.

Die idee van universiteite

Deur Prof. Wilhelm Jordaan op 1 Oktober 2016

.

Eerste gepubliseer in in Rapport.

Die verheldering lê in 'n nuttige (ja, pynlike) herinnering aan rassistiesgedrewe koloniale en apartheidspraktyke wat 'n oorheersend negatiewe beeld van swart mense geskep het: onbeskaafd, agterlik, onintelligent – wesenlik anders én minderwaardig in vergelyking met die Westerse mensheid.

Vir die artikelskrywers is dít die morele grondslag vir dekolonisering: Om die negatiewe beeld om te werk tot 'n soort kulturele selfgelding, gedra deur 'n hoë bewustheid van swart menswaardigheid en beskaafdheid. Dus, 'n kulturele en politieke ontwaking van 'n onderdrukte mensheid.

Die skrywers beaam dié ontwaking deur hul verwysing na die spottende ironie in Njabulo Ndebele, kanselier van die Universiteit van Johannesburg (UJ), se stelling in 'n onlangse toespraak: "The uncivilised that is buried deeply in the heart of the self­proclaimed civilised"! (my beklemtoning te lees as: die Westerse mens).

'n Mens glimlag grimmig daaroor, want jy weet hoe meerderwaardig, smalend, neerhalend, beterweterig (ja onbeskaafd) die Westerse mensheid dikwels was en is. En hoe dit alles "vertaal" tot mensonterende, ook rassistiese, denke en optrede.

Die skrywers versuim wel om 'n kernkwessie in Ndebele se betoog op te haal. Ndebele vra – met verwysing na Steve Biko se beklemtoning van 'n program van selfdefinisie, selfhelp en vrymaking deur die ontwikkeling van die totale mens: Watter identiteit wil studente uiteindelik as mense hê ná al die strewes tot verandering?

Anders gesê: Wat is die oogmerke van die universiteit se dekolonisering?

Die skrywers noem 'n reeks geldige oogmerke wat wesenlik daarop neerkom dat universiteite nie in die heerlike isolasie van die spreekwoordelike ivoortoring kan bestaan nie.

Universiteite ís maatskaplik verantwoordbaar en is veronderstel om die skade van kolonialisme en apartheid te herstel deur gehalte-onderrig, relevante kennisinhoud, navorsing en 'n verteenwoordigende personeelkorps.

Maar algaande steek 'n ideologiese onderrok uit. En daarmee saam kom die verontrustende perspektiewe: "Onvermydelik word van ons almal verwag om die hele idee van universiteite, kennisleer, kurrikulums, institusionele kultuur en pedagogie te verander."

Ter illustrasie van hoe die skrywers dié verandering sien, 'n voorbeeld uit hul artikel. Hulle onderskei tussen rasionaliteit en redenering.

Westerse denke kry die skuld vir rasionaliteit, wat beskryf word as "'n vooraf verpakte en geslote denkstelsel wat hoogs krities en eintlik fundamentalisties is." Daarteenoor plaas die skrywers hul siening van redenering as 'n produk van dekolonisering: "Redenering is 'n lewende gedagte wat altyd 'n oop einde het en empaties is jeens enige begrip van die logika van die huidige struggles."

Dié teenstelling se subteks is duidelik. Rasionaliteit maak dat jy noodwendig krities is vanuit jou kennisraamwerk en insigte.

En redenering verbied kritiek byvoorbaat en luister eerder begripvol na die ander se saak (standpunt, posisie).

Dit is gewoon 'n vals teenstelling. Lees weer hoe Sokrates, as Westerling, rasionaliteit aan kritiese ontleding deur (empatiese) dialoog verbind het; dat die leermeester die rol van 'n "vroedvrou" het wat mense begelei, en self begelei word, tot die geboorte van nuwe idees en gedagtes. Lees ook Isaiah Berlin oor "radikale plurale denke" en Karl Popper oor die "oop samelewing."

Plaas dit alles en nog meer langs die werk van Afrika-denkers, soos Chinua Achebe, Frantz Fanon, Hussein Bulhan en Steve Biko, en jy weet daar is debat en gesprek moontlik oor gemeenskaplikhede én verskille, gedra deur respek en begrip.

En lees weer NP Van Wyk Louw se "Wat is 'n intellektueel?" om te snap hoe 'n debat oor kolonialisme en dekolonisering kan verloop, juis in die konteks van 'n universiteit waar debat en gesprek móét gebeur.

Die ware intellektueel is die mens vir wie dit 'n lewensreël is om oor belangrike sake redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel en die eie mening met selfkritiek te beskou.

Geleerde mense (Westers en van Afrika) doen dit dikwels nie en wek soms die indruk van fanatieke ideoloë – rotsvas oortuig dat die eie mening korrek, volledig en onaantasbaar is. Hulle hét nie 'n heilige onrus oor hul eie veronderstellings nie.

Om 'n intellektueel te wees, is om besit te word deur die passie om die "waarheid" van idees oor ons mensheid en manier van saamleef versigtig en moeisaam saam te stel uit baie soorte perspektiewe. En om nie suur of bang te word as jóú "waarheid" nie seëvier nie.

Intellektueel-wees is 'n lewensplig: Om in die donker waters af te duik en met blink pêrels terug te kom. Dit is die grondwaarde van 'n universiteit – ook in sy gedekoloniseerde gedaantes.

So gesien is rasionaliteit en redenering onskeibaar: Met rasionaliteit 'n basiese lewenshouding en redenering die "metode" waardeur kennis met altyd "oop" (lees: vernuwende) moontlikhede dialogies en empaties (waar nodig) bedink word.

'n Ideologies- en politiekgedrewe dekoloniseringsdrif bring bewese belaglikhede voort. By die universiteit waaraan ek voorheen verbonde was, word ons op 'n keer deur 'n "ontplooide kader" toegespreek oor dekolonisering: "Van nou af sal ons fyn kyk na begrotings. Dit moet gedekoloniseer word. As die departement fisika byvoorbeeld 'n duur lineêre versneller wil aankoop, sal ons ernstige vrae vra oor of en hoe dit tot voordeel van 'ons mense' is."

Die akademici se ontsteltenis en woede oor dié en verwante onsin het sigbaar "lineêr versnel."

Dit was om van te lag én om van te huil. Dekolonisering kan tog nie beteken dat jy byvoorbeeld 'n streep trek deur wetenskap en tegnologie nie: Die brug moet nog staan en die damwal moet nog hou, wat ook al die aard van dekolonisering.

'n Verdere voorbeeld is die manier waarop Thabo Mbeki en Dr. Manto Tshabalala-Msimang, sy minister van gesondheid, Westerse kennis en praktyke oor MIV/vigs in die wind geslaan het tot skande van die land en die dood van duisende mense wat nie betyds antiretrovirale medisyne ontvang het nie.

Die les is eintlik eenvoudig: Ons almal het 'n regmatige belang in hoe die universiteit die jeug voorberei vir diens aan die samelewing.

Dit mag nie beteken dat basiese en toegepaste wetenskapsbeoefening ideologies gedikteer word nie. Wanneer dit gebeur, het die universiteit sy sterkste werktuig – dié van onafhanklike kritiese rasionaliteit – prysgegee.

Wat oorbly, is toenemend ideologiese verknegting. Die sondes van ons koloniale en apartheidsverlede mag nie in ander ideologiese gedaantes besoek word aan die kinders van Suid-Afrika nie – nie in die universiteit of in wetenskapsbeoefening nie; nêrens nie.

Prof. Wilhelm Jordaan is 'n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.