.

Is godsdienste inherent gewelddadig?

Deur Johan Visser op 1 Augustus 2015

.

Daar is vandag 50 miljoen verplaaste mense in die wêreld, die hoogste sedert die Tweede Wêreldoorlog. Hulle word uit hulle lande verdryf as gevolg van politieke en godsdienstige geweld asook armoede. Oor die wêreld word geweld dus ook deur godsdienstige groepe in die verlede en ook vandag gepleeg. In die verlede was die Judaïsme, Christendom en die Islam skuldig aan die pleeg van geweld teen die mensdom; interkerklike tussen faksies binne die Kerk en buite-kerklik teenoor ander gelowe en ongelowiges. Indringende vrae rondom die geweld kom na vore en antwoorde moet daarvoor gevind word.

  1. Is al 3 die godsdienste ewe skuldig aan die geweld?
  2. Is die geweld inherent aan 'n godsdiens?
  3. Is die gewelddadigheid verteenwoordigend van die godsdiens in geheel of is dit beperk tot sekere groeperinge in die Kerk?
  4. Wat is die oorsake van die geweld?
  5. Is daar moontlike oplossings vir die probleem?

Al 3 die godsdienste vorm deel van die Abrahamse godsdienste omdat hulle 'n gemeenskaplike bron gehad het. Die Midde-Ooste waar die godsdienste ontstaan het, is die bakermat van die mensdom en was vir duisende jare 'n kookpot vir volkere en nasies. Sowat vier vyfdes van alle mense in die wêreld het gene wat teruggevoer kan word na die Midde-Ooste van sowat 50 000 BP. Dit was 'n deugangsroete tussen oos en wes vanaf 60 000 BP en die uitruil van kennis en die vermenging van kulture was alles deel van die kosmopolitiese streek. In sekere gedeeltes was die klimaat ook van so 'n aard dat volkere altyd in 'n oorlewingstryd gewikkel was. Daar was dus landbouers in die streek tussen die Tigris- en Eufraatriviere wat welvarend was; daar was ryk handelaars; en uiterste armoede in die droër streke. Etniese en ekonomiese verskille het veroorsaak dat geweld dus deel van die karakter van die streek was en kom tot vandag toe daar voor. Mesopotamië was die oorsprong van die Steentydperk kulture, landbou het hier ontwikkel en die eerste mense het hulle hier gevestig. Dit is dus nie onverwags dat van die grootste godsdienste hier ontstaan het nie. Daar word vermoed dat van die eerste godsdienste ongeveer 5000 BP 'n formele vorm aangeneem het. In die laat-Neolitiese tyd was daar verskillende primitiewe godsdienste elk met sy eie simbole in die Midde-Ooste. Een van hulle was 'n groep Jode wat die monoteïstiese Judaïsme beoefen het en wat ten spyte van oorloë en diasporas vir meer as 'n duisend jaar as 'n eenheid oorleef het. Dit is dan ook nie raar dat die 3 groot godsdienste, hoewel uiteenlopend, dieselfde basiese simbole het nie. Brokkies geskiedenis van gebeurtenisse of waarnemings is deur mondelinge oorlewering hier versamel, herinterpreteer en het uiteindelik op kleitablette vir die nageslag behoue gebly.

