.

Jesus en Boeddha as broers

Deur Dr. Piet Muller op 1 Mei 2015

.

Die Amerikaner Jack Kornfield vertel van 'n keer toe hy 'n Boeddhistiese klooster op 'n eiland in die Mekongdelta besoek het. Dit was tydens die Viëtnamese oorlog en sowel die Viët-Kong as die Amerikaners het die Mekongrivier as vervoerroete gebruik. Sy besoek was dus nie sonder gevaar nie.

Die betrokke klooster op 'n eiland is aangelê deur 'n legendariese monnik, wat in die wandel as die Coconut Monk bekend gestaan het. By sy aankoms het die monnike hul boodskap van vrede en geweldloosheid verkondig, terwyl oorlogsvliegtuie oor hul koppe vlieg. Daarna het hulle hom na die hoogste punt van die eiland geneem, waar 'n vyftigvoet-hoë beeld van Boeddha gestaan het ... en langs hom 'n ewe groot beeld van Jesus met sy arm om Boeddha se skouers – 'n beeld van Jesus en Boeddha as broers.

Slegs 'n paar jaar gelede nog sou 'n mens dit nie gewaag het om Jesus en Boeddha se name saam te noem nie. Dit sou gewoon skokkend en selfs godslasterlik gewees het, soos wat baie mense dit dalk steeds beskou. Maar sedert die ontdekking van die Nag Hammadi-geskrifte in 1945, toe ons vir die eerste keer die stem van gewone Christene uit die vroegste eeue van die Christendom weer uit hul eie monde kon hoor, het die belangstelling in Boeddhisme onder navorsers al groter begin word. Want die stemme van vroeë Christene wat daaruit klink, staan in baie opsigte nader aan die Boeddhisme as aan die ortodokse Christendom wat na die vierde eeu ontstaan het.

Die afgelope paar dekades het ons ook al hoe meer daarvan bewus geword hoedat die Christendom en die Boeddhisme mekaar op die Groot Syroete na China ontmoet en wedersyds beïnvloed het. Op sommige plekke is Christelike en Boeddhistiese tekste selfs saam bewaar.

Verlede jaar het 'n bekende Amerikaanse teoloog, Paul Knitter 'n boek geskryf met die titel Without Buddha I could not be a Christian, waarin hy vertel hoedat sy omgang met die Boeddhisme hom gehelp het om aspekte van die Christendom, wat vir hom onaanvaarbaar begin word het, anders te verstaan. Die bekende Marcus Borg, het selfs 'n boek gepubliseer waarin hy die woorde van Jesus en Boeddha parallel langs mekaar geplaas het.

Ons lewe in 'n tydvak waarin daar groot omwentelinge binne die Christendom plaasvind. Wêreldwyd loop hoofstroomkerke leeg en word nuwe kerke gestig. Sommige reusagtig groot, ander nie veel meer as huiskerke nie. Binne hierdie nuwe kerke kan 'n mens tussen twee groepe onderskei: die grootste groep is ongetwyfeld die "ortodoks-fundamentalistiese" groep, met daarnaas 'n groeiende en miskien meer intellektuele groep wat hulself Progressiewe Christene noem. Ook onder hulle vind 'n mens 'n groeiende belangstelling in Boeddhisme.

Die progressiewes voel hulle nie meer tuis binne die belydenisskrifte van die vierde eeu nie. Hulle kan nie meer die "fundamentele" leerstellings soos die maagdelike geboorte, Jesus se goddelikheid en die liggaamlike opstanding en hemelvaart aanvaar nie, en soek na nuwe maniere om uitdrukking te gee aan hul spiritualiteit.

Die probleem is dat die "ortodokse" spiritualiteit saamhang met die antieke drieverdieping-wêreldbeeld, waarvolgens die aarde die middelpunt van die skepping was. Bokant die aarde was die firmament en bokant die firmament die hemel waar God en die engele gewoon het. Onder die aarde was hades, die doderyk. Dit het weer 'n kelder gehad, tartaros, waar die regtig slegte ouens na hul dood gemartel is. Hierdie opvatting het in die Christelike mitologie tot die hel ontwikkel.

God self was 'n antropomorfiese wese, 'n wese met menslike trekke, soos woede en vergifnis, wat alles sien wat op aarde gebeur en van alles boekhou. Maar die astrofisika het die drieverdieping-wêreldbeeld op sy kop gekeer, deur ons te leer dat die aarde nie die middelpunt van die skepping is nie, maar 'n nietige planeet wat om een van die miljoene sonne in die melkweg wentel; dat daar naas die melkweg ook nog talle ander galaksies is en naas ons heelal waarskynlik ook parallelle heelalle.

