.

Hoeveel gode pas op een naald se punt?

Deur Johannes Bertus de Villiers op 1 Augustus 2013

.

Ek ry gisteraand saam met my vriend, Dominee Piet, deur die noordelike voorstede van Kaapstad, op pad terug van 'n funksie in die stad, toe die behoefte aan 'n bietjie sofistiese teologiepleging my oorval.

"Dominee Piet," sê ek toe, "is God die Vader werklik God?"

Dominee Piet: "Maar natuurlik, ek glo dit met heel my hart."

Ek: "En is Jesus God?"

Dominee Piet: "Maranata, ek bely dit wel!"

Ek: "En is die Heilige Gees God?"

Dominee Piet: "Inderdaad."

Ek: "So is daar drie Gode?"

Dominee Piet: "Jy weet tog dis nie waar nie. Daar is een God, maar ons leer ken Hom in drie Persone, die Vader, die Seun en die Heilige Gees."

Ek: "Bestimmt! So daar is ingevolge die Christelike teologie een God wat op drie maniere manifesteer?"

Dominee Piet: "Mens kan dit seker so verwoord ook, ja."

Ek: "Maar as ek die Bybel reg lees, dan sien ek in Eksodus God het ook een dag aan Moses verskyn as 'n brandende bos. So eintlik is dit meer waar om te sê daar is een God wat op vier maniere manifesteer, die Vader, die Seun, die Heilige Gees en die Brandende Bos."

Dominee Piet: "Ja... maar..."

Ek: "En dan lees mens natuurlik in Genesis God het aan Abraham verskyn as 'n swerwer wat in die woestyn rondloop. So eintlik is daar 'n God Vyf-enig, eerder as God Drie-enig, wat Hy manifesteer op minstens vyf maniere, as Vader, as Seun, as Heilige Gees, as Brandende Bos en as Swerwer in die Woestyn."

Dominee Piet: "Ja, maar dit gaan nie net om die getal nie, dit gaan ook oor die verh..."

Ek: "Bly stil, Dominee Piet, ek is nog nie klaar nie. As God dan nou op al dié maniere kan manifesteer, is dit nie dan ook moontlik dat Hy een dag, iewers buite Palestina, toe nie een van die Bybelskrywers naby was om dit aan te teken nie, ook kon manifesteer as iets anders as die Vader, die Seun, die Heilige Gees, die Brandende Bos of die Swerwer in die Woestyn nie?"

Dominee Piet: "... uuuhm, ja, dis natuurlik heel moontlik."

Ek: "Dalk het hy eendag in Indië gemanifesteer as 'n man met 'n blou gesig wat fluit speel genaamd Krisjna, in welke geval God Drie-Enig eintlik God Ses-enig is en die sesde persoon is Krisjna."

Dominee Piet: "..."

Ek: "En dalk het Hy eendag in Sirië gemanifesteer as Baäl. En in Noorweë as Thor. En aan die oewers van die Zambesi as Yami-Yami! Dalk, is God nie net God Ses-enig nie, maar God Agthonderd-vyf-en-negentig-enig, soveel gode as wat daar ooit was, dalk is daar inderdaad een God, maar Een met nie net drie Persone nie, maar sewe miljoen agthonderd-en-vier-duisend sewe honderd en twaalf. Dalk, vir al wat ons weet, is daar op hierdie einste oomblik op miljoene ander planete elders in die heelal nuwe manifestasies van God wat opduik soos wat Hy homself openbaar, elke oomblik iewers, God nie net x-getal enig nie, maar God wie se enigheid van oomblik tot oomblik eksponensieel toeneem en nooit ophou nie."

Dominee Piet: (glimlag)

Ek: "En come to think of it, as God kon manifesteer as 'n brandende bos, wie sê Hy kan nie manifesteer as die bos wat in my agterplaas staan en vreugde verskaf sonder dat dit brand nie? Wie sê elke bos is nie nog 'n Persoon in die ses biljoen-sentiljoen-miljard eenheid nie? Wie sê elke grassprietjie is nie dalk 'n manifestasie van God nie, en dalk elke vis, en elke voëltjie, en elke mens. Dalk is Pous Francis en Deepak Chopra en Whoopi Goldberg en die bergie en my hond almal nog maniere waarop God na die wêreld toe kom, nog deelnemers aan God ontelbaareenheid, dalk is elke gemartelde vark in 'n fabrieksplaas en elke bok wat vir trofeejagters moet vlug die kruisdood wat van voor afspeel. En dalk is elke muggie wat oor jou pad vlieg en elke grassprietjie wat aan die onderkant van jou voetsool om aandag krap 'n brandende bos waarin God manifesteer en waaruit Hy roep: Gaan maak my volk vry!"

Dominee Piet: "Dis baie mooi. Dit klink nie baie gereformeerd nie, maar ek hou daarvan."

Ek: "Dalk is elke mens en elke dier en elke oomblik en elke ervaring nog 'n persoon in die uitdyende enige Godheid. Dalk is ek en jy God besig om oor homself te bespiegel, op pad huis toe sodat Hy uiteindelik kan rus."

En toe draai ons by die Old Oak-afrit af en keer huiswaarts, vol glimlagte, met ons gesigte wat straal soos 'n brandende bos wat hom uitgewoed het en nou reg is dat die kinders hul hande oor sy kole warm kan kom maak.

Hierdie artikel is ook op www.johannesbertusdevilliers.co.za gepubliseer.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.