Die ontstaan van die Judaïsme was 'n integrale proses van die samevoeging van Kanaäniete in 'n Israelitiese volk en die neerlê van die wette waarop hulle geloof gevestig is. Omdat die bestuur van hulle land teokraties was, was hulle leefwyse, hoewel baie soortgelyk aan dié van die Kanaäniete, deur hulle monoteïstiese geloof onderskeibaar. Hulle het 'n abstrakte en onsienlike God aanbid en hulle geloof het streng sedewette vir die volk neergelê. Deur hulle godsdiens is die volk gemotiveer om ten spyte van die heidene rondom hulle, 'n Joodse identiteit te behou. Die Jode het dus 'n lewenstyl godsdiens beoefen. Hierdie strewe na Joodse identiteit het weer na vore getree tydens die Babiloniese diaspora in die 6de eeu en het die weggevoerdes tog 'n eenheid behou in die vreemde en het hulle godsdiens ook 'n nuwe fase van ontwikkeling betree. Daarenteen het die Christendom 'n baie komplekse ontstaan gehad deurdat dit eers as die Jesus-beweging wat 'n Joodse hervormings- en bevrydingsbeweging was, begin het en later deur Paulus herdefinieer is om dit uiteindelik in 'n Grieks-Romeinse godsdiens te transformeer. Hy het daardeur die grondslag vir 'n nuwe geloof, verwyder van die Judaïsme, aan die einde van die 1ste eeu daargestel. Die geloof is om die dogma van die opstanding uit die dood en die ewige lewe gesentreer. Na vele kongresse is deur middel van kompromieë deur kerkleiers en die Romeinse keiser daarin geslaag om eenheid in die Christelike kerk in die 4de eeu te bewerkstellig. Die Christendom het vorentoe gestrewe na 'n besorgdheid oor leerstellerige korrektheid, kerklike leer was allesoorheersend en enige afwyking is as kettery wat 'n hoogtepunt in die Middel-Eeue bereik het en tot in die 19de eeu voorgekom het, afgemaak. Die Islam het ontstaan toe die engel Gabriël in 610 n.C. aan Mohammed verskyn het en openbaringe van God oorgedra het met die opdrag om die boodskap aan sy volk te verkondig en 'n monoteïstiese geloof tot stand te bring. Volgens Moslem-tradisie egter het hulle geloof tydens die tyd van Adam ontstaan en was Noag, Abraham, Moses en Jesus profete van hulle geloof. Die feit dat Islam sekere simbole van die Judaïsme sowel as van die Christendom insluit, beteken dat Mohammed toe hy die Koran geskryf het, deeglik bewus van die eerste 5 boeke van die Bybel en die verhaal van Jesus en hy het die ou godsdienstige verhale, aangevul deur eie ondervindinge, beeldspraak en wyshede vanuit die Arabiese kultuur, omskep in 'n Arabiese heilige skrif. Geweld tussen die Arabiese stamme en klans oor die beheer van die noodsaaklike hulpbronne was deel van hulle kultuur. Islam is dus in 'n gewelddadige omgewing gebore en vir Mohammed om mede-Arabiere van Allah se vrede en liefde te oortuig, was die swaard om die nuwe geloof gevestig te kry, die laaste uitweg. Getrouheid aan die wette en rituele van hulle geloof maak dat die Islam tot vandag toe 'n lewenstyl geloof is.

Beide die Christendom en die Islam het dus in 'n gewelddadige omgewing ontstaan. Selfs by die Judaïsme was die Jode gedurig in stryd om vir die behoud van die Joodse kultuur en hulle grondgebied te veg. Dit is dus te verstane dat weens hulle oorsprong in Mesopotamië en die Midde-Ooste die godsdienste inherent die element van geweld sou dra. Daar kan egter verwag word dat namate godsdienste deur ontwikkelingsfases oor die laaste 2 millennia gegaan het en meer gesofistikeerd geword het, dat hulle die aspek van geweld sou ontgroei het. Hoewel godsdienste tot 'n mate by 'n meer moderner wêreld aangepas het, was hulle kerne, dogmas en geskrifte nog vasgevang in die verlede. Hierdie probleem het al net na die Middel-eeue en tydens die Renaissance na vore getree en faksies wat veg vir die behoudendheid van die geloof teenoor ander wat meer verlig is, het in al 3 gelowe ontstaan. Veral by die Islam het dit 'n verlammende uitwerking gehad, deurdat verdeeldheid die eens magtige Moslemryk laat verkrummel het.

