.

Jesus en Boeddha in ‘n kroeg...

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Augustus 2013

.

Wanneer laas het jy lekker gelag? Ek praat nie van 'n beheerste giggel nie, nee, ek praat van 'n asemsnak-, uit-die-maag-, skree-lag.

Die rede hoekom ek vra is omdat ek met tyd geleer het dat net die mense wat maklik en gereeld lag (vir die lewe en natuurlik vir hulself), kan werklik die ego en sy versmorende houvas op hulle psige troef.

Want sien spiritualiteit gaan in essensie oor menslikheid, deernis en eerlikheid. Juis dit wat na vore kom wanneer 'n mens met humor na die lewe kyk. Ja, daar is werklik 'n diep wysheid geleë in lag.

Dalk daarom dat die Duitse filosoof, Arthur Schopenhauer (1788-1860) gesê het: "A sense of humour is the only divine quality of man."

Want is dit nie so dat humor 'n kragtige teenmiddel is vir enige opgesmukte, self-aangestelde belangrikheid, aangeplaktheid en skynheiligheid nie? Dink maar net hoe vinnig iemand wat dink hy of sy is belangrik, op hulle plek gesit word deur humor. Juis waarna Mark Twain verwys met: "Against the assault of laughter nothing can stand."

Daarom dat deur die eeue heen satirikusse, humoriste, komediante en grapmakers so 'n belangrike rol in die samelewing gespeel het. Dink maar net hoe effektief Zapiro (die pennaam van die Suid-Afrikaanse politieke spotprenttekenaar Jonathan Shapiro) met sy satiriese vertolkings van ons land se politikusse hulle ego-optredes kan ontbloot.

Ja, humor help ons nie net om die ander kant van 'n saak te sien nie, dit help ons ook om deur die valsheid, selfbelang en opgesmuktheid van die eie ego-identiteit te sny.

Dit laat my nou dink aan twee dronk studente wat na 'n lang aand se kuier by 'n kroeg uitstrompel. En soos wat hulle hulleself probeer oriënteer ten opsigte van waar hulle hulself bevind, kom staan daar 'n polisieman voor hulle. Die twee studente kyk fronsend na hom. Dan gryp die een die polisieman voor die bors en stotter: "Haai ou, waar is ons?" Hoogs ontsteld skel die offisier, "Weet julle twee wie ek is?" Die twee studente kyk vir mekaar en na 'n kort stilte bars hulle uit van die lag: "Nou is ons regtig in die gemors! Ons weet nie waar óns is nie en dié ou weet nie wie hý is nie!"

In 'n humoristiese oomblik is jy vry en oop. En jy vergeet tydelik van jou self en jou geskepte storie, jy is net. Want lag, is om met iets dieper binne jouself kontak te maak – 'n self wat geen pretensie, geen voorgee en geen valsheid ken nie.

Daarom seker is mense wat ons kan laat lag – die grapmakers, narre en komediante – sulke belangrike figure. Byvoorbeeld in 'n antieke heilige geskrif van die Hindoes word diesulkes vergelyk met ware vrydenkers: "Sometimes mad, sometimes a scholar, sometimes a fool; thus they appear on earth – The true free men!"

En dit is nie net in hierdie tradisie waar grapmakers uitgelig word as die ware wyses nie. Dit is interessant om te sien hoe daar in meeste tradisies na grapmakers as "holy fools" of heilige grapmakers verwys word.

Hierdie heilige grapmakers se waardevolste bydrae is natuurlik om die ego in enige gegewe situasie te ontbloot, of dit nou die ego-identiteit van 'n individu is of die kollektief ego van 'n samelewing.

Want geen ondeurdagte en getoetste idee, teorie, geloof, ervaring of patroon kan uiteindelik standhou voor 'n heilige grapmaker se skerp blik nie. Dit is asof humor soos 'n tweesnydende swaard werk. William James beskryf dit so: "Common sense and a sense of humor are the same thing, moving at different speeds. A sense of humor is just common sense, dancing."

