.

Hoe verwerk mense hul bekommernisse en vrese
oor die toekoms?

Deur Jaco Steyn op 1 Mei 2013

.

Sommige skrywers soos o.a. Eckhart Tolle, verwys na die onnodige vrese en bekommernisse wat baie mense het oor toekomstige gebeure; asook verwyte wat hulle het oor dinge wat in die verlede plaasgevind het. Dit weerhou hulle daarvan om hul lewens voluit te lewe en die beste te maak van die Nóú. Die Nóú is inderwaarheid die enigste werklikheid waarvan mense bewus is en wat alle mense werklikwaar beleef, terwyl hul geheue oor die verlede en vrese oor die toekoms uiteindelik tog nie so werklik is soos die huidige oomblik waarbinne hulle hulself bevind nie. Terwyl mense vanuit die perspektief van die Nou, dinge wat alreeds plaasgevind het nié ongedaan kan maak nie, kan hulle egter wel tot 'n beperkte mate die moontlike verloop van toekomstige gebeure beïnvloed. Hul emosies en lewensbeskouinge het 'n invloed op die besluite wat hulle neem t.o.v. hul woorde en dade, terwyl hul woorde en dade 'n beperkte invloed het op toekomstige gebeure wat hulself én andere raak. Mense se uiteenlopende besluite het dus uiteenlopende invloede op die verloop van gebeure wat hulself en ander lewende wesens óf positief, óf negatief kan beïnvloed.

Maak dit enigsins sin om jouself te bekommer oor toekomstige gebeure, of behoort jy hoofsaaklik elke dag te lewe sonder om voorsiening te maak vir die toekoms? Behoort jy vandag ál jou geld te spandeer sonder om geld te spaar vir die dag van môre? Is dit moontlik om toekomstige gebeure redelik akkuraat te voorspel en jou lewe dan daarvolgens te beplan, of behoort ons onsself heeltemal daarvan te weerhou om sodanige pogings aan te wend, juis omdat die toekoms nooit 100% korrek voorspel kan word nie? Behoort ons vervolgens ons nooit te steur aan kenners se voorspellings oor die weer of aangaande ekonomiese toestande nie? Indien jy sou besluit dat dit wel sinvol is om jou eie verstand en die raad en kennis van andere te gebruik om die toekoms redelik akkuraat te voorspel, is daar verskeie maniere waarop jy kan reageer op die hoogs waarskynlike verloop van toekomstige gebeure.

Vervolgens verwys ek na twee voorbeelde van die moontlike hantering van verwagte hoogs waarskynlike toekomstige gebeure. Terwyl die eerste voorbeeld verband hou met die politiek, is die tweede voorbeeld meer van toepassing op godsdiens of spiritualiteit. Mense kan kies om óf (1) te besef dat hulle nié die verloop van aaklige toekomstige gebeure kan verander nie en dat hulle behoort te poog om dit so ver moontlik te transendeer; oftewel, die beste te maak van 'n slegte saak; óf om (2) te weier om die verloop van daardie gebeure te aanvaar deur gedurig verbitterdheid, vrese of bekommernisse daaroor te koester. Ek raai egter niemand aan om gedurig kwaad en verbitterd te wees omdat hulle nié die verloop van aaklige gebeure kan verander nie. In albei voorbeelde sal ek fokus op verskeie maniere waarop mense verwagte hoogs waarskynlike aaklige gebeure kan transendeer. Die eerste voorbeeld hou verband met 'n hoogs waarskynlike donker toekoms vir baie mense, terwyl die tweede voorbeeld verwys na iemand se hantering van die dood.

Veronderstel ek is redelik seker daarvan dat daar 'n donker toekoms wag op die meeste inwoners van hierdie land, juis omdat die regering nié maklik sal afwyk daarvan om hulself te verryk ten koste van die welsyn van die meeste inwoners nie. Ek baseer hierdie verwagting o.a. op die regering se beplande toenemende "Regstellende" Aksies, grondonteiening en hul samewerking met die ander BRICS lande ten einde die ánder lande in staat te stel om die grondstowwe van hierdie land nog meer geredelik te plunder en hulself sodoende voor te berei vir die moontlike kolonisering van hierdie land. Daar is verskeie opsies wat ek kan oorweeg sonder om noodwendig vanuit die land te emigreer:

  1. Die Egoïstiese opsie. Ek kan myself en my vriende en naasbestaandes doelbewus bevoordeel en verryk ten koste van die welsyn van andere.
  2. Die Apatiese opsie. Ek kan rustig voortgaan om gereeld na regeringspropaganda op die TV te kyk, braaivleise te hou en geld te maak sonder om noodwendig doelbewus andere daardeur te benadeel.
  3. Die Altruïstiese opsie. Ek kan besluit om ander Suid-Afrikaners sover moontlik te help deur hulle byvoorbeeld in te lig oor magsbehepte, korrupte politicise pogings om hulle nog verder te verarm en te onderdruk.

