninkryk en as jy vir iemand kwaad is, of iemand sleg behandel is die koninkryk inderdaad ver van jou.

Moet egter nie die politieke aspek van die 'koninkryk' miskyk nie: as jy iemand met deernis behandel, die hongeriges kos gee en leen aan mense wat nie kan terugbetaal nie, tree jy inderdaad presies op die teenoorgestelde manier op as die Romeinse bewind, onder wie die Jode so gely het. Jesus gee inderdaad aan sy dissipels die opsie om binne die Romeinse Ryk te lewe of binne die Koninkryk van die Vader. Dit is hierdie revolusionêre implikasie wat uiteindelik tot sy kruisiging gelei het.

Niemand wat met moderne oë na die Thomas-evangelie kyk kan die groot ooreenkoms met die dieptesielkunde van Carl Gustav Jung miskyk nie, waarskynlik omdat Jung self diep gedrink het uit bronne van die eerste twee eeue van ons jaartelling. Daar word vertel dat toe 'n vertaling uit die sogenaamde Jung-kodeks (een van die Nag Hammadi-kodekse wat deur die Jungstigting aangekoop is) aan die hoogs bejaarde Jung voorgelees is, het hy opgemerk: "Ek het my lewe lank hard gewerk om hierdie dinge te leer en hulle het dit al klaar geweet."

Vergelyk vers 22: Jesus het babatjies sien drink. Hy het vir sy dissipels gesê: "Hierdie babatjies is soos hulle wat die koninkryk ingaan." Hulle vra toe: "Moet ons dan die koninkryk soos babatjies binnegaan?" Jesus sê vir hulle: "As julle die twee een maak en as julle die binnekant soos die buitekant maak en die buitekant soos die binnekant, die bokant soos die onderkant en die onderkant soos die bokant; as julle manlik en vroulik een maak, sodat die manlike nie meer manlik en die vroulike nie meer vroulik is nie; as julle die liggaamlike oog vervang met 'n geestelike oog en die liggaamlike hand met 'n geestelike hand en as jy van jou loopbaan 'n lewensweg maak en jou uiterlike voorkoms vervang met die beeld van God in jou siel, dan sal julle die koninkryk binnegaan."

Soos Jesus sy dissipels aangemoedig het, het Jung sy pasiënte aangemoedig om die rasionele deel van hul psige en die onbewuste deel (die "bokant" en die "onderkant") met mekaar te versoen, en om 'n hieros gamos (heilige huwelik) aan te gaan tussen hul manlike en vroulike aspekte. Sprokies eindig immers waar die prins en die prinses of die koning en die koning met mekaar trou, maar dit is nie 'n huwelik tussen gewone mense nie, maar 'n huwelik wat binne 'n mens self moet plaasvind. So is die twee in een huis wat moet vrede maak nie jy en iemand anders nie, maar jy en jouself. (Thomas 48)

Jesus gebruik dikwels beelde uit die gewone lewe om 'n ongewone insig mee oor te dra – en keer op keer vang hy sy dissipels daarmee onkant. As hy na die drinkende babatjies verwys neem sy dissipels dit letterlik op, hoewel hy reeds al in vers 4 die beeld van 'n baba gebruik het om 'n onbevange gemoed, vry van alle dogmas en aangeleerde oordele en vooroordele mee voor te stel. Die "beginners mind" wat almal wat op 'n geestelike reis gaan behoort te hê, sodat hulle nuwe insigte kan verkry.

In hierdie vers moet sy dissipels nogmaals met so 'n radikale insig vrede maak: dat daar in die koninkryk van God nie man of vrou is nie. In ons wese is ons eintlik androgeen, manlik sowel as vroulik. Ons "vertolk" bloot die rolle van man en vrou in hierdie lewe. Om "heel" te word moet 'n man sy vroulikheid besef en aanvaar en 'n vrou haar manlikheid. 'n Onthutsende gedagte vir mans in 'n patriargale wêreld! Maar 'n gedagte wat Jesus se tydgenoot, die Joodse filosoof Philo van Alexandrië ook gehuldig het. Hy het volgehou dat 'n mens die woorde in Genesis 1 nie moet lees as "man en vrou het hy hulle gemaak" nie, maar "man en vrou het hy hom (Adam) gemaak."

Dit is opvallend hoe vrou-vriendelik die vroeë kerk was – of minstens die vroeë kerk in Alexandrië. Maar toe die kerk keiserlike beskerming verkry het, moes sy aanpas by die Romeinse houding oor vroue, en van toe af tot onlangs is die Christelike kerk gekenmerk deur 'n uiterse vrou-onvriendelikheid.

Ondanks die kerk se vrou-onvriendelikheid loop die wesenlike eenheid van man en vrou as 'n "ondergrondse stroming" deur die hele Middeleeue. In die Middeleeuse alchemie word die vereniging van man en vrou dikwels as 'n metafoor gebruik vir alchemiese proses waaruit die volmaakte "steen van wysheid" moet uitkristalliseer.

