.

Hoekom is die mens godsdienstig?

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Januarie 2015

.

Het jy al gewonder hoekom die mens so behoefte het aan godsdiens? 'n Behoefte wat natuurlik uniek is aan die menslike spesie.

Met die evolusie van die moderne mens het daar vyf kenmerkende gedragspatrone na vore getree. Dit is taal, die maak van gereedskap, musiek, kuns en godsdiens.

En ja, van hierdie kenmerke is wel ook teenwoordig in die diereryk, met die uitsondering van godsdiens.

Nou hoekom het die mens so 'n behoefte aan godsdiens? Wel, omdat dit 'n evolusionêre voordeel vir die mens inhou, natuurlik.

Kom ek verduidelik wat ek bedoel.

Godsdiens is by uitstek goed om mense bymekaar te bring in groepe.

En omdat godsdienste waarskuwings, strafmaatreëls en belonging ingebou het, hou dit ook meeste deel van die groep.

En alhoewel die individu heelwat moet opoffer om aan 'n spesifieke groep te behoort, is die belofte aan beskerming die beste kans op oorlewing wat hy of sy kan kry.

Dus 'n uitstekende evolusionêre voordeel tot oorlewing, waarvan die grootste voordeel beskerming en sekuriteit is. Die 'ons-gevoel' wat sodoende versterk word. En dit op sy beurt hou die groep bymekaar, en hoe groter die groep hoe veiliger sy lede. Omtrent soos Rooibokke wat oorleef deur hulle getalle.

Kyk maar net na die Jode as voorbeeld. Ten spyte van vervolging, diaspora, inkwisisie en die Holocaust het die Jode as groep oorleef. En daarmee saam het hulle ook dit reggekry om hulle groepsidentiteit te behou.

Natuurlik is die gom van die Jode, sowel as enige ander groep, dit wat hulle glo is waar. Hulle gemeenskaplike geloof. Godsdiens.

Want godsdiens bring meer as net ooreengestemde waarheid en 'n sosiale kontrak. Nee, godsdiens bring goddelike gesag. God se wil en God se reëls.

En wie wil teen God se reëls gaan? Daarvoor is die straf eenvoudig net te groot.

Reëls soos: dit is sonde om met iemand van 'n ander geloof te trou. Die sogenaamde 'gelowige en ongelowige mag nie aan dieselfde juk trek' nie. Dit het die Jode ten spyte van hulle verspreiding oor die wêreld heen, as 'n groep met taal, kultuur en gebruike, behoue laat bly.

Dink maar net aan iets soos liggaamlike tekens. Tekens wat reeds van kindsbeen af aangebring word. Hier dink ek byvoorbeeld aan die besnydenis van seuntjies en dogtertjies.

Hiermee saam die oortuiging dat seker klere, haarstyle en gedragsreëls nagekom moet word, as teken van deel wees en lojaliteit aan 'n sekere groep. Kyk maar net hoe maklik is dit, tot vandag toe, om Ortodokse Jode of Moslems uit te ken.

Hierdie sogenaamde uiterlike tekens, soos spesifieke klere, kruise, krale, kopdoeke of burqas, haarstyle of baarde het die voordeel om mense sigbaar aan mekaar te bind.

Dan ook nog die vele sosiale reëls en rituele wat nagekom moet word, bind nie net mense aan mekaar nie, dit herbevestig ook elke keer die groep se eenheid.

Ook is meeste godsdienste se reëls gefokus daarop om voortplanting te bevorder. Dit gebeur deur o.a. voorbehoeding te verbied.

Op dié manier bly die groep groter word. Byvoorbeeld, die Islam word tans bereken as die vinnigste groeiende godsdiens juis oor hierdie rede.

Die geloof word dan versprei deur kinders te produseer en hulle dan te indoktrineer.

Charles Darwin het vroeg reeds hierdie tendens van godsdienste raakgesien: "Hoe die absurde gedragsreëls en al die absurde geloofsoortuigings ontstaan het, weet ons nie ... maar dit is opvallend hoe 'n geloof wat in die vroeë lewensjare gedurig ingeprent word, wanneer die brein nog ontvanklik is, amper die status van 'n instink kry; en die essensie van 'n instink is dat dit ten alle koste gevolg moet word, selfs teen alle rede in."

Aparte onderwys op grond van godsdiens vergemaklik ook 'n afwysende houding ten opsigte van ander groepe, want onbekend maak onbemind. En dit bring vyandigheid en agterdog vir ander mense en kulture na vore. Sodoende beskerm en onderhou die groep homself dan.

Die evolusionêre voordeel van die kombinasie van aggressie en diskriminasie teen ander is tog baie duidelik.

Nog 'n rede hoekom godsdiens 'n evolusionêre voordeel vir die mens inhou, is omdat godsdienste met hulle belofte van 'antwoorde op alle lewensvrae' die mens veilig, in beheer en hoopvol laat voel.

Dit verskaf 'n optimistiese gevoel. Hiermee saam gee geloof dan ook die skyn versekering, dat al gaan dit nou moeilik, dit sal wel later beter gaan. En as daar nie meer hoop in die lewe is nie, dan bring godsdienste die verdere belofte van die hiernamaals.

Hiermee neem godsdienste 'n groot deel van die vrees vir die dood weg. So het die mens al 100 duisend jaar gelede begin glo in 'n lewe na die dood. Dit blyk uit wat alles by oorledenes in hulle grafte gevind is. Dinge soos kos, gereedskap, wapens en geskenke.

Dit lyk inderdaad of godsdiens 'n evolusionêre voordeel het. Seker daarom dat daar in die omgewing van 10 duisend verskillende godsdienste huidiglik bestaan.

