Die individuasieproses as evolusie van die bewussyn

Deur Louis van Zyl op 1 Februarie 2011

Dr. Piet Odendaal skryf in sy onlangse SES artikel, Evolusie en Bewussyn dat Darwiniste se siening meesal impliseer dat Darwin se evolusieteorie outomaties die moontlikheid van 'n geestelike dimensie uitsluit en bloot op biologiese vlak plaasvind. Carlyn Merchant skryf: "Biological evolution of the human species stopped some fifty thousand years ago. From then on, evolution proceeded no longer genetically but socially and culturally, while the human body and brain remained essentially the same in structure and science."

Alfred Russel Wallace het heeltemal onafhanklik die teorie van evolusie ontwikkel, maar word grootliks misken. Sy siening is dat menslike vermoëns soos die wiskundige, musikale, en artistieke; en karaktertrekke soos 'n sin vir humor, integriteit, waardering van skoonheid, en sin vir geregtigheid, nie ontwikkel is in 'n stryd om oorlewing nie. Dit dui sterk daarop dat instede van 'n enkele biologiese evolusielyn daar ook 'n parallelle evolusie van die menslike bewussyn aan die gang is wat niks met natuurlike seleksie te doen het nie.

Die oorhoofse gevolgtrekking uit voorgaande paragrawe is dat evolusie besig is om tot die bewussyn op 'n nie-materiële domein te beweeg – 'n domein waarvoor Darwinisme, wat slegs op natuurlike seleksie berus, nie voorsiening maak nie.

Die Idealiste het dieselfde denkrigting gevolg. Hulle het ons geskiedenis onder die vergrootglas geplaas en in ons tradisies iets misterieus gesien: 'n bron van kollektiewe kennis, die akkumulerende insigte van die mens se siel, 'n lewende, veranderende onafhanklike mag met evolusionêre dinamika. Hegel was een van die bekendste aanhangers van hierdie denkrigting.

Hegel se siening van die bewussyn word beskryf as absolute idealisme. Bewussyn beweeg deur fases met 'n tipe noodsaaklikheid, aangedryf deur duidelike ontoereikendheid in elke fase. Deur fenomenologie kan toegekyk word hoe eenvoudige bewussyn deur middel van 'n dialektiek, ontwikkel tot absolute kennis. Die werklikheid word gesien as saamgestel uit die selfbewussyn van die Absolute.

Volgens Hegel is die eenvoudigste vorm van bewussyn Sintuiglike-sekerheid. Hierdie vorm van bewussyn is die mees blote, abstrakte, universele en leë "kennis" moontlik. Die ontoereikendheid van Sintuiglike-sekerheid lei die bewussyn na die volgende fase, nl. Persepsie en van daar weer na die fase genaamd, Begrip (understanding).

Selfbewussyn word volgens Hegel bereik slegs indien die selfbewussyn as sulks erken word deur 'n ander selfbewussyn. Hierdie wedersydse erkenning is volgens hom 'n moeilike, maar noodwendige fase.

Bewussyn moet in die volgende fase dit self ervaar in die ontkenning van alle werklikheid. Hierdie fase bring die lewenswyse van die skeptikus na vore, wat egter gegrond is in selfbedrog. Die skeptikus prys homself vir sy vryheid, maar is 'n slaaf van die gebruike van die gemeenskap waarin hy hom bevind.

Bewussyn erken in die volgende fase sy gesplete wese en dat hierdie gesplete wese 'n interne dualiteit is. Hierdie "selfverdeelde" bewussyn is nietemin bewus dat dit een is. Hegel noem dit die Ongelukkige Bewussyn. Aan die een kant is daar die ervaring van vrye en rasionele denke, van suiwer universaliteit met niks wat bloot toevallig/onseker of natuurlik is, dit kan aanraak nie. Hegel noem dit die "Unchangeable". Aan die ander kant ervaar die bewussyn homself as 'n veranderlike, oortollige ('unessential'), verwarde en perverse individu, wat onderworpe is aan die volslae toevalligheid van 'n ongeluk. Hierdie twee kante is vreemdelinge vir mekaar.

