Hoe lees mens ‘n historiese teks?

Deur Ds. Bertus van Niekerk op 1 Mei 2011

Laas Sondag probeer ek tydens ons gemeente se weeklikse byeenkoms onderhoudend gesels oor 'n moeilike onderwerp: "Is daar biologies iets soos 'n geen wat jou in staat stel / diskwalifiseer om gelowig te wees?" Ek verwys tydens die gesprek na artikels wat oor die afgelope dekade in onder meer Time Magazine en die New York Times redelik opslae gemaak het. Navorsing is deur argeoloë gedoen op verskillende kontinente oor die strukturering van geloofsgemeenskappe. Rituele in geloofsgemeenskappe het diegene wat gekonformeer het tot die betrokke kultus beloon, terwyl dit dié wat krities staan teenoor die geloofsgemeenskap se praktyke geostraseer het. 'n Vraag uit die navorsing is of mense vooruit bestem is om gelowig of ongelowig te wees. Dit sou minstens help om te verklaar waarom sommige mense dit maklik vind om onkrities te glo wat aan hulle voorgehou word terwyl ander amper altyd skepties staan teenoor iets wat nie byvoorbeeld empiries bewysbaar is nie. In wese is hierdie nie 'n unieke en geïsoleerde debat nie – dink maar aan hoe die gesprek rondom evolusie kort-kort gemoedere in konserwatiewe geloofskringe laat opvlam.

Ek lees toe uit die Bybel 'n eweneens kontroversiële teks: Romeine 1:18-32. Die eerste 5 verse in dié gedeelte was die onderwerp van hewige debat en heftige verskille tussen twee teoloë wat reusagtige invloed gehad het op die ontwikkeling van Christelike geloof in die 20ste eeu. Karl Barth het volgehou dat God se openbaring objektief gebeur en dat dit nie afhang van of beïnvloed word deur wie dit ontvang nie. Hy het die uitgangspunt in sy werke dat God Drie-enig soewerein ewige waarhede openbaar. Barth het Brunner daarvan beskuldig dat hy 'n natuurlike teologie aanhang, soortgelyk as wat in die Roomse Kerk voor die Reformasie geleef het. Om sake selfs meer kompleks te maak, gooi ek 'n opmerking van Pannenberg in om te demonstreer hoe dogmatici verskil oor 'n Christologie van ónder en 'n Christologie van bó.

Ek het 'n lekker gesprek verwag, gehoop dat ons na afloop van die byeenkoms oor 'n koppie koffie kan gesels oor hoekom sommige mense krities staan teenoor institusionele geloof en ander dit heelhuids insluk sonder om daaroor na te dink. Ek het 'n heel ander reaksie gekry. Die gesprek het oor skrifbeskouing gegaan.

Dit lyk my die tweede perikoop in Romeine 1 het só 'n geykte teks geword om homoseksualisme te veroordeel en homoseksueles te ostraseer, dat meeste mense dit moeilik vind om die res van die teks raak te lees. Dis byna asof hulle tydens die lees van die teks sit en wag vir daardie een halfsinnetjie wat so dikwels búite konteks gebruik word. Die res van die gruwelike goed wat Paulus noem, staan op die agtergrond: die ander skandelike drifte vorm as't ware buite fokus die dekor waarteen die een teks oor "homoseksuele veroordeling" gelees word. Vroue se skandelike drifte binne die huwelik, verdraaide opvattings oor onbetaamlike optrede in die algemeen, ongeregtigheid, slegtheid, hebsug, gemeenheid, jaloesie, moord, twis, bedrog, kwaadwilligheid, kwaadpratery, die feit dat ons (almal, gereeld) God verloën, hooghartigheid, verwaandheid, ongehoorsaamheid, onverstandigheid, onbetroubaarheid, liefdeloosheid en hardvogtigheid word nie bespreek wanneer meeste van ons met die laaste helfte van Romeine 1 gekonfronteer word nie.

Kyk, ek besef ek is 'n 6'2 Afrikanerman met 'n diep stem en 'n bles en 'n baard en 'n boepens, maar dit maak nie noodwendig dat ek geleenthede soek om konserwatiewe uitsprake vanuit die Skrif te fundeer nie. "Looks can be deceiving!" Ek is in der waarheid liberaal in my lewensuitkyk op feitlik enigiets: politiek, teologie, maatskaplike sake en selfs die grootte van jóú wynglas! Leer my gerus ken voor jy my etiketteer.

Laat ek terugkeer na die titel van hierdie betoog. Daar is 'n enorme hoeveelheid tekste in die Bybel wat 'n verskeidenheid mense sleg aanstoot sal gee. Romeine 1 is so 'n teks. 'n Mens sou trouens aanstoot kon neem uit feitlik enige van die 15 hoofstukke wat daarop volg. Daar is tekste in die Bybel wat uitsprake van oordeel maak teenoor feitlik enige aspek van menswees. Hartseer genoeg het die kerk en gelowiges dit oor millennia gebruik om presies dít te doen. Maar moet my vrees dat 'n halwe sin in 'n teks van 20 sinne iemand aanstoot kan gee my verhoed om die teks hoegenaamd te lees? Ek's bevrees dan sal mens bladsye en hoofstukke uit die Bybel moet skeur. Dink maar aan alles wat in ons kort geskiedenis uit die Bybel geregverdig is: rassisme, diskriminasie en homofobie moet seker bo-aan die lys staan. 'n Mens kan die verkoop van jou dogter en die slaan van jou slawe uit die Bybel regverdig. As jy net effens moedswillig is, kan jy selfs 'n aanval op jou buurlande skriftuurlik verdedig – en sommer nog vroue en kinders en diere op die koop toe voor die voet verbrand. Dis hoekom mens die Bybel uiters versigtig moet lees én luister.

