Ds. Izak du Plessis bedank uit die N.G. Kerk

Ds. Izak du Plessis se afskeidsboodskap volg hierna...

Lus vir 'n loopdop, dominee?

Artikel in Beeld, 7 Junie 2010

Die kerk moet meer soos 'n kroeg word, meen ds. Izak du Plessis, wat pas as predikant bedank het. Neels Jackson het met hom gesels en na sy afskeidsboodskap in die NG gemeente Valleisig in Pretoria gaan luister.

"Izak is wie hy is. Hy is nie in-'n-blik-drukbaar nie."
Met dié woorde ná sy afskeidsboodskap (hy beklemtoon dis nie 'n preek nie) word iets gesê van die onopgesmukte, plat-op-die-aarde-mens wat Izak du Plessis is.

Hy is die soort dominee wat soms in 'n kroeg 'n draai sal maak.
Nie omdat hy mense daar wil bekeer nie, maar omdat hy lus is vir 'n bier.
Dan sal hy daar kuier en vriendskappe smee, net omdat dit so 'n menslike ding is om te doen.
En wanneer hy weer sien, sit van daardie kroegvriende in die kerk.
In sy eerste gemeente, in Alberton, het hy soms die kroeg van die Albertonse rugbyklub opgesoek.

In sy afskeidsboodskap vertel hy dat iemand op 'n dag 'n lootjie vir twee toetskaartjies aan hom wou verkoop.
Hulle het geld ingesamel vir die kroegmeisie wie se motor in 'n ongeluk afgeskryf is.
Die aand toe hulle die lootjie trek, was hy toevallig weer daar.
Die wenner het die kaartjies teruggegee om weer opgeveil te word.
Dit het drie keer gebeur totdat daar sowat R15 000 vir haar ingesamel is.
En toe sê die kroegbaas sy kan die geld maar hou. Buite staan daar reeds 'n motor wat hy vir haar gekoop het.
Du Plessis verwys na hoe kerkmense op daardie kroegmense kan neersien: dronkies, alkoholiste...
Maar daardie aand het hy by hulle 'n soort omgee gesien wat die kerk in die kroeg kan gaan leer.

En toe kry hy die beroep na die fatsoenlike ooste van Pretoria toe.
Baie mense in Valleisig het lief geword vir hom, maar daar was ook diegene wat geen vat aan hul nuwe dominee kon kry nie.
In 'n stadium is daar 21 klagtes oor leer en lewe by die ring teen hom aanhangig gemaak, onder meer omdat hy die kerk met 'n kroeg vergelyk het.
Hy is op 19 klagtes onskuldig bevind. Vir die twee waarop hy skuldig bevind is, is hy op die vingers getik en hy kon voortgaan as predikant.
Vandag erken Du Plessis dat die klaers reg was in hul aanvoeling oor sy teologie. Hy is nie kwaad dat hulle hom aangekla het nie. Wel oor die manier waarop hulle dit gedoen het.
Op twee na het nie een van die klaers self met hom kom praat nie.

In sy afskeidsboodskap praat Du Plessis oor sy eie dwaling en hy plaas hom in die skoene van Job, wat aan sy vriende sê: "As ek werklik gedwaal het, is my dwaling my eie saak."
En as agtergrond tot dié teks verduidelik hy hoe Job se vriende "met hul onversetlike vergeldingsleer" net een verklaring kon sien vir Job se penarie: Job moes gesondig het.
Dis al verklaring wat hul dogma hulle toegelaat het.
Dít, voeg Du Plessis by, is die beste voorbeeld van wat die "verstarring van wysheid" genoem word.
Soos Job is hy "in opstand oor die feit dat God soms die gevangene geword het van menslik uitgedinkte stelsels".