Dit het tot die besef gelei dat die teïstiese beeld van God gans te klein en beperk is om enigsins reg te laat geskied aan die grootsheid van die skepping. Geleidelik het 'n panenteïstiese godsbeeld tot stand gekom, waarvolgens God in alles is en alles in God, maar dat alles nie God nie nie. Baie soos wat 'n ongebore baba in haar ma is en haar ma in haar, maar die baba nie haar ma is nie.

Metafories sou ons kon sê dat die kosmos die liggaam van God is, maar dat God self veel groter is. Meer durf ons nie sê nie want die begrip godheid lê buite tyd en ruimte en daaroor kan ons niks verifieerbaar kwytraak nie. Boeddha het ook met hierdie probleem geworstel en sy dissipels aangeraai om liefs nie oor God te praat nie, omdat 'n mens behoort te swyg oor dinge waarvan jy niks kan weet nie.

Jesus het ook oor God in metafore gepraat. Die metafoor wat hy vir God gebruik het was 'n woord wat vir baie van sy tydgenote dalk lasterlik kon geklink het. Hy het God naamlik Abba genoem. 'n Woord wat nie met ons woorde vader of pa vertaal kan word nie. 'n Troetelwoord, soos wat 'n kind sal gebruik wat op sy pa se skoot klouter. Hiermee het Jesus uitdrukking gegee aan die mens se behoefte aan 'n verhouding met die goddelike. 'n Verhouding wat jy nie buite jouself kan ervaar nie, maar binne jouself moet vind.

In die Thomas-evangelie sê Jesus: "As julle julself ken sal julle geken word, en julle sal weet dat julle die kinders van die lewende vader is, maar as julle julleself nie ken nie sal julle in armoede leef en julle self sal die armoede wees." (Vers 3.)

Progressiewe Christene glo ook nie meer dat die Bybel die onbetwyfelbare woord van God is nie, maar sien dit as 'n insiggewende en inspirerende rekord van die mense se worsteling met God deur die eeue. Daarom moet sekere gedeeltes van die Skrif nie letterlik nie maar wel metafories en mities gelees word. So kan 'n mens die verhaal van Jona en die vis nie histories lees nie, anders mis jy die dieper betekenis daarvan. Dieselfde met die verhaal van die paradys. Dit is 'n wonderlike simbool van die mens se hunkering na heelheid en ongekompliseerdheid. Dié soort bestaan wat 'n mens geken het terwyl jy 'n baba binne jou ma was, maar waaruit jy met jou geboorte "verdryf" is en te lande gekom het in 'n dualistiese wêreld van ek en jy, ons en hulle, reg en verkeerd.

Uit die geskiedenis van evolusie weet ons ook dat alle organiese lewe uit eenselliges ontstaan het en 'n evolusieproses van miljoene jare gehad het. Die grootste wonder van die skepping is stellig die oorgang van die aapagtige australpithicus-species na die homo-species, waarvan net Homo Sapiens, die moderne mens, oorleef het. Die een "oomblik" was hierdie wese nog 'n dier en die volgende "oomblik" het dit selfbewussyn gehad en die vermoë om na te dink oor die sin en betekenis van sy eie lewe en komende dood. Maar die prys wat hiervoor betaal moes word is die wêreld van dualiteit, waarin die mens beland het en die oer-vrees vir die dood wat daarmee gepaard gaan. Vandaar sy hunkering na 'n ongekompliseerde paradyslike bestaan, wat in die mites van alle kulture voorkom.

Uit die geskiedenis van die aarde weet ons ook dat daar nooit so 'n volmaakte toestand bestaan het nie. Ook nie 'n letterlike sondeval en letterlike uitdrywing uit die paradys nie. Daarom is ons ook nooit letterlik van God vervreemd nie en was 'n spesisale versoeningsdaad ook nie nodig nie, want God het ons nooit verwerp nie.

Dit beteken dat ons weer met ander oë na Jesus moet kyk, net soos sy eerste volgelinge. As hy nie die letterlike seun van God en ons offerlam was nie, wie was hy? Wat is die betekenis van sy leer? En hiervoor is dit nuttig om Jesus soms met die Boeddhisme te vergelyk.

Hoewel die Boeddha sy volgelinge verbied het om beelde van hom te maak of om hom te aanbid, het sy volgelinge al meer sy lewe beskou as 'n voorbeeld van wat gebeur as iemand die teenwoordigheid van die goddelike op aarde uitleef. In albei se gevalle is goddelikheid 'n paar eeue ná hul dood aan hulle toeken.

Jesus het 'n "koninkryk" verkondig. 'n Koninkryk wat "nie van hierdie wêreld is nie," maar ook nie vir eendag in 'n hemel nie. Sommer al in vers 2 van die Thomas-evangelie waarsku Jesus: "As julle onderwysers vir julle sê dat die koninkryk in die hemel is, moet julle oppas dat die voëls van die hemel nie voor julle daar is nie. As hulle sê: 'Dis onder die aarde,' pasop dat die visse nie voor julle daar is nie. En hy sê: 'Die koninkryk is in julle en rondom julle..."

