.

Huis bou

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Oktober 2016

.

Die woorde wat jy uiter word die huis waarin jy bly!

Dit is die woorde van die Persies-gebore digter Kwhaja Hafiz. Hy is gebore in 1326 in wat ons vandag as Iran ken. Sy hele lewe het hy gewy aan gedigte oor die liefde, goeie wyn en die ontmaskering van skynheiligheid. En tot vandag toe word baie van sy gedigte in Iran deur mense gememoriseer en geresiteer as spirituele tekste wat rigtinggewend is.

"Die woorde wat jy uiter, word die huis waarin jy bly," is een van daardie spreuke wat die laaste tyd in my kop bly vassteek het. Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek elke mens het skeppende krag en energie.

Ek lees onlangs in 'n joernaal 'n artikel van 'n sellulêre bioloog, Bruce Lipton, wat in die navorsingsveld van die selfisiologie spesialiseer. En in die artikel verduidelik hy bo my vuurmaakplek die effek wat onsigbare magnetiese velde op die funksie en reaksie van die selle in 'n mens se liggaam het.

Die deel van die artikel wat ek kon verstaan, is waar hy toe met 'n praktiese voorbeeld verduidelik hoe mens se liggaam op die impak van jou woorde en gedagtes reageer. As jy bv. vir jouself sê: "Oe, ek is so moeg vir die omstandighede waarin ek elke dag moet probeer oorleef. Alles lyk net vir my hopeloos, ek wonder of is die lewe nog die moeite werd?"

Dan kan jy as't ware voel hoe jou woorde en jou denke oor die saak jou stadiger laat praat, jou stemtoon laat daal, jou amper aftrek en energieloos laat voel.

Maar sê bv. vir jouself: "Ek voel goed vandag! Die lewe is een groot avontuur vol oneindig baie moontlikhede. Ek kan nie wag om met 'n nuwe projek te begin nie."

Dan lig jou stemtoon. Jou intonasie verander onmiddelik. Jou woorde laat jou positief voel en dit skep as't ware energie in jou binneste.

Nou sê ek vir myself: As jy dan met hierdie eenvoudige eksperiment die effek van jou woorde op jou gees en in jou energie kan voel, moet ons nie baie meer bewus raak van die manier waarop ons die teks van ons lewensverhaal met woorde wat ons self kies om te gebruik, skryf en komponeer nie?

Die woorde wat jy uiter, bou die huis waarin jy bly!

So, taal kan jou of verlig of vergiftig. Hoe jy dink en praat, kan al die verskil in jou lewe maak. Jou woorde is met ander woorde kragtig. Jy kan daarmee bou of breek. Jy kan ophelp of vernietig. Jy kan daarmee troos of verwoes. Dit kan jou bestaan swaar en donker maak, of as medeskepper aan jou lewe kan jy kies om vir jouself met jou woorde 'n buitengewone opwindende manier van bestaan te skep.

Mense onthou dikwels nie wat jy aangetrek het, of wat jy vir ete gemaak het, of die motor waarmee jy gery het, of die plekke waarvan jy hulle vertel het wat jy al besoek het nie, maar mense onthou nogal hoe jy hulle laat voel het, met dit wat jy vir hulle gesê het. Woorde is kragtig. Kies hulle daarom versigtig. Ons bou daarmee huise, wêrelde ... en dan woon ons daarin! Of soms hou ons ander gevange daarin!

Oor hierdie ding van woorde en hoe ons dit gebruik, moet ons mooi dink: Want ons dink ons bly in die wêreld. Ons dink ons bly binne 'n stel omstandighede, maar eintlik doen ons nie. Ons leef in ons gesprek oor ons wêreld en ons leef in ons gesprek oor ons omstandighede. Wanneer ons in gesprek met ander gaan oor ons vrese en angs, oor ons woede en wraak, oor ons jaloesie en afguns, ons onvergenoegdheid en ontevredenheid, dan is dit die wêreld waarin ons woon.

Wanneer ons in gesprek gaan oor moontlikhede en dankbaarheid, oor waardering en goedheid, dan word dit die wêreld waarin ons woon. Vir lank het ek gedink dat dit wat 'n mens sê, bloot maar net dit wat jy dink en voel verwoord en daar stop dit, maar veral die laaste paar jaar het ervaring my geleer dat 'n mens met die woorde wat jy uiter nie net jou gedagtes weergee nie, maar dat jy ook jou wêreld daarmee skep. Dat jy baie van jou belewenisse daarmee skep. Dat jy talle oomblikke in jou lewe daarmee óf verryk óf verwoes. Ek kom konstant meer en meer onder die indruk van die krag en energie van dit wat ek sê. Dit maak saak. Dit skep.

Die gesprekke en debatte waarby mens betrokke raak, die gedagtes wat jy koester en vertroetel en toelaat om in jou binneste te broei, jou innerlike dialoog en gevegte wat jy hier binne veg, dit het 'n ontsaglike uitwerking op hoe jy voel, hoe jy leef, wat jy ervaar, hoe jy jou wêreld op daardie oomblik sien en beleef.

Ek lees van 'n vrou wat vertel dat sy 'n epos van iemand af gekry het en as groetwoord onderaan skryf die persoon: "En mag daar lig op jou pad val." Toe sy dit lees, besef sy: My pad kan net verlig wees as ek vol lig is. Ek is die een wat maar my eie pad verlig. Ek kan ook kies om 'n skadu daarop te laat val.

En dis die gesprek wat ek voortdurend met myself moet hê. Kies ek woorde van vrees of haat, van afstoot en arrogansie, van verdrukking en pyn, skep ek daarmee die wêreld waarin ek vir dan leef. Maar kies ek woorde van liefde, waardering, medelye, vertroue, oorvloed, goedheid, dan word dit die wêreld waarin ek vir daardie oomblik leef.

Die kuns lê dus daarin om jou woorde, gesprekke en gedagtes so te kies, dat dit vir jou die wêreld sal skep waarin jy graag wil woon. Dis uit en uit 'n keuse. Soos wat Hafiz al in die veertiende eeu in die destydse Persië gesê het: Die woorde wat jy uiter, word die huis waarin jy bly!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.