En saam met hierdie eerlike logika van humor kom daar ook 'n uitwys van ander gesigspunte en opinies na vore. Want die kollig van humor laat geen ruimte vir enige verknogtheid aan 'n idee of geloof nie. Sulke een-ogigheid word dadelik uitgewys as die ego se manier om te probeer meer, belangriker en groter wees.

Dit is natuurlik presies die dinamika van diktators en diktatorskappe. Rigied, eng en 'n eensydige gehegtheid aan 'n spesifieke siening. Daarom dat Boeddha so sterk gevoel het dat dié oorsaak van alle pyn en lyding hierdie tipe gehegtheid, inkoop en verknogtheid is.

Seker daarom dat magsbehepte en meestal korrupte heersers ook terselfdertyd heeltyd humorloos en ernstig is. Kyk maar net hoe belangrik titels, prestasies, posisie en status is vir mense met 'n sterk ego-identiteit.

En juis dit kan die heilige grapmakers so effektief uitwys. Maar om dit te kan doen moet die heilige grapmaker self nie 'n sterk vaste identiteit hê nie. Dit werk soos 'n Joker in 'n pak speelkaarte. Al die kaarte het 'n vaste identiteit, naamlik sewe van harte of drie van klawers. Maar die Joker in 'n standaard pak kaarte het 'n vloeibare identiteit, 'n identiteitlose kaart. Die Joker kan daarom die identiteit van enige van die ander kaarte aanneem.

Nou, met hierdie vloeibare identiteit of "geen self" kan die heilige grapmaker, net soos met die kaarte, in enigiets verander of van gedaante verwissel. Deur dit te doen, weerspieël die heilige grapmaker presies die situasie of ego in die oomblik.

Dit skep natuurlik die potensiaal tot nuutheid, kreatiwiteit en transformasie. Want daar is ewe skielik 'n meer uitgebreide "self" – sonder die vernouende ego. Dink maar net hoe oop en vloeibaar is jou gesindheid in 'n oomblik van spontane humor. Jy is nie vasgepen of verknog aan 'n gevestigde uitgangspunt nie.

So kan die heilige grapmaker ons ook help om 'n breër siening te ontwikkel. 'n Siening waarin die lewe nie vasval in 'n óf-óf-scenario nie, maar eerder in 'n oper én-én-situasie verander. 'n Vryer en meer vloeibare realiteit.

As voorbeeld hiervan wil ek graag die heilige grapmaker van die Lakota Indiaanse stam ('n inheemse Amerikaanse stam) voorstel. Dit is 'n mitiese figuur wat hulle die Heyoka noem.

Die Heyoka is 'n grapmaker wat met humor en teenstrydighede speel. "Have you noticed that truth comes into this world with two faces. One is sad with suffering, and the other laughs; but it is the same face, laughing or weeping ... for it is the power that the heyokas have," so beskryf Black Elk die rol van die heilige grapmaker.

Deur alles omgekeerd te doen wys die Heyoka dat die lewe veel oper is as die vaste en geslote manier waarop meeste mense leef. Hy sou byvoorbeeld in sy tent inkruip deur die agterkant op te lig, in plaas van deur die deuropening in te gaan soos almal dit doen. Of hy sou in die verkeerde rigting om die vuur dans en so die ou vaders ontstel omdat hy 'n heilige ritueel volgens hulle ontheilig.

Maar die Heyoka se boodskap is juis dat die lewe nie so in vaste patrone vasgelê kan word nie. Dogmas, sogenaamde heilige rituele, is en was altyd net bedoel om rigtingwysers na iets meer te wees, en is nie veronderstel om vas te val in onbeweegbare reëls en dogma nie. Dit is om die punt van 'n ritueel heeltemal te mis.

Die Heyoka het heeltyd gewys op ander en nuwe wyses wat gevind moet word. En hy/sy het dit gedoen deur presies die teenoorgestelde te doen as dit waaraan almal gewoond was.