Onder psigologiese druk om hierdie dilemma op te los identifiseer die bewussyn homself met die veranderlike en ervaar die "Unchangeable" kant as 'n ander vreemde wese, wat nie deel uitmaak van die bewussyn nie. Hierdie "Unchangeable" kant word as God ervaar. Die Christendom is 'n subtiele en vindingryke konstruksie van die bewussyn waarmee hy poog om sy gesplete wese te verenig.

Die Christendom verskaf dit wat nodig is om die gesplete wese te verenig: 'n mediator. Hierdie mediator moet deelneem aan beide kante van die gesplete wese van die bewussyn. Dit moet gevolglik beide God en mens wees. Die veronderstelde realiteit van hierdie mediator demonstreer dat die twee kante van die bewussyn (ewige en tydelike, oneindige en eindige, onveranderlike en veranderlike) in beginsel EEN is.

Hegel betoog dat die Christelike doktrine van die vleeswording in werklikheid beteken dat Jesus, wat werklik mens en werklik God is, die eenheid van die bewussyn openbaar. Volgens Hegel is Christenskap net een noodsaaklike, vrugtevolle stadium in die geskiedenis van die bewussyn.

Bewussyn het nou, deur sy eie interne ontwikkeling, die fase van perfekte selfbewussyn bereik, waar die twee bogemelde kante geïnkorporeer is. Gewoonlik word enige entiteit wat buite die selfbewussyn waargeneem word, ervaar as verwyderd van die bewussyn. Enige poging om dit wat ervaar word te beskryf bring dit op die terrein van konsepte, interpretasies en die rede. Hierdie entiteit wat oënskynlik onafhanklik van die bewussyn staan is relatief tot die bewussyn wat dit begryp. Al wat die bewussyn egter in hierdie fase ervaar, is dit self.

Die wese van die wêreld is 'n onderwerp van die bewussyn. Dit is egter nie die bewussyn wat ek of jy vandag ten toon stel nie. Hierdie bewussyn is implisiet in my en jou en ons is deel van die historiese proses waarin die bewussyn besig is om eksplisiet te word.

Hegel gebruik die term "World Spirit" vir bewussyn en rede wat ditself in die wêreld manifesteer. Volgens Hegel is die geskiedenis die proses waardeur "God" besig is om hom begryplik en/of verstaanbaar te maak. Die wese van die werklikheid word gevorm in die selfbewussyn van die Absolute – die "World Spirit", en die "World Spirit" is alle werklikheid (Melchert 2002:471).

God staan gevolglik nie agter sy skepping nie, maar is die skeppingsproses op sigself. Die mens is nie 'n passiewe toeskouer van die werklikheid nie, maar 'n aktiewe mede-skepper van die werklikheid en vorm die mens se geskiedenis die baarmoeder hiervan (Tarnas 1991: 381).

Hegel se siening het baie kritiek ontlok, maar soos dit meer duidelik geword het dat die wetenskap nie op vaste waarhede kan aanspraak maak nie en op relatiewe en feilbare kennis gegrond is het meer en meer mense na binne gekeer en begin om bewussyn self te ondersoek.

Die nuwe fokus op die innerlike werking van die psige het psigoanaliste soos Freud en Jung op die voorgrond geplaas. Jung het tydens die analise van psigologiese- en kultuurverskynsels bewyse ontdek van 'n kollektiewe onderbewussyn wat alle mense in gemeen het en wat gestruktureer is volgens kragtige argetipes.

Die kollektiewe onderbewussyn is, volgens Jung, een van twee dele waaruit die onderbewussyn bestaan. Dit kan onderskei word van die ander deel, die persoonlike onderbewuste, deur die feit dat die kollektiewe bewussyn nie, soos die persoonlike onderbewussyn, sy bestaan te danke het aan persoonlike ervarings nie en gevolglik nie persoonlik verkry word nie.