Voordat hy verder preek/praat, neem hy eers sy kitaar en sing vir die gemeente Kris Kristoffersen se liedjie The Pilgrim – met die reël wat 'n refrein deur sy preek/praatjie word: "There's a lot of wrong directions on that lonely way back home."
Dan vertel hy aan die gemeente hoe onvoorwaardelik lief hy sy kinders het, dat hy hulle nog nooit die slegste van die lewe kon toewens nie, al was hulle hoe stout.
Dié gedagte "het die idee van God radikaal anders in my kop kom sit".
Want, sê Du Plessis, God, soos voorgestel deur die kerk, is nie so lief vir sy kinders nie. Mense word geestelik afgedreig met die hel.
Die vrae oor God het meer geword totdat hy by die punt gekom het dat hy nie meer in dogmatiese terme oor God wil praat nie. Sy gedagte van God het weggeskuif van die netjies verwoorde formulerings van die kerklike leer na die misterie, na wat die gesang besing as "Ewig-onbegryplik Wese".
"Ek weet niks van God nie. Ek bely niks oor God nie. Ek leef net in God," verduidelik hy nadat hy 'n gedig voorgelees het waarin hy iets van sy siening oor God probeer verwoord het.

Eintlik, sê hy, het NP van Wyk Louw sy sienings die beste verwoord in die slotstrofe van 'n gedig:

Daar is een heerlikheid: U sien;
daar is een rus: om u te soek;
om nie te weet – dit is u seën;
en om te vind – dit is U vloek.

Du Plessis verklaar: "Ek is ongemaklik met konsepte soos die hemel en die hel. Ek sukkel regtig met begrippe soos maagdelike geboortes, opstandings en hemelvaarte. Kortom: In die lig van die kerk se belydenisskrifte is ek inderdaad besig om te dwaal."
Hy troos homself egter met die woorde uit die liedjie: "There's a lot of wrong directions on that lonely way back home."
By herhaling stel hy dit duidelik dat hy nie 'n nuwe "waarheid" oor God probeer verkondig nie. "Dis maar my idees. Miskien is ek verkeerd."
Daarom neem hy niemand kwalik wat anders glo nie. Daar is immers "a lot of wrong directions on that lonely way back home".
Hy vertel selfs hoe hy onlangs, weer in 'n kroeg, met 'n "Angus-fan" kon gesels, hoe hulle, ondanks hul uiteenlopende teologieë, mekaar op 'n manier kon vind en hoe hy vir die man kon bid.
"En," voeg hy by, "hy het my, die half ongelowige dominee, 'n dissipel van die Here genoem."
Vir Du Plessis was dit 'n besondere oomblik omdat mense met verskillende sienings ruimte vir mekaar kon maak.

Compassion is die woord wat hy herhaaldelik gebruik.
En in sy boodskap aan die kerk is dit die aanklag en die pleidooi: Te min compassion.
Want, sê hy, die kerk as instelling kry dit nie reg om vir mense om te gee nie. Gaan vra maar elke ongetroude meisie wat tussen 1960 en 1994 swanger geraak het. Gaan vra maar mense wat in daardie tyd geskei het. Gaan vra maar gay mense.
En: Gaan vra maar elke gelowige wat dit gedurf waag het om ander vrae te vra.

Dit is teen dié agtergrond dat Du Plessis sê: "As die kerk wil relevant wees, dan gaan ons moet leer om soos 'n kroeg te wees. 'n Kroeg is die beste vervalsing van die kerk."
Daar word jy aanvaar soos jy is en ingesluit by die gemeenskap.
Hy haal iemand aan wat gesê het 'n kroeg floreer nie omdat mense alkoholiste is nie, maar omdat God die behoefte in mense geplaas het om te ken en geken te word, om lief te hê en 'n geliefde te wees.
Die TV-kroeg in Cheers se liedjie het gesing: "Everybody needs a place where someone else knows your name." Dis wat mense in 'n kroeg kry.
'n Plek waar almal jou naam ken.
Luister 'n mens so na Du Plessis, word dit duidelik waarom hy bedank het. In die kerk was daar vir hom te veel dogma en te min deernis.
Dit was te min soos 'n kroeg, waar dogma laag en deernis hoog is.

Du Plessis se afskeid was 'n emosionele geleentheid.
Die blommerangskikking met 'n groot leë raam dra die boodskap oor: Izak het ons buite die raam leer dink.
'n Tranerige vrou kom sê: "Skryf mooi oor ons. Ons is lief vir hom." Met 'n stem wat breek kom sê 'n man dankie vir wat Izak vir hom beteken het.
Die dominee wat deernis uitgeleef het, maar die dogma verloor het.

