.

Hoeveel is ons veronderstel om van ons spiritualiteit te verstaan?

Deur Ds. Bertus van Niekerk op 1 Augustus 2012

.

Marie Curie: "Nothing in life is to be feared, it is only to be understood. Now is the time to understand more, so that we may fear less."

Taalontwikkeling by kinders fassineer my eindeloos. Onlangs het 'n skoolmaat van my se seuntjie woorde begin ontdek. Ek onthou hoedat ons my eie kinders se eerste woorde getel het (en selfs frases neergeskryf het). Aanvanklik is dit mos net een lettergrepie en jy verbeel jou die kind sê: "Pappa." Binne maande nadat 'n baba leer praat het, begin ons hulle egter stil maak, want hulle moet ook leer dat hulle soms uit hulle beurt praat en dat hulle klanke-entoesiasme nie altyd op geleë tye kom nie.

As ons bietjie geduld (en baie tyd) het, kan ons lekker woordspeletjies met ons kleintjies speel. Ons leer hulle later nie net om woorde te sê nie, maar komplekser betekenisse met die woorde aan te dui. Kort voor lank maak hulle ons ook dáármee moedeloos: menige ouer word teen die mure uitgedryf met 'n eindelose ge-hoekom van 'n peuter.

Ek het my ma so gek gemaak met vrae en verbeeldingsvlugte. Ek onthou hoedat sy vroeg in die laerskool vir my gesê het dat daar gevalle is waar mense so aanhou vrae vra en dan gaan hulle van hulle kop af. Dit het my 'n namiddag geneem om te probeer verstaan hoe dít nou juis sou gebeur en toe het ek besef ek moenie meer die vrae vir haar die vra nie. Sy is OK daarmee om nié te weet nie en die vrae en eindelose opsies en onvoorspelbaarheid van lewe maak haar senuweeagtig. Sy trek terug wanneer sy met diversiteit of iets wat vreemd is aan haar ervaring gekonfronteer word.

Vandag nog raak ek passievol oor iets wat ek verstaan. Ek soek onmiddellik iemand om dit mee te deel. Dikwels moet ek (effe) teleurgesteld my storie laat vaar wanneer ek sien my gespeksgenote deel nie my entoesiasme nie. Gelukkig het ek as pre-tiener mos al besef al leef die idee net in mý kop, leef dit minstens nog – ek het nie 'n klankbord nodig om dit te legitimeer nie.

Hartseer genoeg is daar baie spreekwoorde waarmee veral kinders se ondersoekende instink onderdruk word: "curiosity killed the cat" en "kinders moet gesien en nie gehoor word nie" en "moenie die grootmense se tande tel nie" of "husse met lang ore" op die vraag: "Wat is dit?". Ek het my kinders nie hiermee grootgemaak nie, maar dit was vir my as tiener baie vernederend om uit geselskappe gejaag te word. Vandag nog vind ek dat kinders net voor hoërskool, wanneer hulle natuurlike belangstelling in grootmensgoed en volwassenheid begin ontwikkel, te dikwels nog gerangeer word om "saam met die kleintjies buite te speel". En dan wonder ons hoekom ons so sukkel om hulle te beïnvloed wanneer hulle 'n jaar later keuses begin maak waarmee ons nie noodwendig saamstem nie.

Vir honderde jare het die kerk in Europa doelbewus alle lidmate van geletterdheid en kennis probeer isoleer. In die Middeleeue voor die Renaissance en Reformasie het volke ongeletterd geleef, nie gebore in staat om iets aan hulle lot te verander nie. Geletterdheid was gereserveer vir dié wat in die regte huis gebore is of in die kerk opgang gemaak het. Selfs die Bybel is in 'n taal aangebied wat min mense verstaan het. Dit het deels daartoe bygedra dat daar 'n magiese kragveld rondom die kerk en priesters ontstaan het. Een van my kerkgeskiedenisdosente het beweer die woorde "hocus pocus" het gegroei uit die formule wat mense by die mis gehoor het: "hoc est corpus (meum)". Daar was toorkrag – en politieke mag – in spiritualiteit.

