Hoe weet ons wat ons weet? Deel 2

Deur Douwe van der Zee op 1 April 2012

In die vorige aflewering het ek daarop gewys dat sowel die wetenskap as godsdiens episteme as grondslag het; met ander woorde kennis wat van buite onsself kom. Al wat verskil is die aannames oor wat 'n geldige bron van kennis is. Wat as 'bewyse' aanvaar word hou direk verband met hierdie aannames. Ek het ook aangedui hoe, wat ons as 'kennis' of 'waarheid' ervaar, dikwels meer te doen het met ons eie lewensiening en -ervaring as met hoe dinge 'is'. Om werklik vir myself te kon besluit of ek my gnosis (kennis wat van binne af kom) kon vertrou dat God werklikheid is en vertrou kan word, het ek besluit om 'in geloof' te gaan leef. In hierdie aflewering val die klem op die ego en hoe dit ons van gnosis weerhou.

Iemand het eenkeer gesê "Geloof is nie geloof tot daar niks anders is om aan vas te hou nie." Ek het besluit dat ek net sekerheid oor geloof gaan hê as ek in geloof gaan leef. Nie die tipe 'geloof' van sendelinge wat glo hulle moet die kruisiging van Jesus gaan verkondig, maar dan nog steeds deur die kerk onderhou word nie (hoewel daar vir húlle ook gesorg word). Nee. Bloot 'n vertroue op God sonder enige vooropgestelde idees, vereistes of waarborge. Ek het my werk as koördineerder vir oseanografiese navorsing bedank en besluit om te vertrou dat God verder vir my sal sorg. Eers baie later lees ek in A Course in Miracles (Henri Theron se vertaling): "As jy eenmaal Sy plan aanvaar as die enigste funksie wat jy wil vervul, sal daar niks anders wees wat die Heilige Gees nie vir jou sal reël sonder inspanning van jou kant af nie."

Hoewel ek op 'n dieper vlak (gnosis) geweet het dit kan werk (anders sou ek nooit gedoen het wat ek gedoen het nie!), was ek op 'n ander vlak maar stormbenoud! By tye het ek absolute sekerheid gehad en onuitspreeklike vreugde ervaar, maar daardie tye is afgewissel met skuld, vrees en diep depressies. Tog het daar fenomenale dinge gebeur wat net nie aan 'toeval' toegeskryf kon word nie. Een van die dinge is dat ek nooit weer vir werk gesoek het nie. Alles wat ek gedoen het, het na my toe gekom. Miskien skryf ek later meer oor hoe geld soms op die wonderbaarlikste maniere op die kritieke moment verskyn het, en van die ander ervarings wat vir my niks minder as 'wonderwerke' was nie.

Die groot vraag is nou: Werk 'geloof'? "Wat is die resultaat van my eksperiment?"

Die antwoord is "Ja, maar..."

Ek het nooit ryk geword nie, maar ek het altyd 'n dak oor my kop gehad, klere om te dra en kos om te eet. En geleidelik is ek besig om 'n rustigheid in myself te vind wat ek nooit voorheen gehad het nie. Met die vryheid wat ek myself gegee het kon en hét ek dinge gedoen wat ek nooit andersins sou kon doen nie. In my boeke beskryf ek sommige daarvan. Die resultaat was dat ek al hoe meer 'n outentieke lewe kon lei, en werklik kan sê: "Ek lééf!"

So ja, dit werk. Dit weet ek op 'n diep vlak. Wat nie beteken dat ek dit vir enigiemand anders kan 'bewys' nie. Helaas, dit beteken nie dat dinge nou uitwerk soos ek (my ego) dink dit moet nie. Glad nie. Ek moes deur my lewensreis my hele konsep van God en werklikheid en geloof drasties verander. Ek is nog steeds besig om seker die belangrikste les op aarde te leer: dat God se wil my wil is. My ego gee my nog baie moeilikheid.

Die Gees van God is in ons almal, maar ons ego's weerhou ons daarvan om dit so te ervaar. Die ego is nie slég nie – dis eintlik maar net 'n illusie. Solank ons egter deur die ego beheer word, is alles (of meeste van) wat ons as 'waarheid' ervaar bloot die projeksie van ons ego-idees. Omdat die ego sy ontstaan in skuld en vrees gehad het, kan alle ego-idees uiteindelik na skuld en vrees teruggevoer word. (Is al ons behoefte aan besittings, status, erkenning, verdowingsmiddels en so meer – en ons godsdiens – nie uiteindelik maar op vrees gebaseer nie?)