Om te verstaan wat Jesus met koninkryk bedoel het, is dit nuttig om die Boeddhistiese term nirvana te gebruik. 'n Woord wat letterlik beteken "uitgeblaas." Dit is 'n staat waarin 'n mens alle begeertes, alle selfsug, alle klewing aan aardse dinge – en dus ook alle lyding – uitgeblaas het soos wat 'n mens 'n kers uitblaas.

Hoewel Boeddha nooit meer as dit oor nirvana wou sê nie, om te voorkom dat sy dissipels deur oordrewe spekulasie daarvan 'n dogma maak, het Jesus dit beskryf as 'n staat van psigiese heelheid. Dit is 'n staat waarin die ego ondergeskik gestel is aan die Self, daardie sentrale, ordende beginsel in jou psige – wat deur die sielkundige Jung beskryf is as die imago Dei, die beeld van God in ons.

In hierdie proses moet 'n mens noodwendig ook jou skadukant vierkant onder oë sien. Jy moet besef dat daar nie 'n "duiwel" buite jou is wat jou dinge laat doen nie, maar dat jy vir al jou dade self verantwoordelik is. As jy nie die lig laat skyn op jou donker kolle van jou psige nie, staan jy gevaar om jou lewe onbewus deur hierdie donker kolle te laat beheer.

Deur Jesus en Boeddha te vergelyk kan 'n mens ook meer insig kry in wat die werk van 'n wysheidsleraar was. Boeddha het wel sy insigte bereik deur met volharding onder die Bhodi-boom te sit en mediteer totdat hy antwoorde op sy vrae gekry het, maar 'n mens moet nie vergeet nie, dat hy voorheen sewe jaar lank onder twee van die bekendste meesters van sy tyd studeer het. Albei het hom gevra om na hul dood hul skole oor te neem, wat hy egter geweier het.

'n Mens moet liefs ook die opvatting vergeet dat Jesus die een oomblik van nêrens af gekom het en deur Johannes die Doper gedoop is, toe veertig dae in die woestyn deurgebring en dadelik daarna met gesag begin preek het. 'n Mens moet ook nie uit die drie sinoptiese evangelies die afleiding maak dat sy bediening net 'n jaar lank was nie. Daardie drie evangelies is juis geskryf as leesmateriaal vir die Joodse liturgiese jaar en daarom is Jesus se lewe in een jaar ingepas.

Daar is genoeg rede om tot die gevolgtrekking te kom dat Jesus 'n lang opleiding ontvang en waarskynlik 'n lang periode by Johannes die Doper deurgebring het. Johannes het in die Jordaanvallei, naby Jerigo, sy staanplek gehad. Juis op 'n plek waar groepe mense die Jordaan oorgesteek het op pad na die tempel in Jerusalem. Op 'n tydstip het Johannes besluit om 'n bediening in Samaria te begin, onder mense wat deur ortodokse Jode as benede hulle beskou is.

In die sinoptiese evangelies lees ons dat Jesus sy eerste twee dissipels van Johannes gekry het. Dit is dus baie moontlik dat Johannes met 'n deel van sy dissipels Samaria toe is en dat Jesus met die ander dissipels, die Doper se plek oorgeneem en sy bediening in die Jordaanvallei voortgesit het.

Johannes se bediening onder die Samaritane was klaarblyklik nie baie suksesvol nie en hy versit uiteindelik daarvandaan noordwaarts na Galilea, waar sy reguit woorde hom die gramskap van Herodes op die hals gehaal en hy onthoof is.

Eers as hy die tyding van Johannes se dood ontvang vertrek Jesus uit Judea na Galilea as 'n geskoolde en hoogs opgeleide en gesaghebbende wysheidsleraar.

Dit is opvallend dat nie Jesus of Boeddha ooit hulle dissipels 'n 'maklike' emosionele bekering toegestaan het nie. Hulle het niks minder van hul volgelinge verwag as 'n volkome verandering van lewe nie. Nie net rituele veranderings, soos om sekere belydenisse te glo of om vyf keer per dag te bid nie. Hul ganse lewe moes omvorm word.

En die eerste waarvan afstand gedoen moes word is die ego.

Luister wat sê Jesus in vers 7 van Thomas: "Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal 'n mens word. En vervloek is die die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal 'n mens word."

As 'n mens daarin slaag om die leeu van jou ego te oorwin, word jy 'n kandidaat vir die koninkryk. 'n Mens kan egter nie die ego tromp-op stormloop en sê "Wyk Satan!" nie. Jy moet een vir een met die emosies werk wat in die eerste plek die ego help vorm het. Daarom waarsku Jesus sy volgelinge (in vers 35): "Niemand kan 'n sterk man se huis ingaan en dit met geweld oorneem, sonder om eers sy hande vas te bind nie. Dan eers kan hy dit leeg dra."

