.

Filosofering van ‘n gewone denker: Is God ‘n Natuurwet?

Deur Bill Potgieter op 1 Januarie 2018

.

Net eers 'n nota van die stertkant na die voorkant: Waar begin en eindig mens met so 'n vraag? Is daar regtig 'n antwoord? Is daar net een antwoord? As jy klaar geskryf het is daar als gesê of dalk te veel? Die feit is dat soos die gesprek ontvou, is daar soveel sytak argument en inligting wat voorkom en smeek om gesê te word, dat dit 'n eindelose proses kan word, en eintlik is. Daarom moet mens nou al erken dat hierdie vraag nie in 'n enkele lineêre gesprek voltooi kan word nie. Lees dus saam met my en vind gemak in die wete dat als wat gesê kan word beslis nie gesê is nie, ook nog nie eers gedink is nie.

Lank al stoei ek met die vraag, wat God dan is? Lank al vra ek nie meer die vraag, wie God is nie? Want verseker weet ek die antwoord lê nie meer in dit wat ek vir jare al geleer is deur die kerk en al.

Vra my vriende, wat sê hul weet, my dan wat ek glo en wie God dan nou vir my sou wees, struikel ek elke keer om woorde te kan vind wat sê wat ek hier binne my so seker voel.

Die eerste ding om uit die weg te kry is seker om te besluit of daar dan 'n God is aldan nie? So seker as ek leef, sê my maag en alles hier binne my, JA daar is.

Nou hoekom is dit dan nie goed genoeg om te aanvaar dat dit is wat die kerk my leer wat God dan is? 'n Jaloerse god wat jy moet dien en as jy dit nie doen is jy bestem om vir ewig te braai in daardie hel se vuur wat spesiaal daar vir jou wag.

'n Opperwese wat als weet en als kan doen maar ook kan haat en liefhê soos dit hom sou pas en boonop nog jaloers ook is.

Dis net daar waar ek 'n pap wiel kry want hier begin ons daardie opperwese mense eienskappe gee van haat en afguns, liefde en nog baie ander teenstrydighede, als so saamgeflans in 'n enkel ding.

Ergste wat my bybly is 'n god wat optree soos 'n Mafia grootbaas wat jou dreig en afpers om hom te dien want anders sal die duiwel jou kom haal.

Nee, my magtig mens, hoe kan hierdie iets wat ek as God wil sien, so verkleineer word om te wees soos onse mense elke dag? Tog versekerlik is die God wat ek wil ken, ver verhewe bo hierdie miserabele siel wat/wie se ego gestreel moet word deur 'n nikswerd en kleine entiteit soos ek, wat nie eers 'n korrel stof is in die grootsheid van die univers.

Sê daardie vriende van my, wat opreg bekommerd is en my so dolgraag wil bekeer, "maar moet jou nie steur aan daardie god van die Ou Testament nie, gaan kyk na die god van die nuwe een." Dis toe net wat ek ook die ander dag mos dan doen. Na byna 40 jaar gryp ek weer die Bybel en lees dit deur in drie dae aanmekaar, sodat ek 'n goeie gevoel kan kry wat dit vir my wil sê.

Wat ek kry in die oue deel is moord en doodslag, dreigemente berge hoog en straf wat regdeur loop soos riviere wat permanent hul oewers heel oorstroom. Ek gril en ril en soek vergeefs iets mooi om soos 'n reddingbaadjie aan te klou. Al wat ek kry is 'n god wat sy uitverkore volk uit jaloesie by die duisende uitmoor omdat hul sou waag om hul rug op hom te keer. Dan weer daardie tye wat dit goed met hulle gaan, moor hul almal in hul pad want dit is die wil van god wat hul belowe het daar is 'n land van melk en heuning waarheen hy hul lei. Nie te praat van die herhaal van dieselfde stories oor en oor.

Uit 'n rookwolk met donderslag en bliksemstraal praat hy met hulle keer op keer. Gee hul kos en water waar daar niks dan is. Lei hul in die dag vooruit met 'n wolk kolom en een van vuur in die nag.

