.

Die huwelik en liefde

Deur Dr. Gerda de Villiers op 1 September 2017

.

In 'n vorige artikel oor die 'huwelik' het ek 'n oorsig gegee oor hoe die huwelik oor die eeue heen ontwikkel het, tot by hoe ons dit vandag in die Christelike tradisie verstaan. Dit het geblyk dat die wortels van 'n monogame huwelik tussen een man en een vrou nie in die wêreld van Israel gevind kan word nie, maar in die Grieks-Romeinse gebruike wat hul stempel op die latere Christendom afgedruk het. Vandag wil ek op 'liefde' fokus – liefde in die huwelik. Oënskynlik is dit vanselfsprekend. Daar word selfs gesê dat liefde die hoeksteen van die huwelik is: twee mense raak lief vir mekaar, en daarom besluit hulle om te trou. Dit was egter nie altyd die geval nie.

Liefde en 'huwelik' [vrou vat] in die Ou Testament

Vir baie eeue lank is huwelike deur families gereël, en het die twee partye eintlik nie 'n sê in die saak gehad nie. Hiervan lees ons ook in die Hebreeuse Bybel se verhale oor die aartsouers. Abraham stuur sy slaaf om vir sy seun Isak 'n vrou te gaan haal in die land waarvandaan hy self gekom het (Gen 24). Isak het twee seuns, Jakob en Esau. Esau se huwelike met Hetitiese vroue is teen sy ouers se sin en maak hulle bitter ongelukkig, en daarom word Jakob na sy moeder se familie toe gestuur om met een van sy ooms se dogters te trou (Gen 28). Sy oom Laban kul hom egter op 'n slinkse manier om nie eerste met die vrou van sy keuse te trou nie, maar met haar suster, en op hierdie manier kry Jakob nie net een vrou nie, maar twee (Gen 29). En dan vertel Genesis 30 die hartseer verhaal van jaloesie, nyd, en die wedywering, tussen twee susters om die liefde van 'n man.

Liefde. Watter rol speel liefde?

Ons lees wel dat Isak vir Rebekka 'liefgekry' het (Gen24:67), maar eers nadat hulle 'getrou' het. Letterlik staan daar: Isak het haar in die tent van Sara, sy moeder ingebring, Rebekka gevat en sy het sy vrou geword; hy het haar liefgekry, en Isak is vertroos ná sy moeder [se dood].' Liefde was nie die oorwegende faktor in die keuse nie, die slaaf, nie Isak nie, het Rebekka immers gaan haal! Dit is amper toevallig dat daar sprake van liefde tussen die paartjie is, en dit is iets wat – volgens die teks – eers gebeur het nadat Rebekka Isak se vrou geword het. Ons kan dus nie sê dat hierdie huwelik deur liefde gemotiveer is nie.

Met Jakob was dit 'n klein bietjie anders. Alhoewel sy ouers sy huwelik gereël het, word daar vertel dat hy vir Ragel 'liefgehad' het, só lief dat hy bereid was om sewe jaar vir haar te werk (Gen 29:18-20). Uiteindelik bring die liefde egter nie vreugde nie, maar droefheid, groot droefheid vir Lea, die eerste vrou, die ander suster, omdat Jakob 'Ragel baie liewer gehad het as vir Lea' (Gen 29:30). Die Here sien dit en Hy gryp in – nie deur te maak dat Jakob vir Lea ook liefkry nie, maar deur vir haar kinders te gee, en nie vir Ragel nie.

Kinders

Kinders. Die belangrikste funksie van 'n huwelik was voortplanting. In die verhaal van Jakob, Ragel een Lea, vestig die seuns van die twee vroue en hul slavinne uiteindelik die twaalf stamme van die 'huis van Israel'. Maar dit is nogal insiggewend dat koning Dawid wat volgens oorlewering die grootste koning was wat die volk nog ooit gehad het, uit die stam van Juda gebore is, 'n seun van die minder geliefde vrou. Ja, ook in hierdie verhaal is daar sprake van liefde, maar selfs vir die Here is dit nie so belangrik nie: Lea word met kinders getroos, nie met liefde nie. Hoe belangrik kinders was, blyk ook in die verhaal van Abraham, Sara en Hagar. In die ou Nabye Oosterse wêreld was dit algemene praktyk dat 'n man 'n tweede vrou of 'n byvrou kon neem as sy eerste vrou onvrugbaar was.

