.

Jesus en die goue kalf

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Desember 2015

.

Volgens die Antropologie en Sosiologie, dalk selfs ook die Sielkunde, het alle mense 'n besef dat daar iets groter of hoër as hulleself is. En van die vroegste tye af vertel mense verhale van hoe hulle hierdie Gans Andere of Hoëre Mag of Krag ervaar. Later ontstaan daar soort van 'n konsensus tussen mense oor hierdie ervaring en dit gee aanleiding tot 'n tipe meesternarratief. Elke individu het sy of haar persoonlike verhale wat op 'n manier aansluit by die ervaring van die meesternarratief en uiteindelik kristalliseer daar uit hierdie corpus verhale 'n bepaalde persona.

Hierdie persona kry dan 'n lewe van sy eie en word mettertyd die goddelike karakter wat in almal se verhale optree. Wat begin het as 'n ervaring, word dan 'n persoon. 'n Karakter of persoon wat mettertyd uit die verhaal klim en 'n lewe van sy eie begin leef. 'n Karakter wat groter word as die verhaal en aanhou evolusioneer in die kollektiewe geheue van die mense wat daardie meesternarratief en paradigma met mekaar deel.

So ontstaan daar dan op verskillende plekke op aarde sulke godsbeelde en verhale, ervarings en paradigmas, godsdienste en rituele, aanbidders en aanbiddingsplekke, want die ervaring groei en mense begin na hierdie geabstraheerde ervaring wat 'n persoonlikheid aangeneem het, as God verwys.

En omdat hierdie God-karakter 'n lewe van sy eie kry, begin mense dan om in verhouding met hierdie God te leef. Hulle begin hulle God aanbid. Hulle bou 'n hele kultus rondom hulle God. Dit word deel van hulle verwysingsraamwerk. Dit word deel van hulle kultuur. Dit word 'n anker en 'n fondament, 'n emosionele en spirituele kruk. Maar dit is nie God nie. Dis 'n beeld van God wat uitgekristalliseer het as gevolg van verhale wat mense begin vertel het oor hoe hulle hierdie Iets ervaar het, wat groter is as hulleself.

Daarmee sê ek nie dat God nie bestaan of dat daar nie iets groter of hoër of gans anders is nie. Al wat ek sê is dat dit wat ons dink God is, 'n personifikasie van 'n ervaring is wat 'n lewe van sy eie begin kry het omdat dit 'n karakter in mense se verhale geword het. En daardie verhale, omdat dit 'n ervaring deel waarmee mense kan assosieer, het mettertyd kanoniek geword in 'n bepaalde kring. En mense het 'n tipe gesag in hulle kring aan daardie verhale begin toeken. En die verhale het die fondament en grense van hulle paradigma geword.

So, dit wat ons as God aanbid, is nie God self nie, maar 'n beeld wat ons vir onsself van God gemaak het. 'n Prentjie wat ons geteken het. Niemand weet hoe is hierdie misterie (wat ons met die term "goddelike" benoem) regtig nie.

Hierdie is 'n proses wat oor en oor gebeur. Die goddelike karakter verander saam met die tye. Soms gebeur dit dat sekere godsdienste na eeue totaal verdwyn en deur ander vervang word. Ander het die vermoë om mutasies te ondergaan en aan te pas by nuwe tye en omstandighede en so leef hulle dan miskien net in 'n ander vorm, vir nog 'n rondte.

Om dalk 'n eietydse voorbeeld te noem: Die God waarmee ons grootgeword het, het die laaste klompie jare al 'n paar keer gedaanteverwisselings ondergaan en is op die oomblik steeds besig om te vernuwe. Waar God 'n paar jaar gelede 'n sterk manlike figuur was wat net mans toegelaat het om ampte te beklee, wat vroue laat hoede dra het en wit en swart apart wou laat ontwikkel ... daardie einste God het deesdae vir baie ook 'n moeder geword, 'n vroulike figuur wat kan versorg en omgee, wat vroue, mans en homoseksuele toelaat om nou ampte te beklee. Wat nie 'n onderskeid tussen mense maak nie, en 'n God wat nie nou net meer van die orrel en van Psalms en Gesange hou nie. Dis 'n God wat mense nie meer straf met droogtes en vloede nie, maar wat La Nina en El Niño hulle eie ding laat doen. Dis 'n God wat totaal en al anders lyk en doen en dink, as die Ewige, Onveranderlike God van ons ouers en hulle ouers. Godsbeelde verander.

U onthou die verhaal wat vertel toe die Jode uit Egipte weg is en in die woestyn rondgetrek het, hoe hulle op 'n punt ook moeg en moedeloos was. Na God, na uitkoms, na antwoorde gesoek het, hoe Moses berg-op is om na God te gaan soek. Aaron het toe 'n hout kalf gemaak en met 'n lagie goud oorgetrek wat hy met die juwele van die vroue gemaak het. Toe hy die beeld klaar gemaak het, het hy nie vir die mense gesê: Kom ons aanbid nou die beeld as 'n afgod omdat ons God ons hier laat swaarkry nie. Gaan lees weer die verhaal. Hy het gesê: Israel, hierdie is jou God wat jou uit Egipte bevry het. Die volk het dus hulle God in die beeld aanbid. Hulle het nooit 'n goue kalf aanbid nie. Hulle het die God van Israel in die beeld van die kalf aanbid.