In pragtige beeldspraak verwys Jesus na hierdie lewenslange proses, wanneer hy (in vers 97) vertel die koninkryk is soos 'n vrou wat 'n kruik meel gedra het. "Op pad, toe sy nog ver van die huis af was, het die handvatsel van die kruik afgebreek en die meel het begin uitstroom. Sy het nie daarvan geweet nie en niks agtergekom nie. Toe sy by die huis kom sit sy die kruik neer en toe eers kom sy agter dat dit leeg is."

Die ego is so 'n gedugte teenstander dat ons nooit sal kan spog dat ons dit oorwin het nie. Eers as ons aan die einde van die pad kom sal ons weet of ons kruik leeg is of nie.

Jesus se heel eerste titel was waarskynlik die van meshal meshalim of meester van die gelykenis. As 'n mens sy spreuke en gelykenisse lees besef jy dat elkeen bedoel was om jou te help om nuwe oë te kry; nuwe insigte te bereik. Want as jou gees eers eenmaal deur 'n nuwe idee verruim is, kan dit nooit weer terugkeer na sy oorspronklike toestand nie. Dus het Jesus sy dissipels stap vir stap, spreuk vir spreuk en gelykenis vir gelykenis 'gerek' tot nuwe insigte en 'n nuwe lewenshouding.

As 'n mens goed na die evangelie van Thomas kyk, wat slegs uit spreuke van Jesus bestaan, merk 'n mens dat dit 'n 'leerplan' bied vir hierdie reis na heelheid. Maar voordat 'n mens daarmee begin is dit nodig om jouself eers te 'ont-hou,' letterlik ophou om jouself in stukke te kap en weer doelbewus na heelheid te streef, soos in die Engelse woord re-member.

Dit sluit in dat jy moet besef dat jou ego, en die persoonlikheid wat daarmee saamhang, nie jou "ware self" is nie, maar jou "valse self." Dit is slegs 'n masker wat jy gevorm het om makliker by die vereistes van jou omgewing in te pas. Om jouself te "onthou" beteken dus ook om tot die besef te kom dat jou ware self totaal anders lyk.

Daarna moet jy jou manlike en vroulike aspekte met mekaar versoen. Hoewel ons die rolle van mans en vroue speel, is on psiges androgeen. Daarom sê Jesus (vers 22): "As julle die twee een maak en as julle die binnekant soos die buitekant maak ... en die bokant soos die onderkant...; as julle manlike en vroulik een maak, sodat die manlike nie meer manlik is en die vroulike nie meer vroulik nie; as julle die liggaamlike oog vervang met 'n geestelike oog en die liggaamlike hand met 'n geestelike hand; en as jy van jou loopbaan 'n lewensweg maak en jou uiterlike vervang met die beeld van God in jou siel, dan sal julle die koninkryk binnegaan."

"Die twee een maak", net soos "buitekant en binnekant", "bokant en onderkant" staan in hierdie evangelie vir die taak om jou onbewuste aspekte en jou bewuste lewe met mekaar te versoen. Die beste manier om hierdie ideaal te bereik is om tyd vir stilte en meditasie in te ruim. Maar ook dit is lewenshuiswerk.

Jesus sê nie: "Glo in my en jy sal 'n nuwe mens word" nie, maar "Volg my." Net soos in die Boeddhisme is die verkryging van 'n nuwe lewenshouding nie 'n geval van glo nie, maar van "oefen." Soos Paulus dit in die 1933-vertaling stel: "Oefen julle in godsaligheid."

Daar is twee maklike daaglikse oefeninge wat 'n mens naas jou daaglikse meditasie kan doen:

Kry vir jou 'n woord wat as pand kan dien van jou verhouding met die onsienlike en herhaal dit so dikwels per dag as wat jy kan, net soos wat die woestynmonnike met die Jesusgebed gedoen het. Later sal jy vind dat hierdie woord of mantra homself begin sê en jy sal voortdurend bewus wees dat jy in die teenwoordigheid van die onsienlike lewe.

Beskou alle mense soos jouself. Wanneer jy iemand sien, ryk of arm, belangrik of onbelangrik, sê vir jouself: "Hierdie mens begeer presies wat ek begeer – om gelukkig te wees en vry van kommer en sorge."

Dit is 'n nietige oefening, maar as dit gereeld gedoen word het dit groot gevolge. Dit kan ons lewe verander van ego-gedrewe selfsugtigheid tot 'n lewe van deernis en medelye.

Dis dalk nie die soort lewe wat ons materieel ryker sal maak nie, maar wel 'n lewe wat ons gelukkiger sal maak en ons sal help om sin in die lewe te vind ... en in ons dood.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.