.

Die invloed van Calvinisme op die Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie

Deur Jaco Steyn op 1 Oktober 2015

.

Drie van die belangrikste Calvinistiese geloofsbeginsels wat deur die meeste blanke Afrikaanssprekende mense vir baie jare aanvaar is en nog steeds aanvaar word, is:

Uit die voorgaande is dit duidelik dat die strewe na die verbetering van die welsyn van die meeste mense, nou nie eintlik die hoogste prioriteit is van aanhangers van hierdie geloofsbeginsels nie. Omdat Calviniste boonop glo dat die Bybel die Woord van God is en omdat selfs slawerny in sekere dele van die Bybel goedgekeur word, ontmoedig hierdie geloofsbeginsels hulle nié om materiële rykdomme te bekom en in die proses selfs mense te misbruik en/of te onderdruk nie. Baie Calviniste glo dat dit hul plig is om die Evangelie aan veral die heidene te verkondig. Baie vroeëre Calvinistiese Afrikaners het byvoorbeeld geglo dat God van hulle verwag om Swartmense aan te moedig om die "barbaarse aanbidding" van hul voorvadergeeste te laat vaar.

Terwyl heelwat Boeddhistiese (en selfs ook Rooms-Katolieke) monnike probeer afsien van aardse geriewe en rykdomme, is daar dus géén soortgelyke beperking op Calviniste wat hulle weerhou van die najaag van aardse rykdomme nie. Volgens Max Weber was daar 'n belangrike verband tussen Calvinisme en die bevordering van kapitalisme in veral die Weste. Op grond van hierdie "gees van kapitalisme" waarna hy verwys het, het werkgewers hul werknemers gereeld misbruik en het hulle die ongelykhede in hul werksomgewings as van mindere belang geag. Hierdie gees van kapitalisme het daartoe bygedra dat baie Calvinistiese Afrikaners "goedkoop" swart arbeid gebruik het ten einde hul finansiële doelwitte te bereik. Hierdie praktyk was nooit deur enige van die Afrikaanse driesusterkerke beskou as 'n sonde soortgelyk aan die "sondes" van homoseksuele dade, pornografie en ongetroude paartjies wat saamwoon nie.

Terwyl die meeste hedendaagse politieke partye in Suid-Afrika sekulêre en liberale grondbeginsels het, is daar egter drie verregse Calvinistiese splintergroepe, nl. die Herstigte Nasionale Party (HNP), die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB) en Afrikaner Volksparty (AVP), wat beide tradisionele Calvinistiese lewenswaardes én die beleid van Apartheid, ondersteun. Hierdie organisasies se grondbeginsels is soortgelyk aan dié van die ou Nasionale Party vóór 1970. Terwyl hulle aan die een kant glo dat Calvinisme die enigste ware geloof verteenwoordig en dat dit blankes se plig was en is om hierdie "Lig" in Afrika in te dra, glo hulle aan die ander kant dat elke bevolkingsgroep oor hulleself behoort te regeer in hul eie afsonderlike grondgebied. Terwyl baie verregses dus dikwels voorgee dat hulle nié beweer dat blankes meerderwaardig is nie, is baie van hulle tog neerbuigend in dié opsig dat hulle glo dat blankes se godsdiens, demokratiese regeringsvorm en tegnologieë, beter is as die swart Afrikane se tradisionele waardes en ondemokratiese regeringstelsels en dat Swartmense daarom die blankes se "beter" norme en waardes behoort te aanvaar. Die regse blanke "baas" sê dus vir die Swartman: "Julle het die reg om julleself te regeer in jul eie grondgebied, maar alvorens julle dit kan doen, móét julle eers erken dat die Christendom béter is as jul tradisionele godsdienste."

