Individuasie en spiritualiteit by Jung

Deur Prof. Ampie Muller op 4 Januarie 2010

(Prof Adriaan D. (Ampie) Muller is emeritus-professor in Bedryfpsigologie wat ook in Nederland gedoktoreer het in kliniese psigologie. Hy was onder meer verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die Stellenbosche Sakeskool en die Sentrum vir Intergroepstudies van die Universiteit van Kaapstad.)

Laat ek begin deur te sê dat ek myself nie as 'n Jungiaan beskou nie, dat ek, om die waarheid te sê, oor 'n aantal fundamentele punte, grootliks van Jung se opvattings verskil. Nogtans glo ek dat Dr. Carl Gustav Jung (1875-1961) se werk sekere aspekte bevat wat belangrike bydraes gelewer het tot ons verstaan van die menslike psige en veral van die menslike spiritualiteit. Tweedens is dit belangrik om by te voeg dat hierdie bydrae trag om 'n 'kort begrip' te verskaf van wat sekerlik beskou kan word as 'n uiters komplekse problematiek.

Om Jung se opvattings oor menslike spriritualiteit te verstaan is dit absoluut noodsaaklik dat ons sekere van sy konsepsies van nader bekyk.

Menslike bewussyn

Eerstens moet mens kennis neem van die feit dat vir Jung die menslike bewussyn sy oorsprong het in die mens se stryd teen die instinktiewe: daardie blinde heerser van menslike gedrag wat onproblematies is en waar net een oplossing vir enige probleem bestaan. Instink, sê Jung, is natuur en soek natuur; bewussyn aan die ander kant soek slegs kultuur. Van bewussyn verwag ons om te doen wat die instinktiewe natuur altyd gedoen het naamlik om onbevraagtekende, ondubbelsinnige besluite te gee oor welke probleem ons ook al konfronteer, so nie open ons die deur vir vrees en onsekerheid. Elke probleem waarmee ons gekonfronteer word bring dus die moontlikheid van die uitbreiding van die bewussyn en terselfdertyd van 'n totsiens sê vir die kinderlike onbewussyn en vertroue in die natuur.

Vir Jung is hierdie noodwendigheid van so 'n groot belang dat dit, volgens hom, een van die mees essensiële leerstellings van die Christelike godsdiens daarstel. Die bybelse sondeval gee ons die dagbreek van die bewussyn as 'vloek' (curse) en verwyder ons ver van die paradys van die onbewuste kinderlikheid.

Hoe kom hierdie posisie tot stand? As kort antwoord sou Jung sê: soek die antwoord by die vrugte van die 'boom van kennis'. Onder 'kennis' in Jung se sin moet ons verstaan nie slegs die waarneming van iets nie maar ook die verbintenis van hierdie waarneming met ander psigiese inhoude, m.a.w ons hou in die bewussyn nie slegs die waarneming nie maar ook dele van die konteks of raamwerk waarbinne waargeneem word.

Volgens Jung kan ons geen kennis hê van 'n inhoud wat nie gekonnekteer is met enigiets anders nie en aanvanklik is die proses amper sporadies en word meestal nie eers onthou nie, want vir onthou het ons 'n sentrale ego-kompleks nodig wat aan die begin van ons ontwikkeling nog nie bestaan nie en eers later wanneer, aldus Jung, die ego-kompleks 'n energie van sy eie bekom ontstaan die gevoel van "subjektiwiteit" of 'ek-heid', m.a.w. 'n kontinuiteit van ego-herinneringe.

Menslike psigiese ontwikkeling

Jung se beskouing oor die menslike psigiese ontwikkeling is in vergelyking met baie ander soortgelyke teorieë nie baie ingewikkeld nie en is gebaseer op sy insigte t.o.v bewussyns ontwikkeling: Die eerste fase van die ontwikkelling wat bestaan suiwer uit herkenning is 'n anargiese- of chaotiese fase. Die tweede is die fase van die ontwikkelde ego-kompleks. Die derde bestaan uit 'n bewussyn van die verdeelde of dualistiese staat. Op hierdie basis bou Jung nou sy ontwikkelings fases:

Eerstens beskryf hy die periode van Die Jeug. Dit beslaan die jare vanaf net na puberteit tot die middeljare (vaag omskryf). Die belangrikste kenmerke van hierdie tydperk is die konfrontasie met die werklikheid en die menslike neiging om te klou aan die onbewustheid van die kindertyd en ons sug daarna om plesier en mag uit te leef.

Die doelwit van alle religieuse opvoeding is om die ou Adam af te lê en om 'weer gebore' te word. Hier bestaan twee gevaarlike tendense:
1.  Om jou redding te soek deur in die verlede weg te kruip, en
2.  Om die toekoms in te vlug en om te probeer om die verlede te ontkom.

