.

Ikone

Deur Dr. Gerda de Villiers op 1 April 2015

.

Inleiding

Gedurende 12-13 Maart 2015 het ek aan 'n kongres in Thessaloniki, Griekeland deelgeneem. Dit was tydens lydenstyd. Pase is die hoogtepunt van die liturgiese jaar in die Grieks Ortodokse Kerk, en toe ek hoor dat daar Vrydagaand, 13 Maart, 'n spesiale liturgie aan Maria, Theotokos gewy gaan word, het ek sonder om twee keer daaroor te dink, besluit om dit by te woon.

Ek is gewoond aan leë kerke, veral op 'n Vrydagaand. My verwagting was 'n stil basiliek waar slegs 'n paar grys koppe die tradisie nog ernstig opneem. Hoe verkeerd was ek nie! 'n Uur voor die tyd word die kerkbanke al volgepak – nie net die ouer mense nie, maar jongmense met tattoes, ringe en knopies aan ore, neus, oogbank en lippe, en 'n paar wat duidelik pas van hul motorfietse afgeklim het. In die middel van die basiliek is 'n groot ikoon van Maria Theotokos, en die mense staan tou om haar te soen. Ja, hulle soen haar werklik; kort-kort word die ikoon afgevee om dit skoon te maak. Klein kindertjies wat nie kan bykom nie, word opgetel om te soen, en vir mense in rolstoele word die ikoon van die staander afgetel, sodat hulle dit ook kan soen. Aanhoudend slaan hulle die kruis.

Die verloop van die liturgie was ook vreemd. Ek het gesê dat die kerk volgepak was, maar niemand het die hele tyd bly sit nie. Mense kom en gaan die hele tyd. Sommige kom net om die Moeder te soen en loop uit, sommige gaan sit net vir 'n klein rukkie, en dan kom ander in wat hul plek neem – nadat hulle natuurlik eers die ikoon gesoen het. Daar is ook geen prediking nie. Die priester lees baie vinnig 'n deel uit die Bybel voor, amper sonder om asem te skep, en dan begin die kenmerkende dreunsang van die Ortodokse Kerk. Slegs die priesters sing. Die gemeente se betrokkenheid is uitsluitlik om die ikoon te soen, en die kruis te slaan.

Hierdie ervaring het my laat nadink oor die tradisie van Grieks-Ortodokse Kerk wat vir die Protestantisme vreemd is, maar veral oor rol wat ikone in hierdie kerk speel. John de Gruchy se boek, Icons as a means of Grace, dien as basis vir die res van hierdie artikel.

Geskiedenis

Afbeeldings, visuele voorstellings van die goddelike en by implikasie dus ikone, was sedert die begin van die Christendom 'n omstrede saak. Die vroeë Christendom, steeds diep gewortel in Judaïsme, het enersyds vasgehou aan die Mosaïese verbod teen 'enige gesnede beeld of gelykenis' van die goddelike, en andersyds het die vervolging van die vroeë Kerk dikwels te make gehad met die Christene se weiering om die knie voor die standbeeld van die keiser te buig en hom as 'n god te vereer.

Die eerste tekeninge of visuele voorstellings van Bybelse scenario's verskyn teen die einde van die tweede eeu op sarkofae in katakombes en huiskerke. Populêre temas is voorstellings van Jesus as die Goeie Herder, en Maria en die Christuskind. Hierdie voorstellings boots egter nog die styl van die Hellenistiese kuns na en gebruik heidense figure en ander simbole om Jesus voor te stel. Spoedig sou Christelike ikonografie 'n eie styl ontwikkel.

Ten spyte daarvan dat die Kerk visuele afbeeldings van die goddelike amptelik afkeur, neem die gebruik van ikone toe. Daar is verskeie redes. Die kunsvorms van die heidene, die Grieks-Romeinse kuns – word uiteindelik as afgodery beskou. Christelike visuele kuns moes dus op 'n ander manier ontwikkel. In plaas van die klassieke tekste en mitologie wat die agtergrond van die Grieks-Romeinse vorm, vind die vroeë Christelike kuns hul belangrikste bron van inspirasie in die verhaal van verlossing.