Tot 'n groot mate het presies dieselfde met die vroeë Christene gebeur. Na die val van Jerusalem en die verdrukking onder die Romeine het die armes, verstotenes en randfigure in die Joodse samelewing ook moeg en verslae geraak. Toe hoor hulle van rabbi Jesus wat preek: Die koninkryk van die hemel is vir mense soos julle. Draai die ander wang as jy op die een geklap word, stap maar die tweede myl saam, trek jou bokleed ook uit, al vra iemand net jou onderkleed. Die wat nou ween, sal getroos word. En mense begin om iets van hoe hulle God verstaan in die optrede en prediking van Jesus van Nasaret te ervaar.

Hulle sien en ervaar God, of dit wat hulle dink hoe God is, deur Jesus se bemoeienis by hulle.

Paulus preek oor 'n Christus-figuur wat ter wille van ander ly. Oor een wat sterf en opstaan en so vir mense 'n ander dimensie en 'n nuwe lewe oopmaak en verseker. En 'n hele klomp mense beleef iets van hoe hulle God verstaan in Paulus se prediking. En hierdie verhale oor Jesus van Nasaret en die Christus waarvan Paulus preek, skuur met mekaar skouers daar in die Midde-Ooste en sekere dele van Europa en na omtrent 300 jaar se evolusie en mutasie van hierdie konsepte en godsbeelde, besluit die Sinode van Nicea dat hierdie Jesus van Nasaret en Paulus se Christus een en dieselfde persoon is, naamlik God se seun. Maar dat dit nie net God se seun is nie, dis self ook God!

En daardie gemeenskappe eksperimenteer toe verder met die konsep en na nog 'n paar jaar besluit 'n volgende Sinode by Konstantinopel dat die Heilige Gees nou ook God is. En siedaar – 'n Drie-eenheid! En hulle maak die uitspraak dat Jesus: homo-ousios ... een in wese met die Vader is. En so het Jesus toe uitgekristalliseer as die persona in wie Christene hulle God ervaar. By wyse van spreke het die sinode toe dieselfde gedoen as Aaron van ouds en vir die Christene gesê: Daar is julle God. En tot vandag toe aanbid Christene die beeld van Jesus geabstraheer uit die verhale, as hulle God.

As mens dan 'n parallel sou wou trek, sou mens kon sê dat Jesus die Goue Kalf van die kerk is. Jesus is 'n beeld van God, maar dit is nie God nie.

Mense ervaar God in hom. Hy het ook uit die verhale oor hom geklim en 'n lewe van sy eie gekry. Hy het in mense se ervaring van die goddelike, groter as die verhaal geword. Vir baie het hy 'n God geword. Daarom het ek soveel begrip vir Christene: Hulle aanbid God, maar hulle doen dit in Jesus, die karakter wat uit die verhaal geklim het en 'n God geword het. Maar ek dink nie Jesus is God nie. Mense ervaar hoe hulle dink God is, in die konsep "Jesus." Christene aanbid dus vir God, maar hulle aanbid God in Jesus. In die beeld Jesus! Die kalf het 'n lam geword.

My boodskap vandag is dus: Mens moet waak daarteen om vir jouself 'n beeld of beelde van God te maak. Jou ervaring van die goddelike moet altyd 'n misterie bly. Niemand weet hoe en wie hierdie ervaring van iets groters en hoër en anders is nie. Die mensdom het dit sommer op 'n stadium "God" begin noem. En daardie God het 'n persoonlikheid gekry as gevolg van verhale wat mense oor God begin vertel het. Maar as ons die term "God" wil gebruik, moet dit altyd 'n begrip bly wat 'n misterie vir ons is. 'n Begrip wat 'n definisie bly ontwyk.

In ons tyd maak mense steeds beelde. Party praat van God as Lig, of Energie, of Liefde – maar ook dit is beelde. Dalk net abstrakte beelde, maar dis 'n bepaalde prentjie wat jy aan 'n konsep koppel.

Ek is ontsaglik dom as dit by die goddelike kom. Ek is woordeloos as mens hierdie gans andere moet probeer benoem. Ek weet ook maar net dat ek ook van tyd tot tyd iets beleef wat my laat glo dat daar iets groter en hoër en anders is. Maar verder weet ek nie! Wat ek sou voorstel, is dat mens dit nooit moet probeer definieer of vasvang in taal nie, maar dat ons maar net stil daaroor en daarvoor moet wees en verwonderd oor die misterie moet bly. Woordeloos. Konseploos. Beeldloos. Maar nooit Godloos nie. Hoe kry mens dit reg? Ek weet nie. Dit is juis die misterie!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.