Johannes Calvyn was van mening dat alleenlik die hardwerkende uitverkorenes van God, die Ewige Lewe sal beërwe en dat lui mense soos die bedelaars in sy tuisdorp Genève, heel waarskynlik verlore siele was wat bestem is vir die Ewige Verdoemenis. Om die armes en behoeftiges te help, was volgens hom 'n oortreding van God se verordeninge omdat gelowiges slegs deur hul eie harde werk kon aantoon dat hulle verlos is deur God se genade. Hy het ook voorgestel dat gelowiges hul winste herbelê in hul toekomstige finansiële ondernemings. Hierdie Protestantse en kapitalistiese werksetiek het gaandeweg uitgebrei na Europa en Amerika met behulp van Protestantse sektes en het ontwikkel tot een van die belangrikste Westerse werksetieke. Die morele sanksie om wins te maak d.m.v. harde werk en organisasievermoëns, het gelei tot die daarstel van verskeie klein sake-ondernemings dwarsdeur die wêreld.

Gedurende die Industriële Rewolusies (1760-1870) het die Calvinistiese eienaars van klein sake-ondernemings ook begin om hul besighede te meganiseer, wat aanleiding gegee het tot die toenemende vervanging van werkers se tradisionele vaardigheid en vakmanskap met die toepassing van dissipline en die anonimiteit van derduisende arbeiders in fabrieke. Die basis van die Calvinistiese werksetiek, nl. die verband tussen harde werk en persoonlike finansiële groei, het gaandeweg verbrokkel. Baie plaaslike gemeenskappe het begin disintegreer omdat werkloosheid toegeneem het en duisende mense verstedelik het ten einde beter werksgeleenthede te soek. Die aantal werkers in fabrieke het toegeneem en 'n nuwe werkersklas, die proletariaat, het ontstaan en hulleself georganiseer in unies en politieke partye. Vervolgens het 'n klassestryd ontstaan tussen die meer gegoede deel van die gemeenskap en die nuwe werkersklas. 'n Soortgelyke proses het in Suid-Afrika plaasgevind met die gebruikmaking van goedkoop nie-blanke arbeid deur hoofsaaklik (veral Engelse en Joodse) myneienaars en blanke (Afrikaanse) boere. Die klassestryd gedurende die Industriële Rewolusies was soortgelyk aan die huidige gespanne verhouding tussen die meeste Swartmense en die blanke middelklas in Suid-Afrika.

Sendelinge se pogings om die Evangelie aan soveel as moontlik swart "heidene" bekend te maak, is vergemaklik omdat miljoene Swartmense gewoon en gewerk het binne die ou blank-beheerde Suid-Afrika vóór 1994. Baie ondersteuners van die Calvinistiese werksetiek beskou dit as 'n mors van tyd en energie om besorgd te wees oor alle mense se materiële welsyn, juis omdat die meeste van hulle na bewering in elk geval bestem is vir die Ewige Verdoemenis en verdien om te ly tydens hul aardse bestaan. Baie Calviniste se belangrikste "aardse" prioriteit is die nastreef van hul eie materiële vooruitgang d.m.v. harde werk en die herinvestering van hul winste ter bevordering van hul toekomstige finansiële ondernemings. Die gebruikmaak van goedkoop arbeid is onafskeidbaar deel hiervan.

Omdat Calviniste glo dat God die verloop van alle gebeure presies vooraf beplan (gedetermineer) het, dring hulle dikwels daarop aan dat minder gegoede mense hul swakker omstandighede behoort te aanvaar. Ontevredenheid oor die stand van sake word daarom dikwels beskou as 'n "klap in God se gesig." Baie Calviniste vergeet egter gerieflikheidshalwe dat húlle – indien hulle logies konsekwent sou wees, hul gedurige klagtes en besware teen geweldsmisdade en die "onchristelike bewind" van die ANC, behoort te laat vaar.

Het baie Afrikaners se tradisionele Calvinistiese lewenswaardes uiteindelik méér voor- as nadele vir hulle en vir ander Suid-Afrikaners ingehou? Terwyl dit aan die een kant geensins Afrikaners daarvan weerhou het om hebsug en kapitalisme te bevorder en in die proses gebruik te maak van swart arbeid nie, het dit aan die ander kant aanleiding gegee tot gedurige onenigheid tussen hulle. Ons is bewus van die jarelange kleinlike geskille tussen die Afrikaanse driesuster kerke oor die sing van psalms, vroue as diakens, mag mens dans sonder om dit te geniet of is dans heeltemal onaanvaarbaar, ens.

