James W. Fowler se geloofsvlakke

Deur Dr. Nico Smith op 1 Maart 2011

James W Fowler: Stages of Faith

James Fowler is 'n opgeleide teoloog en ontwikkelingsielkundige wat aan verskeie universiteite, waaronder Harvard, verbonde was. In sy dertigerjare beleef hy 'n intense persoonlike krisis toe hy amper dood is. Hy gee in sy boek 'n aangrypende beskrywing van hoe hy een nag wakker geword het met die gevoel dat hy besig is om te sterwe.

In sy ontliggaamde toestand was hy gedistansieer van alles om en in hom, ook van sy geloof. Hy stel dit so: "... my faith, like my wife and children seemed remote and detached from me. I looked at it as one might look at an overcoat hanging on the far side of a room. During those moments I was not in my faith. I seemed to stand completely naked – a soul without body, raiment, relationships or roles. A soul alone with – with what? With whom?"

Hy begin dan met 'n studie van geloof. Fowler se uitgangspunt is dat geloof 'n universeel menslike verskynsel is. Elke mens word gebore met die vermoë tot geloof net soos hy gebore word met die vermoë om spraak aan te leer. Geloof is gevolglik so fundamenteel dat niemand lank daarsonder kan lewe nie.

Hy voel dat dit so universeel is dat wanneer mens verby simbole, rituele en patrone kyk, dieselfde verskynsels by alle gelowe voorkom en, ja, ook by ateïste waargeneem kan word. En tog is dit so gevarieerd dat elke mens se geloof uniek is.

Fowler se boek kan in vyf dele opgedeel word. Hy poog om helderheid te bring oor geloof as fassinerende verskynsel. Interessant is die onderskeid wat hy maak tussen geloof, godsdiens en godsdienstigheid. Godsdiens is volgens hom 'n kumulatiewe geloofstradisie wat die geloofsuitdrukkinge van 'n gemeenskap se verlede weergee en wat in tekste, gebruike, verhale, mites, profesieë en dies meer neerslag vind. Geloof is in teenstelling daarmee 'n dieper, ryker en intens persoonlike aangeleentheid, 'n oriëntasie van die totale persoon wat doel en betekenis aan sy lewe gee en wat in godsdiens geanker kan wees, hoewel dit nie noodwendig so hoef te wees nie.

Godsdienstigheid is 'n bewuste verklaring of formulering van geloof, iets soos die geloofsbelydenis van Christene. Die objek van die boek is egter nie godsdiens of belydenis nie, maar meer oor geloof as dieper oriëntasie.

Geloof is volgens Fowler 'n aktiewe bestaanswyse wat die mens se ervaring van die lewe vorm. Hy kyk na dié begrip van vele kante af. Kortliks sou gesê kan word dat hy na geloof verwys as 'n bewuste of onbewuste verhouding met 'n stel norme wat die gelowige se instelling teenoor die werklikheid en optrede teenoor ander bepaal. Vervolgens is geloof ver-beeld-ing in die sin dat dit 'n manier is om die alledaagse lewe in terme van 'n uiteindelike omgewing te sien. Die omgekeerde van geloof is nie twyfel nie, maar 'n onvermoë om enige uiteindelike omgewing te ver-beeld; dit is nie ateïsme nie maar nihilisme.

In die tweede deel bied hy 'n dialoog aan tussen drie ontwikkelingsielkundiges wat hom beïnvloed het. Piaget, Kohlberg en Erikson. Al drie stel ontwikkeling voor as vlakke waardeur die mens gaan. Fowler poog dan juis deur sy werk om die struktuur van geloofsontwikkeling vas te stel en nie noodwendig die inhoud daarvan nie. Dit gaan vir hom nie oor wat of waarin 'n mens glo nie, maar hoe die mens dit beleef en uitleef. Geloof kan dus volgens hom los van godsdiens gesien word.

Fowler se navorsing is gebaseer op seshonderd diepte-onderhoude met mense van verskillende ouderdomme, geslagte en geloofsoortuigings. Die mode wat hy dan daaruit ontwikkel het ses vlakke van geloofsontwikkeling wat onderskei kan word. Die proses van geloofsontwikkeling beweeg nie slegs horisontaal van een vlak na 'n ander nie, maar het ook 'n vertikale dimensie wat maak dat elke volgende vlak kwalitatiewe vordering bo die vorige een inhou.

Die vlakke wat hy onderskei is chronologies opeenvolgend en verteenwoordigend van verskillende leeftye, maar dit beteken nie dat elke mens deur al die vlakke gaan nie. Daar is volwassenes wat nooit verder as die tweede vlak vorder nie; trouens, 'n groot aantal volwassenes steek by die derde vlak vas. Die sesde vlak is weer so gevorderd dat dit deur min mense bereik word. Die vlakke is ook nie onderling uitsluitend nie; 'n mens kan op die oorgang tussen twee vlakke vas sit.

Die kern van die boek is die ses geloofsvlakke.

Die nulvlak is die ongedifferensieerde geloof van die baba en die vroeë kleuter en is ontoeganklik vir empiriese ondersoek. Dit is 'n stadium voordat taal ontwikkel en simbole ontdek word. Die elemente van vertroue en hoop tussen kind en ouer wat op dié stadium voorkom (of ontbreek), onderlê (of ondermyn) egter latere geloofsontwikkeling.

Vlak 1 is die intuïtief-projektiewe stadium, kenmerkend van die kind tussen drie en ses wat spraak en simboliese voorstellings bemeester het en sy ervaring kan interpreteer. Kinders in dié stadium kombineer stories en denkbeelde wat hulle uit hulle kultuuromgewing ontvang in eie verstaanbondels. Dit is 'n fase van fantasie en nabootsing, waarin die ouers se geloof die kind sterk beïnvloed.

