.

‘n Huldeblyk aan Marcus Borg

Deur Prof. Hansie Wolmarans op 1 Augustus 2017

.

Inleiding

Marcus Borg is op 21 Januarie 2015 oorlede in die ouderdom van 72 jaar. Hy het in die Lutherse kerk grootgeword. In sy jeug het hy ernstige twyfel oor die Christelike geloof ontwikkel ‒ soveel so dat hy in sy dertigerjare glad nie kerk toe gegaan het nie. Sy kennismaking met die Protestantse liberale teologie het godsdiens vir hom gered. Vanaf sy veertigerjare het hy by die Episkopaalse Kerk aangesluit en was aktief daarin betrokke. Op 29 jarige ouderdom is hy by die Oregon State University aangestel in die Departement Godsdiensstudies waar hy in 2007 afgetree het. As historikus het hy veral die geskiedenis van die vroeë Christendom nagevors. In 1985 word hy lid van Robert Funk se Jesus Seminar en lê hy hom toe om Jesus as historiese persoon te verstaan.

Hy was die skrywer of medeskrywer van meer as 25 boeke waarvan die meeste oor Jesus gehandel het. Sy teikengehoor was opgevoede kerklike lidmate en predikante. Hy het 'n brandende begeerte gehad om sy lesers te motiveer om ernstig met die Bybel asook etiese en teologiese kwessies om te gaan. Hy het dit as sy lewenstaak gesien om die Christendom geloofwaardig te maak en 'n sinvolle eietydse lewenswyse voor te staan.

Hierdie praatjie verken sy kritiek van die tradisionele Christendom, sy herverbeelding van die Christendom in terme van sy godsbeeld, sy siening van Jesus en sy skrifbeskouing. Dit sluit af met 'n waardering van die bydrae wat hy gelewer het. Ek (red. Die spreker) het onder andere gebruik gemaak van die bronne soos in die bibliografie aangedui (artikels, boeke en DVD's).

Borg se kritiek teen die tradisionele Christendom

Volgens Borg het die tradisionele Christendom, breedweg die manier waarop die meeste van ons binne die Christendom gesosialiseer is, vyf kenmerke gehad: dit was literalisties, leerstellig, moralisties, eksklusivisties en primêr gefokus op die hiernamaals. Ek gaan elkeen kortliks behandel.

Literalisme

Die Bybel self is letterlik verstaan. Hiervolgens het die belangrikste gebeure in die Bybel letterlik plaasgevind. Die skepping word akkuraat beskryf as een van sewe dae, of sewe tydperke. Die Rooi See se waters het regtig teruggetrek sodat die Israeliete droogvoets kon deurtrek. Jesus is werklik uit 'n maagd gebore, het op die water geloop, blindes weer laat sien, en brode en visse wonderbaarlik vermeerder. Sy opstanding uit die dood het met die herlewing van 'n lyk te doen gehad en sy oorskot is daarom nie langer hier op aarde nie.

Leerstellige fokus

Kerklike leerstellings soos die Apostolicum en die Geloofsbelydenis van Nicea is eweneens letterlik geglo en geloof is gelyk gestel met die onkritiese aanvaarding van dinge wat nie bewys kan word en waarvoor daar nie toetsbare getuienis voor bestaan nie.

'n Teokratiese ('God-Heers') moralisme

Van Christene is verwag om 'n morele lewe te lei op grond van wat 'God sê.' Dit het veral te doen gehad met 'n persoonlike vroomheid. Dit was veral om nie aan ander te doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie en om jou naaste lief te hê soos jouself. Dit het egter ook gegaan oor sake soos Sabbatsheiliging, die onderdanige posisie van vroue, die heersersrol van mans, en die veroordeling van homoseksualiteit. Onderliggend aan hierdie moralisme was 'n beheptheid met sonde, skuld en vergifnis. Skuldbelydenis en sondevergifnis was 'n liturgiese element in eredienste, die sentrale element van die Nagmaalsviering asook die doop. Jesus se kruisdood is gesien as plaasvervangende versoening vir mense se sonde om God tevrede te stel sodat hy mense nie sou straf nie. Die mantra 'Jesus het vir my sonde gesterf' was sentraal vir baie Christene.