'n Ander belangrike rede is dat die meeste Christene ongeletterd was. Hulle was van die gesproke woord afhanklik om die Evangelie te hoor en te verstaan. Visuele voorstellings het dus spoedig as 'n 'Vyfde Evangelie' funksioneer – die oordrag van die Bybelse narratief in prentjievorm. Dit was 'n uiters belangrike en alternatiewe wyse om toegang tot die Tradisie te kry, en die materiaal waaruit die Tradisie bestaan. Daarom is dit toenemend en voortdurend beklemtoon dat ikone getrou 'geskryf' word. Tot vandag toe word daar nie gepraat van ikone 'skilder', 'teken', of 'verf' nie: ikone word 'geskryf.' Dit is meer as kunswerke. Ikone beliggaam die geopenbaarde waarheid en is waardig om naas die skrif as sodanig gerespekteer te word.

Die kuns, of liewers, die teologie van ikone het hoofsaaklik in die Oosterse Christendom ontwikkel, en dit hou ook met die geskiedenis verband. Jerusalem sou altyd die oorspronklike spirituele tuiste van die Christendom bly, maar na die eerste paar jare het dit nie meer 'n beduidende rol in terme van die leierskap van die kerk gespeel nie. Belangriker sentra was Antiochië in Sirië waar Jesus se dissipels vir die eerste keer Christene genoem is, en Aleksandrië in Egipte waar die evangelieskrywer Markus volgens oorlewering en tradisie die evangelie kom plant het. En natuurlik was daar Rome, die keiserlike hoofstad waar Petrus en Paulus 'n marteldood gesterf het.

In 313 word die Christendom die wettige godsdiens onder Konstantyn die Grote, en in 330 word 'n stad ter ere van hom gebou. Konstantinopel verrys neffens Bisantium, 'n ou Griekse stad op die Bosphorus, en is naas Rome die belangrikste religieuse sentrum van die Christendom. In die Weste, in Rome is die kerktaal Latyn; in Konstantinopel, in die Ooste, is die kerktaal Grieks, die taal van die Nuwe Testament. In 410 word Rome deur die Wes-Gote geplunder en sestig jaar later stort die hele Romeinse Ryk in duie. So word Konstantinopel die 'nuwe Rome,' en die Bisantynse Christendom die sosiale en kulturele mag van die tyd.

Hier, in Bisantium is ikone alreeds diep in die tradisie van die Kerk gewortel, en uiteraard ontlok die teenkanting van diegene, veral die keisers, wat daarop aanspraak maak dat hulle die waarheid bewaar, die heidendom beveg en Moses se Gebod respekteer. Hulle staan bekend as die 'ikonoklaste,' vernietigers van beelde. Hulle het nie 'n probleem daarmee dat Maria en die heiliges gerespekteer word nie, maar om visuele voorstellings van hulle te maak en dit te vereer, grens aan afgodery en is die begin daarvan dat paganisme weer terug in die kerk ingesmokkel word.

Teenoor die ikonoklaste staan die 'ikonophile' – die 'liefhebbers van ikone'. Die ikonophile is te vinde in die piëtisme en spiritualiteit wat in afgeleë kloosters ontwikkel. Teenoor die ikonoklaste wat ikone as 'n voortsetting van die heidendom wil uitwis, lê die ikonophile die grondslag vir 'n 'teologie van ikone' wat daarop neerkom dat die verering van ikone nie slegs maar 'n uitdrukking van populêre piëteit is nie, maar inherent deel vorm van die liturgiese lewe en spiritualiteit van die Ortodokse Kerk.

