.

Jy’s ook reg!

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 April 2014

.

Na 'n lesing en meditasie sessie het twee studente begin stry oor wat hulle tydens die sessie gehoor het. Elkeen was vas oortuig dat sy standpunt reg was. En na 'n uur se gestry het hulle besluit net die leermeester sou kon sê wie is reg en wie is verkeerd.

Na die aanhoor van die twee studente se verskillende argumente, het die leermeester vir die eerste student gesê: "Jy is reg!" Die student het triomfantlik na sy vriend gedraai en breed geglimlag. Maar voor hy kon iets sê het die leermeester weer gepraat, die keer met die ander student. "Jy is ook reg!"

Albei die studente was verslae. Hoe kon albei reg wees? Hulle het stil-stil die leermeester se studeerkamer verlaat. 'n Dissipel van die leermeester wat die heeltyd teenwoordig was, sê toe: "Ek is nou deurmekaar, die twee studente se sienings was radikaal uiteenlopend. Hulle kan mos nie albei reg wees nie?"

Waarop die leermeester toe antwoord: "Jy is ook reg!"

Hierdie storie maak nie vir ons logiese koppe lekker sin nie. Want ons werk met 'n reguit lyn van logiese beredenering. As A gelyk is aan reg, en B is gelyk aan verkeerd, is dit tog 'n logiese afleiding dat albei nie kan reg wees nie.

En ja, dit werk verseker so in die wêreld van meetbare, logiese en feitlike werklikheid. Maar die oomblik wat jy met die kreatiewe, poëtiese en innerlike verbeelding wêreld werk, kan twee uiteenlopende waarhede wel langs mekaar staan.

En dit is ook baie keer vanuit hierdie meervlakkige verstaan van die lewe dat daar soveel insigte na vore kom. Dink maar net aan een van die kampioen logiese denkers, Albert Einstein, se wonderlike woorde hieroor: "Imagination is more important than knowledge. Knowledge is limited. Imagination encircles the world ... Logic will get you from A to Z; imagination will get you everywhere."

Natuurlik is dit belangrik om te besef dat die twee nie teenoor mekaar staan nie, nee, dit vul mekaar eerder aan. Maar wanneer dit kom by dieper insig, is dit baie keer nodig om verby teenstellings en dualiteite van logiese denke te beweeg.

Presies dit waarna die Sufi, Jalaluddin Rumi (1207-1273) verwys met: "Out beyond ideas of wrongdoing and rightdoing there is a field. I'll meet you there." Want om regtig te kan verstaan, om dieper te kan beweeg – kan jy nie net met jou vlees oë kyk nie. Nee, jy moet met jou innerlike oë kyk. Want vlees oë kan net mooi of lelik sien. Reg of verkeerd, lig of donker.

Maar jou innerlike oë sien raak dat mooi en lelik is eintlik dieselfde, en hard bestaan as gevolg van sag, en donker en lig is 'n tweeling. En die sogenaamde onderskeid tussen reg en verkeerd is 'n onderskeid wat binne die waarnemer lê. Die onderskeid bestaan nie noodwendig binne die waargeneemde nie.

Ja slegs wanneer jy verby dualiteit kan kyk, word die misterie van die eenheid van alles sigbaar.

Maar omdat baie van ons nooit geleer is om ons eie dualistiese gedagtes te bevraagteken nie, verval ons so maklik in 'n geskepte idee van wat werklik is. Ons interpreteer, klassifiseer en definieer alles wat ons waarneem. En daarin lê baie keer ons krisis.

Want wat gebeur, is dat ons 'n storie skep vanuit dit wat met ons gebeur, wat ons sien en ervaar. En ons definieer hierdie storie dan as goed of boos, lekker of sleg. En so word ons stories ons werklikheid, ons tronk. 'n Tronk waarbinne ons emosioneel gevange gehou word.

Want in plaas daarvan om die lewe te leef, net soos dit in die oomblik ontvou – sonder om dit heeltyd persoonlik te wil maak – probeer ons deur ons stories om betekenis en verklarings te gee.

Seker daarom dat die Christen teoloog Søren Kierkegaard soveel keer gesê het: "Life is not a problem to be solved, but a reality to be experienced." Want die lewe se betekenis kom juis na vore in die leef van die lewe, en nie in die ewigdurende analisering daarvan nie.

Want is dit nie so dat elke keer wanneer jy jou lewe vanuit jou storie bekyk, jy begin ly nie? Byron Katie wat vir jare lank 'n depressielyer was het presies tot hierdie konklusie gekom: "When we believe in our thoughts, when we tell ourselves a story, we suffer. 'My husband doesn't respect me.' 'I should be thinner.' Those are stories. When there's no story, there's no suffering. When we stop opposing reality, action becomes simple, fluid, kind, and fearless."

Die lewe is eintlik baie eenvoudig. Dit bestaan uit 'n reeks natuurlike en spontane veranderings. Dis al. Geen plan, geen doel en geen rede. Die doel van die lewe is Lewe.