Geweld gepleeg in die naam van God

Die beskrywing van al die geweld gepleeg teen die mensdom in die naam van God sou etlike volumes beslaan. Geweld is nie slegs iets van die verlede nie en die 3 godsdienste onder bespreking was almal aandadig aan die geweld wat dikwels gekamoefleer is as ekspansionisme van hulle geloof of as nasionalisme om hulle identiteit of grondgebied te beskerm. In die post-moderne tyd neem geweld ook ander meer subtiele vorme aan. Die miskenning van menseregte is ook geweld teen die mensdom en in van die godsdienste onder bespreking het homoseksueles en vroue geen menswaardigheid nie. Die basiese reg van die vryheid van aanbidding word deur veral die Islam en die Christendom geskend. Voorbeelde van fisiese geweld gepleeg deur die Jode, Christene en Moslems in die "naam van God" kom vanaf die stigting van die gelowe tot vandag toe voor. Steniging van die Jesus-volgelinge (o.a. Stefanus en Jakobus) deur die Jode het al in die 1ste eeu n.C. in Jerusalem plaasgevind. Karel die Grote het in die 8ste en 9de eeue tienduisende Saksers afgeslag in 'n poging om die heidense volk te kersten. In die Bisantynse tyd was die vervolging van Jode deur 'n militante Christendom aan die orde van die dag. Die doel was om die Judaïsme in die Bisantynse Ryk deur die Jode te bekeer, uit te wis. Tussen 1095 en 1272 n.C. het 9 kruistogte vanuit Wes- en Oos-Europa uitgegaan het om Jerusalem van ander gelowe te bevry. Ongelukkig het die kruistogte in plundertogte ontaard en is Moslems en Jode in die naam van God voor die voet in die Heilige Land uitgemoor. Daarteenoor het die Moslem-generaal Saladin die Christelike bevolking van Jerusalem se lewens gespaar toe hy die stad in 1187 herower het. Vanaf die 13de eeu is Jode in Italië, Portugal, Spanje, Frankryk en Engeland gedwing om te bekeer of so dan nie is hulle verban. Na die Inkwisisies was die lande vry van Judaïsme. In die Europese godsdiensoorloë van die 16de en 17de eeue het die Katolieke en die Protestante wedersyds die bloed van honderdduisende laat vloei. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het Turkse Moslem-soldate in 1915 sowat 1,5 miljoen Christen Armeniërs uitgemoor met die doel om die Armeense volk te vernietig. Vele skrywers lê die massa-uitwissing van die 6 miljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog voor die deur van die Christendom se heilige skrifte oor haatspraak en xenofobie. Volgens die ideologie van die Naziïsme was die Jode 'n minderwaardige volk wat geen bestaansreg gehad het nie. Hoewel Hitler tydens die oorlog nie godsdienstig was nie, was hy wel 'n lid van die Lutherse Kerk en dit geld ook vir sy adjudante sodat hulle deeglik bewus moes gewees het van die tekste oor haatspraak teenoor die Jode, waarop hulle ideologie gebaseer was. In die tekste word in geen onduidelike taal verwys na die Jode as 'n volk van moordenaars en leuenaars wat enige fundamentalis sal oortuig dat hulle 'n minderwaardige volk is en verdien om vernietig te word. Uit hierdie beknopte geskiedkundige oorsig blyk dit dat so ver dit die interkerklike geweld aangaan, die Judaïsme die mins skuldige geloof was an dat die Jode veral gedurende die Middel-eeue aan die ontvangkant van die geweld deur Christene was. Die rede vir hierdie gedwonge kerstening van die Jode gedurende hierdie periode moet gekoppel word aan die Kerk se onverbiddelike siening van Paulus se boodskap vir die ontstaan van 'n nuwe Israel vir almal wat in Jesus Christus glo en dat Jode wat as ongelowig en minderwaardig geag was, slegs deur bekering gered kon word.

