.

O hierdie lyf is ‘n wonderlike verskriklike ding!

Deur Eleen Polson op 1 April 2015

.

Ek is vas oortuig daarvan dat die laaste buitepos van verkenning nie die ruimte is nie, maar die subtiele dimensies en komplekse werking van die menslike liggaam. Dis in elk geval die deel van my lewe wat soms 'n duistere boek is en die groot uitdaging om mee saam te leef.
Neem nou byvoorbeeld verlede week. Ek het 'n hele paar interessante projekte wat besig is om te ontvou – 'n kuns-projek, groeps-opleiding wat ontwikkel, 'n nuwe vriendskap wat wink – en almal van hulle slaan 'n teleurstellende koers in. Alles voel of dit hopeloos is en net energie tap. Ek is so depressief, ek kan myself nie eers jammer kry nie – daar is nie 'n greintjie energie vir troos oor nie. Die wêreld is vaal en donker. Dit herinner aan David Whyte – daardie meester van verwoording – wat sê:
"When your eyes are tired
The world is tired also."
En "low and behold": die volgende dag begin my vroulike siklus (jinne, hoe lank moet ek nou dink om dit te bewoord in sigbare skrif) en die hele lewe lyk sommer meer vriendelik. Die vroulike geslag is regtig baie meer uitgelewer aan die subtiele (en minder subtiele) werking van hormone. Ek staan verstom van hoe 'n groot rol dit speel in my subjektiewe belewenis van my wêreld. Dis verseker nie al wat ek dink my gemoed beïnvloed nie – daarvoor wil my klein ego asseblief nog ander mense en gebeure die skuld gee – maar dit is verseker 'n bepalende maar onsigbare faktor.

Daar is ook natuurlik die positiewe ervaring van ons lyf se outonome reaksie: as ons verlief is, of 'n nuwe platoniese vriendskap ontdek. Die opgewondenheid, die aangename antisipasie maak die hele wêreld sommer 'n blinker en helderder plek. Skielik voel ek goed oor myself en meer positief oor alle mense om my. Helen Fisher en haar mede-navorsers het die biochemie in die brein bestudeer van mense wat verlief is. Romantiese liefde is die sterkste menslike emosie wat daar is, aldus Fisher 'n vorm van 'madness' (geestesversteuring klink net nie reg nie). Die deel van die brein wat aktief is, skei dopamiene af wat deel is van die brein se onbewuste beloningstelsel en dit sentreer om behoeftes en begeertes. Dit is diep in die primitiewe of reptiele brein, ver van die bewuste deel van denke onder menslike beheer. Dit lei tot 'n tipe verslawing, 'n kompulsiewe vashak op 'n persoon of 'n gevoel. Die gevoel intensifeer as die liefde nie beantwoord word nie. Dit verklaar hoekom 'n onvervulde behoefte so 'n sterk dryfkrag is en soveel van 'n mens se fokus opneem.

Die oplossing? Definitief nie medikasie nie, verseker nie gemoedstabiliseerders, hormoonpille of anti-depressante nie. 'n Fyner waarneming van die wissel-werking tussen liggaam en denke (body-mind) is nodig om hierdie onskatbare hulpbron tot haar volle potensiaal te benut.

Ons houding teenoor ons liggame het stelselmatig ontwikkel oor die jare – eeue – en die samelewing se subtiele en minder subtiele boodskappe oor die menslike liggaam is interessante leesstof in die werk van onder andere Michel Foucault. Sonder om vandag daarna te kyk is ek op 'n plek waar ek akuut bewus is van 'n diskonneksie tussen die werking van my lyf en my insig in die lyf se taal. Ek is ook op 'n ontdekkingstog om die ryk konneksie tussen emosies, gedagtes en die liggaam te ontsyfer. Nie vanuit 'n objektiewe mediese raamwerk wat na die liggaam kyk as tipe masjien nie, maar vanuit 'n baie subjektiewe belewenis-oogpunt verken ek die moontlikhede opgesluit in die tot nou toe onsigbare lyftaal.
Kom ek gee 'n voorbeeld:
Deur PI (posturale integrasie) het ek gefokus op my postuur met die effe boggeltjie (skouertjies fatsoenlik vorentoe gebuig) en die 'knock-knees.' Deur intuïtief te luister wat daardie deel van my liggaam sê, hoe dit voel, en waarteen dit my beskerm kon ek baie akkuraat 'n rat verwissel in my terapeutiese pad en met dieper waarhede werk in my persoonlikheid. Suiwer bewuswording is die eerste stap en kan baie verander, maar 'n deel van die ontknoping en groei – bevryding – is vir my opgesluit in die liggaam: in plaas van om net te verstaan met die kop (insig te kry), moes ek ook letterlik fisies oefen om die pyn in die spiere te laat gaan, en dans om die vreugde en vryheid te ervaar. Saam met PI het Pilatus my 'n ongelooflik genuanseerde gevoel gegee van 'nuwe' spiere in my kern. Geleidelik – oor 'n lang tyd - het ek die bewussyn en beheer van verskillende dele van my lyf leer ken en geoefen. Oor tyd het ek die effek daarvan gesien op my gemoedstoestand en my vermoë om my emosionele en interpersoonlike verhoudings met baie meer soepelheid te hanteer.

Om bewustelik met oefen, beweeg en dans om te gaan word dit deel van 'n holistiese praktyk wat verryking op vele vlakke teweeg bring.

Eleen Polson

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.