Hoe weet ons wat ons weet? Deel 1

Deur Douwe van der Zee op 1 Maart 2012

Deel 1:  Hierdie artikel het langer geword as wat ek oorspronklik in gedagte gehad het. Op die SES-span se aanbeveling het ek dit toe in twee verdeel. Deel 2 verskyn volgende maand.

Lank gelede het ek eenkeer by Kirstenbosch 'n pragtige orgidee gesien wat ek baie graag wou hê en dus wou koop. Toe ek wou betaal, sê die dame, "Jammer, die orgidee is nie te koop nie. Dis die prys vir 'n lotery." "Okei," sê ek sonder die minste huiwering, "dan sal ek hom só neem. Wat kos die kaartjies?"

Ek het op daardie oomblik met absolute sekerheid gewéét ek gaan daardie orgidee wen.

Die middag kry ek 'n oproep om te sê ek moet die orgidee kom haal.

As berader by Noodlyn lank gelede het ek een nag 'n lewensveranderende ervaring gehad. 'n Vrou het gebel en, soos gewoonlik, begin met 'n 'probleem' wat nie die eintlike probleem was nie. Toets die berader: kan ek hom (haar) vertrou? Is hy (sy) eg?

Toets geslaag, en die ware probleem kom na vore. Dikwels is dit net die geleentheid om sonder oordeel te sê wat jy voel wat 'n helende effek het. In hierdie geval egter, soos in verskeie ander sessies, het dit dieper gegaan. Soos in feitlik al sulke sessies, was seks volgende op die agenda, en toe God. Wie is ek en wat doen ek hier? Fassinerende patroon.

Hoe meer die gesprek gevorder het, hoe meer het ek alle sin van tyd en plek verloor. Ek was uiteindelik van niks om my meer bewus nie, en het net 'n oorweldigende gevoel van eenheid en liefde beleef. Wat ek gesê het, het deur my gekom in pleks van van my. Op daardie oomblik het ek in die diepste van my wese gewéét alles is Een. En ek het geweet dat die persoon aan die ander kant presies dieselfde gevoel het. Daar was geen skeiding meer nie.

Hoewel derduisende mense al soortgelyke ervarings gehad het, het die tradisionele reduksionele wetenskap vir jare selfs eers die moontlikheid van die geldigheid van sulke tipe ervarings ontken. Omdat hierdie ervarings nie gedupliseer en 'objektief geverifieer' kan word nie, is daar aanvaar dat dit blote skeppings van die brein is (nie dat iemand dít regtig kan verklaar nie!). Dit hang saam met die algemene aanname in die moderne wetenskap, en veral die biologiese wetenskappe (hoewel dit selde eksplisiet so gestel word) dat alle menslike bewussyn sy oorsprong in die brein het en dat daar niks anders bestaan as wat ons met ons fisiese sintuie kan waarneem nie. My ervarings sou dus vanselfsprekend as 'toeval' of 'hallusinasie' beskou word.

'n Mens kan dit natuurlik verstaan. Hoeveel mense maak nie daarop aanspraak dat God met hulle gepraat het nie? In Weskoppies is dit nogal 'n algemene verskynsel! (Dis natuurlik op sigself interessant. Waarom sou juis hiérdie mense, waarvan sommige hoogs intelligent is, so 'n obsessie met godsdiens hê?)

Hoe besluit 'n mens dan nou wat is waar en wat is nie waar nie? Waarom sou mý ervarings en byvoorbeeld dié van Neale Donald Walsch (Conversations with God) waar wees, maar iemand wat oortuig is God het vir hom gesê die wêreld gaan more vergaan s'n nie?

Toe ek destyds geskei is, was dit deels omdat my vrou so dominerend was. Altans, dit was my oortuiging. Sý het glad nie so gedink nie. Kon sy dan nie sién nie?

Vir my was dit absoluut duidelik, en dit was my probleem. Ek het baie daaruit geleer. Ek het geleer waarom Jesus (en die moderne sielkunde) gesê het wat hulle gesê het oor oordeel (oftewel projeksie). Ons sien in ander wat in onsself is. Namate ek na myself begin kyk het, het ek al hoe meer besef hoe dominerend ek in werklikheid was, hoewel ek myself dan as 'n slagoffer gesien het as my vrou enigsins kommentaar lewer! Ek het ook begin besef hoe die manier waarop ek my kinders soms behandel het presies die manier was waarop ék behandel is, en waarteen ek so gerebelleer het!

