Jesus, kindertyd en fundamentalisme

Deur Douwe van der Zee op 1 Februarie 2012

"You may give them your love but not your thoughts
For they have their own thoughts
You may house their bodies but not their souls,
For their souls dwell in the house of tomorrow, which you cannot visit, not even in your dreams.
You may strive to be like them, but seek not to make them like you.
"

Kahlil Gibran, The Prophet

"In our own lives, even if we fight against racial injustice, even if we fight for world peace, even if we fight for a sustainable world, if we are using our power over the children in our lives, we are perpetuating injustice and oppression. We are setting children up to accept a world that is based on the more powerful controlling the less powerful."

Teresa Graham-Brett, Parenting for Social Change

Ek is gefassineer deur die geweldige reaksie op die verskyning van die boek Hier Staan Ek. Ek het gedog met Sakkie en Abel en die manne se dinge moes dit nou al gaan lê het, maar dit het nie.

Iets wat vir my byna sonder uitsondering in die kritiek opval is die byna algehele gebrek aan rasionele argumente en die geweldige oordelende aard daarvan. Dis natuurlik kenmerkend van wat ons 'fundamentalisme' noem. Waarom sou dit wees? Waarom sou dit wees dat mense wat andersins baie rasioneel voorkom, alle skyn van rasionaliteit verloor wanneer dit veral by godsdiens (maar ook by ander dinge soos die wetenskap) kom? Waarom is dit vir so baie so moeilik om eers die idéé te aanvaar dat wat ons as kinders geleer het dalk nie alles waar is nie?

A Course in Miracles se beskrywing van die 'ego' bied vir my die beste verklaring. Sodra ons met iets gekonfronteer word wat ons eie sin vir identiteit – dit wie ons dínk ons is – bedreig, is ons geneig om emosioneel (aggressief) te reageer. Dan doen ons dikwels twee dinge: ons projekteer ons emosies op ander, en ons probeer op een of ander manier 'n 'finale gesag' daarby betrek om ons standpunt te 'bewys'. Vir godsdienstiges is dit God en vir nie-godsdienstiges dikwels die wetenskap. Dit is volgens my ook waarom Jesus volgens Matteus 7:1 gesê het: "Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word."
Daar is vir my ook 'n ander verklaring – een waar ons geen geskrifte by hoef in te sleep nie, maar wat min of meer op dieselfde neerkom.

Wanneer ons as klein kinders die wêreld binnekom, is ons brein nog lank nie volkome ontwikkel nie. Ons is volkome van veral ons ma's afhanklik en vertrou inherent dat aan al ons behoeftes voorsien sal word – borsvoeding op aanvraag, baie affeksie, vashou, speel en so meer. Tog is ons bewussyn van so 'n aard dat ons alles om ons inneem en internaliseer. Nie-verbaal verstaan ons dinge lank voordat ons hulle kan verbaliseer. Die hoeveelheid inligting wat ons verwerk het teen die tyd dat ons rasionele brein op ongeveer sesjarige ouderdom ontwikkel, insluitend die vermoë om verskeie tale terselfdertyd te kan aanleer, is oneindig meer as wat ons ooit later met ons rasionele brein kan verwerk. Die bewussyn van klein kinders is vir my niks minder as 'n wonderwerk nie – iets wat geen wetenskaplike nog ooit regtig kon verklaar nie.

Deur die eeue heen nog is kinders as die besittings van hul ouers gesien wat inherent 'sleg' is en 'goed' gemaak moet word. In die godsdiens het ons gehoor, en hoor ons nog steeds dat ons "in sonde ontvang en gebore" is. Die wetenskap is nie veel beter nie. Freud was maar heel negatief oor die menslike potensiaal. "Be warned that if you wish, as I do," skryf Richard Dawkins, "to build a society in which individuals cooperate generously and unselfishly towards a common good, you can expect little help from biological nature. Let us try to teach generosity and altruism, because we are born selfish." Daarmee gee hy natuurlik presies dieselfde dubbele boodskap as die godsdiens: "Jy moet goed wees, maar jy kan nie, want jy is inherent sleg."

In direkte teenstelling daarmee sê Jesus volgens die Evangelie van Matteus in die Bybel, "Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle."

