.

Hoe lyk ons toekoms?

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 September 2019

.

Toekomsvoorspelling... het vir baie mense nog te doen met kristalballe, "New Age" hippies wat in karavane op besige straathoeke sit en tarrot-kaarte lees. Maar dit is maar 'n klein verteenwoordiging hiervan, die grootste beoefening van toekoms-voorspelling gebeur elke Sondag in Christen kerke reg oor die land.

Voorspellings word gemaak van eindtye en profetiese uitsprake oor die toekoms. Dit is natuurlik deel van die sukses van sulke godsdienstige organisasies. Want hulle voorspellings van voorspoedige en lang lewens, hier en nou, maar selfs ook na die dood, troos en inspireer hulle volgelinge.

Alles die bewyse van die mens se behoefte om beheer te verkry oor dit wat buite hulle beheer is. Want om saam met die wete van geen-beheer te leef is vir meeste mense eenvoudig net 'n te swaar las om te dra. Dit maak mense angstig en depressief.

Daarom is enige prediker, profeet of geskrif wat die belofte van toekoms-visie inhou, so gewild.

Hierdie vorm van toekomsvoorspelling werk egter met die aanname dat die toekoms 'n geslote werklikheid is, reeds bepaal en uitgewerk. Met ander woorde, dat die toekoms reeds bestaan en 'n vaste, onveranderbare bestemming is.

Daarom as jy vanuit die hede 'n manier kan kry om te loer deur die sleutelgat van tyd, kan jy sien wat more gaan gebeur. Hierdie verstaan van 'n vaste, klaar uitgewerkte toekoms word goed verwoord deur Christene se uitsprake oor byvoorbeeld die dood. So asof dit vooraf vas bepaal is: "As jou strepie getrek is, is hy getrek!" of "As dit jou tyd is, is dit jou tyd!" Kyk ook maar weer na wat geleer word oor predestinasie en uitverkiesing.

Tyd is egter net 'n menslike konstruk, iets om te verwys na die ewigdurende, onomkeerbare voort beweging van alles in die kosmos. Kortliks beteken dit dat tyd vloei onveranderlik in een rigting, naamlik van die verlede na die hede na die toekoms. Dit beteken dat soos met evolusie, daar 'n ontwikkeling is, 'n uitrol, voort beweeg en 'n voortvloei van nuwe dinge, wat nog nooit voorheen bestaan het nie, maar nou in bestaan kom.

Dit skep die gevoel van 'n meetbare tydsverloop, wat wel so is, maar ongelukkig skep dit took die idee van 'n gister storie en 'n toekomstige storie. Wat nie so is nie, daar is net nou, hierdie oomblik. Gister en more is net abstrakte konstrukte, dit bestaan nie as werklikhede soos nou doen nie.

Die toekoms is dus veel eerder 'n oop en nog-in-wording iets. Dit impliseer dat die toekoms se rigting, vandag beïnvloed kan word. Dit wat Mahatma Gandhi so mooi stel met: "Your tomorrow depends entirely on what you do today."

Daarom is die besluite wat mense vandag maak, of dit individueel of gesamentlik is, 'n vormende krag op die ontvouing van more. Niks is in sement gegiet of vooraf beskik nie, daar is geen bloudruk nie. Daar kan dus geen toekomsvoorspelling gemaak word nie, want more is nog nie gebore nie. En gister het al gister gesterf. Daar is dus niks om na terug te gaan en te probeer regmaak of oor te doen nie en ook nog niks om vooruit te kan sien nie, want daar is niks nie. Al wat daar is, is nou ... en nou en nou. More arriveer dus altyd in die nou.

Hierdie verstaan van tyd word gesteun deur o.a. biologiese prosesse (die mens word ouer met verloop van tyd – nooit jonger nie), argeologie of oudheidkunde (die studie van menslike kulture, argitektuur, oorblyfsels van lewende organismes insluitend menslike oorblyfsels en die studie van die landskap waarin die mense gewoon het), die tweede wet van termodinamika (entropie beweeg altyd in een rigting), golfbeweging (radiogolwe word nooit ontvang voordat dit nie eers gestuur is nie), die geskiedenis van die heelal, kosmologie en sterrekunde (o.a. melkwegstelsels-uitstraling wat dui op die idee dat tyd 'n begin, verloop, tydsduur en 'n rigting het) ens.

Daarom is dit belangrik om uit die verlede te leer en vir die toekoms te beplan, maar baie dwaas om in een van die twee te probeer leef. Wat ek hiermee bedoel is, die afgesterwe verlede en die ongebore toekoms word deur my keuses, dade en aksies (of gebrek daaraan) vandag, gerealiseer.

Terwyl sommige besluite in jou lewe (nou) niksseggend kan wees en min invloed op die geheel het, is ander keuses belangrik en bepalend vir dit waarheen jou lewe gaan ontwikkel in die volgende nou. Die probleem is net dat jy nie vooraf weet watter keuses van jou belangrik is en watter nie. En watter veranderlikes inspeel op jou keuses. Eers as jy terugkyk, kan jy die belangrikheid van 'n gegewe oomblik se besluit bepaal. (Dit is wat daar te leer is uit die verlede.)