Beide tendense, sê Jung, is foutief want in beide gevalle bly die persoon gevange in 'n verskraalde bewussyn i.p.v. om 'n oplossing te vind deur die spanning te aanvaar van die teenoorgesteldes en om 'n wyer en hoër bewussyn te bereik.

Dit sou wonderlik wees indien mens dit kon laat vir die tweede fase van die lewe maar ongelukkig, aldus Jung, het die natuur geen waardering vir 'n hoër bewussyn nie en die gemeenskap se pryse gaan ook gewoonlik vir prestasie en nie vir persoonlikheid nie, dus word mens gedwing om die tydelik bereikbare na te streef en nie dit wat in 'n dieper sin blywend is nie.

Wanneer ons ons middeljare bereik of benader hoe meer verskansd word ons beskouinge, persoonlike houdings en sosiale posisies, m.a.w. ons begin glo dat ons die 'waarheid' beet het! Ons hang dit aan asof ons lewens daarvan afhang. Teen die einde van hierdie periode (vir Jung teen ongeveer 50-jarige ouderdom) begin ons rigied raak en selfs fanatiek in wat ons glo. Hy glo dat vrees vir die dood ook dalk reeds hier 'n rol kan speel. Ons het nou die middaguur van ons lewens bereik en ons moet aanvaar wanneer die middaguur slaan die afdaling begin en die afdaling beteken die omkeer van al die ideale en waardes wat so belangrik was in die oggend. Hy praat van die omkeer van beide psigiese waarhede as fisiese feite. Om dit te illustreer haal hy aan uit die etnologiese literatuur die verhaal van 'n Indiaanse vegter-hoofman wat in 'n droom besoek word deur die Groot Gees wat hom aansê om in die vervolg tussen die vrouens en kinders te sit, vroue-klere te dra en hulle kos te eet.

Om te begryp wat Jung vir ons probeer sê moet ons eers na ander aspekte van Jung se Diepte of Komplekse Psigologie kyk: Volgens Jung het ons nie slegs 'n persoonlike onbewuste wat bestaan uit al daardie materiaal wat op die oomblik nie bewus is nie. Dit word opgemaak uit al daardie dinge wat jy in jou eie lewe ervaar het en waarvan baie weinig ooit verlore gaan. Die Persoonlike onbewuste is soos jou pakdonkie en die onbewuste is vol van jou bagasie ("stuff"). Dis ook die stortingsterrein van al die dinge waarmee jy nie gemaklik is nie, waaraan jy liewer nie wil dink nie en waarvan jy liewer ontslae sou wou raak.

Die Kollektiewe onbewuste

Die Kollektiewe onbewuste aan die ander kant is tot 'n mate ook selfverklarend. Hoewel jy daaraan deelneem is dit nie jou persoonlkke besit nie. Dit behoort aan die spesie en bevat oorgeêrfde universele temas wat deur almal se lewens loop. M.a.w. die geskiedenis van die hele menslike ras van alle tye af leef voort in ons. Dis ook gestel as die uitgawe van 'n boek waarvan ons elkeen ons eie kopié besit.

Argetipes: Hierdie primordiale beelde weerspieël grondpatrone of universele temas waaraan ons almal onderworpe is en wat ons in die kollektiewe onbewuste aantref. Hierdie is temas van aspekte van ons bestaan wat deur die eeue opgebou is en die diepste waarhede van, en oor, fenomene bevat. Dit is nie slegs werksaam in ons drome nie maar kom voor in sprokies, mites ens; dit bevat groot potensiaal as patrone van aksie. Voorbeelde van sulke argetipes is die skadu, die animus en anima, die ou wyse persoon, maar ook natuurverskynsels soos water, vuur, berge, riviere ens, maar die belangrikste (een skrywer noem dit "Die Groot Vyf") is: Die Persona, die Ego, die Skadu, die Anima/Animus en die Self.

Die groot vyf

DIE PERSONA: Dit kan die beste beskryf word as die masker of beeld wat ons aan die wêreld vertoon. Dit is nie ons werklike self nie maar hoe ons wil gesien word m.a.w. dis 'n kompromie tussen die wêreld en ons self en absoluut noodsaaklik vir 'n gemaklike lewe in die omgewings waarin ons onsself mag bevind.