Eksklusivisme

Verder was die tradisionele godsdiens eksklusief. Jesus is gesien as die weg en die waarheid. Die Christelike tradisie waarbinne 'ek' grootgeword het, was gesien as die enigste ware godsdiens. Die taak van Christene was om die res van die wêreld tot hulle soort Christendom te bekeer deur sendingaksies en persoonlike getuienis.

Die storie word vertel van 'n man wat oor 'n brug geloop het en 'n persoon gesien het wat reg was om van die reling af te spring en selfmoord te pleeg.

'Stop! Moet dit nie doen nie!'
'Hoekom nie?'
'Daar is baie om voor te leef!'
'Soos wat?'
'Is jy godsdienstig?'
'Ja.'
'Christen of Moslem?'
'Christen.'
'Ek ook. Is jy 'n Katoliek of 'n Protestant?'
'Protestant.'
'Ek ook. Is jy Anglikaans of Presbiteriaans?'
'Presbiteriaans.'
'Wil jou nou meer. Ek ook. Glo jy in die oorspronklike Westminster Belydenis, of die hersiene 1914 weergawe?'
'Die hersiene 1914 weergawe.'
'Wat? In die geval spring en vrek jou ketterse gemors!'

My jongste seun het eenkeer in 'n ry gestaan by die poskantoor. 'n Ouerige man het in Engels met hom begin praat oor waar hy studeer en wat hy wil word, en ditjies en datjies. Onverwags vra die man hom, 'Do you know Jesus?' Nicolas sê hy het hom bloedig vererg. Al waaraan hy kon dink om te sê was, 'No. I am Jewish' En toe sê die man, 'Really? I'll pray for you!' Dit illustreer vir my die tipiese Christelike arrogansie en eksklusivisme.

Fokus op die hiernamaals

My ouma het 'n hele paar bybelversies en ander stigtelike spreuke teen die muur gehad wat oor ons eindbestemming gehandel het. Een was: "Mens, waar brengt gij de eeuwigheid eens door?" Vir haar het 'verlossing' beteken om seker te wees jy gaan hemel toe. Jy moet die regte dinge glo, die regte dinge doen, om eendag hemel toe te kan gaan.

Die evangeliesasieprogram, Evangelism Explosion Three (EE3), se vertrekpunt is om 'n potensiële bekeerling te nader met die vraag: 'As jy vannag doodgaan, is jy seker jy gaan hemel toe?' As jong predikant moes ek 'n kursus hieroor by te woon. Ons moes dit toe prakties gaan toepas. As 'n potensiële bekeerling sou sê, 'Ek weet nie, maar ek probeer my bes,' moes jy nou 'n paar bybelversies oor geloofsekerheid aanhaal. As die persoon nou oortuig is, kon jy 'n merkie maak, agter 'siel gered!' Ek was nie eintlik hart en siel hierin nie.

Die gesoute evangelis saam met wie ek my prakties gedoen het, het aan 'n woonstel se deur geklop. 'n Vriendelike man en sy vrou het oopgemaak. Toe hy die vraag vra, het hulle geantwoord:

'Ons het 'n probleem met die vraag. Wat bedoel jy met "hemel?" Vir ons het hemel te doen met die manier waarop ons met mekaar saamleef. As daar 'n hiernamaals is, is dit 'n bonus. Ons stel meer belang om hemel op aarde te skep.'

Die kursus het ons nie vir hierdie antwoord voorberei nie. Dit was die einde van die gesprek en van EE3 vir my.

Redes waarom die tradisionele verstaan ontrafel het

Borg onderskei vier redes waarom die tradisionele verstaan van die Christendom ontrafel het, naamlik ons ervaring van godsdienstige pluralisme, die relativering van ons waarheidsbegrip, modernisme, en die oorgang na postmodernisme. Ek wil 'n paar kort opmerkings hieroor maak.