In die post-moderne tyd kom geweld nog gereeld voor, hoewel dit meer lokaal is as in die vorige eeue. Die geweld tussen die Christene en die Katolieke in Noord-Ierland het jare geduur sonder dat enige kant 'n oorwinning behaal het alvorens deur onderhandelinge 'n skikking bereik is. Deesdae is die frekwensie van aanvalle op ander gelowe egter hoër by Islam as ander gelowe en aanvalle op Christene en Jode word keer op keer in die naam van Allah gepleeg. Die moorde op die personeel van die tydskrif "Charlie Hebdo" en by die Joodse skool in Parys in 2015 illustreer die probleem van Islam baie duidelik toe die tydskrif 'n spotprent waarin die profeet Mohammed uitgebeeld word, gepubliseer het. Die satiriese tydskrif wat die hoofteiken van die aanvalle in Parys was, het egter nie net die Moslems geteiken nie. Spotprente van baie hoë figure insluitend die Pous het al verskyn en hulle satire was veral gemik op magspersone en magsgroepe. Die Wahhabis wat deel is van die Sunni-sekte, is baie sterk gekant teen die uitbeelding van die profeet Mohammed. Hierdie siening kom vanuit die Koran, waarin 'n streng verbod oor afgodery voorkom. In die Koran word verwys na Mohammed wat 'n skilder bestraf het omdat 'n portret van 'n persoon 'n afgodsbeeld verteenwoordig. Moslem-terroriste het besluit om wraak te neem op die tydskrif. Die mense wat vandag die terroriste is, is Moslem-ekstremiste wat nie die ware Moslemgeloof volg nie en letterlik die gewelddadige boodskappe in die Koran as die ware riglyne vir hulle geloof volg. Dit is om hierdie rede dat die Al Queda- en ISIS-bewegings alle voor-Islamse geskiedkundige erfenisstrukture in Sirië, Irak en Jordanië vernietig. Die wandade wat ISIS vandag pleeg, word veral in die Weste deur almal wat gelowiges en ongelowiges insluit veroordeel, maar is die vestiging van 'n beoogde khalifaat nie presies dieselfde as die doel van die kruistogte van die Christendom in die Middeleeue nie? Die kruisvaarders moes die Heilige Land van die "ongelowiges" bevry en moes die mense uitmoor. Lokale geweld teenoor Christen-minderhede kom ook in die Midde-Ooste en teenoor Moslems in Suidoos-Asië voor. Gedurende die laaste paar dekades gebruik Israel ook uiterste geweld teenoor Moslems in Palestina onder die dekmantel dat hulle identiteit en grondgebied deur die Moslems bedreig word.

Oorsake van die geweld

Hoekom is al die bloed deur godsdienstiges verspil, terwyl 'n godsdiens veronderstel was om die mens te help om kreatief en gelukkig te kan leef in 'n wêreld waar die goeie veronderstel was om die botoon te voer. 'n Algemene probleem is die onkunde van die gelowiges rakende die universele doel van godsdiens, die verstaan van die heilige geskrifte en die aspek dat geloof en moraliteit nie dieselfde begrip is nie. Godsdiens het nie ten doel om van jou 'n goeie mens te maak nie aangesien dit niks kan verander aan die mens se basiese waardestelsels en norme nie. Humanitêre hoekstene van menswees soos geregtigheid en moraliteit is veel ouer as die wêreld se godsdienste en is slegs deur die kerke deel van hulle geïnstitusionaliseerde stelsels gemaak vir 'n voortreflike lewe. Oor die millennia was die doel van godsdiens om die mens te help om kreatief, vreedsaam en selfs gelukkig te lewe binne die realiteite van sy omgewing en om onoplosbare probleme soos sterflikheid, pyn, verdriet, wanhoop en woede teen die ongeregtigheid en wreedheid van die lewe draaglik en aanvaarbaar te maak.