Kortom, ek het begin bewus word van die gedrag wat as kind in my onbewuste vasgelê is. Dit was besonder pynlik, maar dit was nodig.

Ons sien dinge dus nie noodwendig soos hulle 'is' nie, maar as 'n projeksie van wat in ons eie onderbewuste vasgelê is – baie daarvan as klein kind.

Ek het nooit besef hoe baie diere speel nie. In my universiteitsopleiding (dierkunde en plantkunde) het ek geleer van natuurlike seleksie en aggressie en dinge. Die woord 'speel' het maar selde ter sprake gekom, behalwe as iets wat jong diere doen om hul kans op oorlewing te verbeter. Dit was eers toe ek met die speeldeskundige Fred Donaldson in aanraking kom en later gereeld self met kinders begin speel het dat ek begin besef hoe baie sebras, olifante, leeus en baie ander diere net speel. Nou begin ek leer om saam met hulle te speel!

Ek het begin besef daar's iets in die natuur wat ek, soos talle wetenskaplikes, vanuit my perspektief gewoon nooit raakgesien het nie.

En al hoe meer het ek begin besef dat dít wat ek as werklikheid ervaar dikwels meer te doen het met my persepsie van die lewe as met hoe dinge werklik 'is'. Hier's hoe iemand A Course in Miracles se siening daarvan opgesom het: "The world we see merely reflects our own internal frame of reference – the dominant ideas, wishes and emotions in our minds. We look inside first, decide the kind of world we want to see and then project that world outside, making it the truth as we see it. We make it true by our interpretations of what it is we are seeing."

Dit doen ons met die krag van God.

Ek gaan te vinning. Terug by die wetenskap. Seker die basiese grondliggende beginsel van die wetenskap is die hipotese. Letterlik beteken dit "onderliggende stelling". Dis basies 'n idee wat 'n wetenskaplike het van hoe hy of sy dink iets werk, gewoonlik op grond van sy of haar of ander se waarnemings en logiese afleidings, en wat sy of hy dan eksperimenteel moet toets. As die resultate nie met hul hipotese ooreenstem nie, is dit duidelik dat die hipotese verkeerd is, en dat 'n alternatiewe hipotese geformuleer moet word.

As dit wél ooreenstem, beteken dit egter nie dat die hipotese waar is nie. Dit beteken net hulle moet meer en meer eksperimente doen en kyk of die resultate met die hipotese ooreenstem. Dis veral belangrik dat ander wetenskaplikes ook die moontlikheid van die hipotese eksperimenteel bevestig voordat dit deur die betrokke wetenskaplike gemeenskap as 'n teorie aanvaar word – wat eintlik maar net 'n algemeen aanvaarde hipotese is. Uiteindelik kan 'n teorie in werklikheid nooit as waar aanvaar word nie, want daar bestaan altyd die moontlikheid dat iemand dit as onwaar kan bewys.

Hipoteses ontstaan gewoonlik binne die konteks van 'n sekere perspektief – wat Thomas Kuhn in sy beroemde boek The History of Scientific Revolutions 'n paradigma genoem het. Ons dink ons gaan universiteit toe om die beginsels van die wetenskap te leer en te leer wat die huidige stand van 'kennis' is, maar eintlik word ons maar net in 'n sekere perspektief geïndoktrineer.

Duisende hipoteses in die biologie is vir die afgelope eeu gebaseer op die aanname dat die teorie van evolusie deur natuurlike seleksie en genetiese determinisme in sy geheel waar is. Hoewel die kwantumfisika destyds al die aannames in die biologie op minder vaste grond geplaas het, het die biologie aangegaan asof die kwantumfisika nooit bestaan het nie. Dis verstaanbaar: met die volgehoue proses van spesialisering weet wetenskaplikes al hoe meer van al hoe minder (sommige sal sê todat hulle alles van niks af weet nie). Elke vakgebied het lank op sy eie voortgegaan sonder interaksie met ander vakgebiede. Daarom dat die beroemde kwantumfisikus David Bohm se voorstel dat die 'mind' nie die produk van die brein is nie, maar dat die brein bloot 'n instrument is om aan 'mind' uiting te gee, nooit 'n kans gehad het in die biologie nie. Maar met Bruce Lipton, Rupert Sheldrake en dié manne is dit dalk besig om te verander. Hulle is besig om aan te toon dat die basiese aannames in die biologiese wetenskappe dalk tóg verkeerd kan wees...