Godsdienstige pluralisme

Toe ek nog in die Hervormde Kerk predikant was, het ek 'n ringsvergadering bygewoon. Een van die temas was die Moslem gevaar. Ek het tot die ontsteltenis van die meeste afgevaardigdes 'n paar opmerkings oor godsdienstige pluralisme gemaak wat daarop neergekom het dat die Christendom nie as die enigste ware godsdiens beskou kon word nie. Teetyd het 'n ouderling na my toe gekom. Hy vertel my toe dat hy en sy gesin in 'n nuwe behuisingskompleks ingetrek het. Daar woon mense van alle soorte gelowe. Hulle reël toe 'n soort van spirituele byeenkoms elke Woesdagaand waarheen almal uitgenooi is. Deelnemers het beurte gemaak om 'n geleentheid aan te bied volgens hulle eie geloof. Die ouderling sê my toe dat dit die hoogtepunt was van sy week en dat hy daar geleer om te respek te kry vir ander godsdienste.

Volgens Borg berus hierdie sensitiwiteit op twee pilare. Enersyds sê ons gesonde verstand vir ons dat ons eie soort Christendom nie noodwendig die enigste een kan wees nie. Daar is ook teologie redes. Hoe is dit moontlik dat 'n genadige God homself slegs aan 'n enkele godsdienstradisie ('myne') openbaar het? Hoe regverdig is só 'n God wat dan alle mense wat nie soos 'ek' glo nie tot die ewige hel te verdoem? Borg gee 'n interessante interpretasie van Johannes 14:6,

'Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom tot die Vader behalwe deur my nie.'

'Die weg' is nie 'n stel geloofsbelydenisse of leerstellings nie. Dit is 'n lewenswyse, 'n pad, 'n reis, die lewensreis van Jesus: lyding, dood, opstanding en hemelvaart. Dit is die weg van die meeste godsdienste en lewensfilosofieë. Dit staan vir die afsterwe van ou en selfsugtige bestaanswyses, en die transformasie na nuwe maniere om met onsself, met ander mense en met ons omgewing saam te leef.

Die relativering van ons waarheidsbegrip

Samehangend met 'n sensitiwiteit vir godsdienstige pluralisme, het daar 'n bewussyn ontwikkel dat die waarheidsbegrip relatief is tot kultuur. Faktore soos die tyd en plek waarbinne ons leef, ons sosiale status en ekonomiese klas, ons geslag en seksuele oriëntasie kondisioneer die wyse waarop ons dink en hoe ons die wêreld verstaan.

My oudste dogter vertel my 'n ruk terug die volgende raaiselagtige storie. 'n Pa en sy seuntjie is in 'n ernstige motorongeluk. Die pa sterf op die toneel van die ongeluk. Sy kind word na die hospitaal toe gejaag en moet 'n noodoperasie ondergaan. Die sjirurg kyk na die seuntjie en sê, 'Ek kan nie hierdie operasie doen nie. Dit is my seun!' Kristien vra my toe hoe dit moontlik is.

Ek het verskillende antwoorde probeer. 'Die sjirurg is die seun se biologiese pa; daar was surrogaatskap of aanneming by betrokke.' 'Nee' sê sy, 'dit was nie die geval nie.' 'Dit was 'n gay paartjie en die seun het twee pa's gehad.' 'Verkeerd', sê sy, 'dit was 'n tradisionele familie.' Ek het uiteindelik ophou probeer. Die antwoord was belaglik eenvoudig. Die sjirurg was die seuntjie se ma. Sien, ons denke word kultureel gekondisioneer. Ons dink professionele mense is manlik.

Bewus hiervan, het baie van ons 'n suspisie as dit kom by absolute waarheidsaansprake soos dat die Bybel onfeilbaar waar is, of die dogmas van 'n bepaalde godsdienstradisie. Ons ervaar die verskriklike gevolge hiervan byna daagliks in plekke soos Stockholm, Londen, Sirië, Afghanistan, Irak en St Petersburg.