Meer as dertig jaar gelede was die oorgrote meerderheid Afrikaners lidmate van een van die driesuster kerke. Hulle het hul intellektuele vermoëns, hardwerkendheid en Westerse tegnologieë gebruik om 'n aansienlike bydrae te lewer tot die opbou van hierdie land – ten spyte van hul Calvinistiese lewenswaardes. Namate die bevolkingsgetalle van Swartmense egter begin toeneem het en die druk al groter geword het om gelyke regte aan hulle te gee, het Afrikaners in toenemende mate hul tradisionele Calvinistiese morele norme en waardes verwerp sonder om dit met behoorlike alternatiewe spirituele norme en waardes te vervang. Gevolglik het hul tradisionele kulturele norme en waardes weggekwyn en is hulle deesdae meer as ooit tevore verdeeld onder mekaar. Baie skole en universiteite is ook nie meer "Afrikaans" nie. Baie ánder Afrikaners wat nog steeds ywerige Christene is, beweer dat sekere Afrikaanse kerke weggedwaal het van die "Ware Boodskap" van die Bybel omdat die kerke té verdraagsaam geword het t.o.v. "permissiewe wêreldse waardes." Die ekonomiese en misdaadprobleme in die huidige Suid-Afrika en die onvermoë en/of onwilligheid van baie kerkleiers om behoorlike hulp en raad aan hul lidmate te verskaf aangaande lewensbelangrike kwessies, gee aanleiding daartoe dat baie van hulle groter aanklank vind by die méér fundamentalistiese gedagterigtings van o.a. Charismatiese bewegings, Angus Buchan, sy vroulike weergawe Gretha Wiid en die onwetenskaplike Jong-Aarde Skeppingsleer.

Baie blankes beweer deesdae dat Swartmense dankbaar behoort te wees omdat blankes hulle kwansuis weens altruïstiese motiewe, opgehef het vanuit hul oorspronklike "barbaarse" lewenswyse. Hierdie oënskynlike opheffing was egter van verbygaande aard en is veral die afgelope 20 jaar vervang deur toenemende korrupsie, geweldsmisdade en wanhoop. Calvinistiese Afrikaners was en is veral verdeeld oor die Bybelse regverdiging vir die beleid van Apartheid, grootliks omdat die meeste kerkleiers en politici nié behoorlike riglyne hieroor verskaf het nie. Geldgierigheid het dus gelei tot die gebruikmaking van goedkoop swart arbeid, wat aanleiding gegee het tot die toename in swart bevolkingsgetalle en uiteindelike ANC bewindsoorname.

Baie Joodse en Engelse myneienaars het ook jare lank gebruik gemaak van goedkoop swart arbeid, maar ongelukkig het die ou Nasionale Party regering wat deur die meeste blankes vir baie jare ywerig ondersteun is, nié streng opgetree teen hierdie wanpraktyk nie. Afrikaners se toenemende aanvaarding van 'n verbruikerskultuur gebaseer op selfgesentreerde hebsug, moedig hulle nou nie juis aan om weerstand te bied teen korrupsie en die al groter wordende gaping tussen ryk en arm mense nie. Bitter-min van hulle is bereid om die geldigheid van skadelike ideologieë soos bv. die gelykheidsdogma, wat gedurig deur die hoofstroommedia gepropageer word, te bevraagteken. Dit wat vir baie Afrikaners die afgelope vyf dekades die "heiligste" was, nl. hulle (1) selfvernietigende Calvinistiese norme en waardes, (2) geldgierigheid en (3) sportbeheptheid, is van dié belangrikste faktore wat wesenlike bydraes gelewer het tot die agteruitgang van die eens trotse Afrikanervolk se unieke kultuur.

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 0833841115. E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.