In die apartheidsjare het staat en kerk in koalisie gestaan om ons te weerhou van wat hulle nie wou hê ons moes weet of sien nie. Ons is in die duister gehou oor wat in die buiteland gebeur, ons het nooit geweet hoe townships bestuur is nie en ons is selfs bang gemaak vir ander kulture en rassegroepe soos die Rooi Beer en die Swart Gevaar. In hierdie tyd is daar 'n domme deugsaamheid (of deugsame domheid?) ook in skole onder ons gekultiveer. Ons moes aspireer om in groter sisteme kleurloos opgeneem te word: die staatsdiens of kerk of onderwys of korporatiewe maatskappye wat Afrikaners sou "bemagtig" om die spoorweë of myndorpe agter te laat, solank jy net nie jou baas of die strukture waarin jy beweeg, bevraagteken nie. Meer as driekwart van ons het Nasionaal gestem en Pik Botha was vir dekades ons held wat ons saak in die buiteland gaan verdedig het. Dominee het vir die regering gebid en teen kommunisme of vrye liefde gepreek.

Nadat die Berlynse muur geval het en die USSR ontbind het, het dinge vinnig gebeur. Die bosoorlog is verby en Mandela is vrygelaat. Ons kon enige plek in Afrika toer met ons paspoort. Wêrelde het vir ons oopgegaan. Vir sommiges van ons. Ander het, bedreig deur die skielike grensloosheid en snelle pas van verandering, hulleself onttrek en agter skanse weggekruip. Kerk en skool was van die laaste "vestings" waarvoor regse Afrikaners baklei het, nadat hulle oor 'n tydperk van 'n dekade geforseer is om saam met swart mense te bank en by die Wimpy te eet.

Verregaande, dink jy dalk by die lees van die paragraaf hierbo. Kan ek jou daaraan herinner dat juis op hierdie oomblik 'n skeuring in die Hervormde kerk plaasvind oor presies "leervryheid" as dekmantel vir 'n diepliggende politieke tweespalt? Verlede week sê 'n NGlidmaat vir my dieselfde lot lê nie juis ver in die toekoms vir die NGkerk nie. Daar is te veel onenigheid oor Belhar en die hele gay-kwessie. Daar is te veel onverdraagsaamheid onder mense wat op die een of die ander pool sit en die massa in die middel word geagiteer om na die een of die ander kant 'n besluit te neem. Die spanning broei.

En onder presies hierdie omstandighede is daar dié wat volhou dat daar eintlik niks fout is nie. Jy moet net glo soos 'n kind en net bely dat Jesus vir jou sondes gesterf het en dan die minste wees en nie rusie soek nie, dan is alles weer aan die kant. Moet ook nie vrae vra oor ewolusie of met ateïste in gesprek tree nie, want dit is net die vastrapplek wat die wetenskaplikes soek om jou van jou geloofsekerheid te ontneem.

Carl Sagan: "For me, it is far better to grasp the Universe as it really is than to persist in delusion, however satisfying and reassuring."

Wat gaan alles onder die vaandel van spiritualiteit? Philipp Melanchton het in 1521 sy Loci Communes gepubliseer waarin hy hoofstukke in geloofsleer uiteensit. Dit vorm sedertdien die basis van elke sistematiese teologie. Melanchton deel sy hoofstukke in rubrieke soos: Geloof, Vernietiging van die liggaam, Kerk, Woord van God, Geduld, Sonde, Wet, Genade, Liefde en Seremonie in.