Nou wonder ek so by my kool, wat dan geword van die res van die universe en ook die ander wesens wat deel is van sy skepping groot, terwyl hy besig is met hierdie volk wat hy so baie tyd aan mee moet deel.

Dan lees ek verder aan die Nuwe Testament en hoop ek vind daar hierdie God wat ek wil ken, die een van liefde waarvan ek alewig hoor.

Helaas, ek vind dieselfde god van haat en vrees, van afguns en nog vele meer. As daar sou wees iets van die God van liefde dan lees ek dit mis in hierdie see van daardie god wat ek nie wil ken nie.

Nou sit ek hier op die spreekwoordelike "God-verlate vlakte."

Vir geruime tyd sê ek al, ek dink God is net 'n toeskouer (observer) en moet 'n moerse sin vir humor hê en moet ook sy gat af sit en lag vir al ons mannewales. Sê jy nou dit is disrespekvol om so oor God te praat, dan vra ek jou, is dit so erg as die god wat ek hierbo beskryf het en ondervind, die Mafia een? Ek dink nie so nie, want God sal my vergeef en dalk baie hou van hierdie beeld van Hom wat ek hier nou probeer beskryf.

'n God wat ek nie hoef te vrees nie, dis waar ek wil wees.

'n God wat ek verstaan in die eenvoud wat dit is. Een wat ek weet hoe om te gebruik om als te kry wat ek wil hê. Een wat my aanvaar net soos ek is en nie oordeel van verkeerd of reg, wat nie sien dat daar iets soos sonde is, wat my nie dreig met hel en al, waar ek sal braai in ewigheid.

Dan dink ek aan 'n ding soos "gravitasie," daardie krag van die aarde wat my bas so stewig op die stoel hier onder my nou hou. Dit wat ek ook voel as ek my hand oplig om juis daardie kos te eet waar die energie van kom om juis dieselfde hand te lig.

Die krag wat die water uit die tenk hier hoog bokant my laat vloei sodat ek daaronder 'n lekker stort kan geniet.

Als goed en mooi, sal mens nou dink.

Dan weet ek ook dat daardie selfde gravitasie krag my been kan breek as ek sou spring van daardie selfde watertenk. Dis dieselfde krag wat 'n vliegtuig uit die lug laat val en baie mense dood kan maak.

Is gravitasie dan nou sleg of goed? Die ware antwoord is nie een van die twee, dit is net! Die punt is dat as ek gravitasie verstaan dan weet ek hoe om daarbinne op te tree, hoe om dit in my guns te gebruik en ook waarvoor om versigtig te wees sodat ek nie seer sal kry nie. Dit leer my respek en waardering.

So is daar baie ander natuurwette wat elke oomblik van my bestaan op my inwerk. Lig, klank, hitte, elektrisiteit, magnetisme, chemie, om maar net 'n paar te noem wat waarneembaar is, wetend dat daar baie meer is agter selfs elk van hierdie individueel.

Dan het ek baie laat in my lewe ernstig kennis geneem van kwantum fisika/meganika, soos in die aardighede wat gebeur op die sub-atomiese vlak. Daar waar die materie so ongelooflik klein is dat net die gevolge nog waargeneem kan word. Daar waar die materie nie optree soos verwag uit die klassieke natuurwette soos deur Newton geformuleer nie. Waar selfs Einstein se gedagte dat niks vinniger as lig kan beweeg, nie meer geld nie. Daar waar die werklikheid so erg vreemd is dat dit die hele wêreld, wat ons gedink het ons so goed al ken, op sy kop omkeer.

Hoe meer, wat baie min is, ek gelees het van die dinge op hierdie sub-atomiese vlak hoe meer het ek die ooreenkoms begin sien met die onbekendheid van die Goddelikheid. Die vermoë van die mens om materie te manipuleer en resultate te beïnvloed (skepping) het ons skielik binne die Godsdomein getrek.