Terwyl regeerders wat hulself verryk ten koste van hul onderdane, gewoonlik nié 'n probleem sal hê met mense wat een van die eerste twee opsies kies nie, sal hulle beslis ontevrede wees met mense wat die derde opsie kies. Hoeveel Suid-Afrikaners is daar wat die derde opsie sou kies i.p.v. een van die eerste twee opsies? Is dit nie dalk 'n belangrike oorsaak daarvan dat regeringsleiers voortgaan met hul plundering sonder enige noemenswaardige weerstand vanaf die res van die bevolking nie?

Die tweede voorbeeld het betrekking op dit wat op almal van ons wag, nl. die dood. Veronderstel ek verneem van my dokter dat hy redelik seker daarvan is dat ek net ongeveer drie maande oor het om te lewe. My geloof aangaande die hiernamaals kan 'n wesenlike invloed hê op die houding wat ek gaan inneem i.v.m. die slegte nuus wat ek so pas verneem het. Daar is verskeie idees wat ek kan hê oor die moontlike bewuste voortbestaan na die dood, maar ek sal vervolgens op slegs drie van hulle fokus:

  1. Die Filosofies-materialistiese opsie. Hiérdie lewe is die enigste lewe wat ons het en ons behoort daarna te streef om voluit te lewe voor die dood 'n einde daaraan maak. Ek kan bv. besluit om my spaargeld te spandeer op 'n bootreis saam met 10 blondines...
  2. Die Godsdienstige opsie. Fokus op die hiernamaals en glo dat die lewe hier-en-nou van mindere belang is. Probeer bv. om sekere dinge te doen en/of te glo ten einde die ewige lewe te beërwe.
  3. Die Spirituele opsie. Probeer die beste maak van die lewe hier-en-nou ter voorbereiding van 'n beter lewe in 'n ander liggaam of binne 'n ander dimensie, ná die dood van hierdie fisiese liggaam. Ek kan aan die een kant poog om my eie gemoedstoestand en lewensomstandighede te verbeter, terwyl ek aan die ander kant poog om die lewensomstandighede en welsyn van alle ander lewende wesens óók so ver moontlik te verbeter.

Jacobus G. Swart verwys op bladsy 141 in sy insiggewende boek wat handel oor die Praktiese Kabbala, The Book of Self Creation, na die drie vlakke van elke mens se siel – die Instinktiewe Self (Hebreeus: Nefesh), die Bewuste of "Wakker" Self (Hebreeus: Ru'ach) en die Goddelike Self (Hebreeus: Neshamah). Volgens hom behoort ons te poog om die Goddelike Self so ver moontlik te manifesteer in ons alledaagse lewens. Hoe meer mense dit doen en besef dat jy jou eie "Messias" en Verlosser is, hoe groter is die kanse dat die wêreld 'n beter plek vir ons almal sal word. Sy boek bevat uitstekende asemhalingsoefeninge wat mense kan gebruik om die Goddelike Krag in hul lewens te manifesteer. Sodoende kan hulle as't ware hul eie werklikheid skep wat in harmonie is met hul Goddelike Self – soortgelyk aan die gedurige voortvloeiing van alle gemanifesteerde dinge vanuit die Onpersoonlike Goddelike Werklikheid (Hebreeus: Ain Sof). Hierdie goeie voorbeeld van die Spirituele opsie verskil heelwat van die ander twee opsies. Die eerste opsie fokus daarenteen op die bevrediging van die ego se kortsigtige behoeftes, terwyl die tweede opsie die verantwoordelikheid van elkeen se verlossing plaas op die skouers van 'n eksterne Verlosser of Messias.

Alle mense sal nie noodwendig dieselfde opsie kies in die geval van albei voorbeelde nie. Hulle sal dus nie noodwendig die Apatiese opsie in die eerste voorbeeld kies én die Godsdienstige opsie in die tweede voorbeeld nie. Die eerste voorbeeld hou verband met dinge waarvan die geldigheid m.b.v. wetenskaplike metodes vasgestel kan word. Daar kan dus eksperimenteel vasgestel word of 'n land waarvan baie inwoners die derde opsie sou kies, noodwendig beter lewensomstandighede sal hê as 'n land waarvan die meeste inwoners die eerste of tweede opsie sou kies. Daar kan ook d.m.v. 'n sensusopname vasgestel word dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners een van die eerste twee opsies sal kies. Die geldigheid van die drie geloofstandpunte waarna die tweede voorbeeld verwys, kan egter tans nié m.b.v. wetenskaplike metodes bewys word nie. Dit behoort egter moontlik te wees om vas te stel tot watter mate mense wat die Spirituele opsie sou kies, meer geneig sal wees om óók die Altruïstiese opsie te kies...

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 0833841115. E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.