Die voor die hand liggende oorsaak van die geweld is die gewelddadige boodskappe in die heilige skrifte wat deur fundamentaliste as letterlik opgeneem word. Die heilige skrifte van die Joodse, Christelike en Islam-gelowe bevat vele tekste oor geweld, xenofobie en haatspraak, en net enkele voorbeelde word hier aangehaal. Dele van die Ou Testament van die Christene is vol van die verkondiging van geweld wat die gewone gelowige ontstel. In 1 Samuel 15:3 gee God die opdrag aan koning Saul: "Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigeling, bees en skaap, kameel en donkie." Selfs in die Nuwe Testament kom tekste wat xenofobie en haatspraak verkondig, veral in die briewe van Paulus en die Johannes-evangelie voor. Dié is gerig teen die Jode, Kanaäniete en homoseksueles. In die Evangelie van Johannes (8:14) word na die Jode verwys as: "Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie omdat daar geen waarheid in hom is nie." Hierdie woorde getuig van kerkmanne en skrywers gevul met woede en haat teenoor 'n ander godsdiens. Ongelukkig word Paulus se geskrifte en die Johannes-evangelie as van die belangrikste boeke in die leringe van die Kerk beskou. Die heilige skrif van die Moslems (Koran) kan egter ook nie van die verkondiging van geweld uitgesluit word nie. Daar is inderdaad 'n hele paar stukke in die Koran wat Moslems oproep tot geweld teenoor ongelowiges. In hoofstuk 2:216 staan bv, "Julle word beveel om te veg, en julle hou nie daarvan nie, maar dit is moontlik dat julle nie hou van iets wat goed vir julle is nie ... Maar Allah weet, en julle weet nie". In hoofstuk 8:12 "Ek sal skrik bring in die harte van dié wat nie glo nie. Dus, kap hulle koppe af en kap elke vingerpunt van hulle af." Radikale reaksie op sulke tekste deur regse politieke en fundamentalistiese godsdienstige groepe is amper onvermydelik.

Die heilige geskrifte van die onderskeie godsdienste is egter antieke boeke geskryf in 'n religieuse "taal/idioom" en waarvan die inhoud beïnvloed is deur aspekte inherent aan die omgewing en die tyd waarin dit geskryf is. Dit is geïnspireer deur oorvertellings, heldeverhale, volksagas en kontak met die ou kulture van Mesopotamië en Arabië. In die geval van die Bybel is die teksinhoud later deur die kerklikes gewysig om dit meer toepaslik vir die nuwe Christelike dogma tussen die 2de en die 5de eeue tydens die vorming van die Christelike Kerk, te maak. Vandag weet ons dat die gewelddadige gedeeltes in die Bybel nie letterlik opgeneem moet word nie sonder die juiste konteks. 'n Verhaal soos God se opdrag aan Saul is getuienis van 'n vroeë, primitiewe Godsbeskouing wat oor die selfbehoud van die Jode gegaan het. Selfs in geval van die Koran is die opdragte aan Mohammed nie chronologies gerangskik nie en weet ons dat dergelike gedeeltes oor geweld in die Koran nie letterlik opgeneem kan word nie. Daar is 'n teorie dat die gewelddadige leringe kom uit die tyd toe Mohammed oorlog moes voer om Mekka te verower. Die heilige skrifte moet dus vandag steeds met in agneming van hulle herkoms en aard gelees word. Die geskrifte bevat gelowiges van antieke tye se verhale oor hoe hulle oor God gedink het. Hulle dink en skryf met 'n antieke wêreldbeeld as agtergrond en daarom moet alles wat gelees word, nie direk toegepas word nie, maar herinterpreteer word om sin te maak in 'n post-moderne wêreld.