Modernisme

Binne ons Westerse tradisie dink baie van ons in 'n mindere of meerdere mate modernisties. Dit is as gevolg van die Verligting wat in die sewentiende eeu begin het en nog steeds voortduur. Ons sien die werklikheid as 'n ruimte-tyd wêreld van materie en energie. Die heelal lyk oral dieselfde: daar is klein partikels wat op grond van natuurwette met mekaar interreageer. Wat histories en wetenskaplik feitelik is en geverifieer kan word, is waar. Wat nie histories en wetenskaplik feitelik is en nie geverifieer kan word nie, is onwaar. Dit maak mense wat krities oor die Bybel dink, ongemaklik met 'n donkie wat praat en 'n walvis wat iemand kan insluk om vir drie dae in sy buik te oorleef. Dit veroorsaak ook dat fundamentaliste eis dat die Bybel letterlik waar is en as sulks geglo moet word. Borg reken dat selfs hierdie wêreldsiening deur die hedendaagse Teoretiese Fisika relativeer word.

Die postmodernistiese oorgangsfase

Gevolglik is ons besig om oor te gaan na 'n postmoderne era. Wat die eindresultaat van hierdie tydsgees gaan wees, weet niemand nie. Talle postmoderne bewegings is doodloopstrate. Daar is egter drie insigte wat relevant is in die projek om die Christendom te herverbeel. Eerstens is daar 'n besef dat modernisme ook 'n kultureel-gekondisioneerde historiese konstruksie is. Ons huidige wêreldbeeld is bestem om vervang te word soos ons kennis en insig vermeerder. Tweedens, word mense se persoonlike ervaring al hoe belangriker. Ons aanvaar 'n spiritualiteit wat vir ons 'werk'. Ten slotte is daar 'n groeiende bewussyn dat stories waar kan wees op 'n ander vlak as die letterlike.

Herverbeelding van die Christendom

Borg wil gevolglik 'n Christendom verwoord wat erns maak met die tradisie sowel as ons huidige tydsgees. In kort is dit die teenoorgestelde as die tradisionele:

Ek behandel sy hersiening van die Christendom aan die hand van sy siening van God, Jesus en die Bybel.

Godsbeeld

Borg gebruik terme soos 'die sakrale' en 'Gees' as sinonieme vir God. God is tradisioneel as 'n super mens gesien, bonatuurlik teïsties, 'n persoon in die hemel wat soos 'n poppemeester toutjies op aarde trek. God het die heelal geskape en gryp van tyd tot tyd teen die natuurwette in. Die probleem is natuurlik wanneer God nie ingryp wanneer God moet nie. Dit laat my dink aan wat Trevor Noah onlangs gesê het,

'Dear God, last week you took my favourite actor (Joe Mefela). This morning you took my favorite politician (Ahmed Kathrada). So, I'm here to tell you that Jacob Zuma is my favourite president. Let your will be done!'

Borg vervang hierdie godsbeeld met wat hy noem panenteïsme (sien Hand. 17:27-28, 'God is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons'). God is nie 'n entiteit buite die heelal nie. Ons is in God en God is in ons en God is dit wat meer is as wat daar is. Dit oorbrug die gaping tussen die tradisionele teïsme en panteïsme.

Die waarde van hierdie godsvoorstelling is dat die intellektuele hindernisse wegval. God meng nie van buite af in nie; God nooi uit en trek ons die toekoms in. Goddelike voorsienigheid en menslike verantwoordelikheid is twee kante van dieselfde muntstuk. Ons kan ook nuut dink oor gebed ‒ nie as 'n bede tot ingryping nie, maar as meditasie en refleksie, as bewuswording.

Siening van Jesus

Wat Jesus betref, maak hy 'n onderskeid tussen die historiese Jesus en die post-Pase Jesus. Jesus was 'n merkwaardige mens, 'n Jood wat die Joodse heiligheidskode vervang het met 'n etiek van medelye. Jesus se boodskap was die Koninkryk van God hier-en-nou as 'n alternatief vir die onderdrukkende strukture van die Romeinse Ryk en alle imperialistiese ryke.