Dan weet ek ook al baie langer van die "Big Bang" van sowat 13.8 biljoen jaar terug, die aarde se vorming so by die 4.5 biljoen jaar gelede, ook dat ons aarde skaars 'n spikkel is binne ons sonnestelsel, wat weer skaars 'n spikkel is binne ons univers wat bestaan uit biljoene sulkes soos ons s'n. En so hou dit net aan en aan, dis biljoene op biljoene waarbinne daar dalk moontlik 'n biljoen of twee aardes soos ons s'n is wat lewe kan ondersteun.

Dan hoor ons daagliks van meer wat ontdek word en dat ons nie eers weet hoe groot ons univers werklik is nie. Want sien, ons sien nog net tot by die 13.8 biljoen ligjare vêr, die lig van daaragter is nog hierheen op pad.

Dan vertel die geskiedenis my, dat so 'n duisend of twee jaar terug, ons nog oortuig was dat die aarde plat is, ook dat die son om die aarde draai, daarna dat ons son die middelpunt van alles is en dit is daarna dat alles skielik vinnig begin uitrafel het tot waar ons vandag is en besef hoe nietig ons in die totaliteit is.

Is dit dus snaaks dat ek verwonderd staan in die teenwoordigheid van die gedagte van die god van Israel wat persoonlike kontak met sy volk gehad het? Waar het hy die tyd gekry om so baie tyd aan 'n enkele volkie te spandeer? Wat van die res van die mensdom op die aarde? Om nie te praat van die res van sy uitspansel met al die moontlike wesens wat sy aandag nodig het. Werklik 'n wese wat teen die snelheid van lig, nee teen oombliklike kwantum spoed moes beweeg om al die wonder dinge hier en in die universe gedoen te kry en sy vinger op die pols te hou.

Dis verstaanbaar dat ons God wil verduidelik en verstaan binne ons eie beperkte vermoëns en kennis. Die mense wat gedink het die aarde is plat kan nie nou uitgekryt word as onnosel nie. Hulle het dit gedoen binne die beperkinge van hulle kennis en insig van daardie tyd. Wat wel hartseer is, is dat hulle en dié daarna, so lank bly vaskleef het aan hierdie argaïese siening en self mense vermoor het wat progressief begin dink het. Ergste van als is dat dit in die naam van god gedoen is.

Ons weet die aarde is nie meer plat nie, ons weet die heelal is soveel groter as wat ons kan begin om te beskryf, nie eers te praat van verstaan nie, ons weet daar gebeur aardige ding op die kwantum vlak, ons weet dat ons nietig is in die groot prent van als en dan het ons nog nie eers gepraat van die wetenskap van genetika nie. Ons weet al hierdie goed en nog steeds hou ons vas aan hierdie gedagte dat God iets is soos die mens hom in sy eie terme definieer en wil verkleineer na iets wat die mens kan verstaan. 'n God met eienskappe van die mens, het eenvoudig nie meer bestaansreg in vandag se tyd nie!

Beteken dit dus dat daar geen God is nie?

Binne die omvang van die universe is daar 'n BEWUSTHEID wat my meer maak as die koolstof en ander elemente waarvan ek gemaak is, dieselfde as die sterrestof van die res van die univers. Maar dan weer sê die Sages dat alles lewendig is en 'n bewustheid het, selfs die klippe waarop ek trap, ook die univers groot. Ek moet net fyn kyk en na die regte frekwensie. Kyk ek diep verby die kwantum vlak sien mens beslis 'n bewustheid tussen alle dele en vlakke van die materie. As dit dan die boustene van die alles omvattende bewustheid is wat regdeur my na die grootsheid van die univers strek, dan is dit die manifestering van die eenheid wat ons is met alles en met die Godheid.

Die Godheid is daardie iets wat alles verbind met alles in die univers op 'n oombliklike vlak. Niks gebeur sonder dat dit iets anders en alles wedersyds beïnvloed nie.

Is daar dus 'n grootbaas wat sit en toutjies trek en al hierdie goed laat gebeur en ook aanpassings en regstellings maak? Is dit nodig vir so 'n grootbaas, of is hierdie interkonneksie en die vermoë van die skepping om na dit self te kyk, voldoende?