DIE EGO: Dis die sentrum van die bewussyn. Dis die 'EK' waarvan ons bewus is in ons wakende lewe. Dis die instansie wat die uiterlike wêreld ervaar maar ook die innerlike beelde. Deur 'n kombinasie van waarneming en emosionele reaksie skep dit die beelde van die persoonlike onbewuste, m.a.w. dis 'n soort van tussenganger tussen die sosiale omgewing en die faktore van die kollektiewe onbewuste.
Langsamerheand ontwikkel die ego in 'n bewussyn van die kontinuiteit van ons bestaan as 'n 'ek'. Dit beheers 'n klein maar belangrike deeltjie van die psige, omring deur 'n enorme "Terra Incognito".
Hoe meer die ego bewus word van die areas wat hom omring hoe meer selfvertroue word opgebou wat belangrik is veral wanneer ons voor nuwe eise te staan kom.

DIE SKADU: Dis die aard van hierdie argetype dat dit maklik misgekyk word. Dit is die vergaarbak van alles wat ons verwerp of nie wil aanvaar i.v.m. ons self nie. Dit bevat dus alles wat ons as te negatief ervaar om aan die publiek te vertoon. M.a.w. die vuil en verfoeilike kant van ons self en word dikwels geprojekteer op ander individue en groepe.

TIPOLOGIE: Daar is nog 'n aspek van Jung se dieptepsigologie wat aangeraak moet word indien ons sy begrip individuasie wil verstaan. Jung het vroeg reeds besef dat alle mense nie die wêreld eenders benader nie. Hy het dan ook allereers die begrippe introvert en ekstrovert geskep waar die ekstrovert iemand is wat aan impulse voorkeur gee wat van die buitewêreld kom en daarom die gevaar loop om oorbetrokke te raak by objekte en die gevaar loop van verlies van die self as individuele persoonlikheid; en introverte wat aan die anderkant lei aan 'n verlies van kontak met die objektiewe wêreld en die gevaar loop van verlore raak in die emosionele binnewêreld.

Hoe ons die wêreld beleef

Hierbenewens postuleer Jung dat daar vier hoof wyses is waarop mense die wêreld kan benader naamlik d.m.v. die denke, gevoelens, gewaarwording en intuïsie. Gedurende die opgaande lyn ontwikkel een van hierdie benaderingswyses as die dominante patroon waarvolgens ons kennis verkry ten koste van die ander benaderingswyses.

DIE ANIMA: Dis die argetipe wat die onbewuste vroulike komponent simboliseer. M.a.w. die vroulike sielebeeld van die manlike psige. Dit bevat aspekte of tendense wat as feministies beskou word. Die Vroulike psige word gekenmerk deur die begrip EROS = verwantskap en ontvanklikheid. Die manlike psige word gekenmerk deur die begrip LOGOS = begrip en redelikheid.

DIE ANIMUS: Die animus simboliseer die manlike komponent van die vroulike psige m.a.w. die kwaliteite of tendense wat as 'manlik' beskou word, naamlik die Logos d.w.s. begrip en redelikheid.

DIE SELF: Die self is eenvoudig die sentrum en die totaliteit van die totale psige. Dit bevat al die ander argetipes. Dit verteenwoordig die strewe na eenheid, heelheid en integrasie.

INDIVIDUASIE: Die proses van individuasie is die sentrale konsep in Jung se psigologie, niks meer en niks minder as die proses van maturasie of volwassewording van die psige op dieselfde wyse as wat die liggaam volwasse word. Dis belangrik om te weet dat hierdie proses plaasvind gedurende die tweede helfte van die lewe. Jung sien die hooftaak van die eerste helfte van die lewe as om mens in die lewe te vestig, jou bande met jou ouers te verbreek, 'n maat te vind en 'n eie familie te begin. Om m.a.w jou "verpligtinge teenoor die wêreld na te kom'; die buitewêreld moet die hoof gebied word. Die suksesvolle man is so besig om geld en mag na te jaag dat daar geen tyd of energie oor is om aan die innerlike lewe aandag te gee nie, wat sê nog, te voed.

Nou begin daar vrae opduik: Is dit al wat die lewe beteken? Is daar meer? Indien wel ... wat is die 'meer'?

Jou donker kant

Indien die mens kalmte en harmonie in homself wil bereik moet hy daardie aspekte van sy bestaan en van die wêreld ontdek wat hy tot dusvêr verwaarloos het. So word hy onteenseglik op die weg geplaas na die spirituele en die weg is die proses van individuasie.

Die proses volg 'n gesette baan: Eerstens moet die skadu gekonfronteer word wat miskien die moeilikste van die take is d.w.s om te erken dat daar 'n donker kant aan ons is: 'n slegte, vuil, verfoeilike kant van ons self waarvan ons tot dusver weggeskram het. Ons moet met ons self "in die reine kom". Dit vat enorme moed selfs om slegs te erken dat die skadu bestaan.

Een van die voordele van die proses is dat ons daardie projeksies wat noodwendig deel is van die ontkenning daarvan kan terugtrek en ander mense en die wêreld om ons in 'n meer realistiese lig kan begin sien. Nog 'n voordeel is dat heelwat energie (libido) deur die proses vrygestel word wat op hierdie tydstip en in hierdie proses bitter nodig is.