Terwyl die persoonlike onderbewuste opgemaak is uit inhoud wat eers deel van die bewussyn was, maar wat verdwyn het uit die bewussyn deur dit te vergeet of te onderdruk, was die inhoud van die kollektiewe bewussyn nooit deel van die bewussyn nie en was daarom nooit individueel verkry nie, maar is sy bestaan uitsluitlik te danke aan oorerwing. Die kollektiewe bewussyn bestaan uit argetipes. Argetipes is bepaalde vooraf bestaande vorms wat alomteenwoordig is.

Tesame met ons onmiddellike bewussyn, wat 'n volkome persoonlike karakter het, wat die enigste empiries bewysbare psige is, bestaan daar 'n tweede psigiese sisteem met 'n kollektiewe universele en onpersoonlike wese, wat identies is in alle individue. Hierdie kollektiewe bewussyn ontwikkel nie individueel nie maar is ingebore.

Individuasie is die proses van transformasie, waardeur die persoonlike en kollektiewe onbewuste na die bewussyn gebring word deur drome, aktiewe verbeelding en vrye assosiasie. In hierdie heeltemal natuurlike proses, wat noodsaaklik is vir die integrasie van die psige, word die persoonlike en kollektiewe onderbewuste in die totale persoonlikheid opgeneem. Individuasie het 'n holisties helende effek op 'n persoon, beide psigies en fisies.

Buiten die psigiese en fisiese helende effek van individuasie, is mense, wat gevorder het nader aan individuasie, geneig om meer harmonieus, volwasse en verantwoordelik te wees. Hulle beliggaam humanistiese waardes soos vryheid en geregtigheid en het 'n goeie besef hoe die menslike natuur werk en hulle plek in die heelal (Hyde, & McGuinness 2003:76).

Dr. Odendaal verwys ook in die tweede deel van sy artikel na die fisikus Fritjof Capra. In sy boek The Tao of Physics skryf hy: "The argument of this book is that modern physics leads us to a view of the world which is very similar to the views held by the mystics of all ages and traditions. Mystical traditions are present in all religions, and mystical elements can be found in many schools of Western philosophy" (Capra 1991:23).

'n Mistieke ervaring word deur Melchert (2002:241) beskryf as 'n ondervinding wat in alle eeue en kulture voorkom, baie kragtig en oortuigend is en fokus op 'n absolute eenheid. Die veelvoudigheid van dinge verdwyn en die persoon kan nie homself van ander objekte onderskei nie. Mistici praat oor hulle ondervinding in terme van identifiseer met die self, met "the All", met "the One", of met God. As voorbeeld wys Melchert daarop dat Plotinus (2002:241), Augustinus (2002:233) Aquinas (2002:272) en Descartes (2002:238) mistieke ervarings gehad het.

Paulo Coelho beskryf mistieke ervaring baie treffend in sy boek "The Alchemist" as die skielike indompeling van die siel in die universele stroom van die lewe (Coelho 1988:66). Dit wil voorkom of die mistieke ervaring, wat in alle gelowe voorkom, 'n plotselende individuasie van die persoon is, waar die werklike wese van die werklikheid tot hom deurdring en hy die interkonneksie van alles begryp.

Kan dit dus wees dat 'n persoon wat 'n mistieke ervaring het, 'n vlugtige blik kry op die einddoel van die individuasie proses en dat hierdie proses sinoniem is met die evolusie van die bewussyn op 'n nie-materiële vlak?

Bibliografie

Capra, F. 1991. The Tao of Physics. Great Britain. Clays Ltd.
Coelho, P. 1988. The Alchemist. Barcelona Spanje. Editora Rocco Ltd.
De Quincey, C. 2010. Radical Nature: The Soul of Matter. Toronto Canada. Park Street Press.
Hyde, M & McGuinness, M. 2003. Introducing Jung. Royston U.K. Icon Books.
Melchert, N. 2002. The Great Conversation Oxford. Oxford University Press.
Tarnas R. 1991. The Passion of the Western Mind, Understanding the Ideas that have shaped our World View. Ballantine Books.
Stumpf, S.E. 1993. Socrates to Sartre: A History of Philosophy. New York. McGraw-Hill Inc.

Louis van Zyl kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za