Dan storm twee spesifieke boeke my lewe binne:

Michael se hooftema is die skepping van die mens (Adam) as slawe vir die myn van goud. Die skepper van die mens is in hierdie verhaal wesens met gevorderde tegnologie uit die buitenste ruim en het begin afspeel vanaf so 450 000 jaar gelede en nog aktief was tot en met die geboorte van Jesus [vermoed ek]. In die tyd daarna is die invloed van hierdie wesens minder opsigtelik en bekend. Prominent in hierdie debat is die gedagte dat daar 'n ernstige wanopvatting en misverstand bestaan tussen die God met die groot "G" en die met die klein "g".

Die onderliggende inligting vir Michael se debat is die vertaling deur Zacharia Sitchin van die Sumeriese geskrifte op duisende klei tablette van so om en by 2000 jaar voor Christus, lank voor die Bybel ter skrif gestel is.

Sodra die Bybel deur die bril van hierdie verhale gelees word gaan daar 'n nuwe wêreld van insig oop. Die skeppingsverhaal en Adam/Eva kry nuwe betekenis, so ook die god van Israel. Die gods vrees, die oorloë, moord en doodslag, die donder en bliksem, vlieënde vaartuie en baie meer, lyk nie meer soos die kerk ons vertel nie. Selfs die Jesus verhaal kan nuut geïnterpreteer word. Voorwaar 'n heerlike nuwe kop-reis met baie nuwe moontlikhede.

Dit is uit hierdie verlede en ondervinding van vrees en doodslag waar ons na hierdie wesens gekyk het en hulle as "God" gesien het en vandag nog so dien en vrees. Dit terwyl die werklike God veel meer is as 'n klomp besoekende wesens met verstommende tegnologie en vermoëns, iets wat ons godsbegrip aangegryp het. Hulle was reeds waar ons in sowat 100 jaar beslis gaan wees in die wetenskap van genetika en baie ander. Hulle het reeds die vermoë gehad om die wette van die univers in te span en te gebruik om Adam te skep uit die primitiewe aardwesens, soos geskryf in die Bybel, "kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, na ons beeld." Wie is hierdie "ons"?

Was Jesus ook 'n latere maaksel van dieselfde wesens met 'n ernstige skoot van hul verhewe genetika? Was hy ook opgelei in die goddelike vermoëns van wonderwerke en selfs opwekking uit die dood? Het hy reeds onderskei tussen die groot God en die kleine en was dit wat hom gemotiveer het in baie van sy optredes? Wat het hy 40 dae in die woestyn gedoen en wie was die duiwel in daardie verhaal?

Kyk mens nuut na die Jesus verhaal dan moet mens tot die slotsom kom dat hy geweet het daar is iets baie groter as sy skeppers (en die van Adam en Eva), die God met die hoofletter het hy beslis van geweet. Die mense van die Bybel se tyd sou nie sy insig kon deel nie want hulle het nie sy blootstelling gehad nie en hulle het ook nie die verwysingsraamwerk gehad om dit te begin begryp nie. Is ons dalk nou 2000 jaar later in 'n posisie om te begin begryp dat die "aarde nie plat is nie."

Dan kom Laszlo ingestorm in my lewe, loop my nie onder stof nie maar gee my iets wat my model van verstaan verder opklaar. Hy vertel van die Akashic Field. Dis iets so vêr van my begrip verwyder dat ek langtand daaraan lees. Dan kliek iets skielik. Vir lank al is ek bewus van iets wat ander noem die "Universal Consciousness." Ander noem dit "Matrix." Ander praat van "Pain body," of iets in dier voege. Omdat ek nie die vaagste benul gehad het hoe hierdie goed eintlik werk nie, praat ek lankal sommer van 'n "univers se databank" want dis die naaste wat ek aan die beskrywing van die konsep kon kom en dit verstaan, iets uit die rekenaar wêreld.