In haar boek The Absorbent Mind skryf Maria Montessori destyds: "Children unaided can construct an orderly society. For us adults, prisons, police, soldiers and guns are necessary."
In The Prophet sê Kahlil Gibran: "You may strive to be like them, but seek not to make them like you."
Die Boeddha het skynbaar op 'n keer gesê: "Die kinders wat jy daar sien speel verstaan waarvan ek praat."

Ons het hier met twee direk teenoorstaande wêreldsienings te doen. Geen wonder nie dat Joseph Chilton Pearce in sy boek The Biology of Transcendence skryf, "We invariably build religions around our spiritual giants or use them to support a religion in order to avoid the radical shift of mind and disruption of culture these rare people bring about, shifts we interpret, ironically, as threats to our survival and thus instinctively reject." Maar waarom sou ons Jesus se woorde (onbewustelik) as 'n bedreiging ervaar? Dit het te doen met ons vroeë kindertyd.

In sy boek The History of Childhood: The Untold Story of Child Abuse wys Lloyd DeMause daarop dat, in die tyd toe Jesus geleef het, kinders nie in die Midde-Ooste (of elders) as mense bestaan het nie. Hulle is gesien as 'goed' wat aan hul ouers behoort en waarmee die ouers kan doen wat hulle wil (en dit ook gedoen het). Hulle is dikwels doodgemaak (veral dogters), doodgeslaan, weggegooi of verkrag sonder dat mense 'n ooglid verroer het. Vanuit ons moderne konteks sien ons dit ('n bietjie) anders, maar om in daardie tyd te sê dat ons die belangrikste ding in die lewe van húlle kan leer, was verregaande. Dalk is dit hoekom Paulus so verskriklik gewroeg het oor die idee dat jy absoluut niks hoef te doen vir jou verlossing nie, en hy en die latere kerk die boodskap maar so 'n bietjie omgedraai het sodat jy wél iets moes doen om 'gered' te word!

In sy boek Parenting for a Peaceful World haal Robin Grille heelwat navorsing aan wat daarop dui dat godsdienstige fundamentalisme, patriargie, onderdrukking van vroue, onderdrukking van (veral vroulike) seksualiteit en kindermishandeling in mindere of meerdere mate altyd saamgegaan het en nog steeds saamgaan. In byna al die gevalle waar regerings die slaan van kinders op skool, om nie eers te praat van in die huis nie, verbied het, het die weerstand van godsdienstige groepe gekom.

Die bekende Duitse digter en filosoof Wolfgang van Goethe het destyds gesê, "Wat is die moeilikste om raak te sien? Dit wat reg voor ons oë is." Met enkele uitsonderings het ons deur die eeue nooit regtig die aard van die bewussyn van klein kinders verstaan nie. Ons het klein kinders as ongevormde grootmense gesien. Maar was ons dan nie sélf kinders nie? Dis nou juis die ding. In ons samelewing word daar geweldig klem op rasionele denke gelê. En tog, hoeveel mense is daarvan bewus dat die deel van die brein waarin rasionele denke gevestig is eers op omtrent sesjarige ouderdom ontwikkel? Die inligting wat ons in die eerste paar jaar van ons lewe internaliseer is oneindig baie meer as wat ons rasionele brein ooit later kan hanteer. Al hoe meer wetenskaplikes begin besef dat daar nie 'n manier is waarop die fisiese struktuur van die brein self al daardie inligting kan hanteer nie, maar dit daar gelaat.

Met die ontwikkeling van die rasionele brein, veral in die konteks van ons 'rasionele' samelewing, gebeur daar nou iets baie belangriks: ons verloor die bewuste gewaarwording van meeste van wat ons as klein kind ge-internaliseer het. Ons word onbewus van wat die grondslag van ons lewe geword het waaruit meeste van ons toekomstige gedrag sal voortspruit. Dis hoekom ek 'rasioneel' in aanhalingstekens gesit het: ons dink ons is rasioneel, maar eintlik rasionaliseer ons dalk meeste van die tyd die gedrag wat onbewustelik uit ons kindertyd voortspruit. Dink jouself vir 'n oomblik in die posisie van 'n baie klein kind. Jy is volkome afhanklik en verwondbaar. Van nature vertrou jy dat jou ma weet wat om te doen en jou die sorg sal gee wat jou toekom. In pleks daarvan om haar intuïsie te vertrou, luister jou ma egter vir die 'deskundiges' en los jou alleen wanneer jy gaan slaap.