Du Plessis het nog nie besluit wat hy nou gaan doen nie.

My afskeidsboodskap – Izak du Plessis

Skriflesing
Voordat ek lees wil ek baie kort verduidelik waarom ek Job 19:4 as skrif gekies het. Die Jobverhaal is een van baie soortgelyke verhale in die ou nabye Ooste. Dit was 'n wysheidsgeskrif wat te doen het met ontwikkelings binne die wysheidstroom. Die wysheidsleraars wou voorskrifte gee oor hoe voorspoed verseker kan word. Die boek Job wil hierop reageer en die probleem met so uitgangspunt uitwys.

Dit word gedoen deur Job en sy vriende teenoor mekaar te plaas. Aan die een kant vind ons die vriende met hul onversetlike vergeldingsleer. Volgens hulle word 'n mens beloon as jy iets goed doen en gestraf as jy verkeerd doen. Dit is die skarnier van die hele wysheidsbeweging. Na hulle mening moes Job sy lyding met 'n spesifieke sonde verdien het. Hoekom? – Omdat hulle dogma so sê – die beste voorbeeld van wat die "verstarring van die wysheid" genoem word.

Die onversetlikheid van Job se vriende dryf Job algaande tot 'n rebellie teen God. Job kom dus eintlik in opstand teen 'n heersende teologiese sisteem van sy tyd. En dis op hierdie punt waarom ek my vir 'n oomblik in Job se skoene wil plaas as julle my daarvoor kan vergewe. Soos Job is ek in opstand oor die feit dat God soms die gevangene geword het van menslik-uitgedinkte sisteme.

As gevolg hiervan was ek in Valleisig al deur 'n paar mense as dwaalleraar getipeer. Ek dink nie hulle is verkeerd nie. Maar mag ek julle vanmore in die woorde van Job antwoord toe hy deur sy vriende van dwaling beskuldig was: Lees Job 19:4 – "As ek werklik gedwaal het, is my dwaling my eie saak."

Ek wil in die lig van hierdie teks met julle gesels oor my eie dwaling. Ek gaan nie preek nie. Ek wil sommer 'n paar gedagtes met julle deel n.a.v. Job se antwoord. Maar ek hoop darem om ook vir jou iets te gee om oor te gaan dink by die huis.

Kom ons spring weg met my "dwaling". My kinders is die allersin van my bestaan. Soos die meeste ander ouers, wil ek net die beste van die lewe vir hulle beding.

Dit maak nie saak wat hulle doen nie, selfs wanneer hulle op hulle ongehoorsaamste is, is daar nog nie een oomblik wat ek die slegste van die lewe vir hulle toegewens het nie.

Selfs as hulle die verskriklikste tantrums gooi, selfs wanneer hulle dit soms waag om na 'n mens te klap, selfs wanneer hulle my mees sentimentele besitting breek, selfs al sê hulle die lelikste goed soms vir 'n mens, selfs dán sal ek dit nie vir 'n oomblik oorweeg om hulle weg te gee of êrens op 'n verlate plek te los nie.

Ek dink al 'n geruime tyd anders oor God.

Maar die dag toe ek besef het hoe lief ek regtig vir my kinders is, het die idee van God radikaal anders in my kop kom sit.

Want God, soos voorgestel deur die kerk, is nie so lief vir sy kinders soos wat ek en baie van julle vir ons kinders is nie.

Die rede waarom ek so sê het te make met die hemel en die hel. Twee begrippe wat ek meen ten diepste die inhoud van mense se geloof bepaal. Maar dis 'n gesprek vir 'n ander dag.

Wat my nou ongemaklik maak is die twee terme waarmee mense geestelik afgedreig word. As geloofsgemeenskap verkondig ons 'n liefdevolle God wat die beste vir sy kinders wil – 'n beeld waarmee ons as ouers kan vereenselwig. Maar dan word die kinkel bygevoeg. As 'n mens goed genoeg is en genoeg geloof het, dan eindig ons in die hemel by God.