Ek sê netnou iets oor vooroordele.

Elke teks het 'n vorm, inhoud en funksie. Die Bybel se vorm is gestol in 66 boeke vol stories wat duisende jare oud is en bedoel is om geloofsgemeenskappe saam te snoer, selfs al sou dit moes beteken dat hulle individue en groepe wat anders as hulle dink en glo, moes veroordeel in mitiese taal. Dit vertel stories uit 'n tyd toe niemand tande geborsel het, gereeld gebad het, medisyne gedrink het of broeke gedra het nie. Dit vra na sin en betekenis in die lewens van mense wat nie saans sterker draagbare lig as 'n kers gehad het nie. Bybelskrywers was nie geleerde mense nie en die mees geletterdes onder hulle se perspektief op feitelike korrektheid van hulle vertellings is onvergelykbaar met iemand s'n wat gevorm is deur 'n sin vir geregtigheid wat onder meer waarde heg aan die Romeins-Hollandse regstelsel (Lukas vertel byvoorbeeld in die laaste verse van sy een boek en die eerste verse van sy tweede boek hoedat Jesus op heeltemal verskillende plekke opgevaar het hemel toe). Ons neem GPS-navigering, mikrogolwe vir kommunikasiedoeleindes en kos gaarmaak, optiese vesel vir dataversending, vroeë waarskuwingstelsels vir aardbewings en tsunami's, interkontinentale reise met luukse vliegtuie, Dolby 5.1 filmteaters, Skotse whisky en donkersjokolade as vanselfsprekend aan. En tog stamp ons onsself aan een reëltjie uit 'n 2000 jaar-oue teks geskryf deur iemand wat gedink het die aarde is plat en daar's net een see: die Middellandse See? En dan aanvaar ons die absolute gesaghebbendheid van hierdie skrywer se opinie oor hoe ons ons lewens moet inrig? Dit terwyl hy (die skrywer van Romeine) tussen sy verskillende briewe nie konsistente uitsprake kan maak oor byvoorbeeld die rol van die vrou in die geloofs-gemeenskap nie? Nou toe. Dis mos glashelder dat ons aan die vorm van die Bybel niks kan doen nie – dis oorgeërf. Die inhoud kan ons effe debatteer en oor die ontstaans-agtergrond daarvan sinvolle gesprekke met mekaar probeer voer. Maar die Lieven Heer self weet dis nie moontlik vir ons om die ganse Bybel woord vir woord normatief vir ons lewens te gebruik nie!

Ek is lief vir die Bybel. Ek dink dis 'n wonderlike boek vol stories van mense wat besef het ons het 'n volgende vlak van bewussyn. Ons het, anders as enige skepsel op hierdie planeet, die vermoë om vrae na selfs die betekenis van katastrofale gebeure te vra. Ons het die vermoë om spiritueel te soek na wie ons is voor mekaar, in terme van die skepping en uiteindelik voor die Een wat ons God noem. Ek lees die Bybel verantwoordelik en versigtig, met respek. Ek besef dat wat ek nou snap, waarskynlik nie ewigheidswaarde het nie. Dis maar net my perspektief op my situasie vanuit my huidige belewenis en omstandighede. Daarom kan ek mos nie die Bybel soos 'n stok gebruik en vriend en vyand om my daarmee te lyf gaan nie! Ek gaan die Bybel aanhou lees omdat daar ook staan dat God my liefhet en my nie miskyk nie, al is ek melaats. Ek gaan die Bybel aanhou lees omdat daar staan dat Josef by sy pa se sterfbed oor hom gebuk het en hom al huilende gesoen het. Ek gaan die Bybel aanhou lees omdat daar staan dat Dawid met sy gesig in sy hande geloop en huil het oor sy seun se dood – terwyl dié op pad was om hom te kom vermoor. Ek gaan die Bybel lees omdat daar lieflike vertellings is van oorvloed wyn toe almal reeds goed gedrink het (was?). Daar is pragtige erotiese vertellings in die Bybel – en dis meer as 2500 jaar oud ... Ek gaan die Bybel bly lees omdat daar staan dat mens God bly soek en hy is verdomp nêrens en Hy hóór jou ook nie. Ek gaan die Bybel bly lees want dis die naaste aan wat ek ken aan 'n heilige dokument: nie omdat hy foutloos is nie, maar omdat ek al die foute in my en om my so goed daarin kan raaksien. Ek voel in goeie geselskap as ek twyfel en Jesus selfs verloën. Ek voel vergewe as ek lees hoedat 'n pa 'n seun omhels en vir hom kos en klere gee. As van die ander versies wat jou kan aanstoot gee tussen hierdie stories wat my aangryp, staan, moenie my verkwalik nie. Dis al teks wat ek hét. Moet ook nie die Bybelskrywers verkwalik nie. Dit was ál insig wat hulle gehad het.

Lees hier meer oor Ds. Bertus van Niekerk.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za