.

In transito

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Augustus 2016

.

'n Baie gerieflike funksie op jou rekenaar of foon of tv of dvd-speler is die pouseerknoppie. Dink net hoe wonderlik sou die lewe gewees het as sekere situasies ook so 'n funksie gehad het. Wanneer jy op 'n goeie plek in jou lewe is, of aangename omstandighede ervaar, druk net pouseer en vertoef 'n oomblik langer ... Maar ongelukkig werk die lewe nie so nie.

Niks is staties nie. Alles vloei. Alles beweeg. Op ons reis deur die lewe beweeg ons voortdurend van een situasie na die volgende. Party is aangenaam. Ander minder! Party maak opgewonde. Ander seer. Party maak ons lig en energiek. Ander slaan ons plat en laat ons lê.

Die een ding wat ons moet ontdek te midde van al die wipplank ry tussen lig en donker is ons veerkragtigheid. Hoe lyk my vermoë om te kan terugbons? Hoe effektief is my innerlike veerkrag om my op te help? Terug te help? Besit ek die vermoë om te kan terugkeer na 'n plek van kalmte en vrede nadat ek gedestabiliseer is? Gaan ek lê of staan ek op? Waar staan ek ten opsigte van veerkragtigheid in my lewe?

In Engels noem ons dit resilience en die vermoë to bounce back. Afrikaans praat van veerkragtigheid en die vermoë om weer homeostase te ervaar.

Ons is nie gevrywaar teen val en seerkry in die lewe nie. Ongevraagde situasies wat ons van rus en vrede ontneem, is 'n gegewenheid. Niemand kan dit ontsnap of vermy nie. Mense kyk verskillend na daardie skemer tot donker oomblikke van die lewe. Party sê dis daar omdat dit ons iets wil leer want niks gebeur sommer net nie. Daar is 'n doel agter alles.

Party reken dis karma. Wat jy saai sal jy maai. So, van tyd tot tyd moet jy terugbetaal en slae kry.

Ander reken heel pragmaties dat dit maar is hoe die lewe werk. Goed gebeur. Mens het geen beheer daaroor nie. Maak vrede want dis hoe dit is!

Soveel mense, soveel menings!

Hoe dit ook al is, wanneer mens bepaalde situasies beleef, vra mense soms vrae. Afhangende van jou perspektief op die lewe kan jy vra: Wat is die oplossing vir die situasie waarin ek my bevind? Wat probeer hierdie situasie my leer? Of jy kan vra: hoe veerkragtig is my innerlike sterkte om terug te kan bons na 'n plek waar ek weer beter gaan voel?

En die enigste een wat regtig 'n antwoord het en die uitkoms kan bepaal, is net jy! Ons kultuur is 'n baie individualistiese kultuur. Ons is eerder in kompetisie met mekaar as wat ons medelye met mekaar het. Ons kyk eerder weg as wat ons help. Ons stap aan, eerder as om empatie te toon.

So, dit bly in ons kultuuropset elke individu se verantwoordelikheid om self weer op te staan en rigting te kry. Ons is nie goed met abba, of mekaar dra, of na mekaar omsien nie. Dis maar 'n kwessie van elkeen vir homself. En juis daarom is hierdie hele saak van jou veerkragtigheid so belangrik.

Het ek in my wat dit van my vra om terug te bons nadat ek platgetrek was? Of lê ek en wag vir bietjie aandag, of simpatie? Dis dalk 'n diep menslike behoefte, maar ek dink nie ons kultuur werk so nie! Mens kan ook nie idealiseer of preek en sê: dit behoort so te wees en die liefde verwag van ons om mekaar op te help nie. Die liefde kan een ding verwag, maar die realiteit is 'n totaal ander ding. Daarom moet jy die veerkrag in jouself ontdek!

Persoonlik dink ek nogal dat 'n mens elke krisis of donker oomblik moet sien as 'n kruising. By elke kruispad het mens opsies. Keuses. Watter kant toe wil ek draai of wil ek reguit oor? Mens moet met ander woorde jou krisisse, jou donker oomblikke en kruispaaie omskakel in geleenthede waar jy keuses kan maak. Mens het altyd 'n keuse: Wil ek bly lê of wil ek opstaan? Wil ek groei of stagneer? Wil ek as oorwinnaar uit die stryd tree, of gaan ek handdoek ingooi?

So, in plaas daarvan om vir weke te tob oor hoe onregverdig die lewe is; of oor wat jy nou gedoen het om dit te verdien! Of hoekom almal rondom jou dit altyd makliker as jy het ... fokus eerder op jou vryheid! Jy kan ten minste kies hoe jy die situasie wil hanteer!

Jy het opsies wat jy kan uitoefen. Leer uit die situasie, som dit op, analiseer dit, wees veerkragtig en bons terug. Gebruik jou innerlike krag en keer so gou as moontlik terug na 'n plek toe waar jy weer jouself kan wees.

'n Plek waar jy kalmte en vrede kan ervaar. Vanwaar jy weer perspektief op die lewe kan kry.

Terwyl ons dus op reis deur die lewe is, en aangesien ons lewens nie pouseerknoppies het nie, moet ons werk aan ons innerlike krag sodat ons ons veerkragtigheid kan behou. Ons vermoë om op te staan. Ons energie om te herstel. Ons veerkrag om terug te bons as ons platgedruk word.

Dit is ons behoud. En dikwels lyk dit vir my na ons enigste behoud...

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.