As ons egter "stout" is en nie gelowig genoeg nie, dan is die hel ons voorland. Maak nie saak hoe lief God sy kinders het nie, die afdreiging van 'n ewige lyding, bly. Nie 'n raps op die boud nie, nie 'n time-out in die badkamer nie, nie voorregte soos televisie ontneem nie, nee, 'n ewige vuur, dis wat vir ongehoorsame kinders wag.

Hierdie beskouing het ernstige vrae oor God by my ontketen. Vrae wat verder verdiep het vroeg in 2007. Oom GW het my met drie vrae in my kantoor kom konfronteer:

Ek was gedwing om oor dinge na te dink wat ek gerieflikheidshalwe geïgnoreer het. Ek het geweier om te antwoord omdat ek besef het dat die inhoud van my geloof nie deur positiewe / selfs negatiewe antwoorde op dogmatiese vrae gedefinieer word nie.

Dit het daartoe gelei dat ek op 21 klagtes van leer en lewe voor die Ring van Faerie Glen moes gaan verantwoording doen. Ek is onskuldig bevind op 19 en skuldig aan twee. Die Ring het my oor my vingers geraps en ek kon aangaan met my werk. 'n Werk wat ek regtig geniet het.

Maar die vrae oor God en die wese van God het nie opgehou nie. Vrae waarin ek erg verstrik geraak het hoe verder ek bly dink het.

Om al daardie vrae vanoggend aan te raak, sal onmoontlik wees. Die uiteinde van hierdie vrae was egter dat ek God glad nie verstaan nie. Ek het die punt bereik waar ek soos Karen Armstrong sê: "It is better to say that God does not exist, because our notion of existence is too limited to apply to God. God is Nothing, not another being. God is not one of the things that are. God is not one of the things that exist."

Daarom probeer ek om weg te bly van dogmatiese uitsprake oor God. Ek bely nie meer my geloof in God nie, want belydenisse beperk ons ervaring van God. Ek verkies om te volstaan by hoogstens een uitspraak: Ek leef in God. Dit bied aan my die moontlikheid om die misterie, die ewig ontwykende misterie van God te bly ervaar.

Ek het iets hiervan in een van my eie gedigte probeer sê:

Kyk mensdom, God sit op die horison,
hy's nader as my asem op jou wang;
sien jy hoe dy die heelal en die son?

Wys ons tog waar is die God van pardon,
smeek moeë mense in hul aandgesang;
kyk mensdom, God sit op die horison,

hy's ouer as 'n ronde blou ballon,
ellipties in sy vaste sterregang;
sien jy hoe dy die heelal en die son?

Wys ons dan waar is God die liefdesbron,
bid sewe siele in hul swanesang;
Kyk mensdom, God sit op die horison,

hy's geler as 'n spikkel teen die son,
blouer as die derde maan wat geel hang;
sien jy hoe dy die heelal en die son?

Tussen die suiderkruis en orion,
wat is waarheid en wat is dogmadwang?
Kyk mensdom, God sit op die horison,
sien jy hoe dy die heelal en die son?

Maar die mens wat my idee oor God die beste verwoord, is Van Wyk Louw:

Daar is een heerlikheid: U sien;
daar is een rus: om U te soek;
om nie te weet – dit is U seën;
en om te vind – dit is U vloek.

Ek weet niks van God nie. Ek bely niks oor God nie. Ek leef net in God. Die hemel en die hel, maagdelike geboortes, en dergelike dinge is antieke gedagtes wat nie aan my bekend is nie. Ek leef in 'n ander wêreld waarin ek anders oor God dink. Ek mag dalk verkeerd wees, maar ek troos my met dié woorde: "There's a lot of wrong directions on that lonely way back home."

Wat van jou geloof? Ek het myself tot 'n mate teenoor sommige van julle se geloof gestel. Dit beteken egter nie dat ek jou verstaansraamwerk as ongeldig afmaak nie. Alle uitsprake oor geloof (ag alle uitsprake oor enigiets) is altyd onvolledig. Ook myne. Juis daarom mag jy glo soos jy glo. Maar jou reg tot 'n eie verstaan bring verantwoordelikhede mee.