Ewe belangrik is dit dat Jesus in die ervaring van Christelike geloofsgemeenskappe 'n goddelike figuur geword het. Maagdelike geboorte is 'n manier om te sê dat Jesus, en nie die keiser nie, God is. Opstanding is nie 'n lyk wat lewendig geword het nie, maar wel die realiteit van Jesus se koninkryksvisie vir gelowige mense. Dit is dus moontlik dat Jesus se oorskot eendag gevind kan word. Die wederkoms is in die sakrament ‒ daar waar ons Jesus ontmoet en dit waarvoor hy staan ‒ en in die gesprek rondom Jesus. Die siening dat Jesus se kruisdood 'n plaasvervangende versoening vir ons sondes is, is uitgedien en primitief. Hy is gekruisig omdat hy 'n politiese bedreiging was vir die Joodse godsdienstige elite, asook die Romeinse heersers. Hy was bereid om vir sy ideale te sterf, net soos Martin Luther King.

Skrifbeskouing

Vir Borg is die Bybel 'n menslike produk van twee gemeenskappe: Ou Israel (die Hebreeuse Bybel) en die Vroeë Christelike Beweging (die Nuwe Testament). Dit is die neerslag van hoe hierdie gemeenskappe met God geworstel het, die wêreld gesien het en hulle stories vertel het. Ons staan in hierdie tradisie, maar moet dit opnuut deurdink in terme van ons tyd en tydsgees. Hierdie skrifbeskouing maak dit vir ons moontlik om moraliteit nie teokraties (as 'n goddelike imperatief) te sien nie, maar as demokraties (ons moet vir onsself uitmaak wat reg en verkeerd is binne ons konteks en die kennis wat ons het). Levitikus 18:22 is dus nie die laaste woord oor menslike seksualiteit nie.

Verder is die Bybel vir hom 'n mengsel van historiese geheue en metaforiese verhale. Die uittog uit Egipte het waarskynlik histories plaasgevind, maar dit ontwikkel in 'n sterk metafoor met simboliese betekenis. God is steeds die God van die Eksodus wat mense vanuit onderdrukkende politieke strukture uitlei na vryheid. Dit is onsinnig om suiwer metaforiese verhale te verletterlik, soos byvoorbeeld Jona in die walvis, Jesus wat op die water loop en die vermeerdering van brode en visse.

Die Bybel moet dus metafories gelees word. Geloofsgemeenskappe behoort mense op te voed om van 'n naïewe letterlike opvatting, deur 'n kritiese lees, te ontwikkel tot 'n metaforiese verstaanswyse. Kinders ervaar die geboorteverhale van Jesus as letterlik waar. 'n Kritiese lesing van die verhale wys dat dit onmoontlik kan wees: 'n ster kan nie mense op 'n pad lei nie. Dit dwing ons tot 'n metaforiese verstaan: Jesus, en dit waarvoor hy staan, is spesiaal, en nie die keiser en dit waarvoor hy staan nie. Jesus se geboorteverhale is gekonstrueer as teenwig vir die geboorteverhale rondom die keiser.

Baie in die Bybel het tot stand gekom as gevolg van mense se mistieke ervaring van die sakrale. Ou-Testamentiese profete het visies, drome en ekstase beleef, of 'n innerlike stem. Paulus het sulke ervarings gehad: sy visioen op pad na Damaskus, sy spreek in tale, en sy ekstatiese ervarings (volgens 2 Kor. 2:12 is hy weggeruk na die derde hemel). Borg noem dit 'God-intoxication.'

Die funksie van die Bybel is sakramenteel: dit bemiddel God se teenwoordigheid. Ons 'glo' nie in die Bybel nie, maar laat die Bybel toe om sy werk te doen en Woord van God vir ons te word.

Waardering

Vir my lê Borg se waarde daarin dat hy vir mense wat die geloof van hulle kinderjare ontgroei het, maar tog 'n liefde en waardering het vir die rol wat godsdiens in hulle lewens gespeel het, 'n sinvolle alternatief te bied. Godsdiens is nie 'n enkelvoud nie, maar 'n meervoud. Dit kan ons saamsnoer om saam met ander mense 'n verskil te maak aan hoe ons met onsself saamleef, met ander mense en met die natuur. Ons kan geregtigheid laat groei, medelye omsit in dade en die lewe om ons bevorder. Jesus se ideale van God se Koninkryk, waar mense genoeg het om te eet, waar arbeiders lewenswaardige lone betaal word en geestelike blindes verligting ervaar, is steeds relevant. Sy metaforiese lees van die Bybel maak dit moontlik om waarheid te vind in fiksie. Borg haal 'n inheemse Amerikaanse storieverteller aan wat gesê het, 'Now I don't know if it happened this way or not, but I know this story is true.'