Jy word wakker en begin huil – jou enigste vorm van kommunikasie op daardie ouderdom. Jy huil en huil, maar niks gebeur nie. 'n Klein kind kan nie haar ouers blameer nie, so wat gebeur? Sy voel sy is nie goed genoeg nie, want haar ma reageer nie op haar natuurlike manier van kommunikasie nie. Uiteindelik raak hy aan die slaap met 'n diep gevoel van waardeloosheid. Miskien leer jy mettertyd dat, as jy histeries begin skree en te kere gaan, jou ma uiteindelik wél reageer. Nou raak dit 'n gedragspatroon. Jy kom agter jou ouers hou nie daarvan nie, maar hoe anders gaan jy hul aandag kry? As daar lank genoeg niks gebeur nie, leer jy later dalk om nie te huil nie. Die pyn daarvan is ondraaglik, en jy begin in jouself terugtrek. Jy sluit jou van die wêreld om jou af. Miskien noem iemand jou later 'outisties' en probeer allerhande goed om jou weer 'normaal' te kry.

En dan kom die ergste. Die einste mense op wie jy van nature al jou hoop plaas en vir wie jy nie anders kan as om lief te wees nie, rand jou aan! Dis natuurlik nie hoe húlle dit ervaar nie, maar hoe kan jy weet hoe húlle dit ervaar? Vanuit jou verwysingsraamwerk, waar die gebrek aan reaksie op jou natuurlike pogings tot kommunikasie jou alreeds onseker gelaat het, is dit absoluut onverklaarbare aanranding.
Die gebrek aan die aanraking en affeksie wat 'n kind van nature verwag kan net so traumaties, of selfs nog meer traumaties wees.
Jy kan nog nie rasioneel daaroor dink nie, maar jy weet net die pyn is onuithoudbaar en jy wil dit nie hê nie. Wat nou gemaak?
Wat kan jy anders doen as om dit net te probeer wegdink, m.a.w. te ontken?
Dis presies wat gebeur. Seker omtrent alle kinders ontwikkel 'n soort sielkundige beskermende laag waarin hulle hul pyn – en daarmee hul outentieke self – ontken. Sodoende ontwikkel ons dan vanuit hierdie beskermingslaag baie van ons spesifieke gedragspatrone – manipulasie, dominansie, teruggetrokkenheid, aggressie of wat ookal vir ons die beste strategie was om ons teen verdere pyn te probeer beskerm. Ons ontwikkel 'n persoonlikheid wat oorspronklik daarop gerig was om die liefde en aandag te bekom wat ons as klein kinders nie gekry het nie, maar wat later in ons lewens disfunksioneel kan raak. Baie – die meeste? – van wat ons leer is alles behalwe wat ons ouers dínk of wil hê ons moet leer.

My boetie gryp 'n stuk speelgoed by my. Ek slaan hom. (Is dit dan nie wat my pa met mý doen as ék iets verkeerd doen nie?) My pa sien my en skree op my omdat ek my boetie slaan. Huilend van frustrasie probeer ek verduidelik. "Jy moet leer om te deel," sê my pa. "Vra jou boetie om verskoning." Het ek geleer om te deel? Of het ek eerder geleer dat ek nie 'n kans het teen grootmense nie, dat daar geen regverdigheid in hierdie wêreld is nie, en dat ek voortaan moet sorg dat ek nie uitgevang word nie? As ek openlik en eerlik vir my ouers vertel wat ek gedoen het, maar hulle dikwels met woede daarop reageer, is lieg nie die natuurlikste reaksie moontlik nie? En as my ouers dan vir my sê ek moenie lieg nie, is my enigste opsie nie maar om só te lieg dat hulle dit nie agterkom nie? Dis pynlik om dit te erken, maar dis wat met my eie seun gebeur het. Met die beste bedoelings prys ons ons kinders as hulle iets doen waarvan ons hou. Hulle straal van tevredenheid. Ons voel goed. Het ons daarmee 'n 'positiewe' gedragseienskap versterk? Of leer ons kinders baie gou met watter gedrag hulle die bietjie aanvaarding en liefde kry waarna hulle so smag en met watter gedrag nie, en om te sorg dat hulle nie uitgevang word wanneer hulle die dinge doen waarvoor hulle nie aanvaarding kry nie? Is ons 'voorbeeldige' kinders nie dikwels maar die kinders wat die kuns vervolmaak het om in die teenwoordigheid van grootmense soet te lyk, om dan later op Margate of elders uit te haak nie?