Wanneer 'n wetenskaplike (gewoonlik die briljantstes) 'n bestaande paradigma bevraagteken, aantoon dat daar baie dinge is wat die bestaande hipotese / teorie / paradigma weerspreek en 'n nuwe hipotese voorstel, word so 'n wetenskaplike byna sonder uitsondering sleggesê, gemarginaliseer en uitgewerk en weier tydskrifte dikwels om sy of haar (veral haar!) artikels te publiseer. Presies dieselfde proses, met ander woorde, as mense wat vanuit die godsdiens die godsdiens bevraagteken. Toe die briljante selbioloog Rupert Sheldrake nie so lank gelede nie met sy teorie van 'morfiese resonansie' op die lappe gekom het (dat elke organisme met 'n soort 'veld' omring is wat die vorm en funksie van die organisme bepaal), is hy letterlik deur die redakteur van die vooraanstaande wetenskaplike tydskrif Nature as 'n 'ketter' uitgekryt! Ek wonder of die redakteur ooit die implikasie van sy woorde besef het?

Die moderne wetenskap het natuurlik sy ontstaan gehad as 'n amper direkte reaksie op die subjektiewe aanspraak op die 'waarheid'van die Rooms Katolieke Kerk. Toe Francis Bacon die wetenskaplike metode geformuleer het wat die grondslag van die wetenskap geword het, was dit juis om weg te kom van die hoogs relatiewe 'waarheid' van die kerk (soos dat die aarde plat en die sentrum van die heelal is). 'n Mens kan dus die weersin in subjektiwiteit verstaan. Voorts was dit lank voor die tyd van Freud – die eerste persoon wat die moed gehad het om aan te toon dat ons van baie van die dinge wat ons gedrag en ons persepsie beïnvloed nie bewus is nie. Dit was ook voor die tyd dat die kwantumfisika aangetoon het dat daar uiteindelik nie so iets soos objektiwiteit bestaan nie.

Terloops, In 1896 het Freud in 'n lesing getiteld 'Die Etiologie van Histerie' bekend gemaak dat al 18 gevalle van 'histerie' wat hy behandel het (6 mans en 12 vrouens) aan die onderdrukking van ervarings van seksuele mishandeling as kinders toegeskryf kon word. Soos 'n mens seker kon voorspel, is hy gekruisig. Sy lewe is deur sowel die mediese wetenskap as die algemene publiek hel gemaak. Dit het gelyk asof sy loopbaan tot 'n einde gekom het.

Seksuele misbruik van kinders was in daardie tydvak 'n algemeen aanvaarde praktyk – solank 'n mens nie daaroor praat nie. Freud het die groot fout gemaak om dit in die ope te bring, en daarmee die massiewe skuldgevoel rondom die gebruik ook los te maak – om alles op hom geprojekteer te word.

Dis eers daarná dat Freud met sy teorieë oor infantiele seksualiteit voor die dag gekom het (m.a.w. dat kinders verborge seksuele begeertes het). In haar boek Thou Shalt not be Aware maak Alice Miller nogal 'n sterk saak dat Freud só deur die kritiek beïnvloed is dat hy onbewustelik basies die blaam vir die misbruik van die volwassenes na die kinders toe verskuif het. Want, as kinders heimlik sulke begeertes het, is dit mos nie die grootmense se skuld as hulle daaraan voldoen nie? Deur dit te doen het hy basies sy loopbaan gered – maar sy siel verkoop? Ek is seker heelwat dominees kan hiermee identifiseer!

Dis natuurlik moeilik om te 'bewys', maar as dit waar is sou dit 'n sprekende voorbeeld wees van hoe 'n hele wetenskaplike teoretiese model sy oorsprong in 'n onderdrukte (onbewuste) sosiale paradigma gehad het.