Op grondvlak was kinders natuurlik noodsaaklik om 'n nageslag te verseker, om te help met arbeid op die landerye, en om na die ouers op hul oudag om te sien. In koningshuise het huwelike egter om diplomatieke verhoudinge gegaan en kinders wat uit die huwelik gebore is, moes vir 'n waardige troonopvolger sorg. Die Dawidiese koningshuis en die stryd om die troonbestyging tussen sy seuns waarvan die laaste hoofstukke in 2 Samuel en die eerste hoofstuk in 1 Konings vertel, gee 'n mens nogal insig in hierdie soort intriges – intriges wat sou voortwoed tot die val van die Noordryk en die einde van die Suidryk in ballingskap.

Liefde en huwelik pas nie bymekaar nie

As 'n mens dan wil vra watter rol liefde in die huwelik gespeel het, is die antwoord dat liefde feitlik geen deurslaggewende rol in die huwelik gespeel het nie. Om die waarheid te sê, in die Grieks-Romeinse wêreld is gereken dat die huwelik 'n ernstige saak was, veels te ernstig om dit op 'n brose emosie soos 'liefde' te baseer. 'Huwelik en liefde' was iets van 'n oksimoron – twee begrippe wat mekaar uitsluit en volkome onversoenbaar is. In die tweede eeu nC is 'n Romeinse politikus uit die Senaat geskors omdat hy sy vrou in die openbaar gesoen het. Volgens die Romeinse skrywer Plutarchus was hierdie gedrag 'skandalig'.

Die Europese en Britse aristokrasie is sedert die Middeleeue bekend vir hul buite-egtelike flirtasies en selfs langdurige verhoudings. Net soos vroeëre tye, is huwelike deur die koninklike families gereël om politiese en diplomatieke bande te smee, maar veral om te verseker dat daar 'n waardige troonopvolger sou wees. Die troonopvolger uit die wettige huwelik was die belangrikste aangeleentheid, maar dit het die konings nie daarvan weerhou om vele buite-egtelike verhoudings aan te knoop, en selfs kinders uit hierdie verhoudings te verwek nie.

Byvoorbeeld Koning Hendrik I van Engeland (1100-1135) het blykbaar twaalf minnaresse gehad by wie hy twintig buite-egtelike kinders gehad het; Koning Hendrik VIII van Engeland (1509-1547) het herhaaldelik getrou en sommer sy vroue laat onthoof as hulle nie vir hom 'n troonopvolger kon gee nie. Hyself het ook vele minnaresse gehad en buite-egtelike kinders verwek, waarvan ene Henry Fitzroy die bekendste is.

Die Franse koningshuis het ook nie agtergebly nie. Die bekendste koning is sekerlik Lodewyk XIV, 'Le Roi-Soleil', oftewel 'die Sonkoning' (1643-1715). Sy wettige vrou was Maria Teresa van Spanje by wie hy drie kinders gehad het, maar waarvan net een, die kroonprins, oorleef het. Lodewyk XIV het 'n hedonistiese lewenstyl gehandhaaf en vele minnaresse het daarvan deel uitgemaak. By een van sy minnaresse, die 'Marquise de Montespan' het hy nie minder nie as sewe kinders gehad. Maar dit het vir haar te veel geword. Op haar aandrang moes hy 'n kinderoppasser huur, een wat sy self aanbeveel het. Sy was 'n weduwee, ene 'Madame de Maintenon' en haar taak was om die koning se minnares met die kinders te help. Kort voor lank egter vervang Madame de Maintenon die Marquise de Montespan as die koning se minnares, wat aansienlike spanning tussen die twee vroue veroorsaak. Die koeël was egter deur die kerk en na die afsterwe van Maria Teresa is Lodewyk met De Maintenon getroud. Dit moes egter in die geheim gebeur, omdat De Maintenon nie van genoegsame adellike afkoms was nie. Maar ... sou 'n mens dalk kon sê dat Madame de Maintenon die koning se ware liefde was?

En so kan 'n mens aangaan.