Wanneer 'n klein kind, soos enige normale klein kind, voortdurend verken, maar elke nou en dan hoor "Moenie daaraan raak nie!" of "Oppas, jy gaan seerkry!" of "Moenie dit doen nie!" of iets dergeliks, leer daardie kind om te onderskei tussen waaraan sy mag raak al dan nie, of wat hy mag doen al dan nie, of leer hulle dat spontane ontdekkingsgedrag – die basis van kreatiwiteit – so dikwels gestraf word dat dit beter is om maar in 'n hoekie te gaan sit en glad nie meer te verken nie? Veral as sy dan as 'n 'soet' kind beskou word? Al hierdie dinge gebeur in die wonderbaarlike toestand van bewussyn wat Jesus die 'koninkryk van die hemel' genoem het. 'n Bewussyn waarin ons letterlik alles om ons sonder oordeel absorbeer en internaliseer, sonder om te onderskei tussen 'goed' en 'kwaad' ("moenie oordeel nie"!). Die gevolg is dat ons teen die tyd dat ons so sewe jaar oud is, ons outentieke self verruil het vir 'n (onderdrukte) vreesbevange konsep van wie ons dínk ons is – of behoort te wees. Ons het verander van natuurlik na normaal. Die probleem van daardie konsep van onsself – die ego of 'eie ek' – is dat ons dit self gemaak het. Dis eintlik 'n illusie. Die arme Paulus en miljoene kerkgangers na hom het hul (ons) self voos baklei teen daardie ego. En wat gebeur as jy teen 'n illusie baklei? Hy word al hoe sterker. Vir duisende jare al val ons mekaar se egos aan, en maak hulle daardeur al hoe sterker.

Dis veral Alice Miller wat deur haar jarelange ervaring van kindermishandeling duidelik aangetoon het dat kinders wat mishandel is – en dit sluit kinders in wat verkrag, geslaan, gedreig of gemanipuleer is – skynbaar vergeet van alles wat met hulle gebeur het en juis die persoon of persone wat hulle mishandel het verafgod. Sy het daarop gewys hoe dit dikwels in haar spreekkamer uitgekom het dat mense wat aanvanklik daarop aangedring het dat hulle 'n gelukkige kindertyd gehad het, as kinders eintlik glad nie so gelukkig was nie. Ook grotendeels as gevolg van Alice Miller se werk is dit nou redelik algemeen bekend dat mense wat as kinders mishandel is, geneig is om hul eie kinders te mishandel. Dit strek baie verder as dit. Kinders wat deur hul ouers geslaan word, leer dat geweld aanvaarbaar is. Wanneer hulle daarmee saam leer dat God ook straf deur mense – insluitend sy eie seun – dood te maak, word geweld vir hulle normaal. Navorsing het aangetoon dat die reaksie meestal een van twee uiterstes is: die kind word later hipersensitief ('n 'slagoffer') of word self gewelddadig en onsensitief vir ander se gevoelens ('n 'onderdrukker'). As 'n mens die kindertyd van 'n paar van die mense wat by Vlakplaas en sulke dinge betrokke was of gifgasse ontwikkel het gaan navors, is ek oortuig daarvan dat dit gaan uitkom dat hulle in 'n baie outoritêre omgewing grootgeword het waar 'lyfstraf', en dalk meer, die norm was.