Die algemene neiging vandag is om godsdienstige geweld aan fundamentalisme, radikalisme en ekstremisme in die gelowe toe te dig. Hoewel enige lid van 'n godsdiens fundamentalistiese beginsels kan handhaaf, is dit egter faksies in 'n geloof wat meer ortodoks tot ultra-ortodoks optree. In hierdie opsig is die Islam sedert die laat-Middel-eeue in geheel verdeel tussen die ortodokse Sunni-faksie en die verligte Shias. Buiten die Sunnis is daar ook die Wahhabisme en die Salafisme wat grootliks uit ekstremiste bestaan. Hulle beywer hul vir 'n teokrasie of 'n khalifaat waar Sharia-wet sal geld. Gedurende die Moderne era het 'n politieke Islam-beweging, beter bekend as Islamisme wat gedefinieer kan word as 'n stel ideologieë wat verkondig dat "Islam die sosiale, politieke en persoonlike lewe van hulle lede beheer" ontstaan. Islamisme beklemtoon die invoering van Sharia-wet, pan-Islamitiese politieke eenheid en die selektiewe verwerping van nie-Moslems met Westerse politieke, ekonomiese en sosiale beginsels. Hulle sien die Koran as 'n politieke model, verkondig 'n terugkeer na suiwer godsdienstige beginsels en 'n soeke na kulturele differensiasie weg van die Weste. In die Judaïsme is daar die ortodokse Hasidiese beweging, terwyl in die Christendom in 1521 die Hervorming met 'n terugkeer na die oorspronklike waardes van die Christelike Kerk, voorstaan, ontstaan het. Tans is die ontstaan van die Evangeliese Kerke in die VSA wat uiters konserwatief is en die erkenning van menseregte 'n lae prioriteit is, kommer wekkend. Radikales en ekstremiste wat hierdie sienings navolg, is uiters behoudend in hulle godsdiens en beskou enige vernuwing of modernisering as godslastering. Hulle sien die heilige skrifte as die ewige waarheid en dat dit die norm vir hulle geloof vorm. Almal wat nie dié norme na volg nie, is ongelowiges en verdien die straf van God. Die grondoorsake van die massamoorde, ander geweld en die miskenning van menseregte is die afwesigheid van respek vir ander mense; onverdraagsaamheid teenoor ander sienings en waardes; en die onvermoë om aan te pas by die nuwe wêreldorde van demokrasie, kapitalisme en sekulariteit.

Verwestering is veral by die Islam 'n probleem en die meer konserwatiewe Moslems sien verwestering in die Arabiese lande as 'n bedreiging vir hulle geloof. Dit is weens 'n kultuur van 'n gebrek aan respek vir ander se regte oor die vryheid van spraak en onverdraagsaamheid rakende gebruike vreemd aan hulle kultuur in Arabië. Dit lei tot 'n "dun-nerf sindroom." Die oorgrote meerderheid Moslems volg 'n vreedsame voortbestaan met hulle medemens en ander gelowiges. In die post-Moderne era het ontwikkelinge in die Westerse kultuur egter gevolge vir die Islam ingehou. Baie Moslems glo dat die verwestering van die Arabiese gebiede 'n dekadente invloed op Islam het, onwetend dat Westerlinge in geheel respek vir hulle godsdiens en kultuur het. Vir die Westerling is dit ontstellend dat Moslems hulle vrye siening van vryheid van spraak as vernederend ervaar.

Kerklike dogma in veral die geval van die Christendom was in die verlede ook 'n grondoorsaak van die geweld teenoor ander gelowe. Die Kerk moet minder klem lê op absolutisme waardeur die Bybel as die "Woord van God" verkondig word en die tekste oor die Christendom wat die "ware geloof" en dat God die "enigste ware God is" moet in die regte konteks geplaas word. Moslem militantes en fundamentaliste het geen vrees vir die dood nie, want indien hulle sterf gaan hulle na 'n verheerlikte hemel. Dieselfde redenasie is ook deur die kruisvaarders gebruik en hulle het dikwels die uitdrukking geuiter dat indien hulle omkom in die stryd, sal dit in die naam van God wees. Redes hiervoor moet in die kerklike dogmas gesoek word asook in die Bybel en die Koran.