Liefde en die huwelik

Wanneer het romantiek, of liefde dan deel van die huwelik begin uitmaak? 'n Mens lees iets daarvan raak in Shakespeare se dramas, byvoorbeeld Romeo & Juliette waar die spanning tussen twee families en verbode liefde tot op die spits gedryf word. Die gedagte dat liefde en romantiek die dryfveer agter 'n huwelik kan wees, begin vermoedelik gedurende agtiende en negentiende eeue posvat met die latere ontwikkelinge van Verligting en veral die omwentelinge wat deur die Industriële Rewolusie teweeg gebring is. Die Verligting plaas die klem op die individu, individuele denke en individuele besluite. Die Industriële Rewolusie sien die opkoms van 'n vermoënde middelklas, wat jong mans in staat stel om 'n vrou te kies en self vir die troue te betaal, ongeag die goedkeuring van ouers. Die besef daal neer dat 'n mens vir liefde kan trou, nie vir geld of status nie, en dat die huwelik 'n persoonlike individuele keuse is wat nie deur ouers of familie bepaal hoef te word nie.

Gedurende die twintigste eeu sou die siening oor die huwelik nog verder verander. Sedert alle tye, of liefde en romantiek 'n rol in die huwelik gespeel het of nie, was die tradisionele aanvaarding binne die wet sowel as volgens die norme van die samelewing, dat die vrou ondergeskik aan die man was, anders gestel, die vrou moes aan die man 'onderdanig' wees. Aan die vrou is 'n rol van inskiklikheid en afhanklikheid toegeskryf, haar primêre funksie was om die man te ondersteun, die kinders te versorg en 'n 'tuisteskepper' te wees. Sedert die negentiende eeu, maar veral tydens die twintigste eeu protesteer kampvegters vir vroueregte teen hierdie tradisionele rol van die vrou wat deur die samelewing op haar afgedwing word. 'n Bydraende faktor is dat al hoe meer vroue buitenshuis begin werk en beroepe beklee wat voorheen net vir mans beskore was. Vroue dring daarop aan om volgens wet, volgens beroep en in die samelewing as mans se gelyke beskou te word, en op dieselfde vlak as hulle gereken te word.

Ook die siening oor kinders verander. Uit die bespreking hierbo het dit geblyk hoe belangrik kinders in 'n huwelik was. As daar sprake van liefde was, was dit 'n 'toevallige bonus', die belangrikste was dat daar kinders uit so 'n verbintenis gebore moes word. Voorbehoedmiddels het alles laat verander. Behalwe dat twee mense 'n vrye keuse ten opsigte van 'n huweliksmaat kon uitoefen, kon hulle ook besluit wanneer hulle kinders wil hê, hoeveel kinders, en hulle kon selfs besluit om geen kinders te hê nie.

Slot

As 'n mens dan kyk na die instelling wat 'n mens 'huwelik' kan noem, het baie dinge verander in ons Westerse samelewing. Van poligamie na monogamie, van 'n instelling wat deur families gereël is na 'n persoonlike keuse tussen twee individue, van die rol van die vrou as ondergeskik en onderdanig tot haar man se gelyke. Verder het dit geblyk dat dat liefde deur al die eeue heen, tot en met die laaste twee honderd jaar of so, nooit werklik 'n rol gespeel het nie.

'n Mens sou dus kon sê dat seks altyd vir die huwelik belangrik was, maar nie liefde nie. 'n Liefdelose huwelik was moontlik solank daar geslagsgemeenskap plaasgevind het, en solank daar kinders verwek is. Maar vandag lyk dinge anders. Die huwelik is twee mense se persoonlike keuse, liefde speel 'n baie groot rol, en kinders is nie so belangrik nie. Vandag sou ons kan sê dat die huwelik 'n persoonlike kontrak tussen twee gelykes is wat liefde, stabiliteit en geluk soek, ongeag ras, status of geslag, en 'n ruimte bied waar twee mense mekaar ondersteun om volledig mens te wees.

Bronne

Coontz, Stephanie 2006. Marriage, a History: How Love Conquered Marriage. Penguin Books: London.
http://theweek.com/articles/475141/how-marriage-changed-over-centuries

Dr. Gerda de Villiers

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.