Jesus se hemelvaart

Deur Ralph Barnard op 1 Julie 2011

Ek plaas hierdie stuk [op my Facebook profiel] met die hoop om sterk kritiese kommentaar van o.a. my kollegas in teologie te kry. Help my dus reg, asb!

Lukas is die enigste skrywer wat Jesus se hemelvaart beskryf. Hy beskryf Jesus se weggaan as 'n "opneem in die hemel" (24:51).

50 Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51 Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52 Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53 Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Terwyl Lukas sy Evangelie hiermee afsluit, begin hy die verhaal in Handelinge met 'n uitgebreide weergawe van die hemelvaart.

1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2 tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3 Na sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4 Terwyl Hy 'n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: "Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5 Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word." 6 Toe hulle 'n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?" 7 Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld." 9 Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10 Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11 Dié sê toe vir hulle: "Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het." 12 Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, 'n sabbatsreis ver. 13 In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik vertoef het.

'n Paar verskille val op in die twee weergawes deur Lukas:

  1. In Lukas 24:50 vind die hemelvaart plaas direk na Jesus se verskyning aan die dissipels; in Handelinge 1 vind dit plaas nadat Jesus veertig dae met hulle vertoef het (1:3).
  2. Volgens Lukas 24:50-53 vind die hemelvaart plaas buite Jerusalem, op pad na Betanië; maar in Handelinge 1:6-11 vind dit plaas by die Olyfberg vlak by Jerusalem.
  3. In Lukas 24 hef Jesus sy hande op en seën hulle terwyl hy van hulle "weggegaan" het (24:50-51). Hierdie seën ontbreek in Handelinge 1, omdat hulle reeds geseën was met die belofte van die Gees (Hand. 1:5, 8).
  4. Die opdrag om getuies te wees en die belofte van die Gees vind volgens Lukas 24 plaas terwyl hulle nog in Jerusalem is (24:47-50). Maar in Handelinge 1 vind dit plaas direk voor Jesus opgeneem word vanaf die Olyfberg (1:8-12).
  5. In Handelinge staan hulle vasgenael na die hemelruim en verskyn daar twee mans in wit klere om hulle aan te moedig om na Jerusalem te gaan (1:9-11). Maar in Lukas 24 gaan hulle dadelik na Jerusalem waar hulle in die tempel gaan aanbid (24:53) en is daar geen vermelding van so 'n verskyning nie.
  6. Waar die dissipels in Lukas 24 dadelik na die tempel gaan, vertel Handelinge 1:13 dat hulle direk na die bovertrek gegaan het waar hulle gewoonlik bymekaar gekom het.
  7. In Lukas 24 en Handelinge 1 meld Jesus niks van 'n terugkeer na die aarde nie. Maar die twee manne kondig aan dat Jesus sal terugkeer (Hand. 1:11).

Die feit dat Lukas se beskrywing van Jesus se hemelvaart op verskeie punte verskil in sy Evangelie en Handelinge, is 'n sterk aanduiding dat hy nie met 'n historiese berig besig is nie, maar besig is om teologiese kommentaar deur te gee aan die destydse lesers. En ons moet onthou dat beide sy Evangelie en Handelinge aan dieselfde gehoor gerig is. Hulle sou die verskille tog agtergekom het!

Met hierdie twee verhale sluit Lukas aan by Ou-Testamentiese tradisies, tradisies uit die apokriewe boeke en ook bekende legendes uit die internasionale wêreld van destyds. Hy sluit veral aan by drie Ou-Testamentiese tradisies waarmee die Jode bekend was: die "hemelvaart" van Elia (2 Kon. 2:11), die "wegneem" van Henog (Gen. 5:24) en Moses se ontvang van die Wet op die berg Sinai.

Kom ons kyk eers na die hemelvaarttradisies.

Elia se hemelvaart word geteken in die styl van 'n teofanie (godsverskyning) en kan dus nie as 'n letterlike hemelvaart bestempel word nie. Die motief van die skrywer is om Elia uit te beeld as iemand wie se status deur God bevestig word, terwyl sy wegneem plek maak vir Elisa as opvolger.

Die latere verhaal oor Henog se "wegneem" is deel van die priesterlike verhale rondom die Babiloniese ballingskap van Juda. Henog se verheffing as iemand wat werklik met God gewandel het, is opgeneem in die geslagsregister van die fiktiewe karakter Adam. Terwyl die een naam ná die ander gelys word, spring Henog as't ware uit as troosboodskap dat die mens tog in 'n noue verhouding met God kan lewe: in so 'n intieme verhouding dat sy dood as 'n "wegneem" deur God beskryf word.

Beide dié Ou-Testamentiese verhale dui dus nie op 'n letterlike "hemelvaart" nie. Trouens, tot op daardie stadium was die hemel (die uitspansel bokant die aarde) gereken as uitsluitlike terrein van God: 'n plek wat geen mens kon betree nie (soos bevestig word in Genesis 11 se verhaal van die toring van Babel).

Fanie Herholdt wys ook op ander hemelvaartsverhale uit die antieke tyd: in die apokriewe boeke (Esra, Barug en Moses) en in buite-Bybelse bronne (Herakles, Alexander die Grote en Keiser Augustus). Hy onderskei hemelreise (gewoonlik roman-agtige sielevlugte as deel van die verering van heldefigure) van ontrukkingsverhale:
"Laasgenoemde verhale het twee funksies, naamlik (1) om waardering vir die ontrukte leier uit te spreek en (2) om die betekenis van dié leier vir die wat agter bly en ten opsigte van die toekoms te beklemtoon. Dit is met ander woorde verhale wat bewus is van die hartseer van die geleentheid sowel as die onsekerheid /uitdaging van die toekoms (let byvoorbeeld op Elisa se reaksie op Elia se hemelvaart in 2 Kon. 2:12-18)."