Vlak 2 is die mities-letterlike geloof. Dit is tipies van die laerskoolkind. Dit is 'n narratiewe stadium waarin stories sonder refleksie ingeneem word en geglo word, sonder enige vermoë om krities daarmee om te gaan. Dit is ook 'n egosentriese stadium waarin die perspektiewe van andere 'n onbeduidende rol speel. God se perspektief en eie perspektief word nie onderskei nie. Morele waardes word letterlik geïnterpreteer.

Vlak 3 is die vlak van konvensionele geloof. Dit kom gewoonlik nie voor die hoërskoolstadium voor nie, want dit is die fase waarin analitiese denke bemeester moet word. Dit is ook 'n stadium waarin die mens sterk deur sy sosiale omgewing beïnvloed word. Die geloofsisteem is dus konvensioneel en nie analities nie, dit word belewe as "almal" se geloof. God is nou die heilige Ander Een. Simbool en betekenis word verwar en simbole word self as heilig aanvaar. Volgens Fowler is Vlak 3 kenmerkend van 'n groot deel van die godsdienstige lewe in Amerika.

Vlak 4 word gekenmerk deur individuatief-reflektiewe geloof. Dit tree gewoonlik nie voor die jare 30 of 40 in nie, maar kan al in die laat puberteit na vore kom. Dit word dikwels gekenmerk deur mense se kritiek teen die sogenaamde outoriteit van bronne, wat voorheen aanvaar was as gesagsvol. Dit is dikwels 'n wegbreek uit die geïnstitusionaliseerde sisteme en bring baie konflik en spanning binne die indiwidu en gemeenskap na vore. Fokus op uiterlike gesag verander nou na fokus op innerlike gesag. Simbole, waardes en betekenisse word nou krities bevraagteken en los van hulle betekenisse gesien. Kritiese geloof in 'n ekstreme vorm kan oorgaan in agnostisisme.

Vlak 5 is dié van konjunktiewe geloof en neem selde voor die middeljare 'n aanvang. Dit beweeg verby die logika van Vlak 4 waar simbool teenoor betekenis gestel word; dit laat die werklikheid eerder vir homself spreek. Dit word 'n dialektiese logika wat ruimte laat vir paradokse. Simbole word weer met betekenisse geïntegreer omdat die diepte van die werklikheid waarna hulle verwys, besef word. Dit gaan dus verby die ideologie van die geloofstelsel wat in Vlak 4 gekonstrueer is en aanvaar 'n versoening van die bewuste en die onbewuste. Dit erken dat die eie godsdienstige tradisie onvolledig en beperk is en het waardering vir ander geloofsisteme sonder om noodwendig die eie sisteem te verander. Dit is trouens 'n herwinning en versterking van die oorspronklike geloof. Dit handhaaf die kritiese vermoëns van Vlak 4 maar vertrou dit slegs as werktuig om selfbedrog te voorkom. Anders as op Vlak 4 is dit bewus van paradokse. Vlak 5 is gaan dus oor 'n geïntegreerde geloof.

Vlak 6 betree universaliserende geloof. Dit is 'n vlak wat deur min gelowiges bereik word. Dit is meesal 'n ego-lose groeityd. Gelowiges op hierdie vlak het 'n besonder sterk gevoel vir transendente morele waardes. Hulle het boonop visioenêre idees van beginsels soos inklusiwiteit, geregtigheid en 'n wêreld waar die een-wees agter die verskeidenheid raakgesien word. Universaliserende gelowiges stel tipies nie belang in selfbehoud nie en het 'n openheid vir gemeenskap met mense van ander geloofsvlakke en gelowe. As voorbeelde van mense op hierdie vlak word Gandhi, Martin Luther King Jr, Moeder Teresa en die Dalai Lama genoem.

'n Interessante aspek van die ontwikkelingsmodel wat Fowler aanbied, is dat dit nie 'n stapmodel is soos dié van Piaget, Erikson en andere nie, maar 'n spiraalmodel. Dit beteken dat daar nie maar net van een stap na 'n ander gevorder word nie, maar dat elke nuwe vlak die vorige vlakke herkontekstualiseer sonder om dit te ontken. Elke vlak is gemoeid met dieselfde vraagstukke, en verandering kom neer op die aanspreek daarvan op 'n nuwe en wyer vlak van kompleksiteit. Die algehele effek is groter individuasie tot op Vlak 4 en dan 'n neiging terug na die begin, maar nou op 'n hoër vlak van kompleksiteit, differensiasie en inklusiwiteit.

Die model, en die navorsing wat daarop gebaseer is, het leemtes – dit erken Fowler self. Om net na enkeles te wys; die navorsing is slegs in Amerika uitgevoer en dan ook grootliks onder informante uit 'n Christelike konteks – 81.5% van almal met wie onderhoude gevoer is. Nie een van die onderhoude waaruit hy aanhaal is van 'n uitgesproke ateïs nie; slegs een kan hoogstens as 'n afvallige gelowige beskou word. Die vraag ontstaan dus of die teorie en die ontwikkelingsmodel werklik vir alle gelowe en ook vir nie-godsdienstiges kan help.

Wanneer dit alles gesê is, voel ek egter dat Fowler se model ons wel kan help om sekere patrone raak te sien in mense se geloofsgroei en belewenisse. Dit kan veral ons binne 'n Christelike milieu van waarde wees.

Boek

James W. Fowler: Stages of Faith. The psychology of human development and the quest for meaning. (Harper, San Francisco, 1995.)

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za