Hierdie soeke na God

Deur Dr. Gustav Barnard op 1 September 2010

Die dinge wat hier bespreek word is in wese verder as die relatief, en is verder as die reik van woorde. Dit is ook verder as die gemaklike en daagliks ervaarde dualistiese werklikheid. Begrip van hierdie veld vereis 'n groei uit ons antropiese gewoonte van kenniservaring.

Ons moet weet dat wanneer ons dink oor kennis, dink ons oor kennis soos die mens dit sien en hanteer. Die ge-ykte en aanvaarde verskille van werklikhede van materieel, nie-materieel, fiksie en illusie ens. is anders as wat ons dink.

Die soeke is 'n interessante een.

In die algemeen, in hierdie soeke duik die onderwerp van die ego gereeld op. In die oë van baie mense is die ego slegte nuus, lyk dit vir my. Dit word die probleem genoem. Dit moet verwyder word. En ek het al taamlik moordlustige of drastiese tegnieke daarvoor teëgekom. Die een is om die ego te kruisig. Kom ons skop die kalf as die bul ons gegaffel het. Maar hierdie kruisiging is verkeerd en totaal onmoontlik.

Hoekom dan? Die ego het nie alleenlik 'n bestaansreg nie, dis andersom, die bestaan is nie moontlik sonder die ego nie. Die relatief bestaan omdat die ego individualiteit tot stand bring. In die absoluut, die basiese veld buite dualisme, is daar nie 'n ego nie. Daar is nie een nodig nie. Alles is een.

Maar wanneer dualisme ter sprake kom, moet dinge apart gehou word. In werklikheid is alles een, maar die ervaring in die relatief van alles as verskillende individue, is noodsaaklik vir die relatief om te wees. Dit is die taak van die ego, die ego is 'n integrale deel van wat is, van letterlik alles wat is.

Individualiteit is moontlik a.g.v. die effektiewe werking van die ego. Dis 'n absolute integrale deel van onafhanklike bestaan. Ek sê dat nie alleenlik elke mens nie maar ook elke dier, elke plant, elke sel, elke sandkorreltjie, en elke atoom, en dan ook al sy komponente, het ego's.

Die funksie van die ego is om 'n individu daar te stel. Sonder 'n ego is daar geen skepping nie. Niks. Nou verbonde aan hierdie werklikheid is die wil, dit is die wil van die mens en ook van alles anders wat bestaan. Die wil is die deel van wat is wat beweging en verandering en behoudendheid teweegbring. Die wil van die mens help hom in al sy aktiwiteit, insluitend sy evolusie. Die wil van 'n buiteband hou die rubberatome aanmekaar. Die amorfe absoluut het geen individualiteit nie, en geen wil. Net in die relatief met die ego en sy gevolglike individualiteit is wil moontlik. Maar dis ook die 'intelligensie' van die objek wat dit doen, en dis ook die 'wese' van die objek wat dit doen, en die 'holisme' en die 'bewussyn', en sy 'vreugde'. In ander woorde, hier is ons in die veld van die ontologie. Hierdie stellings is net oorsigtig om beginsels uit te wys.

Een van die mens se mees basiese soeke is die een na "God". Sê jy dit, het jy onmiddellik toegang tot 'n klub van eensgesindes. Of so lyk dit. Ons is verenig in hierdie hoë en wonderlike taak. Fantasties! Subtiel gaan ons en delegeer ons ons verantwoordelik van 'ek' en 'my' na 'ons'! Slim, baie slim.

Verder, 'God' word sonder meer aanvaar, net die woord is genoeg. Ons het dan geen of weinig insig oor waarmee ons besig is. Hierdie beperkte insig is dié van die individu, en word volledig bepaal deur sy vermoë om te persepteer. Daar is nie 'n algemene insig nie, net dié van elke individu, en elkeen is verskillend en ook gedurig veranderend. My God en joune is verskillend, soos ons bewussyne hulle verskillend geskep het. Ons skep ons eie verskillende Godde. En myne is nooit dieselfde as joune nie, en van dag tot dag verander myne van my vorige magnifieke skepping tot die volgende. Maar met al hierdie problematiek, bly dit nog steeds natuurlik vir mense om te soek, om meer te wil weet.