Lukas se lesers was Grieks. Daarom sluit Lukas aan by 'n mitologie wat hulle met die Jode gedeel het: die hemelvaart. So sluit hy sy Evangelie af en só begin hy die boek Handelinge ook. As dit dan so is dat Alexander die Grote en keiser Augustus so vooraanstaande was dat hul lewenseinde as 'n hemelvaart beskryf is, kom dit Jesus des te meer toe om sy einde so te beskryf, argumenteer Lukas. Daarmee wou hy sê dat die Jesus oor wie hy skryf, niks terugstaan vir groot internasionale leiers nie.

Wanneer Lukas met sy verhaal voortgaan in Handelinge, sluit hy aan by Jesus se hemelvaart en ook by die opdrag om te wag op die gawe van die Gees (Hand. 1:2-5). Die dissipels se vraag oor wanneer Jesus die "koninkryk vir Israel" gaan oprig, antwoord Jesus met 'n herhaling van die belofte van die Gees (Hand. 1:6-8). Dit is asof Jesus sê: Ek het gedoen wat Ek moes. Nou moet julle in die krag van die Gees die werk voortsit.

John Maile ondersteun laasgenoemde aksent. Hy gaan 'n treetjie verder en koppel die verwysing na die veertig dae wat Jesus by sy dissipels vertoef (Hand. 1:3) en sy opdragte op die Olyfberg (1:11) met Moses se bestyging van die berg Sinai om God se wet/wil aan sy volk bekend te maak. Maar anders as Moses wat die wet ontvang en dan terugkeer na die volk, sê Maile, is Jesus teenwoordig by sy mense om hulle instruksies te gee voor Hy hulle verlaat. [iii]

Die daaropvolgende beskrywing van Jesus se hemelvaart op 'n wolk (1:9), is 'n manier om te sê dat Jesus met Goddelike erkenning weg is van hulle – net soos in die verhale van Henog en veral Elia. Hierdie beeld wil eintlik sê: onsigbaar, onverklaarbaar, onbeskryflik.

Ongelukkig het 'n groot deel van die Christendom daarby vasgehaak dat Jesus weer sou terugkom op 'n wolk net soos Hy weggevaar het (Hand. 1:11). Maar dan letterlik, en nie volgens die beeldspraak wat duidelik daaraan gekoppel is nie! Selfs 'n bekende teoloog en kerkman soos dr. Coenie Burger wat glo aan die liggaamlike hemelvaart van Jesus. Burger se ignorering van wat hy noem "akademies-gerekende Nuwe-Testamentici" hang saam met sy oortuiging dat hulle "baie diep onder die invloed van 'n modernistiese lewensbeskouing gekom het, wat maak dat hulle die verhale van die Nuwe Testament baie krities lees en groot dele van die klassieke belydenisse van die Christelike kerk nie aanvaar nie."

Trouens, Burger gaan so ver om te sê: "Daar is in feitlik al die boeke van die Nuwe Testament óf direkte óf indirekte verwysing na die hemelvaart." In hierdie verband verwys hy onder andere na Jesus se talle verwysings in die Evangelies dat Hy sal "weggaan", na Filippense 2:1-11 en die Hebreërbrief wat "wemel van verwysings na Christus se hemelvaart." Hierteenoor is Adrio König eerlik genoeg om daarop te wys dat die ander drie Evangelies géén verwysing na die hemelvaart het nie.

Die tekste waarna Burger verwys om sy vreemde standpunt te onderskryf, is tipies van die ou soort dogmatiek wat nie veel respek toon vir eerlike eksegese nie. Selfs die leser sonder 'n akademiese agtergrond kan aanvoel dat dit uiterste teksdwang is.

Burger en mededenkers beskou die hemelvaart van Jesus as deel van die heilsfeite van die Christelike geloof. As gesoute skrywer weet hy egter dat 'n dogma nie net op twee tekste gebou kan word nie. Is dit waarom hy probeer om sulke tekste in verband te bring met die hemelvaart?

Uit die kerkgeskiedenis is dit duidelik dat die hemelvaart van Jesus nooit in die vroeë kerk deel uitgemaak het van die sentrale waarhede van die Bybel nie. Gerhard Bothma wys daarop dat die vroegste afsonderlike verwysing na Hemelvaart in die vroeë kerk se prediking, aangetref word in 386 (en ook in 398) by biskop Chrysostomos. Eers sedert die vyfde eeu is dit algemeen as 'n afsonderlike fees gevier. Dit is hieruit duidelik dat die hemelvaart nie in die vroeë kerk so hoog aangeslaan is dat dit gereken is as inherente deel van die vroeg-Christelike boodskap nie.

Vir adventiste is die fisieke, historiese hemelvaart van Jesus belangrik, want dit dui op die "manier" waarop die wederkoms van Jesus sal plaasvind: Hy sal liggaamlik weer op 'n wolk terugkeer. Maar daarmee gee hulle die werklike betekenis van die hemelvaartverhale prys, naamlik:

Ons is in staat om grense te deurbreek en moenie toelaat dat mense en kultuuropvattings – soos die destydse wêreldbeeld van 'n ontoeganklike hemel daarbó – ons beperk nie.

Ralph Barnard

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za