Anima en animus

Die volgende stap is om bewus te word van die anima of animus in ons. Die eensydige waarneming deur slegs een van die aspekete kleur ons waarnemings op verskillende maniere en maak ons waarnemings minder korrek en minder realisties. Deur die anima of animus in ons te erken en te aanvaar verkry ons toegang tot houdings en menslike kwaliteite wat ons daaglikse lewens onnoemllik kan verryk. Die man kry toegang tot al die kwaliteite van die Eros wat insluit verwantskap en ontvanklikheid, kwalitiete wat altyd teenwoordig was maar wat onderdruk is omdat dit as te 'vroulik' beskou word in 'n "mans-wêreld". Vroue, daarenteen, kry toegang tot die manlike logos wat toegang tot die werkswyses van die rede verskaf wat begrip en redelikheid as teenvoeters van intuïsie en aanvoeling verskaf en vroue wat toegang daartoe gehad het as "mannetjies-wywe" laat sien is.

Volwasse wording

Die individuasie proses is 'n proses van die vereniging van teenoorgesteldes (conjunctio oppositorum). Die hoogste waarde, die hoofdoel waarna gestreef word is integrasie en 'heelheid'. So verenig ons in ons self beide die goeie en die bose en erken dat beide moontlikhede in en van ons is. So kan ons ontvanklik wees vir beide son en skadu, die goeie en die kwade; so kan ons ons eie natuur aanvaar met sy positiewe en negatiewe kante.

Jung noem so 'n houding 'religieus' en hy aanvaar dat die mens 'n natuurlike religieuse funksie besit wat eise aan hom stel net so onverbiddelik as wat die behoefte aan sout byvoorbeeld aan die liggaam is. Net so dwingend is die soeke na die religieuse vir die psigiese gesondheid van die mens en die energie vir hierdie soeke vind sy oorsprong in die argetipes van die kollektiewe onbewuste.

Hierdie energie het in die verlede tot uiting gekom in bewegings soos die kruistogte, religieuse oorloë, heksejagte, sowel as die kreatiewe pogings wat gelei het tot die bou van byvoorbeeld wonderlike katedrale en kunsskatte wat ons eeue later nog bewonder. Vandag gaan baie van hierdie energie in die 'ismes': bv. nasionalisme, sosialisme, kommunisme ens, sowel as die menigte spirituele kultusse wat dikwels gebaseer is op beginsels wat blindelings uit die Ooste oorgeneem is.

Indien aandag gegee word aan die spirituele impulse wat uit die individuasie voortspruit kan die mens hom bevind op 'n spirituele pelgrimstog wat lei tot heelheid en heiligheid.

Godsdiens

In Jung se versamelde werke omskryf hy religie as: "an attitude of the human mind which could be formulated in accordance with the original use of the term 'religio', that is a careful consideration and observation of certain dynamic factors, understood to be powers, spirits, demons, gods, laws, ideals, or whatever name man has given to such factors as he has found in his world, powerful, dangerous, or helpful enough to be taken into careful consideration, or grand, beautiful, and meaningful enough to be devoutly adored and loved." (Psychology and religion, p.5, Collected works, Vol.11.)

Wanneer Jung dus van Christus praat moet ons ons daarvan bewus wees dat dit nie die historiese Jesus is nie maar 'n sielebeeld wat, volgens hom, leef in die kollektiewe onbewuste van elke mens en sy God is dus nie slegs die god van Abraham, Izak en Jakob nie maar van die god van alle godsdienste.

Daar is dus heelwat skrywers wat Jung sien as "die vyand van die kerk", terwyl ander skrywers, soos die Dominikaan Vader Victor White, wat 'n oortuigde Jungiaan is, in sy publikasie God and the Unconscious (London: Harvill 1952) wel versoening tussen die kerk se standpunt en Jung kan vind. So ook Prof. John W. De Gruchy in sy artikel Jung and Religion: A Theological Assessment (Jung in Modern Perspective. Ed: Renos K. Papadopoulos & Graham S. Saayman, uitgewers: Ad Donker Kaapstad). Ek noem slegs die twee uit vele publikasies oor die onderwerp. Die publikasie Psychologie und Bibel van R. Affeman (Stuttgart: Klett 1957) is belangrik in die verband.

Vir 'n deeglike kritiek oor Jung se beskouings oor die individuasie proses is Hans Trüb se artikel Individuation, Schuld und Entscheidung, in die Feesskrif aangebied aan Jung vir sy sestigste verjaarsdag in 1935, van belang.

Prof. A. Muller
4 Januarie 2010

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za