Persoonlik het ek probleme met Borg se siening van mistieke ervaring. Hy skep die indruk asof dit 'n soort openbaring is wat van iewers elders af kom. Daar is sielkundige studies wat ekstase sielkundig wetenskaplik verklaar. Sy siening van God is bevrydend; dit beklemtoon menslike verantwoordelikheid as die wyse waarop God ingryp. Ek sou tog wou sien dat hy ook simpatie het met mense wat glad nie 'n teologiese diskoers nodig vind om oor die wel en die weë van ons werklikheid te praat nie. Dit is ook jammer dat hy hom nie uitspreek, soos ander progressiewe teoloë (Don Cupitt; Lloyd Geering) oor die wese van God nie. Volgens hierdie teoloë is God die simbool van dit wat mooi en goed en reg is.

Borg spreek hom ook glad nie uit oor kwessies soos die bestaan van 'n onsterflike siel nie. John Shelby Spong stel minstens die argumente daarvoor en daarteen in sy boek Jesus for the Non-Religious.

Borg skep ook die indruk dat ons modernistiese wêreldbeeld deur die kwantum fisika omver gewerp word. Dit is asof hy ruimte wil skep vir 'n mistieke bonatuurlike openbaring. Boeke wat ek hieroor gelees het meen dat die nuwe teoretiese fisika bloot aanpassings bring. Dit gaan oor statistiese waarskynlikhede op die sub-atomiese vlak (sien Dawkins en Kraus) .

Verder dink ek maak Borg nie genoeg van die politieke magspel wat in die Bybel afspeel nie. Die Ou Testament is die produk van magspeletjies tussen verskillende godsdienstige faksies. Baie in die Bybel is nie bloot literêr of poëties van aard nie; dit is propaganda. Talle Psalms reflekteer 'n tempelteologie, 'n politiese beweging wat Jerusalem die sentrum van godsdienstige en politieke mag gemaak het.

Dieselfde geld vir die wonderverhale van die Nuwe Testament. Dit is propagandisties ontwerp om beter te wees as die aansprake van ander godsdienste. Siekes word genees. Lammes loop. Blindes sien. Dooies word opgewek. Nêrens vind ons 'n ernstige worsteling met teenoorgestelde uiteindes nie, waar lammes verlam bly, blindes blind bly, dowes doof bly en dooies vir altyd nie meer daar is nie. Dit is die harde realiteite van ons bestaan. 'n Geloofwaardige Christendom moet dit ook eerlik aanspreek.

Bibliografie

Borg, M. 1995. Meeting Jesus Again for the First Time: The Historical Jesus and the Heart of Contemporary Faith. HarperSanFrancisco.
Borg, M. 2000. 'Re-visioning Christianity'. Artikel in The Jesus Seminar, The Once and Future Jesus. Salem Oregon: Polebridge Press.
Borg, M. 2002. Reading the Bible Again For the First Time: Taking the Bible Seriously But Not Literally. HarperSanFrancisco.
Cupitt, Don. 1980. Taking Leave of God. London: SCM Press.
Cupitt, Don. 1997. After God. The Future of Religion. New York: BasicBooks.
Dawkins, R. 2011. The Magic of Reality. How We Know What's Really True. New York: Free Press.
DVD titels van Living the Questions (www.livingthequestions.com) waarin Borg optree:

Geering, Lloyd. 2002. Christianity Without God. Salem, Oregon: Polebridge Press.
Geering, Lloyd. 2014. Reimagining God. The Faith Journey of a Modern Heretic. Salem, Oregon: Polebridge Press.
Kraus, L.M. 2012. A Universe from Nothing. Why there is Something Rather Than Nothing. London: Simon & Schuster
Spong, John Shelby. 2008. Jesus for the Non-Religious. New York: HarperOne.

Prof. Hansie Wolmarans

Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.