Die uitstaande kenmerk van die denke en gevoel wat van die ego afkomstig is, is dat dit onbewus is. Dis hoe die ego in stand gehou word. Solank ons nie besef hoe ons deur skuld en vrees gemotiveer word en dit op ander projekteer nie (en godsdiens berus meestal uit en uit op skuld- en vreesmotivering), besef ons ook nie dat ons vanuit die ego optree, en dus nie in kontak met die Gees van God in ons is nie (die 'Heilige Gees'). Die ego kan ons nooit daar uitbring nie. Die enigste manier om by God in ons uit te kom, is om die ego te laat vaar.

Maar hoe doen ons dit? Die ego is baie 'slim': dit moedig ons aan om teen homself te baklei, want juis daardeur word dit versterk! Om te probeer 'goed' wees is een van die vorms van baklei teen die ego. Dis presies wat die Fariseërs gedoen het (en nog doen).

Op die ou end is dit 'n proses van bewuswording. Hoe meer bewus ons word van hoe byna al ons denke kultureel geïndoktrineer is, en van ons onderliggende vrees en skuldgevoel, hoe meer besef ons dat ons nie is wie ons dínk ons is nie – dat dit wie ons dínk ons is in werklikheid 'n illusie is wat deur ons gebrek aan bewussyn daarvan in stand gehou word. Die proses van vergifnis is om dít wat ons in ander sien in onsself raak te sien – en dan te besef dat dit nie werklik is wie ons is nie.

Hoe meer ons deur bewuswording ons eie egopatrone raaksien, hoe meer verloor hulle hul krag. Wanneer lig in die duisternis skyn, verdwyn die duisternis. Hoe meer dit gebeur, hoe meer kom ons ware, Godgeskape natuur na vore. Sodra ons die ego raaksien, verdwyn die illusie. Dis dus vir die ego belangrik om nié raakgesien te word nie. Daarom dat 'ketters' in sowel die wetenskap as die godsdiens verwerp word, hoewel (omdat) dit júis die mense is wat nader aan die waarheid beweeg.

Ons leer dat ons moet goed wees (hoewel ons veronderstel is om inherent sleg te wees), maar wanneer ons probéér goed wees, is dit die ego wat probeer. Dus faal ons elke keer, waardeur ons skuldgevoel versterk word. Dis waarop die kerk gefloreer het. Wanneer ons ophou probeer, maar bloot bewus word van dít wat ons van ons eie inherente volmaaktheid weerhou, kom ons Christus-natuur na vore. Dan word ons 'goed'!

Dit is natuurlik presies waarop mense soos J Krishnamurti, Eckart Tolle en Thich Nhat Hanh afstuur.

Dis waar die wetenskap so dikwels faal. Die 'objektiwiteit' van die wetenskap is dikwels niks meer as ontkende subjektiwiteit nie. Dis net enkele wetenskaplikes soos Albert Einstein en David Bohm ('toevallig' altwee kwantumfisici), wat die vermoë gehad het om, deur met hul eie subjektiwiteit in aanraking te kom, meer 'objektief' te kon wees. Dis ook hulle wat besef het dat sekere dinge net nie vir die wetenskap toeganklik is nie. "That which is impenetrable to us really exists," skryf Einstein. "Behind the secrets of nature remains something subtle, intangible, and inexplicable. Veneration for this force beyond anything that we can comprehend is my religion."

Hoe meer bewus ons word van wie ons nié is nie, hoe meer kom ons in aanraking met wie ons wél is. Meeste van ons het egter oomblikke waar ons wel in aanraking met ons outentieke self is. Wanneer dit gebeur, wéét ons dis ons outentieke self. Slegs deur ervaring – en die gewilligheid om absoluut eerlik met onsself te wees – leer ons onderskei tussen hierdie outentieke wete en die illusie van ontkenning. Dit is omdat wat van die outentieke self af kom, liefde is, terwyl wat vanuit ons ego ontstaan op een of ander manier op vrees of skuld gebaseer is. Die mense wat tot dusver geglo het die wêreld gaan vergaan (miskien is hulle in die toekoms reg!), of die mense in Weskoppies wat verkondig dat hulle eintlik Jesus is, of baie ander mense wat baie ander goed sê, se ervarings is op 'n diep ontkenning gebaseer. Hoe minder ons van ons eie ontkenning bewus is, hoe meer veroordeel ons húlle.

