Jy is ‘n ateïs!

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Mei 2012

(Soos ook in Rapport (Kop&Hart) gepubliseer is.)

"Dok, ek hoor jy is agnoosies ... is dit waar?"
"Jy bedoel seker agnosties..." begin ek antwoord, maar moet vinnig my gesig wegdraai om die glimlag, weg te steek. Ek haal diep asem en draai terug na hom. "Uhm, jammer daaroor. Jy bedoel seker agnosties?"
"Wat beteken dit?" vra hy nou kortaf.
"Wel dit beteken ek is nie heeltemal so seker van die dinge waaroor jy blykbaar doodseker is nie."
"Aah ha! Ek't so gedink!" roep hy triomfantlik uit. "So jy is eintlik 'n ateïs ... jy's net te bang om dit te sê. Nou gebruik jy groot woorde om dit weg te steek!"

Miskien moet ek maar hier stop. Want bogenoemde gesprek het nie verder 'n sinvolle verloop gehad nie. Dit het my egter weereens laat besef dat godsdiens vir meeste mense 'n emosionele, en nie rasionele saak is nie. En dit is juis een van die hoofredes hoekom die gesprek tussen kop (wetenskap) en hart (godsdiens) vasgeval het binne 'n emosionele 'is!' en 'issie!' bakleiery. 'n Onkreatiewe gesprek waar sekerheid en onsekerheid, skepping en evolusie, geloof en wetenskap opgestel word teen mekaar as opponerende en uitsluitende vyande.

Natuurlik is dit nodig om in 'n proses van oop dialoog en debat, gereëld die grense te toets. Dat mense sake wat vir hulle belangrik is moet beredeneer, hulle standpunte moet opweeg teen mekaar en eerlik soekend moet bly. Dit is gesond vir die oop en eietydse soeke na waarheid. Maar die oop gesprek tussen godsdiens en wetenskap kan uiteindelik net sinvol wees indien dit nie heeltyd teen mekaar opgestel word as opponerende waarhede nie.

Niks mag verabsoluteer word nie. Slegs dan kan daar werklik nuwe horisonne geskep en verken word. Want of jy 'n sterk opinie het of nie, elkeen van ons moet gedurig die moontlikheid ondersoek dat ons verkeerd kan wees. En dit noem 'n mens: om agnosties te wees.

Wat beteken 'Agnosties'?

Hierdie term "Agnosties" is 'n woord wat gebaseer is op die Latynse agnosco, wat beteken "Ek weet nie." Die Britse bioloog Thomas H. Huxley (1825-95) is van die eerste wat hierdie term bekend gemaak het. Maar die filosoof Sokrates het reeds eeue tevore hierdie konsep gebruik en verkondig.

Agnostici werk met onsekerheid, veral as dit kom by die gesprek tussen godsdiens en wetenskap. Hulle kies die middelgrond tussen hierdie twee sekerhede. Die Duitse filosoof Immanuel Kant (1724-1804), ook 'n agnostikus, het aangevoer dat die sekerhede waarmee godsdiens sowel as ongelowiges werk, nie eerlik is nie. Want wanneer daar oor God gedink word, bestaan daar tog geen werklike sekerhede nie: "We could neither prove nor disprove God's existence, because we had no reliable means of verification."

Let wel, met die term 'onsekerheid' verwys ek nie na 'n passiewe, oningeligte of besluitlose toestand nie. Nee, ek verwys spesifiek na die ingesteldheid van nuuskierigheid (die behoefte om meer uit te vind), sowel as 'n kritiese ingesteldheid om eie sekerheids-konstruksies te bevraagteken. Dalk dit waarna Bertrand Russell verwys met: "What is wanted is not the will to believe but the wish to find out."

Want kritiese selfdenke impliseer om gereeld buite die vaste en gegewe sekerhede te dink; die behoefte om self te beleef en ontdek. Hoekom is dit nodig? Om sin te kan gee aan alles wat ons verstaan van onsself, ander mense, die wêreld en die kosmos – dat daar, buite ons bevattings-vermoë, dalk 'n ontvouende geheim is wat ons God kan noem. Dit is tog die uiteindelike doel van hierdie soeke. En hierdie soeke na sin, is my definisie van spiritualiteit.