Karen Armstrong: "The experience of an indefinable transcendence, holiness or sacredness has been a fact of human life. Even though I don't share the traditional notion that many people have of God, I don't want to dismantle their faith, however. In fact, I don't think it matters what you believe in. If conventional beliefs make you compassionate, kind, and respectful of the sacred rights of others, this is good religion. If your beliefs make you intolerant, unkind and belligerent, this is bad religion, no matter how orthodox it is."

En: "Compassion does not mean feeling sorry for people. It means feeling with them."

Dit is waar die kern van die hele saak vir my lê. Om saam met iemand anders te leef, te voel. As 'n mens dit nie kan doen nie, dan is jy soos Job se vriende wat die regte ortodokse geluide oor God maak, maar nie 'n greintjie gevoel het vir die persoon met wie hulle praat nie. Compassion maak van geloof 'n seën.

Ek het so rukkie terug ervaar wat dit beteken. Dis 'n storie van hoe ek my eie vooroordele en fundamentalistiese oortuigings opsy moes skuif om ruimte vir iemand anders se behoeftes te maak.

Kyk, die hele Angus Buchan-verskynsel irriteer my grensloos. Ek glo dit is die ontwaking van 'n nuwe fundamentalisme waaroor ons spyt gaan wees. As iemand oor Angus praat dan probeer ek om die gesprek in 'n ander rigting te swaai, want ek gaan net iemand kwaad maak as ek iets sê. Dis amper asof ek fundamentalisties gekant is teen die hele ding. Maar toe kom die oomblik dat ek vir 'n Angus-fan moet bid. En boonop op die stoep van 'n kroeg in Jacobsdal...

Dis hoe dit gebeur het. Toe ek my bedanking indien, toe oorval die groot angs my, só erg dat die dokter my op pille sit en my vir 'n week afboek. Ek gaan kuier toe vir 'n vriend wat die eienaar is van die hotel op Jacobsdal. Genugtig mense, kan daai klomp boere kuier. Hulle werk hard en hulle kuier hard. Maar tussen daai klomp kuierganse is daar een ou wat my die hele week opval. Groot sterk boer. Maar hy praat sag en hy drink nie soveel soos die ander nie. Ek en hy het nogal lekker gesels die week oor allerhande beuselagtighede.

En ek het hom so bietjie van my eie geloofskrisis vertel. Saterdag na die rugby maak hy aanstaltes om te groet. Maar ek kom agter hy draai-draai en kry nie klaar gegroet nie. Uiteindelik tik hy my op die skouer en wink my buitentoe. En daar op die kroeg se stoep stort hy sy hart uit. Hoe hy by Angus was en dat hy sy lewe wil verander en dat hy nie meer deel van die klomp kroegmanne wil wees nie. Hy wil nou 'n skoon lewe lei. Maar hy sukkel om van die kroeg af weg te kom. Ek sê vir hom maar dis nie nodig nie. Hy hoef nie sy vriende te versaak nie. En bowendien kan enigiemand sien dat hy anders is as die res. Boonop lyk dit of hulle dit respekteer.

Maar nee, die Here het hom by Oom Angus se byeenkoms oortuig hy moet verander. En ek sê, maar ek hou nie van Oom Angus nie en boonop is ek nog half ongelowig. Wil hy nie maar liewer by 'n ander dominee gaan raad vra nie. Nee, sê hy, hy wil al die hele week met my praat, want hy dink ek sal verstaan. Ek is nie soos die ander dominee's wat hy ken nie. Ek kan darem saam met die manne gesels, sê hy.

Toe besef ek: Hierdie ou het vir my ruimte gemaak. Hy weet wat my oortuigings is. Maar hy het vir my ruimte gemaak en hy het my met sy hart vertrou. Toe vat ek sy hand en ek bid: Here, help vir Leon om die regte keuses te maak en te breek met die dinge wat hom laat struikel in sy geloof. Daai groot boer het gehuil – geruk soos hy huil.

En op pad terug na sy huis toe het hy drie keer gebel om net weer dankie te sê. En hy het my, die half-ongelowige dominee 'n dissipel van die Here genoem. Ek het dit as die grootste kompliment toegeëien. En ek gaan dit die res van my lewe saam met my dra.