Dit was dalk nie die enigste geval nie. In 'n brief aan Friedrich Engels skryf Karl Marx destyds: "It is remarkable how Darwin recognizes among beasts and plants his English society with its division of labour, competition, opening up of new markets, 'invention', and the Malthusian 'struggle for existence'. It is Hobbes's bellum omnium contra omnes [die oorlog deur almal teen almal]."(Hiermee wil ek nie Darwin afkraak nie. Hy was vir my 'n ongelooflik briljante waarnemer en naturalis. Maar dit beteken nie noodwendig dat sy teorie die waarheid is nie. Later in sy lewe het hy sélf al hoe meer aspekte van sy teorie begin bevraagteken, hoewel dít nooit veel aandag gekry het nie.)

In die wetenskap is daar 'n vakgebied bekend as epistemologie – die studie van hoe ons weet wat ons weet. Die woord sélf verraai egter al die vooroordeel: dit kom van die Grieks episteme, 'n woord wat dui op die kennis wat ons van buite onsself af verwerf – deur waarneming, van ons ouers, onderwysers en leraars, uit boeke en so meer. Die woord self dui dus op die aanname dat alles wat ons weet van buite onsself afkomstig is.

Gnosis, daarenteen, dui op kennis wat vanuit onsself kom. Hierdie woord neem aan dat sekere vorms van kennis nie van buite af verkry kan word nie, maar reeds op een of ander manier al in ons teenwoordig is. Die Christelike groep in die tyd van Jesus bekend as die Gnostici ontleen hul naam aan hierdie woord. Die Gnostici is van die begin van die Christendom af al onderdruk en vervolg. Dis vermoedelik van húlle wat Paulus geskryf het toe hy teen die 'valse profete' uitgevaar het. In die ou Afrikaanse Bybel word die gnostiek as 'n 'dwaalleer' beskryf. Die sogenaamde gnostiese evangelies is met opset uit die Bybel gelaat met die samestelling daarvan.

Die vraag is nou, waar kom gnosis vandaan? 'n Mens kan nie die bestaan van gnosis erken sonder om daarmee die bestaan van 'n geestelike werklikheid te impliseer nie. Dis presies hoekom die reduksionele wetenskap (en die godsdiens!) dit nie wíl erken nie.

Dit blyk dus dat sowel die wetenskap as die godsdiens op episteme – kennis van buite af – gebaseer is. Waar die wetenskap egter waargenome feite, waarnemings, die resultate van wetenskaplike eksperimente en logiese afleidingas die uiterlike bron van kennis beskou, is godsdienste geneig om sekere geskrifte, soos die Bybel, as die uiteindelike bron van kennis te beskou. Altwee is aannames. Aannames is menslike besluite.

Die geldigheid van enige 'bewys' is direk gekoppel aan die geldigheid van die aannames van die sisteem waarbinne iets 'bewys' word. Ons weet almal dat, deur die Bybel as 'Woord van God' te aanvaar, ons omtrent enigiets kan 'bewys'. Jy moet net die regte Bybelversie kry. Wat nie altyd so duidelik is nie, is dat ons met die wetenskap dikwels presies dieselfde kan doen. Daar was onlangs 'n studie in Engeland waar 'n sekere groep mense met die gegewens tot hul beskikking 'bewys' het dat organiese kos gesonder is as nie-organiese kos. 'n Ander groep het met presies dieselfde gegewens 'bewys' dat daar geen betekenisvolle verskil is nie! Wie is 'reg'? Vir dié wat glo dat organiese kos gesonder is, is die eerste groep reg. Vir dié wat glo dis nonsens, is die tweede groep reg!

Dieselfde gebeur vandag met aardverwarming. Sowel die wetenskaplikes wat 'bewys' dat die mens globale verwarming veroorsaak as die wat 'bewys' dat dit 'n natuurlike verskynsel is glo absoluut aan hul eie 'bewyse'. Wie is reg? Dié wat ons wíl hê moet reg wees! Helaas het dit dikwels te doen met wie die wetenskaplikes befonds. Dis die probleem van episteme: dit kan gemanipuleer word. En ontkenning van subjektiwiteit maak dit nie objektief nie.

Sowel in die godsdiens as in die wetenskap dus, het ons 'n soort selfversterkende kringloop: Vanuit my (onbewuste) subjektiewe persepsie sien ek net die dinge raak wat in my paradigma pas, en dan gebruik ek daardie dinge om te 'bewys' dat my paradigma waar is. Dié wat dieselfde paradigma as ek aanhang aanvaar nie net my 'bewyse' nie, maar is absoluut oortuig van die waarheid daarvan, terwyl dié wat aan 'n ander paradigma glo nie kan verstaan hoe ons so onnosel kan wees nie!