Ek weet dat wat ek 'weet' is nie genoeg nie, bevredig nie. Hierdie soeke begin met sekere vooropgesette idees of aannames wat of korrek of nie kan wees. Omdat ons onkundig is, verstaan ons nie die basiese raamwerk van die soektog nie. Die algemene benadering van so 'n soeke is om vrae te vra. Intellektuele vrae, dis waaraan ons gewoond is. En dit is waar dinge begin om so verkeerd te loop. Ons soek die sleutels hier reg onder die lig, en nie daar anderkant in die donker waar ons dit verloor het nie. Makliker maar hoogs oneffektief. Daar is dus goeie rede om mooi te kyk na die metodiek van enige so 'n soeke.

Soeke behels myself, die proses van soeke en laastens die objek "God". Die drie identifiseerbare vlakke van ondersoek by die mens. Dit is die emosionele, waar ons op die gevoelsvlak opereer, die intellektuele met sy logika en rede, en die intuïtiewe. Daar is baie ander maar ek skryf egter net 'n artikel, nie 'n biblioteek nie.

Die emosionele vlak is waar religie normaalweg bedryf word.

Die priesterkaste vertel ons hier wat ons moet aanvaar. Hulle verban die gebruik van logika, van die bevraagtekening van die priester as nederige agent van die almagtige onbevraagtekenbare "God". Vir hierdie agente is u redelike vrae die bevraagtekening van "Die heilige Woord en Leer van God", boos, kettery, as u sulke twak kan glo. Dis hierdie Godsmanne wat "God" 'n slegte naam gegee het. Dwarsdeur die tye. En hierdie mag wat die Godsquad vir hulself geëien het, gee, met kundige gebruikmaking van emosies, vrese en onkunde, absolute mag. U emosies, denke, en geestelike lewe is nie u eie nie. Hulle sal vir u sê wat is en moet wees, gebaseer op 'n stel heilige mensgemaakte en gesensorde geskrifte. Die christelike kerk maar ook die ander religieë, het die liggaam en gees van die mense besit, en gemaak daarmee net wat hy wou.

Die volgende vlak is die van die intellek met sy heilige doktrine van die toets van alles in die smeltkroes van logika, rede en objektiwiteit. Dit is 'n vlak wat voldoende werk in die praktyk, maar elke vraag verskaf 'n onvolledige antwoord. Die fiksie van objektiwiteit het op hierdie intellektuele vlak sy oorsprong. Fiksie, want niemand is objektief nie. As almal in akademia objektief was, waarom verskil hulle dan almal? Eerlike en eerbare mense handel met dieselfde feite en bereik totaal botsende en verskillende gevolgtrekkings. Maar om nou in hierdie verband die kaal koning aan die groot klok te hang, sal nie deug nie. Maar is daar niks verder, niks meer nie? Het ek oplaas by die finale uiteinde aangekom? Nie heeltemal nie, nog nie, maar amper, amper. Miskien more. Miskien.

Verskillende bewussynsvlakke het verskillende maniere van 'bewuswees' soos in die wakker, droom en slaap. En die wakker toestand met sy intellek word algemeen aanvaar as die bepalende en kern metodiek van ken. Die gewaande meerderwaardigheid van die intellek is nie alleenlik 'n fiksie nie, dit is die grootste struikelblok tot werklike geestelike groei van die mens.

Die wesens wat werklik geestelik ontwikkel het, is in die mistieke. Hulle opereer op beide die vlak van die intellek, en ook die 'intuïsie'. 'n Mens kan alleen op 'n spesifieke vlak opereer indien hy/sy daardie bewussynsvlak ontwikkel/bereik het en die vlak waartoe die ontwikkelde mens in die algemeen gevorder het, is dié van die intellek. Elke vlak is meer-fasig wat dit nog meer kompleks maak.

Die onwrikbare geloof van akademia, dat alles aan die hand van die intellek verstaan kan word, is 'n nie-geldige fiksie. Besprekings oor intuïsie word verkeerdelik gevoer op die vlak van die intellek. Die intuïsie moet verstaan, verduidelik en regverdig word vanuit die mindere en oppervlakkige modus van werking van die intellek.