Op die ou end is gnosis eintlik die enigste geldige vorm van kennis. Die probleem is dat ons eers moet verander, of liewer meer bewus moet word, en daarvoor gewillig moet wees om na onsself te kyk, voordat ons by gnosis kan uitkom. Hoe eerliker ons met onsself is, hoe nader beweeg ons aan gnosis. Hier is ook die ware objektiwiteit te vinde wat die wetenskap so nastreef. Nie in die sin van "ek staan verwyder van wat ek waarneem nie," want dit is onmoontlik, maar in die sin van "ek is dit wat is".

Uiteindelik kan niemand aan enigiemand anders iets 'bewys' nie. Ons aanvaar die 'bewyse' wat in ons persepsie van die werklikheid pas. As 'n ekstreme vorm daarvan kan 'n mens seker die 'Flat Earth Society' as voorbeeld noem. Hulle glo nog steeds dat die aarde plat is. Al wat hulle hoef te doen is om in 'n vliegtuig te klim en in een rigting te vlieg, maar, soos in die geval van seker meeste mense, is die blote moontlikheid dat hulle dalk verkeerd kan wees genoeg om hulle daarvan te weerhou om hul geloof eksperimenteel te toets.

In Switzerland woon 'n man wat in sy boek Life from Light daarop aanspraak maak dat hy vir meer as 10 jaar al nie meer eet nie. Michael Werner is 'n gewone man wat aan die hoof van 'n chemiese maatskappy staan. Hy't verskeie kere al enigiemand uitgenooi wat belangstel om met hom te eksperimenteer en te bevestig of sy stelling waar is al dan nie. Ek weet van niemand wat dit nog gedoen het nie...

"Dis nonsens!" hoor ek baie mense sê. Ons wéét tog dis onmoontlik?!

Wéét ons of gló ons? "Never lose a holy curiosity," het Einstein gesê. Het die wetenskap 'bewys' dat wonderwerke nie moontlik is nie, of het ons so ver-weet-enskaplik dat ons effektief maar 'n soort wetenskaplike 'Flat Earth Society' geword het?

Wat hier ter sprake kom is die geweldige diep, meestal onbewuste vrees vir verkeerd wees wat almal van ons maar het. Want as my sekerheid berus op wat ek 'weet' 'waar' is, wat gaan gebeur as dit blyk dat ek dalk verkéérd is? As my hele sin vir identiteit berus het op wat ek 'weet', wie is ek dan as dit verkeerd was?

Dit amuseer my dikwels om ons gedrag rondom 'n TV-skerm te sien as daar 'n groot rugbywedstryd aan die gang is. Elkeen van ons weet presiés hoe elke speler op die veld moet speel om te sorg dat die Springbokke wen. As die afrigter en die spelers self maar net by óns kom hoor het hoe hulle moet speel! Maar by wié van ons...?

Natuurlik, as 'ek' verkeerd is, is 'Ek' nog steeds wie ek was – die volmaakte skepping van God. Al wat in gedrang gekom het is die idee wat ek gehad het van wie ek is – die ego.

Uiteindelik is hierdie vrees die grondoorsaak vir die inhibering van nuwe kennis, persepsie of bewuswording.

Vandaar Jesus se verwysing na die 'nou pad' en die 'breë pad'. Om die 'nou pad' te volg is om van ons onbewuste vrees, skuldgevoel en denkpatrone bewus te word, en te besef hoe ons letterlik op grond daarvan ons eie wêreld skep. Hoe ons 'kennis' meestal bloot ons eie projeksie is. Dit verg 'n diep vertroue in onsself, maar veral in iets wat baie groter is as onsself.

Dis die pad wat ek jare gelede al gekies het, en dis nie 'n maklike pad nie. Glad nie. As dit was sou baie meer mense dit seker al geneem het. Die opwelling van al my onderdrukte vrees en skuldgevoel was van tyd tot tyd absoluut hel. En tog sou ek dit nie anders kon gedoen het nie.

