.

In jou broosheid lê jou krag

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Januarie 2017

.

Stap af na die huis van die pottebakker en gaan kyk wat hy doen! So begin die storie wat 'n groot profeet op 'n dag vertel het. Hy maak toe soos wat sy God vir hom gesê het om te maak en hy stap al met die kronkelpaadjie langs tot by die huis van die pottebakker. Daar aangekom, sien hy dat die pottebakker juis besig was om iets uit klei op die skyf te vorm. Maar die voorwerp het nie uitgedraai soos wat die pottebakker dit gevisualiseer het nie. Hy haal dit toe van die wiel af, knie en brei dit weer en sit dit toe terug op die skyf.

* * * * * * * *

Sy het 'n wonderlike man gehad. Hulle is bietjie jonk getroud. Sy was negentien en hy drie-en-twintig. Maar hy het klaar geswot en het 'n goeie werk gehad. Dadelik het hulle sommer vier kinders kort op mekaar gehad. So, sy het nie 'n dag in haar lewe nog buitenshuis gewerk nie. Hy het voorsien en sy het kinders grootgemaak en vir hulle 'n tuiste geskep. Op twee-en-dertig word hy gediagnoseer met terminale kanker en 'n paar maande later ... 'n paar maande later draai sy een wintersoggend van die graf af weg met vier laerskool kinders aan haar sy. En skielik besef hierdie brose vroutjie dat sy vir hulle almal moet sorg. Sy begin toe 'n tuisonderneming en bid en bak haar kinders deur matriek en universiteit. Vir selfbejammering was daar nie tyd nie. Toe die nood druk, ontdek sy in haar 'n krag waarmee sy berge kon versit.

* * * * * * * *

Die profeet sien toe hoe die pottebakker die klei brei en knie en dit toe weer terugsit op die skyf. En die wiel draai.

* * * * * * * *

Hy was die kroonprins. Bestem om sy pa se maatskappy na nog hoër hoogtes toe te lei. Blond, aantreklik, gespierd, atleties, slim, kreatief, vindingryk. Noem 'n voortreflike eienskap en hy het dit gehad. Maar ongelukkig ook bederf. Te veel geld. Meisies, sportmotors, vakansies. Met te veel wyn in sy lyf vat hy toe daardie draai op Chapmans net te vinnig of te skerp. Niemand weet presies nie. Maar toe hy honderd en nege dae later uit die koma wakker word, is hy verlam in sy onderlyf.

Tydens die rehabilitasieprogram wou hy menigmaal handdoek ingooi, maar die fisio en die arbeidsterapeut om die beurt het hom bewus gemaak van sy innerlike krag. Vier maande later was hy bedryfshoof van 'n deel van sy pa se firma. En op 'n koue nat Kaapse oggend stuur hy sy rolstoel op die vierde verdieping in sy kantoor tot voor die venster. Trek die kombersie oor sy knieë en kyk hoe die wolke laag oor die berg skuur. En hy dink, feitlik hardop, hoe die lewe 'n pad met 'n mens loop, jou vorm, en jou help om jouself te ontdek. En hy raak hartseer dankbaar omdat hy 'n tweede kans gekry het.

* * * * * * * *

Die profeet sien toe hoe die pottebakker die wiel stop. Die erdekruik van die skyf aflig, dit met water en sy wysvinger glad poleer en dit op die houtrak gaan neersit om droog te word.

Die profeet trek sy mantel oor sy skouers weer reg, draai om en stap die steilte uit na die olyfboord op die randjie, net so buite die stad. Wat hy gesien het, maal in sy kop rond. En dit laat hom iets van die lewe verstaan.

* * * * * * * *

Die metafoor van die mens wat soos klei is en deur die lewe gevorm word, is 'n ou, maar steeds waardevolle metafoor. Want elkeen van ons kan ook stories vertel van hoe insidente, oomblikke of situasies ons gevorm, verander, verdiep of vernuwe het. Ons is een mens daar in en het 'n ander mens daaruit gekom.

* * * * * * * *

Iemand wat homself een van sy apostels genoem het, het op 'n dag 'n brief geskryf. Eintlik het hy die brief dikteer aan 'n tipe sekretaris wat dit neergeskryf het, want die apostel self kon nie regtig skryf nie. Hy kon net sulke groot lomp letters maak. In sy brief neem hy toe die metafoor een stap verder en vergelyk die mens nie met die klei nie, maar met die klaar pot. En hy sê toe dat 'n mens soos 'n kleipot is wat maklik breek. Maar ten spyte van hierdie broosheid van die mens, is daar tog ook iets sterk in elkeen van ons. Daar is 'n krag in ons. 'n Skat in die kleipot. En hierdie krag in ons, stel die mens in staat om baie dinge te oorleef.

Ons word soms verdruk, maar dit maak ons nie noodwendig terneergedruk nie. Ons is soms oor raad verleë, maar dit maak ons nie radeloos nie. Ons voel soms verlate en op die grond neergegooi, maar dit laat ons nie vernietig voel nie. Siekte en ouderdom takel ons af en ons besef dat ons ons eie sterflikheid in ons saamdra, maar tog straal ons lewe en positiewe energie uit.

Ons wat hierdie skat in ons het, is op die ou einde maar soos kleipotte wat maklik kan breek. Maar hierdie krag in ons, wanneer ons dit eers ontdek het, stel ons in staat om alles te oorwin. En daarom is ons sterk, ten spyte van ons breekbaarheid en wys ons soms juis ons innerlike krag, wanneer ons op ons broosste is!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.