Want dit was 'n oomblik waar twee mense van verskillende uitkyke vir mekaar ruimte gemaak het, compassion gedeel het en binne God geleef het.

Daarom, wat jou manier van glo betref: Jy mag volgens jou oortuigings glo. "There's a lot of wrong directions on that lonely way back home."

Maar doen dit asseblief sorgsaam. Doen dit met compassion. Ons elkeen het dit nodig.

Molefe Tsele in die M & G April 2006: "Christianity in its current state, obsessed as it is with its self-importance and self-righteousness, concerned with its glory and greatness, misses the point of its existence. The source of its greatness, and indeed of its hope, is in returning to the simple message of its teacher."

Dit bring my by die kerk. Maar as 'n mens iets oor die kerk sê dan sê mens ongelukkig ook iets oor jou en my. Want ons is die kerk. Kerk kan nie wees sonder ons nie. En daarom is die kerk se dwaling nie die kerk se eie saak nie. Dis ons saak.

In die Mail & Guardian van 30 April 1999 skryf Melvyn Bragg: "I owe Christianity a debt, and so, I believe, does the world we have lived in for the past 2 000 years. Much of what is best in that duo-millennial span has been due to the man who inspired the faith which took his name. But Christianity also owes me and many others an explanation: for the bigotry, wickedness, inhumanity and wilful ignorance which has also characterized much of its history. Its force and extraordinary persistence have informed 'the best of times and the worst of times' from the manger in Bethlehem to the gas chambers of Auschwitz."

Ongelukkig is dit die storie van die kerk. Die kerk kon nog nooit volgens my klinkklaar bewys dat hulle vir mense omgee nie. Daar is individue wat dit doen, maar die kerk as instelling kry dit nie reg om met compassion te leef nie. Gaan vra maar vir elke dogter wat tussen 1960 en 1994 swanger geword het. Gaan vra maar vir elkeen wat in daardie tyd geskei het. Gaan vra maar vir die gay mense hoe seer hulle net in die afgelope paar jaar gekry het. Gaan vra maar vir elke gelowige wat dit gedurf waag het om ander vrae te vra.

In baie opsigte het die kerk so irrelevant soos die apartheidsparlement in die vorige eeu geword.

Willie Esterhuyse (God en die gode van Egipte): "Ek het een oggend, baie laat in my lewe, 'n radikale besluit geneem: 'n God wie se vertolkte boodskap deur sy 'mediums' en volgelinge geen wesenlike verskil maak aan verskynsels soos armoede en onregsituasies nie, is nie die moeite werd om te aanbid nie."

Hy skryf ook: "Die hoe van God vra sigbare tekens van versoening in die wêreld – en stories wat mense aangryp oor geregtigheid aan die werk. Veral in die kerk."

Wat my betref is dit al manier hoe die kerk relevant kan wees. Vergeet die debatte oor suiwer en onsuiwer leerstellings en dra by tot versoening en geregtigheid. En nou kan mens baie slim goed vir mekaar sê oor koinonia en dissipelskap ens. Maar weet jy wat, dis eintlik baie eenvoudig in my opinie. As die kerk relevant wil wees, dan gaan ons moet leer om soos 'n kroeg te wees. Want op 'n snaakse manier is die kroeg die beste vervalsing van die kerk. In die kroeg word jy aanvaar soos jy is en by die gemeenskap ingesluit.

Bruce Larson: "Die kroeg floreer nie omdat mense alkoholiste is nie. Dit floreer omdat God die behoefte in mense geplaas het om te ken en om geken te word, om lief te hê en 'n geliefde te wees."

Cheers: "Everybody needs a place where some-one else knows your name." Dis wat mense in die kroeg kry. 'n Plek waar almal jou naam ken.