Wat jy dit ook al noem, dis eenvoudig 'n feit dat alles wat al in die univers gebeur het, êrens in die univers vasgevang is. Ja selfs wat ek as 'n nietige wese dink, nie net doen nie. Dit is dus 'n plek waar alle geskiedenis, kennis en wysheid "geberg" is. Dis nie hier of daar nie maar orals oor en ook toeganklik vir almal en alles. Elke oomblik van ons lewe maak ons almal reeds daarvan gebruik, in mindere of meerdere mate, om ons eie data te "lees en te laai." Somtyds kry ons dit reg om selfs in ander mense se domein toegang te kry. Nie net mense nie maar ook diere en plante, mense wat tussen ons is en die "energie en gevoelens" van diesulkes op kan tel, kan registreer, te kan voel.

Is dit die roete waardeur spiritueel ontwikkelde mense toegang kan kry tot ander se lewens en selfs genesing kan doen oor groot afstande? Waar hulle dinge kan sien en weet wat grotendeels verborge is vir ander? Waar gebede deur inwerk om wonders te laat geskied in jou eie en ander se lewens? Waar groepe in gebed hierdie proses vermenigvuldig en versterk?

Is hierdie Akashic Field die plek wat waarlik godsdiens vry is? Waar dit nie saak maak deur watter entiteit jy bid nie en dieselfde resultate deur 'n Boeddhis, Moslem, Christen en ateïs verkry kan word? Vir sukses is dit noodsaaklik om intens en met volle vertroue te "bid." Is dit die plek waar ons eie Boesmans met die aarde, diere en hulle self kan kontak maak? Is hulle ritueel om in 'n trans te kom, hulle manier van bid? Is dit wat ons probeer bereik deur meditasie, om stil te word en bewus te wees van daardie dimensie van eenheid en tydloosheid?

Die groot vraag is dus of dit die plek is waar God is? Is dit nie dalk presies wat God is nie?

Laszlo gaan verder om te praat van die "Metavers." Nuut vir my en weer kou ek daaraan soos 'n taai toffie. Soos daai einste toffie naderhand sagter word, begin die gedagte wortel skiet en nie meer so aardig klink nie. Lank sê ek al dat daar sekerlik nie net een "Big Bang" was waar alles begin het nie. Daar moes biljoene gewees het, terwyl ons nou so losbek en grootdoenerig is met die biljoene saam. Ek het egter op 'n ander vlak gedink aan die een wat terugval, een na die ander totdat een net reg was en die proses kon aangaan om ons te bring waar ek hier sit en skryf.

Nee, Laszlo praat van voor ons BB. Die vraag wat baie mense mos vra in motivering van die God wat alles geskep het, die intelligente Ontwerper van alles na Sy wil. Hier skets Laszlo die proses dat alles in die univers van skepping na dood toe loop, in siklus na siklus na mekaar sonder einde en begin. Ons weet reeds van "swart gate" waarin sterre aan die einde van hul lewens in verval en dan wat alles in hul omgewing opslurp. Selfs lig kan nie daardie gravitasie ontsnap nie. Ons weet nie mooi wat anderkant binne die swart gat aangaan nie, is dit in 'n ander dimensie of maar net deel van die proses waarbinne ons eie univers uiteindelik tot sy einde sal kom en weer wag vir 'n nuwe BB om weer lewe te begin? Hierdie siklus word dan gemeet in biljoene jare, oor en oor. Is dit dan die einde van alles, of net ons kleine heelal soos ons dit nou begin ken, of die begin van 'n volgende siklus met sy eie BB?

As ons van die voorwaartse scenario hierbo nou terug kyk en vra, wat was voor ons BB? Dis sekerlik nie te moeilik nie, om te erken dat daar ander BB moes gewees het. Nie net een nie maar baie biljoene daarvan, almal so een na die ander, vir biljoene der biljoene der biljoene jare aan mekaar. Dis nou in terugskoue.

Trek jou veiligheidsgordel effe stywer vas want as jy sywaarts kyk sien jy nie net hierdie scenario ontvou as lineêr nie, so een na die ander nie, maar in parallel na alle kante sien jy nog biljoene BB's oraloor na alle kante rondom jou.