Wat is dan die oplossing?

"Mens, ken jouself", staan daar by die Orakel van Delphi geskryf. "Die koninkryk van die hemel is binne-in julle" sê (sommige vertalings van) die Bybel, en veral geskrifte soos die Evangelie van Thomas. "Die antwoord lê in jouself" sê die 'mistieke' vorms van al die Abrahamiese godsdienste. "The goal of the curriculum," sê A Course in Miracles, "is know thyself."

Ons is dus terug by die einste gnosis wat sowel die godsdiens as die wetenskap geneig is om te verwerp. Die vraag is egter, wanneer is dit gnosis en wanneer is dit wensdenkery of hallusinasie?

Volgens A Course in Miracles (ACIM) en ander geestelike geskrifte is die mens in 'n proses wat in die Bybel as die 'sondeval' gesimboliseer word van God geskei en is die 'ego' of 'eie ek' in die plek van God gestel. Die ego is op vrees en skuld gebaseer – die resultaat van die skeiding – en weerhou ons van vrede en geluk. Voordat ACIM verskyn het al het die bekende psigiater Erich Fromm in sy boekie The Art of Loving geskryf: "The experience of separation arouses anxiety; it is, indeed, the source of all anxiety."

Wat het my laat besluit om die siening van A Course in Miracles as 'waarheid' te aanvaar? Basies my intuïsie, of gnosis, en die feit dat dit absoluut met my lewenservaring ooreenstem. Een van die redes was die ooreenkoms wat ek (vanuit my perspektief!) gesien het tussen die bevindings van die kwantumfisika en ACIM, maar uiteindelik was dit meer as dit. Hoewel nie altyd maklik om te aanvaar nie, het dit uiteindelik baie dinge vir my verklaar – insluitend die onverklaarbaarheid van God vanuit 'n menslike perspektief. Dit beteken nie dat ek dit alles al verwerk het nie!

Daar's nog iets. Die mate waarin ACIM vir my sin gemaak het hou direk verband met hoe eerlik ek met myself was en is. Later meer daaroor.

ACIM is eintlik maar net 'n wegwyser na die waarheid in onsself, en maak dit duidelik dat dit maar een van talle wegwysers is. Eintlik het ek dit op 'n manier al begin doen nog voor ek die boek gelees het.

Vyf-en-twintig jaar gelede al het ek iewers diep in my geweet dat die 'geloof' waarvan Jesus gepraat het niks te doen het met die vreesgebaseerde storie wat die kerk daarvan gemaak het nie ("Jy moet 'glo' dat Jesus vir jou sondes gesterf het"), maar alles met vertroue op God. As kind het ek al aangevoel dat, hoewel die kerkstorie vals is, dit nie beteken dat God nie bestaan nie. Geskrifte soos ACIM en Letters from Christ het my vermoede versterk.

Getrou aan die beginsels van die wetenskap, het ek besluit om die hipotese te toets dat:

Die 'objektiwitiet' van die reduksionele wetenskap sou my nie ver bring nie. Die enigste manier waarop ek die hipotese sou kon toets – en ook net vir myself – was om in 'geloof' te gaan leef.

Dis wat ek gedoen het. Meer daaroor in die volgende aflewering.

Douwe van der Zee

Hoewel ek oorspronklik 'n bioloog was, het my belangstelling lank gelede al verskuif na die menslike psige en spiritualiteit. Vir jare het ek my belangstelling in die natuur met my belangstelling in spiritualiteit gekombineer in die vorm van wildernisstaptoere in wildtuine, en vir die laaste tien jaar of so speel ek gereeld met kinders by skole en doen werkswinkels oor outentieke spel. Dis daardeur dat ek 'n diep belangstelling in die bewussyn van kinders ontwikkel het – en dit met spiritualiteit in verband gebring het. Ek het twee boeke geskryf, God het Nie Nodig om Wraak te Neem Nie en From Intellect to Intelligence (lg. by Griffel), en is besig met nog een: The Power of Childhood. Ek het vroeër gereeld op LitNet geskryf en, hoewel ek lanklaas geblog het, het ek 'n blog op LitNet, http://blogs.litnet.co.za/Douwe. Ek kan gekontak word by .

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za