Ek besef dat agnostiese denkers dikwels met ongeloof gelykgestel word – selfs as sinoniem met ateïsme beskou word, soos my gespreksgenoot in die begin gewys het. Dit is egter nie korrek nie. Ateïsme is die ontkenning of verwerping van die bestaan van 'n God of gode. Dit gaan m.a.w. 'n stap verder as die agnostici, deurdat hulle met 'n sekerheid werk, wat geen moontlikheid laat vir God (of die goddelike) se bestaan nie.

As 'n agnostiese denker werk ek nie met so 'n sekerheid nie. Ek is nog oop vir ander moontlikhede om na te dink oor die bestaan van die goddelike. Daarom het ek geen probleem om vrylik van die mistieke tradisies (o.a. die Christelik Gnostiese, die Soefies van Islam), Boeddhisme en Oosterse denke, sowel as die wetenskap (in geheel), filosofie, sosiologie, kunste en sielkunde, gebruik te maak nie. Elkeen is 'n voertuig wat gebruik kan word in die verkenning van die vele landskappe van die waarheid.

Die agnostiese denke waarbinne ek tuis voel het dus meer te doen met kennis oor God as geloof in God. Toegepas op godsdiens, kan twee vorme van agnostiese denke onderskei word: 'n sterker en 'n swakker vorm. Die swakker vorm sê dat ons nie kan weet of God bestaan nie, maar dit sluit nie die moontlikheid uit dat Hy wel bestaan nie. Die sterker vorm sê dat dit onmoontlik is om te weet of God bestaan. Geen een van die twee sluit in beginsel geloof in God uit nie; jy kan nog altyd in God glo al kan jy nie sy bestaan bewys nie.

Daarom kan ek sonder huiwering sê dat ek eerder vanuit my liefde vir filosofie as 'n haat vir godsdiens werk. Dit gesê, nooit mag ons ons koppe afskakel om vir ons harte plek te maak nie, want dan maak ons geloof dom, en dom geloof is bygeloof. Ons moet alles bly ondersoek wat aan ons voorgehou word as die waarheid.

Dit is jammer dat ons, veral hier in Suid-Afrika oor geslagte en eeue heen net blootgestel was aan die teïstiese godskonsepte. En dat daar 'n valse sekerheid in ons koppe en harte kom lê het, wat dit byna onmoontlik gemaak het om in enige ander kategorieë oor God te dink en te praat. En die wat dit sou waag, was en is vinnig as ateïste gebrandmerk.

Wat beteken teïsme?

Wel, teïsme is die verstaan dat God 'n aparte persoon (gewoonlik manlik) is, wat bo in die hemel iewers op sy troon sit. 'n Persoon of wese met menslike emosies soos woede, jaloesie, haat, hartseer en spyt. Van dáár af maak hy met ons kontak en straf en beloon hy ons. Die verskil tussen die deïstiese en teïstiese godsbeeld is dat in eersgenoemde God gesien word as onbetrokke. Hy het die heelal geskep en die natuurwette ingestel en toe onttrek. Daarteenoor is die teïstiese God wel buite, maar is betrokke en in verhouding met sy skepping.
Maar met die ontwikkeling van die wetenskaplike wêreldbeeld waar daar nie meer 'n bo en onder in die heelal is nie en waar daar duidelike bewyse is van 'n evolusionistiese ontwikkeling oor miljoene jare, word dit toenemend moeilik vir denkende mense om nog aan 'n teïstiese God te glo.

Dink maar net aan hoe geloofstradisie buite die Christendom ons kan help met 'n nuwe verstaan. Byvoorbeeld die siening wat die Chinese Taoïste (spreek dit uit Daoïste) al eeue terug gehad het: "The ultimate was not a personalised god, therefore, but a transcendent mystery that could never be plumbed" of Boeddha wat geen tyd aan abstrakte formulerings rondom 'n persoonlike God toegelaat het nie.