Die 'breë' pad is natuurlik nie regtig veel beter nie. Soos die Boeddha lank gelede reeds uitgewys het, gaan plesier altyd met pyn gepaard. Veral in ons moderne samelewing het ons – die ego – duisende maniere om daardie pyn op 'n gemaklike ongemaklikheidsvlak te hou. Verdowingsmiddels, TV, vinnige karre, pornografie, rekenaarspeletjies, Blackberry's, status, godsdiens, drank en so meer.

Dit maak nie saak nie. Daar is geen hel benewens dié wat ons vir onsself skep nie. Vir al hoe meer van ons kom daar egter 'n punt waar die pyn te veel word. Die stemmetjie van die Heilige Gees – die roepstem van die Liefde – word al hoe sterker.

Is dit die moeite werd? Dit voel nie altyd vir my so nie, maar as ek so terugkyk is daar nie 'n manier wat ek dit anders kon gedoen het nie. Die groot verskil tussen die twee 'paaie' is outentisiteit. Op die 'breë pad' moet ek heeltyd sorg dat my 'image' reg is, en dus ontken en onderdruk wat nie by daardie 'image' pas nie. Is ek 'professioneel'? Kom ek oortuigend oor? Hou die vroue (of die mans) van my? Doen en sê ek die 'regte' dinge sodat my werksekuriteit nie bedreig word nie? En so meer.

Selfbeeld is natuurlik ook, soos die woord self aandui, 'n 'image'. Daar is 'n groot verskil tussen 'n besef van eiewaarde en selfbeeld. Helaas fokus ons veral in die geval van ons kinders so dikwels op selfbeeld dat hulle nooit hul inherente waarde leer ervaar nie.

Leo Buscaglia het eenkeer gesê: "As almal dink ek is mal kan ek doen net wat ek wil!" Om outentiek te wees is om eerlik na alle aspekte van myself te kyk en sowel die 'goeie' as die 'slegte' (die 'skadu') in my voluit in die oë te kyk en te aanvaar. Eers dán kan ek deur die laag van oordeel beweeg na die beeld van God wat ek werklik is. Paulus het gesê, "Ons ken maar gedeeltelik ... maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees." Die volledige is reeds in ons. Wanneer ons dit besef, sal wat gedeeltelik is eenvoudig verdwyn.

As 'n mens eers oomblikke van volledig wees beleef het, is dit onmoontlik om terug te gaan. Daar is geen aardse gevoel wat daarby kan kom nie. "There is a kind of experience so different from anything the ego can offer that you will never want to cover or hide it again. It is necessary to repeat that your belief in darkness and hiding is why the light cannot enter", aldus ACIM.

Daar is een vraag wat ek nog nie heeltemal beantwoord het nie. Heelwat mense maak daarop aanspraak dat hulle as 'kanale' vir Jesus of God optree. A Course in Miracles is seker die bekendste. ACIM is 'gekanaliseer' deur 'n vrou wat toevallig 'n sielkundige by 'n universiteit in Amerika was. Aanvanklik het sy geweldig weerstand gebied omdat sy bang was ander sou dink sy het 'mal' geword, maar ook omdat so baie van wat sy gekanaliseer het teenstrydig was met wat sy geglo het. En tog het dit haar op 'n diep vlak aangetrek. Dis 'n interessante storie, waaroor daar heelwat op die Internet te vinde is.

Maar daar is ook ander, soos die Letters from Christ, wat deur 'n vrou in Suid-Afrika 'gekanaliseer' is – www.christsway.co.za – en dan natuurlik die bekende Conversations with God reeks van Neale Donald Walsch en lest we forget, die Bybelse sowel as die nie-Bybelse evangelies. Hoe weet ons nou watter een die 'ware' een is?

Ek sien 'n groot ooreenkoms tussen al hierdie geskrifte. Maar daar is ook baie verskille. Op die ou end is dit seker maar 'n geval daarvan dat niemand van ons hier op aarde heeltemal egoloos is nie. Hoe 'suiwerder' die 'kanaal', hoe meer akkuraat die geskrif.

Uiteindelik is daar vir my slegs een maatstaf: "Aan hul vrugte sal julle hulle ken," het Jesus volgens die Bybelse evangelies gesê. Die vrugte van die Gees is Liefde.