Robin Grille noem twee studies van mense wat onthou het dat hulle as kinders só geslaan is dat hulle gehospitaliseer moes word. In die een studie was slegs 43% en in die ander 60% van hulle van mening dat hulle mishandel is! Ek onthou 'n keer in die kerk dat die dominee vir die kinders gevra het: "Hoekom slaan jou pa jou?" 'n Seuntjie het opgestaan en gesê: "Omdat hy lief is vir my!" Dis natuurlik die antwoord wat die dominee wou gehad het en waartoe hy min of meer die kind gelei het. Met so 'n konsep van 'liefde', hoe moet die kind ooit die liefde waarvan Jesus gepraat het – volkome vergifnis sonder oordeel – verstaan? Dit kom daarop neer dat die Christelike godsdiens, om nie eers van Islam te praat nie, mense deur die eeue só gedesentiseer het dat ons dit as absoluut normaal aanvaar dat die einste God wat homself 'Liefde' noem nodig het om sy eie seun te laat martel en doodmaak sodat hý beter kan voel! As jy van kleins af as kind mishandel is (iets wat tot 'n eeu of wat gelede nog die norm was en vandag nog steeds dikwels as 'opvoeding' bekend staan), is 'n god wat nodig het om wraak te neem en selfs sy eie seun te vermoor vir jou niks vreemds nie. Dan 'sien' jy nie eers die geweldige teenstrydigheid tussen die Ou Testament se geweld en Jesus se boodskap van liefde nie, en is dit vir jou niks snaaks om die twee in dieselfde boek as die 'Woord van God' te verkoop nie.

Die feit dat ons vir so lank nie kon verstaan wat Jesus werklik probeer sê het nie het niks met ons intelligensie te doen nie, maar wel met ons desensitisering as kinders! Dis uiteindelik presies dieselfde proses wat Hitler daartoe in staat gestel het om ses miljoen Jode te laat vermoor (Hitler is as kind tot 200 slae per dag toegedien), en wat baie van die vegters teen die 'totale aanslag' (en dalk die outeur daarvan ook?) laat doen het wat hulle gedoen het. Vir eeue is ons kindwees so deur vrees en skuld onderdruk dat ons letterlik nie kon verstaan wat Jesus oor kinders – of oor enigiets anders – te sê gehad het nie. En omdat ons Jesus nie kon – of wou – verstaan nie, het ons maar die arme, onderdrukte Paulus se storie geglo en 'n godsdiens daarvan gemaak. Dat geweld en die gepaardgaande gewelddadige godsdienste 'n kulturele verskynsel is blyk uit verskeie studies van 'primitiewe' stamme waarin daar geen geweld is nie. Een daarvan is (of in elk geval was) die Yequana 'Indiane' in die Amasone.

In haar boek The Continuum Concept beskryf Jean Liedloff hoe sy vir twee jaar absoluut geen teken van geweld in hierdie kultuur gesien het nie. Kinders het nooit 'tantrums gegooi' of geskree nie, niemand het baklei nie en fisiese geweld het nie bestaan nie. Sy het dit direk in verband gebring met die manier waarop hierdie mense hul kinders grootgemaak het. Die kinders is van geboorte af aan die bors gevoed wanneer en vir so lank as hulle wil. Vir die eerste jaar of wat is hulle permanent deur hul ouers of ander – veral kinders van so vier jaar en ouer – vasgehou en rondgedra. Daarna is hulle op hul eie vertrou en gerespekteer. Die ouers het vertrou dat hul kinders nie sal seerkry nie, en die kinders het nie seergekry nie. Liedloff beskryf een geval waar 'n eenjarige kind op die rand van 'n groot kleigat leer loop het. Elke keer as hy geval het, het hy weg van die gat af geval. Die grootmense het hulle nie eers gesteur aan die kleintjie nie. Sedertdien het talle wetenskaplike studies die belangrikheid aangetoon van normale geboorte, borsvoeding van geboorte af vir minstens 'n jaar en verkieslik tot drie jaar (die World Health Organization se aanbeveling is 2½ jaar), gereelde aanraking en affeksie, en speel.