En elkeen van hierdie godsdiens groepe is natuurlik heilig daarvan oortuig dat hulle die enigste waarheid en ware geloof besit.

Dit is ongelukkig ook tans een van die grootste redes tot oorloë en haat in die wêreld. Sedert die jaar 2000, is meer as 48% van al die burgeroorloë godsdienstig van aard.

Dit is egter interessant om te sien dat die keuse van die mens om godsdienstig te wees nie noodwendig uit vrye wil gebeur nie. Soos ek reeds genoem het, bepaal die omgewing waarin iemand opgroei in watter groep hy of sy hulself uiteindelik sal tuisvind.

Godsdiens oortuigings word dus net soos moedertaal, tydens 'n kind se vroeë ontwikkeling in sy breinnetwerke vasgelê.

Die Britse evolusiebioloog, Richard Dawkins word juis daarom so kwaad as mense praat van 'Christelike, Moslem of Joodse kindertjies.' Jong kinders het geen geloof nie, dit word by hulle Christelike, Moslem of Joodse ouers in die vroeë ontwikkelingsfase ingeprent – 'n fase wanneer hulle nog besonder vatbaar daarvoor is.

Dawkins wys daarop dat die samelewing dit glad nie sal aanvaar as daar gepraat sou word van ateïstiese, humanistiese of agnostiese kindertjies van vier jaar oud nie. Hy sê ook dat jy kindertjies nie moet leer wat hulle moet dink nie, maar hoe hulle moet dink. Hiermee stem ek ook heelhartig saam.

Alexandra K. Trenfor stel dit treffend met: "The best teachers are those who show you where to look, but don't tell you what to see."

Indoktrinasie op 'n jong ouderdom is dan ook baie maklik. Dit sou die groot en langdurige impak wat die ouers se geloof op 'n kind maak, kon verklaar.

Nabootsing, wat die grondslag is vir aanleer van sosiale vaardighede, is 'n baie effektiewe meganisme in die proses.

Ons het daarvoor selfs 'n aparte sisteem van 'spieëlneurone' in ons brein. So word ook godsdienstige idees – soos dat daar 'n lewe na die dood bestaan, dat jy na die hemel gaan en dat ongelowiges gestraf gaan word met die hel – van geslag tot geslag oorgedra en binne ons breinnetwerke vasgelê.

Daarom is dit so belangrik om te besef dat wanneer dit kom by veral godsdiens, mense uiteindelik nie veel van 'n vrye wil het nie. Jy dink jy kies self wat om te glo, maar wat jy doen is maar net nabootsing.

Daarom dat dit gewoonlik so 'n intense innerlike worsteling meebring wanneer hierdie indoktrinasie idees wat in die vroeë ontwikkelingsfase vasgelê is, verander of ontslae van geraak wil word. Die realiteit is, wanneer iemand eerlik, krities, eietyds en kreatief begin dink, word hy of sy vinnig bewus van die feit dat hulle meestal as slawe van ander se denke leef.

Soos Steve Jobs dit raak sê: "Don't be trapped by dogma – which is living with the results of other people's thinking. Don't let the noise of others' opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition."

Ware vryheid is dus in die eerste plek geleë binne die individu se vermoë om vir hom of haar self te begin dink. Daarsonder verloor hy of sy hulle vryheid en verloor ook hulle menswaardigheid.

Daarom is dit so ongelooflik belangrik om onsself en ander gedurig te herinner aan die nodigheid tot self kritiese denke. En enige sisteem, ideologie of groep wat dit nie bevorder nie moet uitgewys word as negatief en afbrekend vir ware vryheid en selfwaarde.

Wanneer iemand wel oopkop, krities en denkend begin omgaan met hulle werklikheid, verloor godsdiens vinnig sy houvas. En dit is natuurlik ook deel van die voortgaande evolusie proses.

Dit wat (oorlede) Prof. Philip Tobias, een van Suid-Afrika se bekendste paleontoloë ook bevind het: "Die mens se evolusie het nog nie opgehou nie, ons anatomiese ontwikkeling verlangsaam. Maar daar is ander maniere waarop ons by 'n veranderende omgewing leer aanpas."

Hy het dus bevind dat die kulturele, psigologiese en geestelike sfeer 'n groter en groter deel van menslike oorlewing word. En hieruit verduidelik hy dat die mens se evolusie nie meer so baie liggaamlik is nie maar primêr nou tussen hul twee ore verder gaan gebeur.

En soos Natuurlike Seleksie nou al oor en oor gewys het, die wat nie aanpas nie, sal mettertyd uitsterf. En omdat evolusie meer en meer tussen ons ore gebeur, is dit daarom so nodig dat ons moet leer om meer kreatief en oop te dink.

Dit wat eens die mens help oorleef het, godsdiens, kan nou die rede word vir die mens se val. Net die wat bereid gaan wees om na 'n meer verligte, oper, akkommoderende, buigsame, liefdevolle en intelligente spesie te groei, sal uiteindelik kan oorleef.

Miskien kan ons verby godsdiens se straf en beloning, reg of verkeerd, ons en hulle beweeg, en sodoende, in 'n nuwe vryer spesie evolueer.

'n Mens wat nie net meer vir sy eie afgebakende groep waarin hy is, omgee, sorg en verantwoordelikheid neem nie. Maar iemand wat wyer verantwoordelikheid kan neem en met deernis teenoor alle lewe kan leef.

Hoe anders sal ons wêreld nie daarna begin uitsien, as ons die menslike spesie as een groot groep begin sien. Ongeag godsdienstige, kulturele, politieke, seksuele, geslagtelike of rasse verskille.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.