Dis egter weer net so veel 'n probleem as 'n oplossing. Want hoe weet 'n mens wat is die vrugte? Soos ek in 'n vorige artikel aangedui het, word ons persepsies grotendeels in ons vroeë kinderdae gevorm. As ons heeltyd met die hel gedreig is en/of geslaan, veroordeel of gemanipuleer is, en dit as 'liefde' aan ons voorgehou is, is ons geneig om ons intuïtiewe gnosis van liefde te ontken en te vervang met die kulturele episteme dat straf en marteling en mishandeling en moord deel is van liefde (want dis waarop geloof in die kerkstorie neerkom). Vanuit daardie toestand van ontkenning kan ons gewoon nie die 'vrugte' van die liefde raaksien nie. Dis presies hoekom die Fariseërs Jesus wou laat kruisig, en hoekom baie Christene vandag so fanaties reageer op mense wat hulself van die epistemiese konsep van 'liefde' bevry!

Slegs deur met absolute eerlikheid van ons eie ontkenning en onderdrukking bewus te word, kan ons by gnosis uitkom, en hoe nader ons aan gnosis beweeg, hoe beter kan ons die 'vrugte' herken. Dis 'n bietjie van 'n paradoks: ons kan slegs weet wat waar is as ons klaar weet wat waar is! Maar is dit nie presies waarom Jesus gesê het, "Soek en jy sal vind" nie? Dis hoekom daar nooit een absolute 'waarheid' vir alle mense sal kan wees nie, maar ook waarom talle diverse 'waarhede' tog na dieselfde waarheid kan lei. Die sleutel lê in ons eerlikheid met onsself. Die belangrikste kriterium is gewilligheid om oop te wees vir nuwe antwoorde.

Hier's nog 'n probleem. Eerlikheid verg vertroue – geloof. Want as ek as kind juis leer ontken en onderdruk en lieg het om my teen verdere pyn te beskerm, is ek nog steeds geneig om eerlikheid met seerkry te assosieer. "In my defencelessness my safety lies," sê A Course in Miracles. Die ego sê: not a damn! En tog gaan ons nooit werklik eerlik met onsself wees as ons nie op een of ander vlak vertrou dat dit uiteindelik die moeite werd gaan wees nie.

"Die waarheid sal jou vry maak," sê verskeie geestelike geskrifte, maar helaas nie sonder pyn nie.

Ten slotte 'n bondige samevatting deur Gary Zukav in sy boek oor die kwantumfisika, The Dancing Wu-Li Masters:

"Reality" is what we take to be true. What we take to be true is what we believe. What we believe is based upon our perceptions. What we perceive depends upon what we look for. What we look for depends upon what we think. What we think depends upon what we perceive. What we perceive determines what we believe. What we believe determines what we take to be true. What we take to be true is our reality.

Die kuns is om hierdie siklus te transendeer. In die woorde van ACIM: "Waarheid kan slegs ervaar word. Dit kan nie beskrywe en kan nie verduidelik word nie. Ek [Christus] kan jou bewus maak van die voorwaardes van die waarheid, maar die ervaring is van God. Saam kan ons aan die voorwaardes daarvan voldoen, maar die waarheid sal uit homself vir jou duidelik word."

Douwe van der Zee

Hoewel ek oorspronklik 'n bioloog was, het my belangstelling lank gelede al verskuif na die menslike psige en spiritualiteit. Vir jare het ek my belangstelling in die natuur met my belangstelling in spiritualiteit gekombineer in die vorm van wildernisstaptoere in wildtuine, en vir die laaste tien jaar of so speel ek gereeld met kinders by skole en doen werkswinkels oor outentieke spel. Dis daardeur dat ek 'n diep belangstelling in die bewussyn van kinders ontwikkel het – en dit met spiritualiteit in verband gebring het. Ek het twee boeke geskryf, God het Nie Nodig om Wraak te Neem Nie en From Intellect to Intelligence (lg. by Griffel), en is besig met nog een: The Power of Childhood. Ek het vroeër gereeld op LitNet geskryf en, hoewel ek lanklaas geblog het, het ek 'n blog op LitNet, http://blogs.litnet.co.za/Douwe. Ek kan gekontak word by .

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za