Die Alchemie, soos dit in sy suiwerste vorm bedryf is, was 'n manier om "ketterse" opvattings vir die Roomse kerk weg te steek. Die veronderstelde strewe van die Alchemie om lood en ander onedele metale in goud om te sit, was die pad waarop Jesus sy leerlinge in die Evangelie van Thomas geneem het. Die hoogste vorm van alchemie is immers om die onedele metaal van jou alledaagse lewe in goud om te sit.

Soos die Japanse Zenmeesters duisend jaar later sou doen, het Jesus dikwels ook koans of geestelike raaisels gebruik om sy dissipels 'n nuwe insig deur middel van 'n intense belewenis te laat kry. Soos die Amerikaanse essayis, Oliver Wendell Holmes, eenmaal opgemerk het: "A mind once stretched by a new idea, can never return to it's original proportions."

In vers 7 sê Jesus: "Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal 'n mens word. En vervloek is die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal 'n mens word."

Op sulke "koans", of enigmatiese spreuke, kan 'n mens nie 'n rasionele antwoord uitdink nie. Die idee is dat jy so lank daarmee moet saamleef dat die onbewuste later vanself 'n toepaslike antwoord laat opwel. Dink maar aan koans soos: "Wat is die geluid van een hand wat klap?", of: "Hoe het my gesig gelyk voordat my pa en ma gebore is?"

Hierdie "leeu"-spreuk uit Thomas is enige tyd net so enigmaties soos enige Zen-koan. As die bedoeling was dat Jesus se dissipels hierdie spreuk in hul gemoed moes laat rondmaal totdat die onbewuste daarop 'n antwoord gee, beteken dit ook dat alle dissipels nie ewe vinnig gevorder het op die spirituele pad nie, maar elkeen teen sy of haar eie tempo.

So enigmaties is hierdie spreuk dat talle vertalers aangeneem het dat die laaste reël 'n fout moet wees en dit vertaal het as "en die mens sal 'n leeu word".

Wanneer hierdie spreuk nie op sy eie beoordeel word nie, maar in samehang met die voorafgaande spreuke, is die betekenis hiervan heel duidelik: die leeu is 'n simbool van daardie dinge wat 'n mens moet oorwin voordat jy die koninkryk kan binne gaan. 'n Koptiese Manichese Psalm (CCLVII), wat ook in Egipte herontdek is, sluit hierby aan: "Hierdie leeu wat in my is, wat my elke oomblik besoedel, het ek verwurg en uit my siel uitgegooi."

Hierdie leeu verteenwoordig die grootste struikelblok wat iemand op die pad na geestelike groei en heelheid kan teenkom: Sy eie ego! As die mens die leeu (ego) oorwin, word die leeu 'n 'mens' (iemand wat sy ego met sy Self geïntegreer het); maar as die leeu (ego) die mens oorwin word dit ook 'n mens, maar 'n ego-gedrewe mens. Dit is 'n stryd waarmee elkeen van ons daagliks moet stry, en ons ken almal ook mense wat volkome deur die ego oorgeneem is.

Na drie dekades se intieme saamleef met die evangelie van Thomas het ek dit volkome aanvaar as rigsnoer vir my eie geestelike groei. Die neerslag daarvan was my nuwe boek, Op Pad, spiritualiteit vir 'n nuwe tyd. Daarin sit ek my siening uiteen hoe 'n nuwe groeipunt die Christendom weer 'n lewenskragtigheid kan gee. 'n Christendom wat sy ortopraktiese wortels herontdek het en wat 'n spirituele pad aanbied wat die hele psige kan genees en ontvorm en selfs 'n mens se behoefte aan mistiek kan bevredig; maar wat dit onnodig maak om 'n mens se brein uit rat te haal sodat jy dogmas kan glo wat teen alle gesonde verstand indruis.

Dit was ook die boek waaraan ek die heel langste geskryf het, omdat die meeste paragrawe gevoel het asof dit uit my gees uitskeur, omdat ek in die proses van soveel vertroude opvattings waarmee ek grootgeword het moes afskeid neem.

Thomas is nie 'n evangelie vir "oggendspiritualiteit" nie en 'n jongmens sal dit nie kan gebruik as 'n handboek vir sy "jeugjaar vir Christus" nie. Thomas is bedoel vir "middag en aand-spiritualiteit", wanneer 'n mens nie meer jou uitdagings buite jouself moet soek nie, maar binne jouself moet vind. Op Pad, spiritualiteit vir 'n nuwe tyd is dus ook bedoel vir die middag en aand van 'n mens se lewe, wanneer 'n mens met ander oë na jouself begin kyk – en begin gereed maak om afskeid te neem.

Johannes de Villiers, skrywer van die boek oor meditasie, Kalmte in die Malle Gejaag, beskryf dit as "'n aangrypende prent ... van hoe 'n spiritualiteit vir die 21ste eeu kan lyk. Enigeen wat 'n spiritualiteit met sowel diepte as relevansie nastreef, behoort van hierdie boek kennis te neem."

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.