Dit in teenstelling met die 'deskundige' John Watson se aanbeveling in 1928 dat te veel liefde en affeksie kinders afhanklik en klaerig maak. Kinders moes gelos word om hulself 'uit te huil' as hulle gaan slaap, en so meer. Omdat hy 'n wetenskaplike was, is hy geglo, hoewel hy nie die minste 'bewyse' gehad het vir sy stellings nie. Wetenskaplikes weet mos, of hoé? Soos dit maar met die wetenskap gaan, het talle later studies duidelik uitgewys dat hy nie net verkeerd was nie, maar dat sy aanbevelings oneindige sielkundige skade aangerig het. Dit bring my terug by fundamentalisme. As ek in 'n huis grootgeword het waar die aanvaarding en internalisering van sekere idees – ongeag watter idees – letterlik krities was vir my oorlewing (in elk geval soos ek dit in my kinderlike bewussyn ervaar het), gaan lê daardie idees baie, baie diep. As daardie idee was dat God daarop uit is om mense te straf, veral as die hel my gereeld voor die oë gesweer is (óf in die vorm van 'n brandende hiernamaals óf in die vorm van aanranding deur my pa, eufemisties bekend as pak slae), gaan geen rasionele denke dit sommer ongedaan maak nie. Die skuldgevoel en vrees lê baie diep. En as ek byvoorbeeld, as meisie, in Jesus die ideale plaasvervanger gesien het vir my afwesige of vatterige pa as bron van die liefde wat ek nooit in my ouerhuis ervaar het nie, gaan geen rasionele denke dit sommer laat verdwyn nie.

Daar's dalk nog iets. Baie kinders het ervarings wat ons nie met ons rasionele verstand kan verstaan nie. As daardie ervarings heeltyd deur ons ouers afgemaak word as 'nonsens', of daar heeltyd 'rasioneel' aan ons verduidelik word hoekom wat ons ervaar nie waar kan wees nie, of ons selfs gestraf word as ons daarvan vertel, ontstaan daar in ons onderbewuste 'n direkte assosiasie tussen outentiek wees en verwerping. Dieselfde gebeur wanneer ons van kleins af verbied word om ons gevoelens te wys. Op 'n baie diep vlak leer ons om nie ons eie ervarings te vertrou nie – en om die woord van dié wat die mag het as wet te aanvaar. Wanneer ons nie onsself vertrou nie, kan ons ook ander nie vertrou nie. Hierin lê volgens my die basis van wetenskaplike fundamentalisme – die fanatiese ontkenning van alle subjektiewe ervarings, enige moontlikheid van die bestaan van 'n transendentale werklikheid, die rasionalisering daarvan as 'wetenskaplik' en die – hoogs onwetenskaplike – weiering om dit verder te ondersoek.

Dis waarom die eue-oue debat tussen die 'kreasioniste' en die 'evolusioniste' (of tussen die kerkverlaters en dié wat aanhou kerk toe gaan) nooit beëindig sal word nie. Die uitstaande kenmerk van hierdie 'debat' is dat, hoewel voorstanders van beide kante soms goeie argumente het, niemand wíl hoor wat die ander kant te sê het nie. Onder die skyn van rasionele argumente lê daar 'n dieper gerasionaliseerde boodskap: "Daar's nie 'n manier waarop ek my weer aan die pyn van verwerping as kind gaan blootstel nie!"

Baie mense is só ontnugter of verbitterd teenoor die kerk dat hulle hoegenaamd niks met God of Jesus meer te doen wil hê nie. Baie soek hul toevlug in die wetenskap, sonder om te besef dat die wetenskap op net so veel aannames berus as godsdiens. Is dit nie maar weer 'n geval van "Ek kan nie myself vertrou nie, dus moet ek iewers iéts of iémand vind wat vir my die antwoorde het"? Ek is daarvan oortuig dat al die aanvalle op die 'afvallige' predikante en teoloë absoluut niks met rasionele denke te doen het nie. Ek glo dat ons hier te doen het met die woorde van A Course in Miracles: "All attack is a cry for help." En wat is hierdie 'hulp'?

Vergifnis. Die einste vergifnis waarvan Jesus gepraat het, en wat ook die grondslag van A Course in Miracles is. Ware vergifnis is om die outentieke mens agter die skerm van die vreesbevange ego raak te sien, en te besef dat slegs die outentieke mens werklik is. Is fundamentaliste se probleem nie maar eintlik dat hulle só vreesbevange is vir die blootstelling van hul outentieke self dat hulle met alle mag vasklou aan wat vir hulle as kinders geleer is nie? En is daar nie maar iets van 'n fundamentalis in almal van ons nie?

