Wat oortuig dat God van Israel enigste ware God is?

Hoof-artikel in Kerkbode (NG Kerk amptelike nuusblad) op 19 November 2010

Natuurlik is ek, en vele soos ek, diep bewus van die kompleksiteit en die misterie van die werklikheid, skryf Abel Pienaar. Teïsme en die antieke verstaan van die werklikheid van godsdiens is egter vir ons 'n onvoldoende interpretasie om daardie misterie te omvat. Daarom is dit so belangrik dat ons eerlik en soekend na 'n eietydse interpretasie van ons werklikheid sal streef.

"Watter insig in die wetenskappe het Abel Pienaar oortuig daar is nié 'n bonatuurlike wese wat onafhanklik van die mens bestaan nie?" So begin prof. Adrio König sy skrywe in Kerkbode (5 November 2010). Daarna gaan hy voort om te vra of my soeke na God enigsins geldig is. Ek wil eerstens vir prof. König dankie sê dat hy hiermee die gesprek op die tafel sit.

Ek sou natuurlik 'n hele relaas kon gee oor hoe my soeke begin het. Met, byvoorbeeld, my ontdekking van Kopernikus, een van die vaders van die wetenskaplike revolusie, wat in 1543 'n heliosentriese kosmologie voorgestel het wat reëlreg met Bybelse uitsprake bots.

Dalk sou ek kon verwys na die kumulatiewe effek van die moderne wetenskap, wat in sy geheel 'n eenvoudige handhawing van 'n ou wêreldbeeld en die geloofsbagasie wat daarmee saamgaan, onmoontlik maak.

Ek sou verder kon wys dat ons in 'n wêreld van kwantumfisika, atome en energie lewe en dat dit radikaal staan teenoor 'n bygelowige, drie-verdieping-wêreldbeeld van die Bybel.

Daarmee saam dat die resultate van evolusie en die astrofisika, so lyk dit my, nie die visie ondersteun dat God 'n persoon is nie. Ek wil egter nie hierdie roete gaan nie.

Ek wil eerder vra op grond waarvan is König, en vele soos hy, so oortuig dat hulle verstaan van God die regte een is? En op grond waarvan is hulle so oortuig dat "die God van Israel, die Vader van Jesus" die enigste ware God is?

König laat my net weer besef dat godsdiens vir die meeste mense nie 'n rasionele saak is nie, maar 'n emosionele saak. My vrae en soeke word nie beleef as 'n eerlike poging om God eietyds te verstaan nie. Dit word as 'n aanval beleef.
Baie gelowiges sê hulle hou hulle nie op met sulke onsinnige (godslasterlike) vrae nie. Die bestaan van God kan nie bewys word nie. Dit kom eenvoudig neer op geloof. Jy glo in God of jy glo nie in God nie. Dit is hoe eenvoudig dit is.
Maar is dit so eenvoudig? As jy sê jy glo in God, in watter God glo jy? Glo jy in die Christendom se prentjie van God Drie-enig, of Jahwe van die Jode, of Allah van Islam, dalk Zeus van die Griekse mitologie? Of kan 'n mens dalk in 'n God as energie glo? Dalk 'n panenteïstiese siening van God: God in alles en alles in God, maar God is ook meer as alles?

Die meeste Christene is baie selfversekerd dat hulle God ken; geen soeke is nodig nie. Nou wonder ek net, ken Christene God werklik?

Ken hulle God nie maar net soos Konstantyn en die kerkvaders by Nicéa besluit het God is nie? Dit is mos hier waar Jahwe, die God van Israel, verander is na die God Drie-enig van die Christendom, en waar Jesus sy goddelike status gekry het.
Dieselfde Geloofsbelydenis van Nicéa wat jare later nog steeds deur die Christendom as ortodoks aanvaar word.

My soeke bly egter vra: Is dit moontlik om eietyds oor God te dink? Net soos Jesus 'n nuwe en bevrydende interpretasie van Judaïsme gehad het, so is dit tog ook moontlik vir ons om vandag ons tradisies te herinterpreteer en relevant te maak.

Kan 'n mens jou denke oor God aanpas en verruim en sodoende dalk by ander antwoorde uitkom as dié waarby die kerkvaders ongeveer 1600 jaar gelede uitgekom het? Is dit moontlik om weg te breek van die teïstiese verstaan van God – God as Persoon, buite ons werklikheid – maar tog steeds in die bestaan van God glo?

Sou mens dus 'n post-teïstiese gelowige kan wees, soos prof. Julian Müller daarna verwys?

Natuurlik is ek, en vele soos ek, diep bewus van die kompleksiteit en die misterie van die werklikheid. Teïsme en die antieke verstaan van die werklikheid van godsdiens is egter vir ons 'n onvoldoende interpretasie om daardie misterie te omvat. Daarom is dit so belangrik dat ons eerlik en soekend na 'n eietydse interpretasie van ons werklikheid sal streef.

Alhoewel ek in my boek baie duidelik sê dat ek myself as agnosties ("ek weet nie") sien, voel ek tog dat die gnostiese tradisie (gnosis is Grieks vir "om te ken") my meer help in my soeke as die dogmatiese ortodokse tradisie.
Prof. Gilles Quispel se definisie van gnosis is "kennis van die hart", teenoor episteme as "kennis van die verstand."

König het regtig 'n beperkte verstaan van die gnostici. Die sleutel van die Groot Geheimenis lê in die reis na binne, sê Valentinus ('n Gnostiese denker).
Ten slotte sal ek wil sê dat ek juis nie seker is nie. Daarom my soeke! En my soektog is deel van die avontuur wat ons die lewe noem – altyd veranderend, groeiend, wordend – 'n reis!

Ek pleit vir 'n model van kritiese denke, integrasie van ou verstaan en nuwe verstaan, 'n veilige ruimte waar ons nie probeer oortuig nie, maar waar ons saam soek.

Dr. Abel Pienaar is die Direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit en leraar van Renaissance gemeente.

– Kerkbode

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za