Klink dit geklik groot en total oordoen en daarom heel onmoontlik om te glo? Regtig? Voel jy so, stel ek voor dat soos 'n volstruis sy kop uit die sand moet trek, doen ook so en kyk net terug na toe mens nog gedink het die aarde is plat en sien ook terselfdertyd waar ons vandag nou staan met wat ons weet. Toentertyd sou ons ook moes sê, dit kan nie wees. Vandag weet ons verseker die univers is baie groot, sommer moerse groot, baie meer as ons kan dink, baie baie meer.

As ons dus onsself toelaat om terug te stap, deur alle grense wat vir ons skree, "onmoontlik man, is jy nou gek," mag ons dalk net sien daar's iets selfs baie groter as wat ek hier in my eie gekheid probeer om te sê.

So groot dat jy dit moet reduseer na niks en tydloosheid soos daardie hond wat sy eie stert so naarstig jaag, al om en om en as hy dit eendag wel sou vang kom hy agter eintlik het hy niks, net sy eie stert het hy in sy eie bek.

Hoe vêr moet ek dan terug nou gaan om God te vind wat hierdie kleine wonder wêreld wat ek op leef, en aarde noem ons hom, geskep het om hom te behaag? Hierdie spikkel binne 'n spikkel is wat nie eens meer 'n spikkel is binne die ding wat ons nou noem, 'n Metavers.

Eens het ek verwonderd gestaan toe ek hoor dat ons DNS besig is met sy eie evolusionêre transformasie, dat dit so vinnig as in 'n geslag of twee sigbaar kan word, dit nie net van Darwin se natuurlike seleksie afhang nie maar self parallel in verskillende individue kan plaasvind.

Dan hoor ek ook dat dit moontlik is vir myself om my eie DNS "real time" te herskryf. Daarmee saam dat dit moontlik is om deur 'n rekenaar genesing en daardie einste DNS te bewimpel.

Genade mens, waar gaan alles eindig en wat kan ek als glo? Dan weet ek ook met 100% sekerheid dat die aarde nie plat is nie. As dit dan so is, is daar sekerlik niks anders in die uitspansel en daarbuite, onmoontlik nie.

Laszlo wys dan ook daarop dat hierdie grootse metavers in sy eie proses van evolusie is. Onthou waar ons begin het deur te sê alles word in die Akashic Field (Universal Consciousness) vasgelê (gestoor). Dit beteken dat al die gebeure in die verlede van die metavers in daardie einste medium bestaan. Met elke BB is daar dus reeds 'n bloudruk vir die ontwikkeling van die volgende nuwe univers soos ons s'n begin het 13.8 biljoen jaar gelede. Dit is dus nodeloos om te vra maar hoe het ons univers so ontwikkel presies soos dit het om te verseker dat ek nou hier sit en skryf?

Die antwoord is voor die hand liggend: Die bloudruk was reeds daar uit die bestaan van die metavers!!! Die evolusie daarvan vinniger as die een daarvoor.

Dit is dus korrek dat ons univers geskep is uit 'n intelligente bron, dit was nie 'n lukraak proses nie, dit was bestem om so te wees. Daar is dus beslis 'n intelligente "skepper," of ten minste 'n bloudruk, ons begin nie van 'n nul posisie nie. Evolusie met 'n bloudruk?

Is hierdie skeppings-intelligensie 'n natuurwet?
Is dit wat ons met ons alom bekende beperkinge, God noem, 'n natuurwet?
'n Natuurwet wat ek moet leer hoe om te gebruik en dat dit harde werk is.
'n Natuurwet wat vir almal ewekansig beskikbaar is om te benut.
'n Natuurwet soos gravitasie wat ek moet weet ek myself besimpeld gaan val as ek van die dak af spring.
'n Natuurwet wat ek nie hoef te aanbid of te vrees nie.
'n Natuurwet wat ek bewustheid ook kan noem.
'n Natuurwet vir my in alles wat goed en liefde is.
'n Natuurwet wat ek in ootmoed mee moet leef.
'n Natuurwet wat ek is en waarin ek ook een is met alles in die metavers.

Bill Potgieter –

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.