In sy boek Christelijk Geloof behandel Hendrikus Berkhof in aparte eenhede temas soos: Inleiding – Religie, Geloof, Christelijke geloof, Christelijke geloofsleer, De aardsheid van de Openbaring, Openbaring en ervaring; God – Wezen en eigenschappen, De veranderbare trouw; De schepping – God als Schepper, De mens (liefde en vryheid vs schuld en lot); Israel; Jezus de Zoon; De nieuwe gemeenschap; De vernieuwing van de mens – Beoordeling en berouw, Leiding en geborgenheid, Vryheid en liefde, Sterven en opstaan, Strijd, voortgang en volharding; De vernieuwing van de wereld.

Dogmatiek of geloofsleer dink sistematies na oor individuele en kollektiewe selfverstaan en ook oor die mens se verhouding met ander mense. Onder die subwetenskap van die Etiek vra dit vrae oor grense van fatsoenlikheid, oor pligsbesef, liefde, vryheid en die rol wat elke individu in 'n gemeenskap speel. Dit ondersoek die grens van lewe self in temas oor die menslike eksistensie, die pre-eksistensie van Jesus en hoe gelowiges lyding en sterwe verstaan. Die ooreenkomste met sielkunde wat temas betref, is verbysterend. Dit beweeg eintlik op presies dieselfde terrein.

Net bietjie meer as 100 jaar gelede word moderne sielkunde gebore. Freud publiseer boeke oor die volgende onderwerpe: histerie, drome, alledaagse lewe, seksualiteit, die onderbewuste, totems en taboes, narsissisme, begeerte, ego, illusie, beskawing en Monoteïsme. Op spoor van Freud ontwikkel Jung konsepte soos argetipe, die kollektiewe onderbewuste, komplekse en sinkronisiteit. Psigometrie is een van die ontwikkelings wat uit sy werk voortgespruit het. Adler ontwikkel teorieë oor onder meer minderwaardigheid en Frankl oor die soeke na betekenis.

Galileo: "All truths are easy to understand once they are discovered; the point is to discover them."

In ons huidige tydsgreep en verstaan van ons omgewing is dit kritiek vir selfbehoud om jouself te verstaan. Ons moet ook dit wat ons beskerm of bedreig, begryp – nie net fisiese sake soos gesondheid of beveiliging van ons eiendom of politieke stabiliteit van ons streek of die ekonomiese impak van wêreldmarkte op ons eie finansiële oorwegings nie – dis juis belangrik om te verstaan wat ons motiewe met onsself, mekaar en ons biosfeer is. Dit mag belangrik wees vir die voortbestaan van die planeet dat ons die mites en misteries wat ons geërf het uit premoderne geloofsraamwerke verstaan vir wat hulle is: stories wat op bepaalde tyd met spesifieke insig in byvoorbeeld natuurverskynsels en -wette sin gemaak het.

Om lewensbepalende keuses te maak op grond van metafore wat in ons huidige werklikheids-verstaan uitgedien en foutief mag blyk, kan allerlei ander soorte spanning veroorsaak en vererger. Simptome soos depressie, verlies aan selfwaarde, en 'n groeiende perspektief dat jy gemarginaliseer word uit 'n samelewing waarvan die tempo en eise hoër raak. Tradisionele perspektiewe wat individue of groepe aanmoedig om 'n skisofrenie ten opsigte van hulle psige en "siel" te ontwikkel, speel met vuur. 'n Onderdrukking van elke individu se soekende gees en besef dat hy ten volle verantwoordelik is vir sy lewensomstandighede én emosionele keuses, beroof hom van lewensin. Dit rus geen soeker toe om selfstandig en verantwoordelik te leef nie.

Chuck Palahniuk: "I want out of the labels. I don't want my whole life crammed into a single word. A story. I want to find something else, unknowable, some place to be that's not on the map. A real adventure. A sphinx. A mystery. A blank. Unknown. Undefined."

Jean-Luc Thunevin, pionier in die Garagiste-beweging in Bordeaux 20 jaar gelede, soos aangehaal in Wine Spectator van 31 Maart 2012: "It's better to go too far than not to go. People who think I have gone too far have no idea how far I could have gone."

Lees hier meer oor Ds. Bertus van Niekerk.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.