Die laaste kwessie is evangelisasie en ekspansionisme van die godsdienste. Vir die meeste lesers sal die twee begrippe as sinoniem voorkom, maar in 'n post-moderne wêreld is daar 'n verskil. Evangelisasie om heidene of mense van 'n ander geloof te bekeer, vind vandag min plaas, maar daar is tog veldtogte deur die Christelike Kerk om die suidwaartse groei van die Islam onder die benede-Sahara volke van Afrika, asook in Suidoos-Asië, te probeer stuit. In die post-moderne kultuur waar die vryheid van spraak, oortuiging en geloof onaantasbaar behoort te wees, is evangelisasie oneties. Ekspansionisme van die Islam kom veral voor in Europa waar daar 'n invloei van immigrante wat vlugtelinge ook insluit, uit Noord-Afrika en Klein-Asië. Die grootste gedeelte van die mense is Moslems en in Frankryk maak hulle tans ongeveer 5-7% van die bevolking uit. Die Moslem-kultuur word 'n onafwendbare deel van die samelewing, maar vir ortodokse Christen-gemeenskappe lei dit tot onrus oor hulle veiligheid en geloof. Veral in gebiede waar werkloosheid ook nog 'n wesentlike probleem is, het dit tot xenofobiese aanvalle deur radikale groepe in etlike Europese stede gelei. Dieselfde gebeur tans ook met die Oos-Ortodokse Kerk wat 'n al groter invloed in Wes-Europa kry as gevolg van immigrasie.

Is daar 'n oplossing?

Alvorens daar enigsins na oplossings vir godsdienstige geweld gekyk kan word, moet daar vasgestel word of godsdienste inherent gewelddadig is.Daar is genoeg gewens wat toon dat die godsdienste inherent geweld aanwakker deurdat hulle geskrifte uiterste geweld beskryf, asook rassehaat verkondig. Daarbenewens maak die Kerk homself skuldig aan haatspraak deur die verkondiging van absolutisme. Konserwatiewe gelowiges aanvaar al die feite wat verkondig word as absoluut korrek en as die enigste waarheid en beskou andersdenkendes of gelowe as minderwaardig of verderflik wat kenmerkend van fundamentalisme is. Op hierdie wyse ontstaan daar faksies binne 'n geloof wat radikalisme en geweld voorstaan in die uitoefening van hulle geloof. Die ortodokse Sunni-faksie in die Islam is vandag vir die meeste geweld verantwoordelik. Ortodokse Joodse groepe is ook geneig tot geweld teen Palestyne of die besetting van Palestynse gebiede, terwyl die regse Evangeliese kerke in Amerika geneig om menseregte te ontken. Die godsdienste sal moet selfondersoek instel om nie in die post-moderne wêreld irrelevant wil word nie. Kerkleer en dogmas van 2000 jaar gelede is wanaangepas in ons tyd. Gelowiges moet eerder oor die waardestelsels van die mens ingelig word. Dit is ook uiters belangrik dat die kerke in woord en daad optree teen fundamentaliste, radikales en ekstremiste.

Evangelisasie en ekspansionisme van die Kerk is deel van die opdragte wat in die heilige skrifte voorkom, maar dit het jammerlik tot veel bloedvergieting in die verlede gelei. Heidene wat nie wou bekeer nie, is uitgemoor en die geloof is met behulp van die swaard versprei. Dit is een van die probleme met 'n teokrasie deurdat ander gelowe of afvalliges net nie in die staat geduld word nie. Dit was ook die rede vir die instelling van die Inkwisisies in Spanje in die Middeleeue toe duisende andersdenkendes of verban of op die brandstapel gesterf het. In die post-moderne wêreld is daar nie meer plek vir sulke dogma nie.