Die les wat ons hieruit leer is dat wanneer ons ons patrone verander en uit ons groewe klim, ontstaan daar ruimte vir vloei, vernuwing en groei. En dan verstaan ons dat die kern van die lewe juis in verandering geleë is.

In die Zen-Boeddhistiese tradisie vind ons die bekende karakter Pu-tai, die sogenaamde boepens "Laggende Boeddha". Hierin word Pu-tai as 'n vriendelike, ooglopend oorvloedige figuur met 'n laggende en gelukkige ingesteldheid uitgebeeld. Sy laggende blink gesig en boepens daag die oor-ernstige Boeddhiste uit om ligter en sagter te leef. Soos ander heilige narre, verwerp hy natuurlik die hiërargie en vaste sekuriteite wat in kloosters geleer word.

Net so in die boek, The Laughing Jesus, geskrywe deur Timothy Freke and Peter Gandy, word daar 'n ander uitbeelding gegee van die gewoonlik ernstige Jesus. "Have you ever seen a picture of Jesus laughing? Probably not, because you have inherited a distorted form of Christianity created by the Roman Church in the fourth century, which focuses exclusively on Jesus the 'man of sorrows'. The image that has dominated our culture is that of a man being tortured to death on a cross. But the original Christians didn't see Jesus as an historical man who 'suffered for our sins'. They viewed Jesus as the mythical hero of a symbolic teaching story, which represents the spiritual journey leading to the experience of awakening they called 'gnosis', or 'knowing'."

Die laggende Boeddha en Jesus bring iets nuuts, iets vars. En daarin lê die grootste bydraes tot eietydse lewenswysheid.

Want deur te kies om een kant van iets uit te lig of te oorbeklemtoon ten koste van die ander, verloor jy nie net jou sin vir humor nie, maar jy verloor jou balans. Want Boeddha net soos Jesus, is tog beide ernstig en laggend. Hoekom lig tradisies dan soveel keer slegs een kant ten koste van die ander kant uit?

En omdat die heilige grapmakers so gemaklik teenoorgesteldes kan omarm en saambind, help dit ons om die waarheid van die eenheid van alles te verstaan.

Teenoorgesteldes het mekaar nodig om te kan bestaan: orde kan nie bestaan sonder chaos nie; lig het donker nodig en lewe en dood bestaan as gevolg van mekaar. En humor se boodskap lig hierdie eenheid die beste uit.

William Arthur Ward sê juis dat met 'n humoristiese kyk uiterstes saamgebind kan word en balans gevind kan word: "A well-developed sense of humor is the pole that adds balance to your steps as you walk the tightrope of life."

Balans in die lewe, is juis een van die heilige grapmaker se belangrikste boodskappe. Want net dan kan 'n mens buigbaar en akkommoderend saamleef met die lewe se kontraste.

So help die kinderlike grapmaker jou om meer volwasse te leef. En die onbeskaafde nar help jou om meer beskaafd te wees. En die laggende hanswors help jou om jou trane te verstaan.

As ons maar net kan leer om vir ons ego te lag, soos Pu-tai of Jesus, dan sal ons dalk net een van die dieper lesse van die lewe leer – niks en niemand in die lewe is permanent nie. En ons is veel meer is as ons beperkende idees.

So gesien word die woorde van Jesus in Matteus (16 vers 25) ewe skielik lewend met 'n dieper wysheid, die wysheid van 'n grapmaker se teenoorgesteldes: "Want elkeen wat sy lewe wil behou (vasklou of vaskleef in Boeddhistiese terme) sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind."

Want 'n lewe vry van die ego is 'n heilige lewe. 'n Lewe met 'n lag, 'n lewe vol lig.

Ek groet met die belangrike woorde van een van vandag se heilige grapmakers, Woody Allen: "I am thankful for laughter, except when milk comes out of my nose."

Amen.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.