Ons as mens het egter nie die luuksheid om te wag nie. Ons moet in die oomblik optree met die inligting tot ons beskikking. En hierdie optrede bepaal dan die volgende oomblik, die volgende tree in die ontvouende nou. Daarom is dit so belangrik dat ons wel aktief beplan aan ons doelwitte, intensies, hoop en drome. Solank ons ook heeltyd bewus bly van die verskillende veranderlikes van die lewe.

Veranderlikes? Ja, veranderlikes. Onvoorspelbare verrassings wat deel is van elkeen op aarde se nou. Daardie dinge wat niemand voor die tyd kan of kon voorspel nie maar wat 'n groot impak het op hulle lewensrigting. Toeval of ewekansigheid ("randomness") word dit genoem.

Dit is gebeure wat ons onkant vang, dinge waarvoor ons nie kan beplan nie, al bestudeer ons die verlede hoe goed. Dinge met hoë impak op die rigting waarheen ons volgende tree ontvou. Dink maar net aan hoe traumaties 'n motor-ongeluk of onverwagse siekte 'n mens se lewe kan impakteer.

Sommige toevallige gebeure is positief, soos 'n toevallige weghardloop sukses van 'n boek (soos Harry Potter) of die geluk van 'n belegger wat groot voordele kry van 'n onverwagte aandelemark omswaai. Negatiewe toeval is weer iets soos die onlangse verwoestende natuurrampe.

So sirkel ons terug na die mens se behoefte om dinge binne beheer te hê. Om te weet wat in die toekoms gaan gebeur, al is daar nog geen toekoms nie. Om gesus te word met die illusie van: dinge-is-onder-beheer.

So ook regerings, sosiale wetenskappe en baie sogenaamde "kenners" wat duidelik oorskat wat hulle weet. Hoekom? Want daardeur skep hulle die illusie van kennis en die vertroue van hulle stelsels en strukture. En dit laat mense natuurlik rustig en in beheer voel.

Deur godsdiens, politiek en media skep ons 'n meesternarratief wat gebeure kunsmatig aanmekaar las, so asof alles gebeur soos dit moet en sou gebeur. Hierdie storie laat die wêreld minder toevallig voorkom. Maar die realiteit van die saak is dat niemand regtig weet nie en dat niemand in beheer is nie. Enigiets kan enige tyd willekeurig gebeur, soos dit dan ook elke dag gebeur.

Dit is egter vir die mens, wie se brein bedraad is vir beheer en sinmaak, onaanvaarbaar. Die gevoel van buite-beheer-wees skep soveel vrees in die mens se psige, dat die brein dadelik op "default" gaan en die onsekerheid weg "rasionaliseer." En so skep ons deur geskiedskrywing die indruk dat alles nog altyd binne 'n sekere raamwerk funksioneer. Ons skep vir ons denkraamwerke of teorieë om die werklikheid "mak te maak." Alles te laat inpas binne 'n voorspelbaarheid en vaste patron of storie.

En soos ons weet, as die mens eers 'n storie aanvaar het waarmee hy of sy na hulle werklikheid kyk, is dit byna onmoontlik om dit te verander, selfs al is daar bewyse teen dit.

Frantz Fanon verwoord dit so: "Sometimes people hold a core belief that is very strong. When they are presented with evidence that works against that belief, the new evidence cannot be accepted. It would create a feeling that is extremely uncomfortable, called cognitive dissonance. And because it is so important to protect the core belief, they will rationalize, ignore and even deny anything that doesn't fit in with the core belief."

Mense sal vashou aan hulle storie, ten koste van algemene kennis of elkedag belewenisse. Die mens is baie goed daarmee om selektief, self-geproklameerde kundiges te kies, om te kan bevestig wat hulle graag wil glo.

Om sinvol te leef en te beplan vir die toekoms, is dus om op te hou om ander mense na te praat of heeltyd volgens ou formules en uitgewerkte reëls te dink.

Die ware wyses onder ons is die wat in die eerste plek vrede maak met die onvoorspelbaarheid van die lewe. Vrede maak met toeval en onsekerheid. Die wat nou leef, hierdie oomblik, hierdie moment. Wat weet dit is al wat ons het, al wat ons gegee is.

Leef dus met hierdie verwagting van: niks is vas en vooruit bepaal nie. Al wat vas bepaal is, is hoe ons die storie van gister, vandag gaan vertel. Dis egter nie die realiteit nie, die realiteit is net nou, hierdie oomblik van onbegrensde potensiaal.

Om hierdie tree te gee met die wete van, in die woorde van Shunryu Suzuki: "Treat every moment as your last. It is not preparation for something else."

Een tree op 'n slag, dit is jou toekoms. Daarom gee hierdie tree braaf, eerlik en in liefde. Dit is jou lewe!

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.