Die "mens" op sigself wat sy godsdiens binne in 'n gemeenskaplike groep beoefen, is egter self vir baie geweld verantwoordelik. Geloof op sigself is nie gewelddadig nie, maar die moraliteitslose mens wat glo, is wel. In enige godsdienstige gemeenskap gaan die vlakke van moraliteit vir elke lid verskil en vir die radikale groepe wat die gewelddadige tekste in die heilige skrifte as die waarheid aanvaar, het moraliteit 'n laer prioriteit en gaan hulle baie minder verdraagsaam teenoor enige andersdenkende wees. Die omvang van die geweld korreleer ook met die vlak van kulturele ontwikkeling van die groep gemeet teen Westerse standaarde. Hierdie mense is ook fundamentaliste en radikales wat nie sal skroom om geweld te pleeg in die naam van God nie of die hemel sal bereik deur hulle dade. Hier gaan dit om hulle eie belang en hulle eie vertolking van hulle mensgemaakte geloof. Liggelowiges en ekstremiste sal altyd daar wees, maar opvoeding kan hulle help om hul godsdiens beter te verstaan. Lede van godsdienste moet aangemoedig word om kennis van ander gelowe op te doen, die eie selfbelang tydelik te vergeet en 'n meer gebalanseerde uitkyk van hulle godsdiens te verkry. Die ortodokse kerke sal 'n meer verdraagsame en sekulêre kultuur moet kweek. In die Islam word ongelukkig vandag radikalisme verkondig in vele madrasse wat deur die Arabiese lande befonds word. Binne die Islam is daar egter reeds pogings deur sommige leiers om die beginsel van vredeliewendheid teenoor mede-Moslems asook nie-Moslems, as 'n meer sentrale tradisie te vestig. Die gematigde Moslems wil die leringe van Mohammed rakende die eenheid van Moslems oor die hele wêreld in een sosiale groep ongeag van ras, afkoms, nasionaliteit of kleur beklemtoon.

Die Westerse pers moet meer versigtig in die hantering van die vryheid van spraak wees, want sekere uitsprake veroorsaak 'n anti-Westerse gevoel by baie van die konserwatiewe Moslems.

Slotsom

Spiritualiteit en godsdiens is deel van die mens en sodaniges verteenwoordig die grootste gedeelte van die wêreld se bevolking. Hoe het dit dan gekom dat godsdiens wat bedoel was om die sin van die lewe meer verstaanbaar en aanvaarbaar vir die mens te maak, maar vandag, sowel as in die verlede, is godsdiens verantwoordelik vir vele geweld? Het hierdie verband begin to die Kerke beloftes aan die mens gemaak het met die doel om getroue gelowiges te lok of toe die onderskeiding tussen Staat en Kerk verdwyn het en teokrasieë ontstaan het? Vandag kan die Kerk bykans met 'n politieke party wat veg om die siel van die kiesers, vergelyk word. In die VSA word na die geloof van 'n toekomstige presidentskandidaat gevra asof hy die Kerk gaan regeer en nie die staat nie.

Geweld teen die mensdom word vandag as 'n euwel beskou en het die godsdienste dan 'n broeiplek van euwels geword? Dit is tyd dat die Kerk as 'n eenheid, alle geweld gepleeg onder sy naam of in die naam van sy God, met die sterkste minagting verwerp en hulle distansieer van dié lede wat skuldig is. Dieselfde reël moet ook geld vir die state wat geweld befonds. Die belangrikste is dat die Kerk sy 2000-jaar oue gebondenheid aan dogma moet afskud en eerder liefde en respek die hoofdoel van sy verkondiging maak. Verkramptes en fundamentaliste sal wel die Kerke verlaat, maat 'n wingerdstok kan slegs floreer as die verrotte hout uitgekap word. Dit sal waarborg dat verskillende godsdienste op ons planeet as 'n kosmopolitiese eenheid vreedsaam laat saamleef.

Johan Visser, Dwarskersbos

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.