In Bisantium, tussen 726-843, woed die sogenaamde 'Ikonklastiese Stryd.' Die sukses van die ikonoklaste kan gesien word aan die feit dat daar bitter min ikone voor die sewende eeu oorgebly het. Enkeles wat wel nog te sien is, is te vinde in afgeleë kloosters waar die ikonophile hulle hulle buite die bereik van die ikonoklaste beskerm en bewaar het. Ironies genoeg, in plaas daarvan dat die ikonoklaste in hul doel geslaag het en die ikone en die kultusse waarmee hulle geassosieer is, vernietig het, het hulle, sonder dat hulle dit bedoel het en tot hul eie nadeel, 'teologie van ikone' in die kloosters aangemoedig, selfs bemagtig. Op 11 Maart 843 word die 'Triomf van die Ortodoksie' simbolies in die basiliek van Hagia Sophia in Konstantinopel gevier, met die wyding van 'n ikoon van die Heilige Maagd en die Kind.

Ikone word geskryf en gelees

Vir 'n Westerling, veral vir iemand vanuit 'n Protestantse tradisie, lyk ikone onnatuurlik, onwerklik, en die vryheid en kreatiwiteit wat 'n mens sedert die Renaissance van hoogstaande kuns sou verwag, ontbreek. Maar, verduidelik Isobel de Gruchy, die ikonograaf is nie in die eerste plek 'n kunstenaar nie, hy, en hedendaags ook sy, moet 'n diep spirituele persoon wees (pp. 43-44) en voortdurend in gebed en diepe kontemplasie verkeer terwyl die ikoon geskryf word. Wat is dit wat die ikoon wil kommunikeer, en hoe kan die boodskap woordeloos oorgedra word? Ikone is die sigbare teken van 'n onsigbare werklikheid, maar dit weerspieël ook die onsigbare werklikheid van die ikonograaf.

Nederigheid is die eerste voorvereiste. Dit gaan nie oor die ikonograaf nie, maar oor die ikoon wat iets oor heerlikheid van die Koninkryk van God moet vertel, en daarmee saam die lewensnoodsaaklik spirituele energie van alle eeue, tot in ewigheid, uitstraal. Die ikonograaf is in die ikoon, maar daar is ook iets anders: dit gaan om die skrywe van 'n spirituele werklikheid.

Om ikone te lees, is om met oop oë te bid, verduidelik John de Gruchy (pp 46-48). Die eerste dinge wat 'n mens tref as jy na 'n ikoon kyk, is die vorm van die gesig, die mond, maar veral die oë. Skielik word jy daarvan bewus dat dit nie jy is wat na die ikoon kyk nie, maar andersom; die ikoon kyk vir jou. Jy word as't ware tot 'n stil gesprek uitgenooi wat jou dwing om diep binnekant in jouself te kyk. So wil ikone nie net die Bybelse narratiewe oorvertel nie, dit wil jou op so 'n manier in die storie intrek, dat jy 'n deelnemer word wat 'n blik op die Koninkryk van God kry. Alhoewel ikone stil is, spreek hulle jou van aangesig tot aangesig aan. Op p 48 haal John de Gruchy aan: '...only a picture that has a face looking at us and a human face transfigured by divine grace has the right to be a holy icon.'

Westerse kuns eksperimenteer met proporsies en dimensies, skadu en lig. Nie ikone nie. Die belangrikste figuur is die grootste en die sentrale punt waarop alles fokus. Al die ander figure is kleiner. Daar word min van skadu gebruik gemaak: alles is glansend helder, of diep donker. Kleur – of die afwesigheid van kleur – is dus uiters belangrik. Behalwe gebed en kontemplasie, moet die ikonograaf ook aandag skenk aan die kleure wat vir die skryf van die ikoon gebruik word, want elke kleur is gelade met betekenis en simboliek, en elke kleur wil iets sê.

