.

Hoeveel onverdraagsaamheid kan ons verduur
voordat die dyk bars?

Deur Bertus van Niekerk op 1 Julie 2014

.

Maya Angelou: "History, despite its wrenching pain, cannot be unlived, but if faced with courage, need not be lived again."

Ek het gisteraand die rare voorreg gehad om Shavuot te vier saam met 'n rabbi en sy (taamlik uitgebreide) gesin en 'n geselskap kwasi-Jode. Ek kom so van tyd tot tyd op mense af wat sê hulle is uitgekuier met Paulus en gereformeerde denke en hulle sluk nie meer al die leuens wat die kerk opdis nie, daarom vind hulle hulleself nou in "Messiaanse gemeenskappe" tuis. NG-kerklidmate, hoofsaaklik, wat die beauty van Hebreeuse tekste en rituele omhels.

Dit was 'n rumoerige spul, maar die rabbi het homself op amusante wyse telkens as dié stem in die gesprek hoorbaar laat maak. Die mense het aan sy lippe gehang. Tot die kinders was stil as hy gepraat het. Hy het deurentyd geglimlag, ook wanneer hy vrae ontduik het met fyn retoriek. Skuins agter hom het sy oudste seun gestaan, die enigste manlike figuur uit sy gesin wat méér as net die yarmulke opgehad het: ek het gewonder of hy dit onder sy plat pet weggesteek het. Die seun het sy pa heel aand tóg met 'n verwondering aangekyk.

Daar was baie moets en moenies: ons moes ons hande op rituele manier was, ons moes almal opsluit aan een tafel inprop, mans mag nie vroue met die hand gegroet het nie en een vrou het 'n ferm maar vriendelike "nee" gekry toe sy in bewondering haar hand op die rabbi se skouer wou sit. Ons mog almal wyn drink, net hy en sy gesin nié (wel Bells Whisky, want skynbaar kan whisky nie onreine elemente bevat nie). Hy mag ook nie kar bestuur oor hierdie paar weke nie en self ook nie ver reis nie. Ons het kos gekry soos voorgesit. Daar is geen opmerkings gemaak oor hoe dit voorberei is nie, maar ons het kosher geëet, ek's oortuig daarvan. Dis seker 'n kwessie van tyd voordat dié riglyne gekommunikeer word. En daarná streng gereguleer word.

Die rabbi het na die maaltyd ons laat Boeke vat. Dit was die 10 gebooie, voorspelbaar genoeg, soos HaShem dit met sy vingers op die klippe wat raaiselagtig soek is, geskryf het en toe vir Moses in die woestyn gegee het. Dis waaroor hierdie feesdag gaan, die oorhandiging van die Torah aan die uitverkore volk.

Alles is God se wil, sê die rabbi, en niks gebeur sonder dat hy dit beplan nie. Selfs wanneer mense goed beplan en doen laat God dit nie net passief toe nie, dis reeds die uitvoer van sý beplanning. Ook slegte goed? vra ek. Ja, ook dit, alles. En wat van die volksmoord in die Derde Ryk? Ja, ook dit. Twee passasiersvliegtuie deur die World Trade Centre? Hongersnood in Afrika, anargie in Mogadishu? Jip. Matthew McConaughey se Oscar? Dit ook. Wat van Hansie se wedstrydknoeiery? O, dit was ook God, hierdie keer is die duiwel onskuldig. En ook die Stormers se oorwinning laas Saterdag.

Dus: menslike verantwoordelikheid het grense. En Goebbels, Osama en Charles Taylor het beperkte aanspreeklikheid, so ook Mugabe en Saddam en Kim Jong-un. Alles in God se hande. "What God wants, God gets. God help us all," eggo Roger waters deur my kop. 'n Determinisme in die 21ste eeu. Ek kyk om die tafel. Die mense hou daarvan.

When you add it all up
The tears and marrowbone
There's an ounce of gold
And an ounce of pride in each ledger
And the Germans killed the Jews
And the Jews killed the Arabs
And Arabs killed the hostages
And that is the news
And is it any wonder
That the monkey's confused
He said Mama Mama
The President's a fool
Why do I have to keep reading
These technical manuals
And the joint chiefs of staff
And the brokers on Wall Street said
Don't make us laugh
You're smart kid
Time is linear
Memory's a stranger
History's for fools
Man is a tool in the hands
Of the great God Almighty
And they gave him command
Of a nuclear submarine
And sent him back in search of
The Garden of Eden
– Roger Waters

Verlede week, koddig genoeg, versoek 'n Dopperdominee 'n gesprek met my. Hy dring aan daarop dat ek myself net so onverdraagsaam soos hy sien. Ek frons. Hy sê vir hom is daar nie 'n ander manier nie, dis net Jesus, eksklusief. Ek beantwoord sy opmerkings met akklamasie: dan moet jy nie ophou om dit te glo nie! Hy lag effe verleë. Nee, dis nie wat hy bedoel nie. Hy sien sy verbondenheid aan Christus as 'n opdrag – sy siel sal nie rus nie voordat ek ook soos hý glo. My mond hang oop. Nee, sê ek, ek wás daar. Ek gaan jou die ruimte gee om te glo wat jy wil, dan gee jy my die ruimte om te glo wat ek wil. Hy herhaal homself: die feit dat ek sy verstaan van Jesus nie klakkeloos eggo nie, is vir hom 'n teken daarvan dat ek onverdraagsaam is teenoor sy uitgangspunt dat Jesus die enigste manier is. Ek vra wat van al die ander gode of die opsie om geen God te dien nie. Ook onverdraagsaamheid, knik hy.

Op hierdie punt besef ek die gesprek gaan nêrens. Maar hy voeg by dat die enigste manier om gesonde waardes te hê, is deur Jesus alleen. Die kerk is die instrument in God se hand om menslikheid en respek teenoor die res van die skepping te vestig. Ek antwoord dat die kerk 'n baie slegte reputasie het as dit kom by gelyke regte: eers nádat die wêreld slawerny afgeskaf het, het die kerk gesê dis barbaars. Die kerk bely dekades ná die val van Apartheid (en ook nie sonder binnekampgevegte nie) dat dit 'n onmenslike sisteem is. Gemeenskappe met besonder hoë beskawingspeil en lae konsentrasie van Christelike geloof gee vroue stemreg en die res van die wêreld volg sónder dat die kerk die rol speel van aktivis vir vroueregte. Mag vroue al predikante word in jou kerk? wil ek weet. Hy skud sy kop. Ai, sê hy, jy verstaan verkeerd. Ek het niks daarteen nie, dis net dat dit nie God se wil is nie.

Lees hier meer oor Ds. Bertus van Niekerk.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.