Ek begin met bewussyn. Hier praat ek egter oor die essensie van bewussyn, bewussyn in sy fynste. Hierdie tipe bewussyn kan nie gepersepteer of verstaan of gehanteer word deur die intellek nie. Die fyn eienskappe van denke en lewe en wese wat vir my totaal en vryelik beskikbaar is deur die ontwikkeling van hoëre state van bewussyn, word van my weerhou nie deur 'n ergterlike en wispelturige "God" nie, maar deur my eie reaksie op uitdagings wat 'n integrale deel vorm van die proses van my evolusie. Ek, en niemand anders nie, ook nie enige situasie of omstandigheid nie, is die unieke en uitsluitlike skepper van elke faktor van my lewe.

Bewussyn word nie werklik goed begryp nie. Ek kan vra, het ek bewussyn? Maar moet dit nie wees: het bewussyn my? Wat is basies? 'n Antwoord kan wees dat dit bewussyn is.

In my skema sal ek kyk na kennis vanuit twee perspektiewe, die epistemologiese en die ontologiese oogpunt. Wanneer ek 'n objek beskou, kan ek dit herken as bv. 'n glas. Ek dra kennis daarvan want ek het dit al vantevore hanteer. Dis 'n gemaklike onkritiese maar nie 'n optimale siening nie. Wat ek eintlik moet doen is om 'n ontologiese vraag te vra, nl. presies wat is hierdie glas? Wat is sy essensie, en daarmee bedoel ek sy supra-intellektuele essensie, sy ontologiese essensie? Ek moet dit verder ontleed want nou rus die verantwoordelikheid om te verstaan by my.

Ons verstaan is antroposentries. Dit wat buite ons begripsvermoë, ons bewussynstoestand is, dit kan ons nie verstaan nie. Dit impliseer dat daar niks daar buite is wat ons kan verstaan. Daar is niks daar buite nie. Daar is net ons bewussyn, en dié se vermoë om homself en sy wese te ervaar. Daarvoor begin ons met wat ons bewussynstoestand is en verhoog dit indien ons dan meer wil.

Hoe hou wat bo staan verband met "God"?

Dit moet duidelik wees dat "God" is slegs 'n konsep. Om oor 'n universele "God" te praat is futiel. Daar bestaan net nie so 'n ding nie. Al wat is, is u en u vermoeë om te persepteer.

Weereens, die resultaat van u soeke is bloot 'n funksie van u bewussynstoestand, van die spesifieke vlak waartoe u ontwikkel het. Wat u ervaar, dit is "God" vir u. En daar is geen ander "God" nie. Daar is niks meer nie. Of niks tot u dan die nodige huiswerk doen en u bewussynstoestand verhoog nie. Dan ervaar u 'n groter subtiele werklikheid genaamd God. Dan is daar definitief niks meer nie. Of niks tot u nog verder ontwikkel en ... ad infinitum ... u kry die prentjie.

Die vraag kan aan my of u gerig word, wat dink of ervaar u of ek in hierdie werklikheid? Moenie eers dink aan die vraag of die antwoord of die vraesteller nie. Dit is totaal irrelevant en onbenullig. Die vraag verwag dat die hele subtiele spul nou weer teruggesleep moet word na die lae vlak van die intellek wat soos reeds gesê, net nie die regte vlak vir hierdie onderwerp is nie. Verder, hierdie missie, hierdie soeke, is u eie, u verantwoordelikheid. Om myself te kwoteer, "Salvation is not mass action, it is man's lone journey to Himself, to his true being."

Wanneer ek mense hoor praat oor God, vind ek hulle is ernstig en eerlik en betrokke in hulle strewe. Maar ek hoor net vir hulle, ek hoor nie God of van God nie. En ek kan dan nie my opinie lug oor hoe hulle wat moet doen nie, dis hulle eie taak, my taak is my eie. En daarmee het ek my hande vol. Ek is in hierdie lewe op pad na die innerlike, dit is my eie tog, en dit is uniek myne. Al wat belangrik is is die tog self, waar daar 'n steeds groterwordende onbegrensde vloed van bewussyn en wese en geluksaligheid is.

'n Werklikheid wat die onuitspreekbare essensie en werklikheid van alles is.

Dr. Gustav Barnard kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za