Dit is dus dwaas om die lewe se ewigdurende veranderings te probeer teenstaan. Wanneer jy wel probeer om dit te doen, beleef jy lyding en daardeur veroorsaak jy dit ook vir ander.

Die eerste stap tot 'n direkte, vreeslose en sinvolle lewe is dus om in elke oomblik saam met dit wat is te vloei. Presies soos 'n mens moet maak wanneer 'n seestroom jou intrek. Sonder enige weerstand. Veral weerstand in die vorm van gedagtes. Want gedagtes is die mens se manier om dit wat gebeur te interpreteer. Die spirituele skrywer, Jac O'Keeffe, stel dit so duidelik met: "In any moment, you are either observing effortlessly or you are believing your thoughts."

Die weg vanuit jou malende gedagtes of geskepte storie, is dus om te aanvaar wat is, sonder om heeltyd vanuit jou kop dinge te ooranaliseer. Slegs dan sal jy kan transformeer waarmee jy nie gelukkig is nie.

"All that we experience is subjective, there is no sensation without interpretation. We create the world and ourselves; only when we stop do we see the truth," so beskryf Deng Ming-Dao die weg uit ons koppe en ons geskepte stories.

Onthou dat die weg na innerlike vrede juis begin by jou keuse om nie meer in te koop op die illusie van jou storie nie. Dit is 'n ego-spel. 'n Spel wat jou verblind. 'n Spel wat jou 'n slagoffer maak van jou vooropgestelde idees en teorieë oor hoe die lewe veronderstel is om te wees. 'n Slagoffer van jou innerlike vrese en angs.

Anthony de Mello, 'n Christen leermeester wat bekend was vir sy transformerende retreats, het dit akkuraat vasgevat met: "Don't seek the truth; just drop your opinions about the truth. Drop your theories; don't seek the truth. Truth isn't something you search for. If you stop being opinionated, you would know."

Dan begin jy besef dat jy eintlik aan niks kan vashou nie. Lewe lig en sonder vrees vir verandering. Want as jy dit sou kon regkry, sal daar niks wees wat jy nie kan regkry nie.

Hoekom? Want dan beleef jy verligting (enlightenment). Dit waarna Eckhart Tolle verwys: "When you no longer believe everything you think, you step out of thought and see clearly that the thinker is not who you are." Jy's meer as die denker, jy is meer as jou storie van jouself en ja, jy is meer as jou prestasies, mislukkings en geskiedenis.

Ek sal nooit vergeet hoe ek die eerste keer bewus geword het van hierdie konstante gedagtestroom en ewigdurende ego-storie wat ek geglo het is die waarheid nie. Ek was op 'n sewe-dag Zen retreat. Die Zen leermeester was 'n Japannees vanuit die Soto Zen tradisie.

Deel van die verloop van die retreat was dat ons elke dag 'n persoonlike gesprek met die leermeester moes hê. Met een van hierdie een tot een gesprekke het hy vir my die volgende gesê: "Rather than continuing to seek the truth, simply let go of your views."

Dit het nie vir my op daardie stadium veel sin gemaak nie en toe ek hom vra wat hy daarmee bedoel het hy die volgende geantwoord: "Stop thinking in terms of good or evil. Don't try to stop thoughts from arising, only ask yourself: 'What is my own Mind?' Now, even when your questioning goes deeper and deeper you will get no answer until finally you will reach a cul-de-sac. You won't find anything within that can be called 'I' or 'Mind'. But who is it that understands all this? Continue to probe more deeply yet and the mind that perceives there is nothing will vanish; you will no longer be aware of questioning but only of emptiness..."

Ek antwoord toe dat as ek hom reg verstaan, beteken dit dat ek moet ophou deur my ego dink en leef, en daarom dat ek eers moet leeg word aan myself. Maar voordat ek myself op die skouer kon klop vir my wonderlike insigte, gaan hy verder, "...awareness of even emptiness will disappear, and then you will realise there is no You outside Mind and no Mind outside You ... Now for the first time you will discover that when you do not hear with your ears you are truly hearing, and when you do not see with your eyes you are really seeing. But remember Abel, don't cling to any of this, just experience it for yourself!"

So tipies Zen ... met 'beleef dit vir jouself.' Dit is natuurlik ook my pleidooi vir elkeen wat hier lees; dink vir jouself, ervaar vir jouself en belangrikste van alles leef eerstehands.

Ek wil vir eers hier stop, en net weer elkeen herinner dat niks wat ek tot op hierdie punt geskrywe het regtig in ditself enigiets beteken nie. Dit is slegs 'n vingerwysing na die eenheid en misterie van alles. En nou, staan op en gaan maak vir jouself 'n lekker koppie koffie. En stadig, slukkie vir slukkie geniet elke warm druppel. En in hierdie oomblik, weet alles is wel.

Byron Katie: "You are what exists before all stories."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.