Die belangrikste kleure is die volgende:

Christus se rooi tuniek stel sy menslikheid voor, en sy blou bokleed verteenwoordig sy goddelikheid. Blou is ook die kleur van die hemel en wil iets van die misterie van God sê. Maria se onderkleed is meestal blou, en dit wil aandui dat sy die goddelike in haar dra, terwyl haar rooi bokleed 'n teken van haar menslikheid is. Helderrooi is die simbool van lewe en prag, van die Gees en van vuur, van martelaarskap en spirituele loutering. Groen is die kleur van die aarde en word in ikone van Johannes die Doper aangewend, maar dit verteenwoordig terselfdertyd fertiliteit, lewe en wysheid. Bruin word ook met die aarde geassosieer, maar wil daarmee saam iets van heilige armoede vertel, en pers is die kleur van mag. Wit en goud is kleure van heiligheid, van die ongeskape goddelike lig en die heerlikheid van God. Hierdie onbegryplike, ongeskape lig van God word op vier maniere uitgebeeld: wit wolke, wit klere, sonstrale wat vanuit die hemel skyn, en die goue stralekranse rondom die koppe van Jesus, die Bybelfigure, die heiliges en martelare.

'n Ikoon vir Pase

Christus aan die kruis is 'n baie belangrike motief in ikone, en speel 'n prominente rol tydens Pase. Die kruis was egter nie die vroegste simbool van die Christendom nie, eers sedert die vierde eeu sou die kruis met die godsdiens van die Christene geassosieer word. Verskeie redes word hiervoor aangevoer. Een daarvan is Keiser Konstantyn se bekering tot die Christendom en sy visioen van die kruis wat hom verseker het dat hy in hierdie teken die oorwinning sou behaal – wat toe inderdaad so gebeur het. Hierop volg sy moeder, St. Helena se pelgrimstog na Jerusalem, en haar aanspraak dat sy die 'Ware Kruis' ontdek het. Hoe dit ook al sy, teologiese nadenke oor die betekenis van die dood van Christus het Christene nog altyd tot diepe piëteit inspireer wat met sy lyding, sy kruisdood, verband hou.

In Paulus se brief aan die Filippense is daar 'n aanhaling van een van die oudste Christelike himnes waarin een van die belangrikste oortuigings van die vroeë Christene verwoord word, en dit is dat Jesus sy lewe vrywillig opgeoffer het. In Filippense 2:6-8 is die sleutelbegrip 'kenosis' – selfontlediging. Nie net 'n 'kenosis' deur Jesus nie, maar deur God self, God se 'kenosis' in Jesus wat uit 'n vrou van nederige afkoms gebore word. Tog eindig die lied met elke knie wat voor Jesus sal buig, en elke tong wat sal bely dat Hy die Here is. Hierdie gedagte het spiritualiteit en religieuse toewyding deur die eeue heen beïnvloed, net om nederig te besef dat dit 'n diepe misterie van die God Drie-enig is. Luther, met sy teologie van die Reformasie was tog heeltemal reg toe hy gesê het dat dit niemand goed doen om God slegs in sy Majesteit te erken nie, tensy Hy ook in die vernedering en skande van die kruis herken word.

Ikone fokus meestal nie op die lyding en foltering van die kruisiging nie, maar op die oorwinning van Christus oor sonde en dood. Jesus word deur die oë van geloof gesien en uit die perspektief van die opstanding uitgebeeld. Hieronder is 'n voorbeeld.

Christus word naak voorgestel. Slegs 'n wit kleed bedek sy lende. Die liggaam is na regs gebuig, die hoof geboë, en sy toe oë dui daarop dat hy reeds gesterf het. Sy gesig is na Maria toe gedraai, maar die uitdrukking weerspieël iets van majesteit midde-in lyding.

Aan die voet van die kruis is 'n spelonk, onder 'n rotsagtige heuwel. Dit is Golgota, en die rots wat oopgeskeur het toe Christus sterf. Binne-in die spelonk is 'n skedel, die skedel van Adam.

Hierdie ikoon skryf oor die verlossing van die eerste Adam deur die bloed van Christus, die Nuwe Adam, wat Homself Mens gemaak het om die hele mensdom te red.

(Artikel eerste gepubliseer op teo.co.za.)

Bron

De Gruchy, JW 2008. Icons as a means of grace. Lux Verbi BM: Wellington.

Gerda is die redakteur van die Teologiese Fakulteit van Universiteit Pretoria se Nuusbrief.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.