En natuurlik help ateïste ons ook hierin. Ek het groot waardering vir moderne ateïste soos Richard Dawkins, Sam Harris, Stephen Hawking en die oorlede Christopher Hitchens. Want hulle is en was baie waardevol in die dekonstruksie van sogenaamde ou godsdienstige sekerhede. Maar dit beteken verseker nie dat ek oortuig is van die sekerhede waarmee hulle werk nie. En in hulle styl en aanslag is hulle ongelukkig net so onverdraagsaam seker en fundamentalisties soos die gelowiges wat hulle kritiseer.

Miskien moet die ateïste net weer gaan kyk na die beginsels waarop die wetenskap in geheel funksioneer. Dan sal hulle sien dat 'onsekerheid' die grondbeginsel van die wetenskaplike metode uitmaak – dit wat die voortdurende soeke stimuleer. Dara O'Brian verwoord dit so: "Science knows it doesn't know everything. If it knew everything, it would stop." Maar ek is dit wel eens met hulle as dit kom by hulle aanval op die teïstiese Godsbegrip.

Wat beteken ateïsme?

Want sien, ateïste is nie so seer net 'n algemene verwerping van die bestaan van God of gode nie. Hulle is eerder 'n spesifieke verwerping van 'n teïstiese Godsbeeld. Soos die evolusionêre bioloog Richard Dawkins dan ook in sy bekende boek The God Delusion skryf, dat hy nie 'n ateïs is nie maar eerder 'n a-teïs (A-teïsme beteken vir hom letterlik anti-teïsme) en vanuit dié standpunt veroordeel hy godsdienste.

Hierby sluit Karen Armstrong aan, in haar boek The Case for God: "Historically atheism has rarely been a blanket denial of the sacred per se, but has nearly always rejected a particular conception of the divine. At an early stage of their history, Christians and Muslims were both called 'atheists' by their pagan contemporaries..." En hiermee is ek eens, want ek glo ook nie meer in 'n teïstiese God nie. Biskop John Selby Spong slaan die spyker op die kop met: "I dismiss the supernatural, external God of theism. Theism and God are not the same. Theism is but one human definition of God."

Binne hierdie verstaan van ateïsme sal ek my vroeëre gespreksgenoot wel dit wil toegee, dat ek 'n a-teïs is. Maar ook agnosties met Christelike afwykings en selfs Christelik met ateïstiese afwykings. Dit is verseker nie net ek wat so voel nie! Daar is tans baie teoloë en Christene wat met my en Spong sou saamstem. Baie van hulle wil nog binne die Christelike spiritualiteit staan maar het reeds afskeid geneem van teïsme. Prof. Julian Müller is so 'n teoloog en Christen. Hy omskrywe sy verstaan as post-teïsme. Dit beteken presies wat dit sê: verby- of anderkant-teïsme. Hy en die soos hy, wil in nuwe taal en begrippe nadink en praat oor God. 'n Eietydse verstaan van die goddelike.

'n Nuwe ruimte

Ek kan my daarom gemaklik tuis vind binne die ruimte van die Müllers, Spongs en Armstrongs – maar sou ook graag saam met 'n Dawkins, Harris en George Claassens van die ander kant, wou nadink oor nuwe moontlikhede. Want solank ons mekaar kan toelaat en respekteer om met kritiese denke, en integrasie van ou verstaan en nuwe verstaan te kan soek na die waarheid, sal ons saam 'n beter kans hê om ietsie van die groot Geheim te ontdek.

Dalk is Osho reg met: "The new man I talk about, will not be Eastern or Western. It will not believe in this world only or that world only, it will believe in the totality of man. It will believe in the body of man; it will believe in the soul of man; it will believe in the spiritual. In fact, the new humanity will think spiritually and materiality as two aspects of one phenomena."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za