Om dit te illustreer wil ek vir jou 'n storie vertel. Toe ek nog in Alberton predikant was, het ek so dan en wan 'n draai gaan maak by die rugbyklub se kroeg. Nie om iemand te bekeer nie. Net om bietjie skouers te skuur met die "wille" manne van die dorp. En sommer net om nonsenspraatjies te maak en te lag. Een aand keer een van die gereelde besoekers my vas in 'n hoek: "Dominee, gaan jy 'n lootjie vat? Jy kan twee rugbykaartjies wen vir die game tussen Nieu-Zeeland en die Springbokke op Ellispark. Ten bucks vir een lootjie."
"Nee man, as ek nou vir jou R10 gee, dan het ek een bier minder vir die aand", skerm ek versigtig.
"Kom nou dominee, dis vir 'n good cause. Dis nou jou kans om te practise wat jy preach."
"O, nou maar wat se cause is dit?"
"Dis vir Petro. Iemand het die rooi robot geskip en haar kar afgeskryf. Total write-off. Ons try nou geld bymekaar maak om vir haar 'n ander karretjie te kry. Jy weet, die girl het dit nou nie maklik in die lewe nie. Kom nou doom, vat sommer twee."

Petro is die kroegmeisie. 'n Vrou met 'n hart van goud en 'n mond wat elke orige kroegbesoeker laat verstaan waar sy plek in die kroeg is. Sy het dit wragtag nie breed in die lewe nie. Met 'n salaris van R2500 pm en dalk nog so R2000 se tips gaan dit maar sukkel-sukkel om haar kinders en haarself aan die lewe te hou. En haar vervalle tjorretjie was al waarmee sy werk toe en terug kon kom.

Ek het kaartjies gekoop. En gesukkel om die bier tussen my trane te proe. Want so iets het ek in my hele lewe nog nie eers in die kerk beleef nie. Mense wat vir 'n slag nie net bid nie, maar opstaan en 'n daadwerklike poging aanwend om iemand anders se omstandighede konkreet te verlig.

Maar die storie word nog mooier. Die aand van die trekking is ek weer daar. Toe die wenner se naam aangekondig word, gee hy die kaartjies terug om dit op te veil. Daarna het vyf ouens die kaartjies gekoop en dit weer teruggee. So het 'n groepie "rowwe jacks" R15 000 bymekaargemaak om vir Petro 'n motor te koop.

Maar hou vas. Toe hulle die geld aan Petro oorhandig, toe sê die kroegeienaar dat sy die geld vir haarself kan hou. Hy het self vir haar 'n motor gekoop!

Ek dink dis die Dalai Lama wat gesê het: "Whether one believes in a religion or not, and whether one believes in rebirth or not, there isn't anyone who doesn't appreciate kindness and compassion."

Ek glo kerk kan op hierdie manier weer relevant word. As ons gaan besef: "There's a lot of wrong directions on that lonely way back home."

En begin om om te gee vir mense ten spyte van ons verskille. Liewe gemeente, as ons eerlik wil wees, dwaal ons almal maar in die geloof. Elkeen van ons is maar gedurig op afdraaipaadjies terwyl ons na die Huis soek.

As gevolg van my afdraaipaadjies, het ek besluit om te bedank. Ek is ongemaklik met konsepte soos die hemel en die hel. Ek sukkel met begrippe soos maagdelike geboortes, opstandings en hemelvaarte.

Kortom: in die lig van ons kerk se belydenisskrifte, is ek inderdaad besig om te dwaal. Kan ek maar vir myself en al die ander wat soos ek dink 'n stukkie selfregverdiging gee in die woorde van Hans Kung: "The totality of faith consists in the integrity of commitment, not in entirely correct propositions. And that commitment can be entire and unreserved even though something false is said at the same time."

Wat Küng eintlik sê volgens my verstaan daarvan is: "There's a lot of wrong directions on that lonely way back home."

Seën
Die Here is voor julle om vir julle die pad gelyk te maak
Die Here is langs julle om julle in sy arms toe te vou
Die Here is agter julle om julle teen ongeregtigheid te beskerm
Die Here is onder julle om julle te dra wanneer julle val
Die Here is rondom julle om julle te beskerm
Die Here is bokant julle om julle te seën
Die Here is binne-in julle om julle te lei en te inspireer van nou af tot in ewigheid.
Amen

Izak du Plessis kan gekontak word by http://blogs.litnet.co.za/iduplessis

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za