Wanneer mense soos Sakkie of Abel of Hansie of Flip of die skrywers van Hier Staan Ek 'uit die kas klim', kan hulle nie anders as om 'n baie sensitiewe deel van ons psige aan te raak nie. Hoe meer bedreig ek daardeur voel, hoe meer skree my ego "Sonde!!" of "Duiwel!!" of "Straf!!" – want dis wat ek as kind gehoor of gevoel het as ek outentiek is. En tog is dit die begin van verlossing. Wanneer ons verby die ego kan kyk, begin ons God in mekaar sien. God is Gees – Liefde, en as 'beeld van God' is ons presies dieselfde, ongeag van watter gedrag ons openbaar. Jesus se boodskap om oordeel te laat vaar en te vergewe was inderdaad 'n radikale 'shift of mind'. Ons hele samelewing is op oordeel gebaseer, en dan vra Jesus ons om nie te oordeel nie?! Ja, dis radikaal. Maar dit is, glo ek, wat Paulus bedoel het met "In die wêreld, maar nie van die wêreld nie." Vir my persoonlik het dit geweldig baie beteken om te besef in hoe 'n mate sowel ons 'positiewe' as ons 'negatiewe' gedrag in ons kindertyd vasgelê word. Hoe die "sondes van die vaders 'gestraf' word in die derde en die vierde geslag". Nie om nou my ouers te blameer vir alles wat verkeerd gegaan het nie, maar juis deur te besef dat ook húlle deur skuld en vrees 'n misvormde beeld van hulself gehad het en van daaruit opgetree het. Dit het my geïnspireer om 'n boek te skryf met die titel The Power of Childhood (dis amper klaar).

Peace is Child's Play is die titel van 'n artikel van Fred Donaldson, die man wat my weer leer speel het. En hy's doodernstig. In wat Fred 'original play' noem; die manier waarop wilde diere en klein kinders van nature speel, is daar geen sweem van aggressie of mededinging te bespeur nie. Die onderliggende boodskappe is altyd: "Jy is waardevol" en "Daar is niks om voor bang te wees nie." Deur jare lank gereeld semi-professioneel volgens die beginsels van 'original play' met kinders te speel (en ek bedoel speel, nie seksuele molestering nie), het iets van die fenomenale bewussyn van kinders tot my begin deurdring. Helaas word dit in ons moderne samelewing op al hoe vroeër ouderdom vervang met patrone van aggressie. Soos Fred sê, "children become adulterated". Deur my jarelange speel met kinders het ek iets van die 'koninkryk van die hemel' geleer wat ek nooit uit boeke sal kry nie. Daar was tye wat ek met die kinders gespeel het waar ek alle bewussyn van my omgewing verloor het en daarmee 'n diep, onbeskryfbare vrede en eenheid van alles ervaar het. Ek het begin verstaan waarom Jesus effektief gesê het, "Leer van die kind en word wys". Ek het iets begin verstaan van die woord Liefde. Net jammer dit het my so lank geneem om dit te leer.

Nóg godsdiens nóg wetenskap gaan ons by die ware betekenis van Liefde – en dus God – uitbring. Godsdienstige moraliteit gaan nie ons wêreld verbeter nie. Dit is net 'n nuwerwetse vorm van Fariseër-isme. Soos Robin Grille dit stel: "Socialising mode parenting places more emphasis on the child's 'good' behaviour, than on his or her emotional wellbeing – without realising that the former springs naturally from the latter." Deur indringend na ons eie kindertyd te kyk en ons eie pyn te verwerk, en deur ons kinders te probeer verstaan en liefhê soos wat Jesus hulle gesien het, staan ons dalk 'n baie beter kans.

Douwe van der Zee

Hoewel ek oorspronklik 'n bioloog was, het my belangstelling lank gelede al verskuif na die menslike psige en spiritualiteit. Vir jare het ek my belangstelling in die natuur met my belangstelling in spiritualiteit gekombineer in die vorm van wildernisstaptoere in wildtuine, en vir die laaste tien jaar of so speel ek gereeld met kinders by skole en doen werkswinkels oor outentieke spel. Dis daardeur dat ek 'n diep belangstelling in die bewussyn van kinders ontwikkel het – en dit met spiritualiteit in verband gebring het. Ek het twee boeke geskryf, God het Nie Nodig om Wraak te Neem Nie en From Intellect to Intelligence (lg. by Griffel), en is besig met nog een: The Power of Childhood. Ek het vroeër gereeld op LitNet geskryf en, hoewel ek lanklaas geblog het, het ek 'n blog op LitNet, http://blogs.litnet.co.za/Douwe. Ek kan gekontak word by .

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za